Jy blaai in die argief vir 2010 April.

Die Feesbees het geval!

April 11, 2010 in Sonder kategorie

Ek was nog altyd die legendariese Feesbees (party animal) van die verskeie kunstefeeste in ons land. Niemand kon nog by my kers vashou as dit by laatnag-kuier-vroeg-opstaan-vir-werk kom nie. Ek was die koning. Plein en simpel…

 

Kom aan KKNK 2010!

 

Ek werk die jaar aan twee projekte – ‘n vulletjie. ‘n Paar jaar gelede het ek in Grahamstad aan VIER projekte gewerk en die nagte deurgedans (by wyse van spreke…)

 

Hierdie jaar het ek egter baie gou besef dat die jare sy tol geëis het. Saam met my is ‘n klomp jonger mense wat nog nie dertig gesien het nie. Ek belowe hulle al vir die laaste drie weke dat ek hulle mooi sal leer hoe om te kuier. Die Feesbees vattiekakie… Maar oooo weewee…

 

Hoe het die helde geval…

 

Dag een ry ek en ‘n kollega deur van Pretoria af Oudshoorn toe. Dag twee trek ons in ons eerste venue in. Aand van dag twee gaan slaap ek vroeg. Dag drie begin die werk. Dit gaan goed en ons besluit vannaand is partytjietyd. Ons betrek ‘n plek buite die dorp waar daar opelugvertonings aangebied word. Heerlik!

 

Die eerste probleem is dat meeste van die kuierplekke ‘n ooreenkoms geteken het om net Brandhouse produkte aan te hou. Aldus kan ek nie Zamaleks kry nie en moet ek Windhoek of Amstel drink. My whisky hou hulle ok nie aan nie en ek moet Klokkies by my sodawater gooi eerder as Jakkals en Bolf.

 

Maar ek is nie ‘n sissie nie en as die groot kuier tussen my blaaie kom lê kan ek dit met enige voggie doen. Ons kyk so tussen die kuiery deur na Taraboemdery wat deur Albert Maritz gereggiseur is en dis voortreflik. Daarna ontmoet ons ou drinkebroers en toe word ons dors. Ons eindig met ‘n “drag show” – Mincing in the Klein Karoo. Nie my koppie tee nie, maar baie prettig.

 

Ons verkas dorp toe om verder te kuier, maar doen eers by die plaas aan, waar ons bly, om iets warmer aan te trek. Daar verras ek almal, myself ingesluit, as ek sê, ek gaan nie verder kuier nie, maar gaan eerder slaap…

 

Dag vier gaan goed en ek eet aandete op die plaas waarna ek bietjie TV kyk voor ek gaan slaap. (Ons het immers met ons tweede projek afgeskop terwyl die eerste een nog loop!)

 

Dag vyf gaan slaap ek vroeg. Dag ses verloor ek my stem – iets wat nog NOOIT met my gebeur het nie. Dag sewe kom die Rooikop aan om my by te staan. Dag agt maak ons klaar en dag nege ry ek en die Rooikop terug…

 

Dag tien slaap ek byna heeldag en nou sit ek hier en skryf die erbarmlike storie aan my blogvriende.

 

Sien julle die man? Hy was eens op ‘n tyd ‘n legende gewees…

 

Sjeim.

KKNK

April 7, 2010 in Sonder kategorie

Sit nog steeds by die KKNK. Gaan julle volgende week blog dat julle vir genade smeek!