Jy blaai in die argief vir 2010 Februarie.

Dalk die enigste rede om VSA toe te emigreer… Vir al die ou toppies

Februarie 4, 2010 in Sonder kategorie

The American Lingerie Football League…

Lamb dressed as mutton…

Februarie 4, 2010 in Sonder kategorie

 

“Mutton dressed as lamb” – vir die wat nie weet nie – is ‘n Engelse term wat ‘n ouer vrou beskryf wat haarself jonger wil laat lyk deur hoe sy aantrek, grimeer en hare doen, en baie keer in haar gedrag ook.

 

Maandag begeef ek my na LC De Villiers – vir die van julle wat nie weet nie – die sportterrein van my Alma Mater, die Unibesethi i’Pitoli. Die rede vir my tog was om te gaan kyk hoe Tukkies die manne van die Puk aanvat in die eerste van die Varsity Beker Kampioenskapswedstryde.

 

Ek kom vroeg daar aan, kry lekker parkeerplek, en plak myself op die pawiljoen neer, naby die middellyn en lekker hoog teen die pawiljoen op. Van daar af kan ek die hele veld sien, die dansmeisies goed dophou en ‘n ogie hou oor bekendes soos Breyton Paulse, Mac Masina, Kobus Wiese, Wynand Claasen en ander.

 

Aan die oorkant van die veld sit die mannetjies van die rugby-akademie en hulle raas! Na regs is die klubhuis waar al die hoofwaardigheidsbekleeders hulle self vol bier en brandewyn stop, vermoedelik op die rekening van die borg (maar ek praat onder korreksie, want ek was nog nooit daar in nie). Onder die klubhuis is ‘n klein koperblaasorkessie en hulle raas net so lekker saam.

 

Chippie is die gelukbringer van die Tukkies en hy hol rond en slaan bollemakiesie en vermaak die mense. Elke nou en dan speel hulle ‘n bekende liedjie en dan dans Chippie en die hele pawiljoen sing saam. (Ek raak nou al baie gatvol vir “De la Rey… En vir “Baby, tjoklits! En daai donnerse kaptein kan nou maar rerig sy seile span en die aftog blaas.)

 

Die eerste wedstryd is tussen UJ en TUT en UJ wen gemaklik. Hulle afrigter, Hugo van As, is ‘n ou speelmaat van my (ons het saam onder 20 rugby gespeel) en ek is sommer trots op hom en sy span.

 

Die kaptiens dra pienk broekies en van volgende week af sal dit die “Man of the match” se eer wees om met die pienk broekie op te draf. Klink vir my al asof die man ‘n teiken gaan wees vir ‘n paar lekker plettervatte! Die pienk broekies is om almal te herhinner om by te dra tot die fonds vir oud-spelers wat met kanker saamleef. Al wat jy hoef te doen is om jou span se naam te sms aan die sesiale nommer en daarmee dra jy dan R5 by tot die fonds.

 

Tussen die UJ/TUT wedstryd is daar omtrent ‘n halfuur voor die Pukke vir Tuks in hulle eie agterplaas kom aanvat. En net daar begin die moeilikheid toe…

 

Tydens die voorwedstryd het die pawiljoen algaande voller begin word soos die koshuise se groentjies in hulle koshuismonderings kom stelling inneem. En toe ek my oë uitvee sit ek reg in die middel van Huis Katjiepiering (wat nie bestaan het toe ek daar was nie) se eerstejaars. Hulle dra almal dieselfde hempies en voorop staan “Katjiepiering” en agterop “Katte”. Een of twee van die meer voor-op-die-wa meisiekinders probeer my boelie om op te skuif, maar ek sit my kwaai gesig op en weier volstrek. Ek was per slot van rekening lank voor hulle daar en het my sitplek met die hand uitgesoek.

 

Met nabetragting sou dit seker beter gewees het om te loop.

 

Hulle het skril stemmetjies. Baie skril. En alhoewel hulle rondborstig teenoor mekaar erken dat hulle niks van rugby af weet nie, gil en skree hulle elke keer as ‘n Tuks speler aan die bal vat. Hulle het ook ‘n verskeidenheid krete wat hulle met gereelde tussenposes uit volle bors uitskril. (My ore suis nou nog en dis al Donderdag) Elke nou en dan word ons ook deur ‘n irriterende mannetjie met ‘n mikrofoon aangesê om die “Mexican Wave” te doen. En dan vlieg die meisietjies op en gil en skree, en skop en stamp my omdat ek op my gat bly sit. (As ek die Mexican kry wat daai idiotiese oefening uitgedink het gaan ek ook ‘n paar skoppe uitdeel, dis verseker.)

 

En toe begin die meisietjies hulle gedra soos grootmense.

 

Een of twee steek siggarette aan. Ek keer, maar daar’s te veel van hulle, hulle skree my eenvoudig dood. Agter my sit ‘n ry meisietjies wat ernstig teen my teenwoordigheid kapsie gemaak het toe hulle kom sit het. Hulle is die ergste rokers – en die taal!

 

Toe ek en my twee sussies klein was, was dit vir die meisiekinders ‘n gunsteling tydverdryf om ma se klere aan te trek en modeparade te hou. Hulle het ook van ma se lipstiffie aangesit, krom en skeef maar darem, en met hoede en hoë-hak skoene in die sitkamer rondgeloop tot groot vermaak van die grootmense. Hierdie ry meisietjies agter my het my nogal baie aan my sussies laat dink. Hulle luidkeelse gesprekke met mekaar gaan oor die “mans” in hulle lewens, hoeveel hulle gesuip het toe hulle laas in die Springbok Bar (Snuifende Blou Bul Pedrie se plekkie) was en hoe dronk hulle geword het. Tussen die rookwalms deur sit ek en luister na die grootpratery en blatante leuns. (Ek weet hoeveel dit vat om ordentlik dronk te word en g’n mens, veral nie ‘n tengerige meisietjie, kan soveel drink soos wat die lotjie kwansuis sou gedrink het nie.) Die vloekery is erg. Sou selfs erg gewees het vir ‘n spul dronk manne, en die girls is nugter!

 

Ek voel my ouderdom. Ek probeer op die rugby konsentreer. Maar ek kan nie wegkom van die skril stemmetjies nie en ek wonder onwillekeurig wie hulle probeer na-aap. Ma? Ouer suster? Christina Storm? Paris Hilton?

 

Tuks word deur Pukke vermorsel in die laaste vyf minute, en dan is alles oor. Ek bly sit en wag dat die stadion leegloop. Die “Katte” stroom by my verby en ek kry ‘n paar guitige “Nag oom’s” en nog ‘n knieg of twee in die rug. Dan’s hulle weg. En in my geestesoog sien ek my sussies in my ma se klere en skoene wat probeer loop soos ‘n grootmens.

 

Lamb dressed as mutton.

 

Ai.