Jy blaai in die argief vir 2010 Februarie.

Nou word ek oud…

Februarie 11, 2010 in Sonder kategorie

Ek werk nou al vir jare as kunstenaar en verdien op die manier my daaglikse brood en geld om die laaities universiteit toe te stuur. Een van die lekker dinge van die kunste is dat dit jou jonk hou. Jy moet heeltyd vernuwe sodat jou werk nie stagneer en staties raak nie. Dis geredelik doenbaar want daar is baie jong mense wat met ‘n glinster in die oog en ‘n brand in die maag, ambisieus meedoen om ook die illusie van “sterstatus” te bereik.

Soms gaan die jong mense baie ver om die oog te vang. Vanoggend lees ek die nuutste Afrikaanse musieksensasie raak en gaan kuier op hulle webwerf.

www.dieantwoord.com

DieAntwoord bestaan uit drie, of dalk meer, jong mense wat in Afrikaans ‘rap’ volgens die styl van Eminem, oftewel Marshall Mathers. Mathers se lirieke is al beskryf as moderne poesie van hoogstaande gehalte. DieAntwoord het my egter heelwat vrae laat vra, want die antwoorde is maar dun gesaai.

Wanneer die webwerf oopmaak hoor jy hulle nuutste skepping. (Kan mens rymklets ‘n leidjie noem?) Die refrein woord oor en oor herhaal – “Jou ma se p**s in ‘n fishpaste jar”. Die rymklets lirieke gaan oor ‘n persoon wat afgese is en nou vir sy/haar eks vertel wat om te doen en waarheen om te gaan. Hulleself beskryf hulle musiek as “Zef” musiek. En “Zef” is dit beslis.

Ek probeer hard om nie geskok te wees nie. Ek is per slot van rekening nie ‘n blosende maagd as dit by die kunste se skoktaktiek kom nie…

“F*kk*fpolisiekar” is eers in die media ‘polisiekar’ genoem, maar het kort daarna sommer openlik Fokkofpolisiekar geword. Fokkof is nie ‘n woord wat ek voor my ma gebruik nie. My kinders gebruik dit ook nie voor my behalwe onder ekstreme omstandighede nie. Maar die media het ons almal nou toestemming gegee om die woord openlik te gebruik want “dis dan ‘n musiekgroep se naam.” (Jammer! Hulle is ‘n ‘band’. Daar is blykbaar ‘n verskil)

En nou wonder ek wat ek moet doen met DieAntwoord en “Jou ma se p**s in ‘n fishpaste jar”. En hoe lank gaan dit vat voor ons die sterretjies met die klinkers vervang.

In die laaste paar weke was daar heelwat geblog oor Afrikaans en Afrikaners en ons plek in die gemeenskap – hier en oorsee. Ons word in die media beskryf as “konserwatief” en “polities regs”. En hoe meer ek na, veral die jonger geslag, se uitbeeldings van die Afrikaner in flieks, op tv, in advertensies, ens. kyk, hoe meer kom ek tot die besef dat ons vir die res van die wereld steeds, kortbroekdraende, bier suipende, biltong vretende. agtertangers is wat iewers in ‘n geheime plek soos Boksburg, Benoni of Pretoria uitbroei om Steve Hofmeyr en Kurt Darren cd’s te koop. Of om Blou Bul ondersteuners te word.

Zef musiek doen nie veel vir ons image nie, my blaar…

Daar bestaan ‘n hele pantheon van skeppende werk in Afrikaans wat vergelyk met die beste wat die wereld kan bied. Ons het internasionaal erkende kunstenaars opgelewer in alle genre’s van die kunste.  Wat sou AG Visser of NP Van Wyk Louw gemaak het met DieAntwoord? Totius? Ek weet nie… Ou AG sou dalk gedink het hulle is “cool”. Eugene Marais sou dalk gewonder het oor wat hulle in sy “drugs” gesit het. Ek self is verdeeld. 

Maar dat ek effens geskok is, is waar. Dat DieAntwoord bespreek is vir ‘n toer van Europa en dat hulle tot R50 000 per vertoning aangebied word is ook waar.

En ek dink die ding wat my die meeste pla is dat ons grootse uitvoerproduk naas Charlize dalk net Zef musiek gaan word… En hulle kom albei uit Benoni.

Ek dink wragtag ek raak nou oud.

Vir Therina – Brusselse Spruite wat selfs kinders sal eet.

Februarie 9, 2010 in Sonder kategorie

Al julle bloggers wat Brusselse Spruite nie kan uitstaan nie. Die’s vir julle ook.

APPEL, BRUSSELSE SPRUITJIES AND RAAP DEURMEKAARKOS

Tyd: 40 minute

10 repies dik swoerdlose spek
Growwe sout
500 gram Brusselse spruitjies in kwarte gesny
3 1/2 eetlepels ongesoute botter
2 Granny Smith appels, geskil, pitte verwyder en 10mm snye gesny
1/3 koppie appelasyn
1 lekker groot raap, geskil en in blokkies gesny. (Moet omtrent dieselfde hoeveelheid as die spruitjies wees)
Wit peper
Knypie suiker

 

1. Braai die spek tot bros. Laat vet dreineer op papier, breek in stukkies en sit eenkant. Bring ‘n groot pot gesoute water (ongv. 5 liter) tot by kookpunt en blansjeer die spruitjies vir twee minute. Haal uit, dreineer en doop in yswater. Dreineer en plaas eenkant.

 

2. Smelt 1 ½ eetlepels botter in ‘n groot braaipan oor gematigde hitte. Braai die spruitjies tot dit begin bruin word. (ongv. 5 minute) Sit eenkant, voeg nog ‘n eetlepel botter by en braai die appleskywe tot goudkleurig. Sit eenkant.

 

  1. Gooi 1/3 koppie appelasyn in die braaipan. Op lae hitte voeg die raap by. Sout na smaak en kook saggies tot raap sag is. Voeg bietjie water by indien nodig. (3 tot 4 minute) Voeg spruite by en kook. Roer gereeld. (nog 2 tot 3 minute) Vou nou die appels in, saam met die peper en suiker. Laat dit deurwarm word en vou dan die spekstukkies in. Proe die raap en sit sout, peper en suiker na smaak by. Dit moet sout en suur proe en net effens soet.

 

As jy een van daai mense is wat nie van Brusselse spruitjies hou nie, gaan die een jou bekeer!

Die een is vir Murphy want ek dink sy sal daarvan hou.

Februarie 8, 2010 in Sonder kategorie

Rys en lensies saam met hoender in pajamas.

Voorbereidingstyd: 30 min

Baktyd: 1hr 35 min

 

Bestanddele
45 ml olyfolie
2 uie, fyngekap
3 knoffelhuisies, fyngedruk
150 g bruin lensies
200 ml droë wit wyn
200 ml vars lemoensap
700 ml hoender aftreksel (stock)
1 ml allspice
10 ml lemoenskil
15 ml heuning
150 g rys
250 g vars knopiesampioene, fyn gesny
250 g brokkoli, in klein boompies gebreek
sout en gemaalde swartpeper
6 hoenderbors fillette in helfe gesny (lengtegewys)
250 g swoerdlose spek

Metode:

Verhit die olie in ‘n groot pan of bak. Braai die uie en knoffel tot sag. Voeg die lensies, wyn, lemoensap, aftreksel, allspice, lemoenskil en heuning by en roeor goed. Laat dit kook, draai die hitte af en laat prut vir 1 uur.

Voeg rys en groente by en laat rput vir nog 15 minute. Gooi sout en peper na smaak by en haal van die hittte af. As jou bak of pan nie oondvas is nie, dra inhoud oor na ‘n oondvaste bak.
Draai elke stukkie hoender in die spek toe en lê hulle bo-op die lensie en rys mengsel neer. Bak in ‘n voorverhitte oond teen 180 C vir 20 minute.

Vir Anha

Februarie 8, 2010 in Sonder kategorie

Chasen’s is al vir 60 jaar ‘n bekende restaurant in Hollywood. Een aand het die kinderster, Shirley Temple, saam met haar ouers daar gaan eet. Voor ete het die grootmense toe elkeen ‘n mengeldrankie bestel. Shirley wou ook saamdrink en toe maak die kroegman vir haar hierdie drankie. Sy is een van net twee mense na wie ‘n drankie in Chasen’s vernoem is. Shirley Temple-Black is deesdae ‘n ambassadeur vir die VSA.

5 dele gemmerlim (ginger ale)

1 deel Grenadine

1 skyfie lemoen

Marachino kersie

Ys.

Sit ‘n paar blokkies ys in ‘n lang glas. 

Gooi die gemmerlim en Grenadine by en roer.

Maak nou die glas vol ys.

Sit ‘n kersie in die drankie en bedien met ‘n lemoenskyfie aan die rand van die glas.

Guaranteed not to cause a hangover!

Vir Dalla se Pa. Sommer net oor ek jou wyshede so geniet.

Februarie 7, 2010 in Sonder kategorie

Geniet dit!

Biltong en pampoen (of butternut) toebroodjies

Bestanddele
125 ml pampeon of butternut, gekook en fyn gedruk
125 ml pecorino kaas, dun gerasper 
125 ml maaskaas
vars tiemie gekap 
swartpeper na smaak 

klam biltongskyfies 
8 snye bruin brood 

Metode:

 

Meng pampoen, kaas en tiemie saam.

Sout en peper na smaak en sit in yskas tot reg is om te bedien
(Dit sal vir ‘n paar dae in die yskas hou)

Smeer die pampoen oor vier sny brood en sit die biltongskyfies bo-oor
Sit die andwer snye brood bo-oor en sny in driehoekies
Dit maak ‘n lekker ligte ete saam met slaai (of as jy voel jy moet jouself ‘treat’)

 

N.a.v die lekker ‘army’ blog wat Sahmur gister gepos het – Contraband

Februarie 7, 2010 in Sonder kategorie

Ek het daai storie baie geniet. Hoop jy geniet die!

 

KONDENSMELK BESKUIT:

 

1kg bruismeel 125ml suiker

500ml semels 250ml volkoringmeelblom

150ml sesamsaad 150ml sonneblomsaad

15ml bakpoeier 5ml sout

2 eiers, geklits 500ml karringmelk

397g kondensmelk 450ml botter gesmelt

 

Plaas droë bestanddele in ‘n mengbak en meng goed. Voorverhit oond tot 180C. Maak ‘n holte in die middel en voeg die eiers, karringmelk, kondensmelk en botter by en meng goed. Smeer 3 middelslag broodpanne met botter. Verdeel mengsel tussen panne en maak gelyk bo-op. Bak sowat 45 minute lank by 180C of tot goudbruin en deurgaar. Laat vir 5 minute in panne afkoel, keer versigtig uit en laat heel temal afkoel. Sny beskuit in vingers en pak effens uitmekaar op bakplate. Laat oornag in ‘n koel oond (60-70C) uitdroog. Plaas ‘n lepel in die oonddeur sodat die vog kan ontsnap.

 

Vir Andre S Kamer – en al die ander bloglanders wat opkikkering nodig het na more se Rapport

Februarie 6, 2010 in Sonder kategorie

Die Rusty Nail.

Oftewel – Die Veroeste Spyker

Een deel Drambuie

Een deel Skotse Whiskey

Gooi oor ys en roer.

Geniet.

Vir Modderkoekie – as sy nou RERIG huistoe verlang!

Februarie 5, 2010 in Sonder kategorie

Skurwejantjies

 

875ml suiker

400g hoë vet margarien

75ml stroop

5 x 250ml koekmeelblom

5 x 250ml klapper

5 x 250ml hawermout

5ml kaneel

10ml sout

5ml gemmer

5ml fyn neut

3 eiers geklits

20ml koeksoda

60ml melk

 

Metode

 

Voorverhit die oond na 180°C. Smeer bakplate

Room die suiker en smeer en voeg die stroop by. Voeg nou alle droë bestanddele behalwe koeksoda by. Voeg die eiers by. Los die koeksoda in die melk op en voeg dit ook by die mengsel. Maak okkerneutgrootte balletjies en druk dit plat op die bakplaat. Bak tot goudbruin.

 

Werk lekker saam met melkerige koffie of tee!

Vir Ouboet, met die naderende winter – en natuurlik al die ander wat hou van eet

Februarie 5, 2010 in Sonder kategorie

Melkkos

 

Bestandele

2 liters melk
400 ml meel
’n Knippie sout
1 etlepel botter
1 kaneelstokkie
Kaneelsuiker

Aanwysings

Sif meel en sout saam en vryf die botter in. Laat melk kook saam met die kaneelstokkie. Voeg die meelmengsel by en klits – moenie skrik as dit klonte maak nie, dit moet! As dit lekker dik en klonterig is, sit die deksel op en laat prut vir 5 – 8 minute. Dit brand maklik so hou die hitte laag. Bedien lekker warm met heuning, stroop of kaneelsuiker.

Vir laataand voor die tv as jy kanaal 184 kyk

Reseppie vir Zeppie – en natuurlik al die ander bloglanders wat hou van lekker eet.

Februarie 5, 2010 in Sonder kategorie

 

Begin met varkvleis. Enige snit sal doen solank daar ‘n redelike mate vet aan is.

Sny die vleis in klein blokkies.

Sit die bene, vel en vet in ‘n swaar braaipan en bak tot al die geur en sappe uitgekook is.

Skep die bene, vel en vet uit maar los die sous. (Ek los partykeer die vel en vet in, maar dis jou keuse en jou kolesterol)

Sit nou die blokkies vleis in die pot en braai tot bruin.

Vat nou ‘n lekker groot veselperske of twee, skil hom af en sny die vleis van die vrug in blokkies. Meng dit met die verbruinde vleis.

Gooi ‘n lekseltjie onverdunde, gekonsetreerde vrugtesap oor die spulletjie en sit in die oond teen ‘n matige hitte. (As jy lemoensap gebruik, maak seker dis versoet. ENIGE vrugtesap sal doen, maar hy MOET gekonsentreerd en onverdund wees)

 

Hou die spulletjie dop en roer so elke nou en dan, anders brand die suiker in die vrugtesap vas. As die veselperske begin bruin raak is hy reg.

 

Eet hom saam met rys, pasta, vars bruin brood, patats of sommerso uit die pot uit.

 

Yummie!