Die Manne wat na bokke staar

April 30, 2010 in Sonder kategorie

Gisteraand is ek genooi na ‘n voorskou van die nuwe rolprent “Men who stare at goats” met George Clooney, Ewan McGregor, Jeff Bridges en Kevin Spacy.

 

Hmmm…

 

Wat gebeur as jy ‘n spesmagsoldaat, wat op sy kop geval het en gesigte gesien het, ‘n onbeperkte begroting gee om ‘n spesmageenheid op die been te bring wat spesialiseer in “Psigiese oorlog” – met die uitsluitlike doel om ‘n einde aan alle oorloë te bring? Jy kry “Men who stare at goats….”

 

McGregor is ‘n joernalis wat Irak toe gaan op soek na “Die Groot Storie” nadat sy vrou hom gelos het vir ‘n kollega met ‘n kunsarm. Hy ontmoet vir Lyn (Clooney) toevallig in sy hotel in Saudië en die twee reis saam na Irak. Op pad begin die storie ontvou oor hoe Lyn sy Psigiese Oorlogvoeringsopleiding onder Kolonel Django (Bridges) ontvang het, hoe die eenheid ontstaan het en wat later gebeur het.

 

By tye is die fliek skreeusnaaks, en soos dit ‘n goeie fliek betaam, by tye nogal hartseer. Daar is lekker snaakse verwysings na ander flieke, wat mens maklik kan mis: Silence of the goats… En McGregor word heeltyd verseker dat hy dit het wat nodig is om ‘n “Jedi Knight” te word. (Hy was natuurlik Obi One Kenobi in die Star Wars rolprente) Baie verwysings na Timothy Leary en die LSD kultuur en die hippie era van die sestigs.

 

Bridges, ‘n akteur wat ek al van 1974 volg, is briljant as die hippie kolonel Django. McGregor, ‘n Skotse akteur, speel die Amerikaanse joernalis soomloos en by tye baie snaaks, veral as hy paniekerig raak oor die feit dat hy dalk geskiet kan word. En Clooney is baie, baie snaaks sonder om ooit in ‘slapstick’ te verval. Hy wissel ook maklik tussen verskillende ouderdomme, van jonk tot middeljarig en oud.

 

Die een terleurstelling is Spacy. Hierdie begaafde akteur lyk asof hy net die pas markeer, en alhoewel hy ‘n ondankbare rol vertolk, kon hy darem sekerlik harder probeer het! Bygesê… Sy selfmoordpoging was, vir my altans, skreeusnaaks. Maar een toneel maak nie ‘n moewie nie.

 

Die fliek sal eersdaags in teaters landwyd vertoon word, en ek het ‘n spesmaas dit gaan, of ‘n hiper-populêre kultusaanhang ontwikkel, of dit gaan vinnig van die skerms af verdwyn.

 

So, as jy hy van slim en pittige draaiboeke met baie verwysings na ander flieks en die geskiedenis, is die een vir jou. As jy nie hou van “quirky” humor nie, gaan die nie jou koppie tee wees nie. Ek vermoed as jy van Britse humor hou gaan jy die fliek geniet.

 

Men who stare at goats: Met George Clooney, Ewan McGregor, Jeff Bridges en Kevin Spacy.

 

 

9 antwoorde op Die Manne wat na bokke staar

  1. plankloper het gesê op April 30, 2010

    Ek het nie die boek gelees nie en dis dalk beter so. Maar die fliek staan goed op eie bene

  2. Sal my oë oophou daarvoor.

  3. Ek sukkel om George Clooney in ‘n komiese situsie te sien, maar ek sal beslis ‘n punt maak om die fliek te gaan kyk en dan gaan ek aan jou blog dink en kyk hoeveel ek dieselfde dinge raak kan sien…

  4. plankloper het gesê op April 30, 2010

    Regso!

  5. plankloper het gesê op April 30, 2010

    Maakso!

  6. plankloper het gesê op April 30, 2010

    Clooney doen ‘n soort van ‘deadpan’ komedie, waar hy nie ‘n gesigspier verroer nie, maar jy weet wat hy din k en wat hy dink is vrek snaaks. Ek was net so verbaas.

  7. plankloper het gesê op April 30, 2010

    Bitter min. En die geweld word so snaaks gedoen dis amper nie geweld nie. Nee, Rienkie, hier die is skop skiet en donner sonder bloed met baie lag.

  8. avega het gesê op April 30, 2010

    Die Coen broers het ook “Burn after Reading” gemaak met George Clooney en Brad Pitt. Hulle komedies is baie anders en skreeusnaaks, soos ook “Ladykillers”. Die tipe film val nie in almal se smaak nie. Vega

  9. plankloper het gesê op Mei 1, 2010

    Ek stem saam met jou

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.