Om met jou hande te werk

Mei 12, 2010 in Sonder kategorie

 

Voor my pa en ma getroud is, was hy ‘n sendeling in die destydse Noord Rhodesië – vandag Zambië. Hy het my vir ure vergas met stories oor hoe hy met sy Citroen deur daai onherbergsame wêreld moes sukkel om by sy verskeie gemeentes uit te kom. Hy’t onder andere altyd ‘n koekie groen Sunlightseep saamgedra waarmee hy gate in petrolpype, briekpype en uitlaatstelsels kon regmaak.

Agter in sy kar was ‘n greedskapkis van hout. Hierin het hy sy moersleutels, tang, hamer, saag, osketting en verskeie ander stukke gereedskap aangehou. As klein seuntjie het hom geglo as hy sê dat hy met die gereedskap in daai kis ‘n huis sou kon bou. Ek het vir ure met die vlymskrp panga in die kis gespeel as niemand by die huis was, behalwe ek en my sussies nie. Want sien, ek mog eintlik nie naby daai kis gekom het sonder dat pa teenwoordig was nie. En as hy die kis oopgemaak het vir een of ander rede, kon ek ok net kyk en nie vat nie. Maar hy het die sleutel vir die kis se slot bo-op ‘n kombuiskas gebere en ek kon met gemak tot bo klim en die sleutel afhaal. Dan het ek in die motorhuis ingesluip, die kis oopgesluit en my verlustig in my pa se geereedskap wat ek altyd weer skoongemaak en op hulle plek teruggepak het.

En toe kry ek ‘n fiets.

Aan ‘n fiets moet gewerk word. Mens moet elke nou en dan die ketting verstel, die wiele afhaal en 3 in 1 olie in die Sturmey Archer 3-spoed ratkassie gooi. Jy moes jou handvatsels verstel vir as jy resies jaag teen jou maters en die saal moes ook verstel word vir optimum trapspoed. En baie keer het ons ons fietse uitmekaaruitgehaal sommer net omdat ons wou.

Maar ek moes altyd by my maatjies gaan werk, want my pa wou my om die dood nie naby sy gereedskapkis toelaat nie. Een dag het ek die sleutel weer gaan haal en was lekker besig om ‘n pap wiel reg te maak toe hy onverwags huis toe kom… Ai,jai, jai! Daai was ‘n afgedankste loesing! En daarna het my pa sy gereedskapkis se sleutel by hom gedra en ek het nooit weer die geleentheid gehad om langs die oop kis te sit en my te verbeel dat ek ook iewers in Afrika karre en vliegtuie aan die gang hou, en as jagter of sendeling of dokter my lewe maak nie.

Een dag het ek gehoor hoe my ma vir my pa vra hoekom hy my nie wil toelaat by sy greedskap nie. Sy antwoord was dat ek nie weet wat ek doen nie, en dat ek sy goed sou breek of verloor.

Dit was my egter nooit beskore nie want een donker nag, toe ek al redelik groot was, het hulle in die garage ingebreek en die pad gevat met alles. Grassnyer, tuingereedskap, tuinslang, my fiets en les bes, pa se gereedskap…

So het ek toe nou nooit eintlik geleer om met y hande te werk nie. Ek kon ‘n kragprop omruil want my ma het my gewys hoe. Ek kon ‘n gloeilamp omruil en ek kon gras sny. Fok, ek kon gras sny…

Later jare het ek self begin glo ek kan nie met my hande werk nie, want al my pelle kon hulle motorfietse self uitmekaar haal en regmaak. Ek moes iemand betaal.

Later jare het ek besef ek kán eintlik met my hande werk, want ek kan kosmaak. Ek is ‘n baie goeie kosmaker. (Let wel… Nie sjef of kok nie – kosmaker…) Een van my meisies se pa het eendag vir my gesê jy kan nie kos maak as jy nie goed is met jou hande nie. (En hy behoort te weet. Hy’t ‘n restaurant besit.)

So het ek maar verlief geneem met die feit dat ek nie noodwendig ‘useless’ was nie, maar net onkundig. En ek het my voorgeneem dat my seuns nooit daai agterstand sou hê nie.

Vandag het ons ‘n ten volle toegeruste motorwerktuigkundige werkswinkel by ons huis, met ‘n inspeksieput, luggereedskap, kraggereedskap en al die ander dinge wat mens nodig het om ou motors te restoureer. Al drie my seuns kan hulle self help in die werkswinkel. Hulle het trouens elkeen ‘n Mini gekry op 13 en teen ouderdom 18 moes hulle die ding uitmekaar gehaal, herbou en op die pad gehad het.

Hulle kan alles regmaak, van hekmotors (iets wat die fabrieksdeskundige nie kon doen nie!) wasmasjiene en yskaste, tot boorgatpompe, besproeingstelsels en Ouma se kar. Hulle is petrolkoppe. En ekis trots op hulle.

Ek word deesdae ok maar net-net in die werkswinkel geduld as hulle besig is, en dit meerendeels omdat ek omtrent vir alles betaal het. En die ou wat betaal slaan die kitaar! Maar ek weet nog steeds nie veel meer as toe ek uit die skool uit is nie, so ek kom hou “inspeksie”, maak een of twee onnodige aan- of opmerkings en gaan dan my gang. En as hulle moeg en honger in die huis inkom gaan was hulle hande en hulle weet pa het kosgemaak. Krap my rug en ek krap joune!

Daar’s nou net een ding wat my pla…

Number One Son maak nou die dag sushi. Beter as ek. En ek het hom geleer.

So wanneer gaan die klein donners my uit my eie kombuis uitskop!

 

 

21 antwoorde op Om met jou hande te werk

  1. pasella het gesê op Mei 12, 2010

    Jy sal ‘n ander houvas moet kry!

  2. veralda het gesê op Mei 12, 2010

    as ek kan kies, kies ek ‘n kosmaker eerder as ‘n regmaker.

  3. Neander het gesê op Mei 12, 2010

    Sjoe goeie blog, jy kan kook, jy het ‘n inspeksieput ens, EN jy kan musiek maak. Vele talente.

  4. Dit is nou ‘n lekkerlees-storie!

  5. plankloper het gesê op Mei 12, 2010

    Tx. Jy’s ‘n ma duisend.

  6. plankloper het gesê op Mei 12, 2010

    Dankie!

  7. plankloper het gesê op Mei 12, 2010

    Jy doen vanself nie sleg nie…

  8. plankloper het gesê op Mei 12, 2010

    Ek werk nog aan daai een… (En eintlik is ek ek baie trots op die manne wat so vinnig leer…)

  9. plankloper het gesê op Mei 12, 2010

    Weet darem nie… As jy nou in die middel van die karoo breek en hy bied aan ‘n ‘n toebroodjie te maak… Dalk moet hy liewer die wiel omruil – of ‘n Windhoek drink!

  10. plankloper het gesê op Mei 12, 2010

    Ek dink daar kom ‘n tyd wat pa maar moet laat gaan…

  11. Bwhaaaaaaa dit klink erg jong. Ek lief sushi maar koop dit gewoonlik.

  12. wynvdm het gesê op Mei 12, 2010

    Lekkerlees pos hierdie!

  13. plankloper het gesê op Mei 12, 2010

    Dankie

  14. plankloper het gesê op Mei 12, 2010

    Baie goedkoper en lekkerder om self te maak!

  15. Angeliscious het gesê op Mei 12, 2010

    aha! nou weet ek wie om te kontak as alles so breek! Dis great dat jy goed saam met jou kids doen – nice post

  16. plankloper het gesê op Mei 12, 2010

    Fanx hey!

  17. plankloper het gesê op Mei 12, 2010

    Dankie daarvoor!

  18. kerneelsie het gesê op Mei 13, 2010

    Kan jy nie sushi lesse gee nie??? Ons het nou een aand in ‘n sushi bar gesit en wonder wie ons gaan leer sushi maak!!!!
    Albei my broers werk met hul hande. Kleinboet het 5 Duitsers eendag ore aangesit met ‘n probleem met ‘n masjien wat die Duisters self gebou het, maar nie kon maak werk nie. Ouboet kyk net vir ‘n kar en die foute kom reg…
    Ek weet darem waar om olie en water te gooi, maar kon nog nie die nuwe 4X4 se spark plugs kry nie. Dit sit blykbaar onder die “intake manu-iets” en is groot operasie om dit te vervang.
    Maar kosmaak… Dis maar ekke ook. Kan selfs koek bak EN versier.
    Tot Boeta my nou die dag gestaan en kyk het waar ek koek versier. Toe bring hy vir my 30ste verjaardag ‘n koek wat beter versier is as wat ek dit kan doen.
    Sug
    Klink my ons sit maar in dieselle bootjie.

  19. plankloper het gesê op Mei 13, 2010

    Ja… Die bootjie skommel… Maar ons is krikkerig, maar nie bang nie!

  20. Trakie het gesê op Mei 13, 2010

    Hou net aan om die kitaar te slaan, en geen klein donner sal dit waag om jou uit te skop nie.

  21. plankloper het gesê op Mei 14, 2010

    Nou pra’ jy!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.