Dit was dalk nie ‘n goeie idee nie!

Mei 6, 2010 in Sonder kategorie

 

N.a.v. Kantelson se vorige skrywe, en aandrang, die volgende…

 

Ek was in die Vloot in Simonstad gestasioneer tydens my Nasionale Diensplig. (Baie jare terug…) Daar was vier van ons wat motorfietse gery het. Alwyn het ‘n 3 silinder Suzuki 380 gehad met ‘n Ram Air System verkoeling en alhoewel sy fiets die kleinste was kon hy byhou want hy was nou nie eintlik baie groot of swaar nie.

Volgende was ek met ‘n Suzuki Titan, 500 cc tweeslag. Oud en lelik maar die ding het vir alles weeggery tot op 80 kilometer per uur, waarna sy versnelling dramaties afgeneem het, Maar hei, robot tot robot was ek dodelik.

Volgende op die lys was Gawer met sy Honda 750 viersilinder, die motorfiets wat die pad gebaan het vir al die daaropvolgende regte ‘superbikes’.

Laastens was daar Dirk met die koning van fietse daai jare – die Kawazaki 900 cc Z1. In sy tyd die vinnigste produksiefiets wat jy kon koop.

As dienspligtiges het ons nie baie verdien nie, maar ons kon darem ons fietse vol petrol hou en so nou en dan ‘n bier bekostig. Maar die lekkerste was om Saterdagaande Groenpunt toe te ry en te ‘pose’ op jou fiets. Jy trek langs die pad af – in gelid natuurlik – en sit dan so met jou leerbaadjie oopgerits en net met een boud op die saal, en kyk vir die meisies wat verbyloop.

Die manne wou altyd kom gesels oor die motorfietse, maar ons was daar om meisies op te tel. En ek kan nie onthou dat een van ons dit ooit reggekry het nie. (Alhoewel Gawer een aand ‘n meisie gevry het tot hy agtergekom het ‘sy’ het ‘n groter horing as hy… Regtig!)

So teen elfuur het ons die goed aan die brand geskop en stadig begin terugry Simonstad se kant toe. Nou van Groenpunt af ry jy by die hawe verby, waar vandag die V&A Waterfront is, en dan klim jy op die snelweg wat jou oor die middestad vat, in die rigting van Muizenberg. En daar kan jy die fiets se oor maar draai, want die draaie is wyd en die pad goed.

As jy 18/19 is, en jy’s ‘n jong man, is jy ‘bulletproof’. (Of ten minste jy glo jy is) En so ontdek ons toe ‘n heerlike nuwe speletjie.

Aan die kant van elke snelweg is daar ‘n muur, wat keer dat jy nie die pad bysterraak en na benede donner nie. Maar die spesifieke stuk snelweg daar van Groenpunt af se mure loop nie regop nie. Daai muurtjies loop vir ‘n entjie skuins na buite toe, voordat die beton ‘n kinkel maak en regop na boontoe begin loop. Ons speletjie het daaruit bestaan, om die draai storm te loop en te kyk wie kan die hoogste teen die muurtjie opry voor die draai klaarmaak. (Ek ys soos ek nou hier sit…)

Die betrokke aand besluit ek, ek gaan voor Dirk teen die muur opklim, en toe die lig oorslaan gee ek vet vir ‘n vale. Maar Dirk was gewoond daaraan om koning te kraai en toe hy sien wat ek beplan, looi hy die Kawa by my verby en teen die muurtjie op. Ongelukkig het ons entoesiasme ons goeie oordeel te bowe gekom en die volgende oomblik toe verdwyn Dirk met Kawa en al, bo-oor die muur…

Ons het ons gatte afgeskrik.

En op die snelweg kan mens nie omdraai nie so ons ry toe tot by die volgende afrit en toe, in die donker, onder die snelweg terug in die rigting waarvandaan ons gekom het.

Ons het Dirk gekry aan die onderpunt van ‘n tamaai hoop bousand, waar hy kalm en bedaard aan ‘n Lucky Strike Plain sit en suig het. Sy fiets het eenkant op die systaander gestaan, met ‘n paar ligte krapmerke en ‘n effense duik in die tenk.

Dirk het verduidelik hy is bo-oor die muur en het gedink sy laaste dag het aangebreek. Maar toe, op pad grond toe, tref sy fiets die bo-punt van die hoop bousand en hy het op sy kant teen die wal afgeglei tot onder…

Ons het vir lank in stilte gesit en kyk na die hoop sand, die snelweg bo ons en Dirk wat aan sy sigaret suig. Toe’t ons opgesaal en koers gekies Simonstad toe.

Jare later was ek alleen met my motorfiets in die Kaap. Die keer ‘n 1100 Suzuki Katana. Laataand, na ‘n paar biere, het ek weggevlieg by die verkeerslig en gemik vir die draai en die muur…

 

My moed het my begewe. Met ouderdom kom wysheid. (Maar dit was, ten tye, ‘n fokken goeie idee!)

15 antwoorde op Dit was dalk nie ‘n goeie idee nie!

  1. Neffertiti het gesê op Mei 6, 2010

    Hoe gaan dit met die musiek oefen?

  2. Kantelson het gesê op Mei 6, 2010

    Donder Plankloper jy wen loshande! Rof, gevaarlik en en tog ‘n nostalgiese storie wat klink of dit uit Tom Wolfe se Hells Angel’s kan kom!

  3. harpe het gesê op Mei 6, 2010

    kyk, my hare staan ook party dae regop oor alles wat ek aangevang het toe ek jonk en ‘bulletproof’ was… lekker gelees, dankie.

  4. plankloper het gesê op Mei 6, 2010

    Tx

  5. plankloper het gesê op Mei 6, 2010

    DIT gaan ek ok eendag doen.

  6. plankloper het gesê op Mei 6, 2010

    jip, dankie

  7. plankloper het gesê op Mei 6, 2010

    Diebangmaakdeel is die waar!

  8. plankloper het gesê op Mei 6, 2010

    Sorrie… Nie wat ek kan onthou nie/

  9. plankloper het gesê op Mei 6, 2010

    Nou pra’ jy…

  10. plankloper het gesê op Mei 6, 2010

    Doen dit nog steeds… Net nie meer die bike nie… Dis nou aambeie…

  11. plankloper het gesê op Mei 6, 2010

    Hou nooit op nie.

  12. Those were the days. As ek my reg herinner het Kawasaki in daardie dae met ‘n driesilinder 350 vorendag gekom. Awesome.

  13. loudavisi het gesê op Mei 7, 2010

    Jou ma sou gryshare kry as sy geweet het!

    Ook maar bly my seunskind vertel my nie alles nie..

  14. plankloper het gesê op Mei 7, 2010

    Pra’ jy dan nou!

  15. plankloper het gesê op Mei 7, 2010

    Ek onthou so iets… Nou ry die ouenes al 1800’s en Vespa het ‘n 300cc skoeter uitgebring!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.