Nou word ek oud…

Februarie 11, 2010 in Sonder kategorie

Ek werk nou al vir jare as kunstenaar en verdien op die manier my daaglikse brood en geld om die laaities universiteit toe te stuur. Een van die lekker dinge van die kunste is dat dit jou jonk hou. Jy moet heeltyd vernuwe sodat jou werk nie stagneer en staties raak nie. Dis geredelik doenbaar want daar is baie jong mense wat met ‘n glinster in die oog en ‘n brand in die maag, ambisieus meedoen om ook die illusie van “sterstatus” te bereik.

Soms gaan die jong mense baie ver om die oog te vang. Vanoggend lees ek die nuutste Afrikaanse musieksensasie raak en gaan kuier op hulle webwerf.

www.dieantwoord.com

DieAntwoord bestaan uit drie, of dalk meer, jong mense wat in Afrikaans ‘rap’ volgens die styl van Eminem, oftewel Marshall Mathers. Mathers se lirieke is al beskryf as moderne poesie van hoogstaande gehalte. DieAntwoord het my egter heelwat vrae laat vra, want die antwoorde is maar dun gesaai.

Wanneer die webwerf oopmaak hoor jy hulle nuutste skepping. (Kan mens rymklets ‘n leidjie noem?) Die refrein woord oor en oor herhaal – “Jou ma se p**s in ‘n fishpaste jar”. Die rymklets lirieke gaan oor ‘n persoon wat afgese is en nou vir sy/haar eks vertel wat om te doen en waarheen om te gaan. Hulleself beskryf hulle musiek as “Zef” musiek. En “Zef” is dit beslis.

Ek probeer hard om nie geskok te wees nie. Ek is per slot van rekening nie ‘n blosende maagd as dit by die kunste se skoktaktiek kom nie…

“F*kk*fpolisiekar” is eers in die media ‘polisiekar’ genoem, maar het kort daarna sommer openlik Fokkofpolisiekar geword. Fokkof is nie ‘n woord wat ek voor my ma gebruik nie. My kinders gebruik dit ook nie voor my behalwe onder ekstreme omstandighede nie. Maar die media het ons almal nou toestemming gegee om die woord openlik te gebruik want “dis dan ‘n musiekgroep se naam.” (Jammer! Hulle is ‘n ‘band’. Daar is blykbaar ‘n verskil)

En nou wonder ek wat ek moet doen met DieAntwoord en “Jou ma se p**s in ‘n fishpaste jar”. En hoe lank gaan dit vat voor ons die sterretjies met die klinkers vervang.

In die laaste paar weke was daar heelwat geblog oor Afrikaans en Afrikaners en ons plek in die gemeenskap – hier en oorsee. Ons word in die media beskryf as “konserwatief” en “polities regs”. En hoe meer ek na, veral die jonger geslag, se uitbeeldings van die Afrikaner in flieks, op tv, in advertensies, ens. kyk, hoe meer kom ek tot die besef dat ons vir die res van die wereld steeds, kortbroekdraende, bier suipende, biltong vretende. agtertangers is wat iewers in ‘n geheime plek soos Boksburg, Benoni of Pretoria uitbroei om Steve Hofmeyr en Kurt Darren cd’s te koop. Of om Blou Bul ondersteuners te word.

Zef musiek doen nie veel vir ons image nie, my blaar…

Daar bestaan ‘n hele pantheon van skeppende werk in Afrikaans wat vergelyk met die beste wat die wereld kan bied. Ons het internasionaal erkende kunstenaars opgelewer in alle genre’s van die kunste.  Wat sou AG Visser of NP Van Wyk Louw gemaak het met DieAntwoord? Totius? Ek weet nie… Ou AG sou dalk gedink het hulle is “cool”. Eugene Marais sou dalk gewonder het oor wat hulle in sy “drugs” gesit het. Ek self is verdeeld. 

Maar dat ek effens geskok is, is waar. Dat DieAntwoord bespreek is vir ‘n toer van Europa en dat hulle tot R50 000 per vertoning aangebied word is ook waar.

En ek dink die ding wat my die meeste pla is dat ons grootse uitvoerproduk naas Charlize dalk net Zef musiek gaan word… En hulle kom albei uit Benoni.

Ek dink wragtag ek raak nou oud.

23 antwoorde op Nou word ek oud…

  1. Ek vloek ook nie Plankloper. Ek se net so af en toe demmit, en dis mos eintlik fokkol.

  2. Hulle LYK soos kunstenaars…

  3. Nes jy daar se…

  4. zephur het gesê op Februarie 11, 2010

    Ek stem saam met jou op die een…

  5. Ek sukkel maar met die feit dat Afrikaners as platvloers, banaal en agtertangs uitgebeeld word. Daarom stem ek heeltemal saam met jou.

  6. Hehehe Ouboet

  7. Ek raak ook seker dan maar oud.

  8. Hallo Kerneels.

  9. Wys bietjie jou kunswerke toe, asb!

  10. Dit maak nou nie saak of die manne daardie P woord gebruik per uitdrukking of artistic licence nie,dit bly walglik.
    Ek gaan nou baie eerlik wees..nee ons beeld as Afrikaners is maar steeds nie te helder oorsee nie,en ons liewe President (sien mens spel dit ook met hoofletter P omdat dit so ‘n SKRIKWEKKENDE woord is)laat mense dink ons loop nog met bene in die neus,het almal 10 vrouens by die huis,en elk ‘n horde snotneusies.
    Die geheim van fertiliteit lê blykbaar tog nie by renosterhoring(tot nou toe ‘n gewilde onwetigge uitvoerproduk)nie..

  11. Jy moet maar jou kant bring en help om ons beeld te verander.

  12. Yip… Maar Charlize is darem nie te Zef nie.

  13. Wys jou hoe het ek geskrik. My ore het toegeslaan.

  14. Onthou jy nog? “Where did you have your first Campari?” En dan antwoord sy? “Benoni!”

  15. Gedog jy sou dalk… Al daai mangovark probeer?

  16. Te groot.

  17. Ek dink Die Antwoord is kak. Hullevloek meer as ek so dit sê baie en daai chick se stem klink soos iemand wat sy naels oor ‘n swartbord trek.

  18. Too true…

  19. Screeech! Ek hoor jou!

  20. Gelukkig is ons darem nie almal so nie… Kyk nou maar na ons president

  21. weet jy wat is vir my altyd ironies…hierdie kamstige moderne rondhop gemors is vir net ‘n week of twee gewild…dan kyk jy na musiek van bv. die 80’s wat vandag nog gewild is. Laat my dink of dit nie ook ‘n teken is van hoe ons tieners vandag is nie…niks interesseer hulle vir langer as ‘n week nie?

  22. Ons was dalk ook maar so… Maar ons het wragtag nie so gevloek nie!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.