Vier vroue.

April 15, 2010 in Sonder kategorie

Ek en die Rooikop is gister 25 jaar lank met mekaar getroud. Dis ‘n leeftyd. En ons is geseën met 3 seuns wat elkeen besondere talente het. En ons bly in ‘n lekker groot huis met ‘n pragtige tuin. (Haar skuld… Ek raak nie aan plante nie, behalwe as mens hulle kan eet.)

 

En toe vat ek haar gisteraand uit vir ete. Lekker. (Terloops, sy’t vergeet. Ek moes HAAR herhinner… Lekker kry ek nou!)

 

Aan tafel het die gesprek lekker gevloei oor die seuns, die planne… Die planne vir more, die planne van gister… En ek kyk diep in haar oë en kry ‘n rilling van plesier teen my ruggraat af. Na 25 jaar kan sy my nog steeds laat spring van lekkerkry. Ek en sy dans nog steeds soos tieners en ons kuier nog steeds ‘n hond uit ‘n bos uit. Ek is geseënd. Mildelik. En daarvoor is ek dankbaar…

 

Een van my seuns sien ‘n foto van ‘n bekende diva in een van die Oudshoorn feeskoerante wat ek saam met my teruggebring het en vra so skaam-terloops of ek regtig in ‘n stadium met die vrou uitgegaan het. En so dink ek toe nou aan hoe anders alles kon gewees het as ek anders gekies het, of as omstandighede nie my gedwing het om te kies nie.

 

Daar’s baie meisies en vrouens in my lewe en in my verlede. Met meeste van hulle is ek nog op goeie voet en trouens baie van hulle kuier gereeld by ons. (Die Rooikop is spesiaal) Maar daar is vier wat ek onthou, met wie ek sou kon trou. Of wou trou.

 

Die eerste een was ‘n pragtige donkerkop met ‘n pikante lyfie en die gesig van ‘n madonna. (Die godsdienstige een, nie die een wat sing nie) Maar tussen daai heilige oortjies was ‘n brein wat baie gehou het van Die Donker Daad van die Nag. Ek was in die Vloot en sy was nog op skool, maar sy’t my dinge geleer wat ek nou nog onthou. En dit alles in die voorhuis terwyl haar ouers net ‘n entjie in die gang af slaap. Sy’t later, na ek die Vloot vaarwel toegeroep het, Johannesburg toe gekom en by RAU ingeskryf om naby my te wees. Toe ek Johannesburg verruil vir die Jakarandastad om op TUKS te studeer het sy opgeskop en werk gekry in Pretoria om naby my te wees. Haar ouers is intussen oorgeplaas vanaf Vishoek na Pretoria en so in my eerste jaar het ek begin planne maak om te trou. Sy was steeds entoesiasties, steeds verlief op my en steeds woelig met die dinge van die lyf. En ek het lustig saamgedoen… En toe word haar ouers verplaas Pietermaritzburg toe en sy gaan saam en begin daar swot om onderwyseres te word.

 

Op haar volgende verjaardag ry ek Natal toe om haar te verras. En ék kry toe die verassing…

Ek moes seker ook geweet het dat die lyfie waaraan ek so mildelik gesmul het nie vir lank sonder bevrediging sou kon klaarkom nie… Eina.

 

Ek het haar eenkeer, jare later in ‘n restaurant gesien saam met ‘n man en sy’t haar glasie op my gelig toe sy my oog vang – met ‘n effense glimlaggie.

 

Terug op Varsity was dit die diva se beurt. Sy was toe nog totaal onbekend, maar haar reuse talent was reeds duidelik vir almal om te sien. En ons het almal aan haar voete gelê in bewondering. En vir een of ander duister rede het sy vir my, twee jaar haar junior, gekies. En ek was verblind. Vir twee jaar. Ek het haar ouers gaan ontmoet, die ja-woord gevra en gekry, en haar stem, haar bene, haar hande en haar talent aanbid. Maar die son laat nie toe dat Ikarus te naby vlieg nie en my vlerkies het gesmelt en in haar terleurstelling in my tekortkominge het sy begin krap aan my psige. Deur my patetisie pogings om haar gelukkig te maak het ek haar net meer irriteer tot sy een aand, goddank, vir my in my moer gestuur het. Eina.

 

Ek sien haar gereeld – op ‘n veilige afstand – en hoor gerugte oor haar en is dankbaar dat ek haar geken het, maar nog meer dankbaar dat sy my laat gaan het.

 

Die volgende Punt van my Hart was een van ‘n gemengde tweeling en haar broer het my ontmoet en teësinnig vir haar gesê, ek is nie te sleg nie. (Dit was niks in vergelyking met wat sy meisies moes ly onder haar vergrootglas nie!) Ons verhouding was gemaklik. Sy was ‘n ballerina wat net te lank geword het om prefessioneel te dans en het dus die kunste – waarin ek teen die tyd besig was om my merkie te maak – goed verstaan. Ons het goed oor die weg gekom, saam oorsee gaan vakansie hou, saam die land platgery, partykeer op ‘n motorfiets, partykeer per trein, partykeer in ‘n motor. Sy was ewe gelukkig in ‘n tent as ‘n vyfster hotel.

 

En dit was goed.

 

En toe gaan ek Kaap toe op ‘n kontrak. Voor ek ry het ek haar grappenderwys gemaan om nie op iemand anders verlief te raak terwyl ek weg is nie, maar dis presies wat sy gedoen het. Ek het teruggekom om haar te vra om met my te trou en op pad terug van die lughawe af het sy my vertel dat sy gaan trou met iemand anders. Eina.

 

Sy is nog met hom getroud en hulle het twee kinders en ons loop mekaar elke nou en dan raak en dan gesels ons oor haar familie en ons kinders en dis lekker.

 

En toe gaan ek deur ‘n tydperk waar ek nogal gewoeker het. Op soek na professionele sukses, op soek na seks, op soek na bevrediging. Die nagte was te lank, my huis te alleen, die meisies in my omgewing te gewillig of nie gewillig genoeg nie.

 

My ontmoeting met die Rooikop het my lewe gered want ek was in ‘n spiraal van whisky, werk, seks en whisky. En die whisky was besig om te wen.

 

Dit was by ‘n werksgeleentheid wat deur haar georganiseer is vir die motorfirma waar sy gewerk het. Ek was ‘n genooide omdat die mense wat hulle eintlik daar wou gehad het, dit nie kon maak nie. Sy’t ‘n maroen rok aangehad waarvan die moue met twee silwer halfmaantjies versier was. Sy’t rooi hare gehad met blou-groen oë en was heel aand fyntjies geamuseerd deur my pogings om haar te beïndruk. Maar ek het haar werksnommer gehad!

 

Deur die volgende twee weke het ek alles probeer, maar sy was eenvoudig net te besig. En toe kry ek twee kaartjies na Loftus toe, en wonder bo wonder stem sy in om saam met my te gaan.

 

Ek kan nie eers onthou wie het gespeel nie. Na die wedstryd het ons Sjinese kos gaan eet en toe het sy my versigtig na haar woonstel toe genooi. Ek het nooit weer geloop nie. Ek was in my sewende hemel.

 

Ek is nog steeds. Na 27 jaar saam met haar. Eina, maar ek is ‘n gelukkige donner. En ek dink Kris Kristoffersen se liedjie is beslis op my van toepassing.

 

What have I ever done, to deserve even one, of the blessings I’ve known…

 

 

 

1 antwoord op Vier vroue.

  1. plankloper het gesê op April 16, 2010

    Dankie Therina.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.