Jy blaai in die argief vir 2010 Mei.

Fanie (die poepol…)

Mei 31, 2010 in Sonder kategorie

 

Fanie was nooit ‘n seun, en later man, wat jou laat dink het hy’t ‘n oormaat testosteroon nie. Ons was saam in ‘n groot seunskool en mens moet jou man kan staan want die boelies is baie en hulle ruik die swakkeling in die trop sommer gou-gou uit. En as jy nou nog ‘n pokkel is soos Fanie… Nou ja! Maar met die jare het Fanie homself geleer om te oorleef in die oerwoud en hy’t verskeie tegnieke gebruik om die boelies van sy lyf af te hou.

 

Eerstens het hy grappe begin vertel. Nes ‘n boelie hom gryp, het hy een of ander kwinkslag gelos wat die boelie dan tot lag dwing en dan kon Fanie die hasepad kies.

 

Tweedens het hy pelle gemaak met van die groter ouens in ons klas sodat hy meeste van die tyd darem agter ‘n groter ou kon wegkruip.

 

Maar Fanie se beste raad teen boelies was sy kosblik. Hy’t sommer gou-gou besef die koshuis seuns sal mekaar vermoor vir ordentlike toebies, en die grootse en lelikste boelies het uit die koshuis gekom. Fanie se kosblik was ‘n juweel. Hoe hy sy ma oorreed het om die lekkernye in te pak, wat hy saam skool toe gebring het, sal g’n mens weet nie. Maar selfs die gehardste boelie kon nie sy kos weerstaan nie. Die toebroodjies het die eksotieste vulsels gehad. Hy’t pizza skool toe gebring voor enige van ons nog geweet het wat pizza was. Eenkeer het hy self sushi skool toe gebring…

 

Ek het hom daaroor uitgevra en hy’t net gesê sy ma is die kok by ‘n luukse ouetehuis vir Jode ooms en tannies. Sy pa is dood toe hy klein was en dis maar oorskiet van die ouetehuis af.

 

Toe breek die einde van ons matriekjaar aan en ek gaan Vloot toe. Dag een op die stasie loop ek my toe weer in Fanie (die poepol…) vas. Hy is toe saam in die trein, saam in my kompartement en uiteindelik saam in my slaapsaal en in dieselfde dubbeldekkerbed as ek, maar ek het seker gemaak ek slaap bo.

 

Ek was in daai dae ‘n kranige trompetspeler en het dus in die orkes beland. Fanie het gesê hy’s die simbaalspeler en het op die manier ook in die orkes beland. Saam-saam is ons basies deur, en as ons buddy pt moes doen was die pokkel Fanie my buddy… (die poepol)

 

Na basies skei ons paadjies want Fanie was regtig nie uitgeknip om ‘n matroos te wees nie. Hy land toe in sjefskool en ek gaan my gang na die meer avontuurlike afdelings in die Vloot.

 

So dan en wan het ek hom in Simonstad raakgeloop en Fanie het net vetter geword. Hy’t sy sjefkursus gedoen en in Rhodesia by the Sea opgeland. Dit was, en is nog steeds, die offisiersmenasie. Hier het Fanie vir hom naam gemaak. Die offisiere het hom op die hande gedra want ou Fanie kon toor in die kombuis. En so het Fanie se kosblik hom ook heelhuids deur die oorlog gebring, want hy is opgepas soos ‘n kosbare kleinnood en enige suggestie dat hy dalk op ‘n skip, of vir die Mariniers op die grens moes gaan kook, is onmiddelik in die kiem gesmoor.

 

Fanie het self ‘n lekker ekstra inkomste verdien deur op sy afdae vir privaat funksies kos te maak. En so maak ons klaar met die Vloot, en ek en Fanie se paadjies skei. (Uiteindelik – die poepol…)

 

15 jaar later hou ons reünie by die skool. Ek’s is teen die tyd goed gevestig in my gekose kunsrigting en kom met een van die beter motors daar aan. (Ek weet dis nie belangrik nie, maar dit WAS ‘n seunsskool en in ‘n seunsskool is die een met die mooiste en beste speelgoed die wenner…) Maar ons almal se bekke hang oop toe Fanie (die poepol…) met ‘n splinternuwe Porsche daar in ry. Hy hy rol uit die kar uit en waggel om en maak die deur oop vir ‘n meisie wat ruim 8 duim langer as hy is. En haar rokkie is kort, en haar bene lank en haar hare wat lyk soos klatergoud skitter in die son en haar borste… Ai, jai, jai, jai, jaaaaai…. En die twee kom hand aan hand aangestap. En as sy vir hom kyk kan jy sien sy is mal oor hom. Maak nie saak dat sy ‘n kop langer as hy is nie en maak nie saak dat hy amper so breed is as wat hy lank is nie… Die meisie is verlief op Fanie. En hy swel van trots as hy na die boelies van 15 jaar gelede kyk en hulle vaal, oorgewig vroue en meisies sien. En hy lag vir hulle tweedehandse bakkies en hy kry lekker.

 

Ek en Fanie deel toe ‘n tafel – op sy aandrang. En die meisie se naam is Samantha en sy’s vriendelik met my want ek is Fanie se pel. Ek het meisieloos daar aangekom want ek wou. Maar na 5 minute in Samantha se geselskap begin ek wegholkans soek. G’n mens het die reg om so mooi te wees nie. G’n mens het die reg om so oulik te wees nie en ek raak dadelik smoorverlief op Fanie (die poepol… ) se meisie. Maar ek byt vas en selfs toe sy my vra om te dans hou ek kop en doen niks simpel soos om my onsterflike liefde aan haar te verklaar nie.

 

Fanie vertel sy storie. Hy’s die trotse eienaar van verskeie restaurante. Bly op Clifton, saam met Samantha en hulle gaan een van die dae trou. Sy ma is oorlede en dis met die erfgeld wat sy vir hom gelos het dat hy sy eerste restaurant kon begin. Hy kyk nou ook oorsee, na London, om daar moontlik ook ‘n eetplek oop te maak.

 

In ‘n stadium sien Fanie een van die boelies van vervloë jare en hy staan op om hom te gaan treiter. Ek vra vir Samantha hoe sy en Fanie ontmoet het en sy vertel dat sy as student vir hom gewerk het as kelnerin. Hy is ‘n ware heer, kook soos ‘n engel en dra haar op die hande. Wat meer kan ‘n meisie vra? (Vir my! Vir my! Vir my!…)

So teen elfuur begin die paartie afskaal en Fanie neem Samantha se hand en stap groetend uit. Ek stap saam, ruil nommers en adresse uit en belowe om te kom kuier as ek weer in Clifton se omgewing is.

 

Samantha glip met ‘n simfonie van bene en hare en borste in die Porsche in en hulle verdwyn straat af met my hart in haar hande.

 

Ek loop terug na my ander maters toe en al waaroor almal praat is Fanie en Samantha…

 

Hoe de donner het hy dit reggekry,” wil een van die boelies verontwaardig weet.

 

Onthou jy hoeveel keer hy vir jou uit sy kosblik uit gevoer het sodat jy hom nie moet bliksem nie?” vra ek onskuldig.

 

Wat het dit met die prys van eiers te doen?”

 

Daai girl is agter Fanie se kosblik aan…”

 

Hulle kyk my verdwaas aan. Niemand is bereid om te glo dat Fanie gewen het nie. Hy’t die duurtse en begeerlikste kar. Hy’t loshande die mooiste en begeerlikste meisie. Hy bly in Clifton. Hy besit suksesvolle restaurante.

 

En in ‘n seunskool is die een met mooiste en duurste speelgoed die wenner. En dis Fanie. (Die poepol…)

Gatvol

Mei 30, 2010 in Sonder kategorie

Gatvol

 

Loop ek toe nou Saterdagoggend by my bank in. Dis nou NEDBANK in Brooklyn. Al wat ek wou doen is om ‘n paar rand kontant te deponeer, want ek het ‘n kontant meevallertjie gehad. Vir twintig minute staan ek in die tou saam met 25 ander mense. Die bestuurderes skuif meubels rond. Daar is op Saterdagoggend, maandeinde, net twee tellers agter die glas. En almal staan op hete kole want almal is so haastig soos ek.

 

In ‘n stadium begin ‘n Duitse omie luidkeels kla en die bestuurderes los haar meubels en kom vra of iemand tjek deposito’s het. Drie mense het, en die res van ons staan maar verder.

 

Ek is nie uit eie keuse ‘n klient van Nedbank nie. Jare terug het hulle ‘n Amerikaanse doller tjek van my verloor. Die saak het in die hof gaan draai en ek is weg by hulle na Twenty Twenty toe. Lekker elektroniese bank met puik diens. Maar TT vou toe en ek het ‘n keuse. Betaal dadelik my oortrokke fasiliteit af en skuif na ‘n bank van my keuse toe, of laat toe dat hulle my skuif… Terug Nedbank toe.

 

Toe maak meneer Ackerman se winkel ‘n bank oop. Nou ek hou van Raymond en gaan toe dadelik na Pick and Pay GoBanking toe. Drie maande later maak hulle toe en skuif my weer… Nedbank toe.

 

Aldus staan ek nou in Nedbank en wag vir iets om te gebeur. Skielik spring die een teller op en verdwyn na agter. Nou is daar net een wat ons klomp kan help. En toe strip my moer.

 

Ek stap uit met die bestuurederes wat agter my aankom en om verskoning vra. Ek loop Standerd Bank toe, waar ek ‘n spaarrekening het. In Standerd Bank is daar ‘n teller agter elke venster. Daar is twee mense in die ry. Ek vul my depositostrokie in en sien daar is niemand meer in die ry nie. Stap na ‘n beskikbare teller toe, deponeer my geld en loop. Drie minute later…

 

More gaan ek my rekening by Nedbank sluit en ek gaan vir my ‘n rekening by Capitec oopmaak. Nedbank se moer.

Petrol pirouette

Mei 28, 2010 in Sonder kategorie

 

Die motorfiets enjin hier agter my rug se gebrom verander in ‘n geskree soos Strat hom trap. Hy klink naderhand soos ‘n kat op hitte en ek ruik rook. Die digitale horlosie staan regs voor my en tel die sekondes af. As ons tien sekondes oor het, begin ek hardop vir Strat aftel. Die afsetter begin op vyf saam aftel en dan lig hy sy vlag.

Die Jianshe vlieg weg soos ‘n kat wat terpentyn onder sy stert gekry het, en ons is op pad. Sestig meter na die wegspring is daar ‘n sloot en ek maak reg vir ‘n harde stamp, maar die veerstelsel eet die sloot vir brekfis. Nou kom ‘n lekker lang slap draai na regs en ons gly sywaarts in die draai in. Strat druk die stuurwiel net vinnig heen en weer en dan tref ons die volgende sloot. Hierdie een is bietjie erger en ons karretjie spring met al vier wiele in die lug. Dan is ons deur die hek en op grond.

Niks in jou normale gebruik van ‘n motor berei jou voor vir veldwedrenne nie. Die geraas is oorweldigend. Die wind kom deur die plek waar daar gewoonlik ‘n voorruit sou gewees het. Die sitplek gordels werk hard om jou in jou sitplek te hou – ek het gewoonlik blou kolle op my slouers na ‘n wedren soos die gordels my druk.

Die Atlas Copco Sugarbelt 400 is een van die beste wedrenne in ons kampioenskapsreeks. Dit wiggel-waggel deur suikerlande en boomplantasies in twee groot sirkels van honderd kilometer elk. Dag een ry ons vir ‘n wegspring posisie op Dag twee. Ons ry die eerste sirkel so vinnig ons kan en dit bepaal dan ons wegspringplek vir dag twee. Op dag twee ry ons weer die eerste sirkel en dan die tweede sirkel twee keer.

Die plase waaroor ons jaag se eienaars doen die roetemerk vir die wedren en dit bring partykeer nogal probleme mee. ‘n Waarskuwing word aangedui deur ‘n wit bord met ‘n uitroepteken op. Twee uitroeptekens beteken jy moet wakker loop en drie beteken jy moet weet waar die briek is. Ek het al gesien hoe van die groot veldwedrenvoertuie soos die Bats, Porters en Zarko’s hulle hele voorste onderstel afry omdat hulle nie betyds genoeg gebriek vir die drie uitroeptekens nie. Maar hier in Natal is een man se uitroepteken ‘n ander man se aflag. Daar is nie konsekwente waarskuwing nie en ons is nooit seker of ons kan jaag of moet briek nie. Gelukkig het byde ek en Strat goeie oë en ons werk saam om die verskillende waarskuwings te interpreteer.

In die verlede het ek en Strat saamgery in ‘n sewe liter Jeep en die manier om so ‘n monster te hanteer is deur hom met die petrolpedaal op te stel vir ‘n draai of ‘n sloot. En ou Strat was die meester daarmee. Nou sit ons ‘n ‘n karretjie wat so groot is soos ‘n ou Mini, met ‘n sewehonderd cc enjin en dit verg ‘n heeltemal ander bestuurstyl.

Ek verkyk my aan Strat se vernuf. Per slot van rekening is my lewe in sy hande. Maar hy mag maar.

Ons karretjie is die ontwikkelingsprojek wat ek en Strat aangepak het namens ‘n Sjinese vervaardiger. Motorsport bestaan nie in Sjina nie, maar Jianshe, Sjina se derde grootste maatskappy, het ‘n teewoordigheid in Suid Amerika, waar die Dakar wedren deesdae plaasvind. Hulle het ons genader om een van hulle voertuie voor te berei vir die Dakar. Ons het hulle baie diplomaties ingelig dat hulle nie een voertuig het wat die Dakar sal kan aanpak nie, maar hulle het toe vir Strat ingetrek om hulle te help met die ontwerp en bou van ‘n voertuig wat die Dakar wel sal kan takel en voltooi. Aldus jaag ek en Strat nou in die SA Veldwedrenreeks met ‘n karretjie wat lyk soos ‘n speelding.

Die Super Lightweight Class in die Dakar se reëls is baie eenvoudig. Die enjin mag nie groter as agthonderd cc wees nie. Net een skokbreker per wiel word toegelaat. Wiele moet die wiele wees wat op kwads pas, en die wiel se loopvlakpatroon moet ook die van ‘n nutsvoertuig wees. Die motor moet met gewone brandstof werk, m.a.w. jy mag nie hoë oktaan resiespetrol gebruik nie. Die motor kan enkel of dubbelsitplekke hê.

Ek het Strat het op die dubbelsitplek konfigurasie besluit omdat mens in die Atacamawoestyn dalk iemand gaan nodig kry om te help grawe as jy vassit.

Maar terug by die Sugarbelt 400…

Ons begin sommer gou gou van die ander motors verbysteek en ek lê gereeld op die screamer. Nou die sreamer het niks met die donker daad van die nag te doen nie. Dis ‘n stukkie toerusting wat jou waarsku as ‘n vinniger motor van agter af by jou wil verbykom en jy kan dit op jou beurt gebruik om ouens voor jou te waarsku dat jy op hulle stert sit. Verder het ek ‘n gps wat die roete bevat en ek hou vir Strat darem oor die algemeen op die pad.

Die roete word aangedui deur klein rooi papiertjies wat so elke honderd meter aan die linkerkant van die roete aangebring word. ‘n Groen papiertjie beteken jy mag nie daar indraai of afdraai nie. In Natal doen die manne hulle werk goed en die roete is duidelik en maklik om te volg.

Na ‘n honderd kilometer kom ons moeg en vuil by die kuipe aan. Daar is heelwat instandhouding wat aan die motorjie gedoen moet word en Strat sit dadelik vir Dito, ons Mosambiekse werktuigkundige, aan die werk. Ek gaan spring in ‘n stort en as ek terugkom begin ek kos maak. (Ek’s ‘n useless mechanic, maar boeta, kan ek kook!)

Die volgende oggend is daar probleme met die tye wat aan ons toegeken is en Strat wil eers baklai, maar ons besluit dan ons kan dit na die tweede dag se verrigtinge uitsorteer.

Weer vlieg on weg maar die keer gaan dit nie so goed soos die vorige dag nie. Twee papwiele later kom ons by die kuipe aan na rondte nommer een. Ons ruil ons pap wiele vir ander en vlieg weer weg. Dertig kilo’s op rondte twee gee ons ratkas die gees.

Ons moet volgens Dakar reëls van ‘n CVT ratkas gebruik maak. CVT staan vir Constantly Variable Transmission en as jy gelukkig genoeg is om ‘n nuwe Audi te ry het jy een van hulle onder jou enjinkap. Dis nie ‘n outomatiese ratkas nie, maar dit voel soos een. Kortom word die krag van die enjin na die wiele toe gevat deur middel van ‘n rubber en staal aandryfband. Die band pas om ‘n keël en hoe hoër jou enjin se toere hoe hoër ry die aandryfband teen die keël op en hoe vinniger ry jy. Met die Kawa enjin waarmee ons nou ry kan ons so tussen 7000 en 7500 toere kry. Met die Rotax 800cc enjin waarmee ons in die Dakar gaan jaag gaan ons tot 13000 toere kan kry want die Rotax is ‘n vliegtuig enjin en hardloop teen baie hoër rewolusies.

Ons stop in die suikerriet en haal die vervrommelde ou aandryfband af. Dan sit ons die nuwe een aan wat met ‘cable ties’ aan die buisraam vas is vir presies so ‘n noodgeval. Sommer gou gou is ons weer in die pad en nou begin die harde werk weer om al die ouens wat by ons verby is terwyl ons kar reggemaak het, van voor af in te haal en stof te laat vreet.

Dan tref die onheil ons.

Die nuwe wiele wat ons agter opgesit het is kleiner as die wat ons die vorige dag mee gejaag het. Ons kom om ‘n draai, sien die wit bord met een uitroepteken, sien die sloot, besluit dis ‘n vulletjie en storm nader sonder om briek aan te draai.

Die kleiner wiele verander die manier waarop die veerstelsel werk en as ons deur die sloot bliksem wip die karretjie se agterkant die lug in. Soveel so, dat die karretjie op sy neus gaan staan. Vir ‘n ysige oomblik dink ek ons gaan gat oor kop rol, iets wat ek al van te vore gedoen het, en iets wat ek geen begeerte het om weer te doen nie. Die karretjie maak egter ‘n sierlike pirouette na regs en kom met ‘n moerse slag weer op sy wiele te lande. Strat probeer ry, maar die karretjie wil niks weet nie. Ek maak gordels los en klim uit. Die regter agterwiel se naaf het heeltemal uit die wielraam uitgebreek. En ons lê plat op ons pens in die suiker.

Ons kry dit reg om die agterwiel om te ruil en val weer in die pad. Maar ons pirouette, en die daaropvolgende landing, het iets in die Kawa enjin losgeskud en die enjin vrek elke keer as ons na regs draai. Ons stop weer en probeer noodhulp maar die probleem word net al erger…

Na ‘n paar kilo’s van sukkel kom ons by ‘n teerpad en ons besluit om tou op te gooi.

Terug in die kuipe probeer Dito en Strat die oorsaak van die probleem vind terwyl ek gaan stort, maar tevergeefs. Ek gryp maar weer die kospotte en na ‘n paar koue moute eet ons en hou nabetragting oor ons wedren.

Dalk nie klaargemaak nie en beslis niks gewen nie (To finish first, you first have to finish!) maar ons het baie van die kar geleer en begin lyste maak van goed wat ons wil verander… (Uit die 90 inskrywings het skaars 24 voertuie klaargemaak.)

17 Julie 2010 is ons in Sun City vir die volgende rondte van die kampioenskap… Kan nie wag nie!

 

 

 

Spelling

Mei 26, 2010 in Sonder kategorie

Is dit net ek, of spel ons bloggers al hoe swakker? Ek weet my spelling is soms beroerd maar dis omdat ek nie vinnig kan tik as wat ek dink nie…

Maar wragtag!

miggies ipv muggies

bikie/biekie ipv bietjie

gepaart ipv gepaard…

 

ens, ens ens…

 

Dalk word ek nou ‘n ou korrelkop.

Maankind se uitdaging

Mei 18, 2010 in Sonder kategorie

Hy beur stadig dieper tot hy oor die rotsbank is. Nou weet hy dis nog net ‘n entjie tot sy voete weer gaan grond raak. Hy het die sandbank weke gelede al raakgesien en sy plan begin beraam.

 

-0-0-

 

Sodra hy op die sandbank is gaan hy regs draai en al met die kus aan loop tot oorkant die grot. Dan gaan hy die tien of vyftien meter swem, uitklim, die droë klere wat hy daar versteek het aantrek, sy sakkie met die geld om sy lyf vasmaak en opklim tot bo waar sy vir hom wag. Die kaartjies is bespreek, die motor wag in Jhb by OR Tambo en dan is dit net ‘n paar ure voor hulle Botswana ingaan. Daar wag nuwe paspoorte, met nuwe name en ‘n nuwe lewe…

 

-0-0-

 

Hy begin wonder of hy nie dalk by die verkeerde plek die see ingeloop het nie, want volgens sy beraming moes hy lankal die sandbank gehaal het. Hy swem nog ‘n paar tree, maar die medoënlose terugsuig van die branders druk hom algaande dieper die see in. Desperaat draai hy om. Hy sien die flitse op die rotse en probeer roep, maar ‘n brander se terugspoel maak sy mond vol water en hy verstik. Dan tref die kramp hom…

 

-0-0-

 

Bo-op die krans sit sy en wag vir hom. Maar later as die son opkom, besef sy iets moes verkeerd geloop het. Sy skakel aan en ry. More is nog ‘n dag… Sy sal moreaand weer kom wag.

 

 

Oukei, enigiets om tog net nie “uit” te wees nie…

Mei 14, 2010 in Sonder kategorie

1)   How old do you wish you were?
19 – Want toe was ek nog “bulletproof”
2) Where were you when the Springboks won the world cup?
1995: Bereapark in Pretoria. Een of ander man het my uit pure opwinding gesoen…

 Laas keer: Op my eie stoel voor my eie TV met my eie bier in my hand.

3)What do you do when vending machines steal your money?
Skop die wit waks uit die ding uit.                      
4) Do you consider yourself kind?

 Maar Natuurlik. Behoeftige ou Tannies en bedelaars sien my op ‘n myl aankom. 

5) If you had to get a tattoo, where would it be?

Sal nooit een kry nie. Nie eers tussen my blaaie nie.
6) If you could be fluent in any other language, what would it be?
Italiaans, Spaans, Zulu.
7) Do you know your neighbours?
O ja….
8) What do you consider a vacation?
My familie in Hermanus. Magtag maar hulle kan mens bederf!
9) Do you follow your horoscope?
As ek ‘n sterteken kon kry vir ‘n beertjie, sou ek.
10) Would you move for the person you loved?
Het al. Bly nog steeds by haar.
11) Are you kisser?
Yip. Het op 12 begin en nog nooit weer opgehou nie. Ek is legendaries in sekere kringe vir my diep, innige en passievolle soene. (Vra maar daai ou in Bereapark…)
12) Do you believe that opposites attract?
Wetenskaplik bewys. Maar jy moet seker maak dis die regte “opposite”
13) Dream job?

Die een wat ek nou doen.

14) Favorite channel(s)?
Koskanaal.
15) Favorite place to go on weekends?
Clarens
16) Showers or Baths?
Bad . Laaaank bad. Te veel moes shower in die vloot.

17) Do you paint your nails?
Net as ek beplan om ‘n man lang en innig te soen. En ek kan nou nie aan een man dink met wie ek dit sou wou doen nie.
18) Do you trust people easily?
O ja…
19) What are your phobias?

Hoogtes en ‘n moerige vroumens met ‘n sker… (Julle ooit “Play Misty for me” gesien?)
20) Do you want kids?
Drie seuns is oorgenoeg.
21) Do you keep a handwritten journal?
Net as die krag af is en die skootrekenaar se battery pap is.
22) Where would you rather be right now?

In ‘n resieskar in die woestyn

23) Who makes you feel warm and fuzzy?

Die Rooikop
24) Heavy or light sleeper?

Lig.

25) Are you paranoid?
Nie wat ek nog ooit agtergekom het nie…
26) Are you impatient?
Ja. Dis moes gister al gebeur het! Demmit!
27) Who can you relate to?
Meeste mense. Ek’s ‘n mense mens.

28)How do you feel about interracial couples or same sex couples?
Kak vraag, sit.
29) Have you been burned by love?
I’m still a hunka, hunka burning love….
30) What’s your favourite pick-up line?
Kan ek vir jou poeding maak?
31) What’s your main ring tone on your mobile?

Beethoven se 5de.

What were you doing at midnight last night?
Gelala

What did the last text on your cellphone say?
OK Shweet! I’ll set it up…
34) Whose bed did you sleep in last night?

Myne!!!!
35) What color shirt are you wearing?
Wit en blou! (En ek is NIE ‘n Blou Bul nie!!!!! Dis vir Hemelvaart dag)
36) Most recent movie you watched?
Men who stare at goats.
37) Name three things you have on you at all times?
Tannestokkies, brille,(fok) selfoon.
38) What color are your bed sheets?

 Grys. (En dis nie van vuil nie! Dis modieus)
39) How much cash do you have on you right now?
Tweehonderdrieentwintigrand en 7sent
40) What is your favorite part of the chicken?
The Pope’s nose.
41) What’s your favorite town/city?
Clarens, Hermanus, Pretoria.
42) I can’t wait till…
Krismis. Want dan kry ek weer presente!!!!
43) Who got you to join your gym?
My pens.

44) What did you have for dinner last night?
Periperi honderlewers, basmatirys, Tassenberg.
45) How tall are you barefoot?
1.82m
46) Do you own a gun?
Verskeie jaggewere, en ‘n CZ 9 mil.
47) What do you prefer to drink in the morning?
Groen tee – vir die kolestorol.
48) What is your secret weapon to lure in the opposite sex?
My “rakish charm, devilish sense of humour” en “boyish good looks”.
49) Where do you think you’ll be in 10 yrs?
Nee hoe sal ek nou weet? As mens sulke goed geweet het is die verassing mos daarmee heen… (waar ek WIL wees is ‘n ander ding…)
50) Last thing you ate?
Spek en eiers deur Middelkind voorberei…
51) Worst injury you’ve ever had?
Skietwond aan die linkerhand. Gedog ek’s Batman en die koëel probeer vang. Donnerse stupid ding om te doen. Daarna het ek gehardloop. Moes eers gehardloop het en later probeer het om die koeel te vang… Van BAAAAIE ver af.
52) Does someone have a crush on you?
Ek vermoed so… (Damn that rakish charm and boyish good looks!) Nou lat ek daaraan dink… NATUURLIK!
53) What’s your favorite candy?
Eet nie swiets nie. Net biltong as ek rugby kyk.
54) What song do you want played at your funeral?
Die klank van ‘n warmgemaakte V8 enjin wat in die verte verdwyn…

55) What kind of car do you drive?

Isuzu KB300TDi

 

Daar… Nou kan ek rustig die res van my dag aanvat…

 

 

 

Om met jou hande te werk

Mei 12, 2010 in Sonder kategorie

 

Voor my pa en ma getroud is, was hy ‘n sendeling in die destydse Noord Rhodesië – vandag Zambië. Hy het my vir ure vergas met stories oor hoe hy met sy Citroen deur daai onherbergsame wêreld moes sukkel om by sy verskeie gemeentes uit te kom. Hy’t onder andere altyd ‘n koekie groen Sunlightseep saamgedra waarmee hy gate in petrolpype, briekpype en uitlaatstelsels kon regmaak.

Agter in sy kar was ‘n greedskapkis van hout. Hierin het hy sy moersleutels, tang, hamer, saag, osketting en verskeie ander stukke gereedskap aangehou. As klein seuntjie het hom geglo as hy sê dat hy met die gereedskap in daai kis ‘n huis sou kon bou. Ek het vir ure met die vlymskrp panga in die kis gespeel as niemand by die huis was, behalwe ek en my sussies nie. Want sien, ek mog eintlik nie naby daai kis gekom het sonder dat pa teenwoordig was nie. En as hy die kis oopgemaak het vir een of ander rede, kon ek ok net kyk en nie vat nie. Maar hy het die sleutel vir die kis se slot bo-op ‘n kombuiskas gebere en ek kon met gemak tot bo klim en die sleutel afhaal. Dan het ek in die motorhuis ingesluip, die kis oopgesluit en my verlustig in my pa se geereedskap wat ek altyd weer skoongemaak en op hulle plek teruggepak het.

En toe kry ek ‘n fiets.

Aan ‘n fiets moet gewerk word. Mens moet elke nou en dan die ketting verstel, die wiele afhaal en 3 in 1 olie in die Sturmey Archer 3-spoed ratkassie gooi. Jy moes jou handvatsels verstel vir as jy resies jaag teen jou maters en die saal moes ook verstel word vir optimum trapspoed. En baie keer het ons ons fietse uitmekaaruitgehaal sommer net omdat ons wou.

Maar ek moes altyd by my maatjies gaan werk, want my pa wou my om die dood nie naby sy gereedskapkis toelaat nie. Een dag het ek die sleutel weer gaan haal en was lekker besig om ‘n pap wiel reg te maak toe hy onverwags huis toe kom… Ai,jai, jai! Daai was ‘n afgedankste loesing! En daarna het my pa sy gereedskapkis se sleutel by hom gedra en ek het nooit weer die geleentheid gehad om langs die oop kis te sit en my te verbeel dat ek ook iewers in Afrika karre en vliegtuie aan die gang hou, en as jagter of sendeling of dokter my lewe maak nie.

Een dag het ek gehoor hoe my ma vir my pa vra hoekom hy my nie wil toelaat by sy greedskap nie. Sy antwoord was dat ek nie weet wat ek doen nie, en dat ek sy goed sou breek of verloor.

Dit was my egter nooit beskore nie want een donker nag, toe ek al redelik groot was, het hulle in die garage ingebreek en die pad gevat met alles. Grassnyer, tuingereedskap, tuinslang, my fiets en les bes, pa se gereedskap…

So het ek toe nou nooit eintlik geleer om met y hande te werk nie. Ek kon ‘n kragprop omruil want my ma het my gewys hoe. Ek kon ‘n gloeilamp omruil en ek kon gras sny. Fok, ek kon gras sny…

Later jare het ek self begin glo ek kan nie met my hande werk nie, want al my pelle kon hulle motorfietse self uitmekaar haal en regmaak. Ek moes iemand betaal.

Later jare het ek besef ek kán eintlik met my hande werk, want ek kan kosmaak. Ek is ‘n baie goeie kosmaker. (Let wel… Nie sjef of kok nie – kosmaker…) Een van my meisies se pa het eendag vir my gesê jy kan nie kos maak as jy nie goed is met jou hande nie. (En hy behoort te weet. Hy’t ‘n restaurant besit.)

So het ek maar verlief geneem met die feit dat ek nie noodwendig ‘useless’ was nie, maar net onkundig. En ek het my voorgeneem dat my seuns nooit daai agterstand sou hê nie.

Vandag het ons ‘n ten volle toegeruste motorwerktuigkundige werkswinkel by ons huis, met ‘n inspeksieput, luggereedskap, kraggereedskap en al die ander dinge wat mens nodig het om ou motors te restoureer. Al drie my seuns kan hulle self help in die werkswinkel. Hulle het trouens elkeen ‘n Mini gekry op 13 en teen ouderdom 18 moes hulle die ding uitmekaar gehaal, herbou en op die pad gehad het.

Hulle kan alles regmaak, van hekmotors (iets wat die fabrieksdeskundige nie kon doen nie!) wasmasjiene en yskaste, tot boorgatpompe, besproeingstelsels en Ouma se kar. Hulle is petrolkoppe. En ekis trots op hulle.

Ek word deesdae ok maar net-net in die werkswinkel geduld as hulle besig is, en dit meerendeels omdat ek omtrent vir alles betaal het. En die ou wat betaal slaan die kitaar! Maar ek weet nog steeds nie veel meer as toe ek uit die skool uit is nie, so ek kom hou “inspeksie”, maak een of twee onnodige aan- of opmerkings en gaan dan my gang. En as hulle moeg en honger in die huis inkom gaan was hulle hande en hulle weet pa het kosgemaak. Krap my rug en ek krap joune!

Daar’s nou net een ding wat my pla…

Number One Son maak nou die dag sushi. Beter as ek. En ek het hom geleer.

So wanneer gaan die klein donners my uit my eie kombuis uitskop!

 

 

Esperanza Spalding

Mei 7, 2010 in Sonder kategorie

Ek is verlief…

Ok… Dalk nie verlief nie. Dalk net verslae en verslaaf…

Esperanza Spalding is ‘n meisie met ‘n ongelooflike talent.

Esperanza Spalding has been flying just under the radar for years now, especially for those who don’t follow jazz pop news (it’s not all about Norah Jones, people!), but recently experienced something of a breakout in her February performance on the PBS program Austin City Limits. The day after her performance, Spalding, became the second most-popular search term on Google and millions of PBS viewers were (I assume) smitten.

Spalding grew up in a single-parent home in Portland, Oregon and began teaching herself to play violin when she was four years old. Her prodigious talent led her to study at the Berklee College of Music when she was just 17 and become an instructor there when she was only 20. Now 25, Spalding has composed and recorded two album’s worth of gorgeous jazz pop, supported by a daunting tour schedule and mesmerizing live performances. Her voice is like an otherworldly dessert: syrupy and sweet, yet lighter than air, contrasting with the tones of her double bass, which she takes from its usual position as a support instrument to the forefront of the band. Spalding, who is of mixed race (African-American, Welsh, Native American and Hispanic), speaks Portugese and Spanish in addition to English and sometimes uses them in her songs, like in her version of“Cantora de Yala” on her first album Junjo, or this cover of Milton Nascimiento’s “Ponta de Areia” (album version here):

Luister ook na Esperanza  se optrede op die David letterman Show. Aan die einde van die vertoning noem hy haar “the coolest person we have ever had on this show” Ek stem saam Dave. Ek stem saam.

(As my skakels nie werk nie, Google haar of soek haar op You Tube.)

Dit was dalk nie ‘n goeie idee nie!

Mei 6, 2010 in Sonder kategorie

 

N.a.v. Kantelson se vorige skrywe, en aandrang, die volgende…

 

Ek was in die Vloot in Simonstad gestasioneer tydens my Nasionale Diensplig. (Baie jare terug…) Daar was vier van ons wat motorfietse gery het. Alwyn het ‘n 3 silinder Suzuki 380 gehad met ‘n Ram Air System verkoeling en alhoewel sy fiets die kleinste was kon hy byhou want hy was nou nie eintlik baie groot of swaar nie.

Volgende was ek met ‘n Suzuki Titan, 500 cc tweeslag. Oud en lelik maar die ding het vir alles weeggery tot op 80 kilometer per uur, waarna sy versnelling dramaties afgeneem het, Maar hei, robot tot robot was ek dodelik.

Volgende op die lys was Gawer met sy Honda 750 viersilinder, die motorfiets wat die pad gebaan het vir al die daaropvolgende regte ‘superbikes’.

Laastens was daar Dirk met die koning van fietse daai jare – die Kawazaki 900 cc Z1. In sy tyd die vinnigste produksiefiets wat jy kon koop.

As dienspligtiges het ons nie baie verdien nie, maar ons kon darem ons fietse vol petrol hou en so nou en dan ‘n bier bekostig. Maar die lekkerste was om Saterdagaande Groenpunt toe te ry en te ‘pose’ op jou fiets. Jy trek langs die pad af – in gelid natuurlik – en sit dan so met jou leerbaadjie oopgerits en net met een boud op die saal, en kyk vir die meisies wat verbyloop.

Die manne wou altyd kom gesels oor die motorfietse, maar ons was daar om meisies op te tel. En ek kan nie onthou dat een van ons dit ooit reggekry het nie. (Alhoewel Gawer een aand ‘n meisie gevry het tot hy agtergekom het ‘sy’ het ‘n groter horing as hy… Regtig!)

So teen elfuur het ons die goed aan die brand geskop en stadig begin terugry Simonstad se kant toe. Nou van Groenpunt af ry jy by die hawe verby, waar vandag die V&A Waterfront is, en dan klim jy op die snelweg wat jou oor die middestad vat, in die rigting van Muizenberg. En daar kan jy die fiets se oor maar draai, want die draaie is wyd en die pad goed.

As jy 18/19 is, en jy’s ‘n jong man, is jy ‘bulletproof’. (Of ten minste jy glo jy is) En so ontdek ons toe ‘n heerlike nuwe speletjie.

Aan die kant van elke snelweg is daar ‘n muur, wat keer dat jy nie die pad bysterraak en na benede donner nie. Maar die spesifieke stuk snelweg daar van Groenpunt af se mure loop nie regop nie. Daai muurtjies loop vir ‘n entjie skuins na buite toe, voordat die beton ‘n kinkel maak en regop na boontoe begin loop. Ons speletjie het daaruit bestaan, om die draai storm te loop en te kyk wie kan die hoogste teen die muurtjie opry voor die draai klaarmaak. (Ek ys soos ek nou hier sit…)

Die betrokke aand besluit ek, ek gaan voor Dirk teen die muur opklim, en toe die lig oorslaan gee ek vet vir ‘n vale. Maar Dirk was gewoond daaraan om koning te kraai en toe hy sien wat ek beplan, looi hy die Kawa by my verby en teen die muurtjie op. Ongelukkig het ons entoesiasme ons goeie oordeel te bowe gekom en die volgende oomblik toe verdwyn Dirk met Kawa en al, bo-oor die muur…

Ons het ons gatte afgeskrik.

En op die snelweg kan mens nie omdraai nie so ons ry toe tot by die volgende afrit en toe, in die donker, onder die snelweg terug in die rigting waarvandaan ons gekom het.

Ons het Dirk gekry aan die onderpunt van ‘n tamaai hoop bousand, waar hy kalm en bedaard aan ‘n Lucky Strike Plain sit en suig het. Sy fiets het eenkant op die systaander gestaan, met ‘n paar ligte krapmerke en ‘n effense duik in die tenk.

Dirk het verduidelik hy is bo-oor die muur en het gedink sy laaste dag het aangebreek. Maar toe, op pad grond toe, tref sy fiets die bo-punt van die hoop bousand en hy het op sy kant teen die wal afgeglei tot onder…

Ons het vir lank in stilte gesit en kyk na die hoop sand, die snelweg bo ons en Dirk wat aan sy sigaret suig. Toe’t ons opgesaal en koers gekies Simonstad toe.

Jare later was ek alleen met my motorfiets in die Kaap. Die keer ‘n 1100 Suzuki Katana. Laataand, na ‘n paar biere, het ek weggevlieg by die verkeerslig en gemik vir die draai en die muur…

 

My moed het my begewe. Met ouderdom kom wysheid. (Maar dit was, ten tye, ‘n fokken goeie idee!)

Tee

Mei 3, 2010 in Sonder kategorie

Ek drink tee. Nogal snaaks, want die tyd van die aand drink ek gewoonlik whiskey. Maar tee is ‘n elikser van formaat. Doen dinge wat alkohol nie kan nie. Verlaag jou kolestorol. Verlaag jou bloeddruk. Maak jou ontspan…

Maar foggit…

Whiskey sou nou lekkerder gesmaak het!