Om mure te bou

Januarie 25, 2010 in Sonder kategorie

Ek moes nou die oggend op ‘n sakebesoek na Sodom en Gomorra toe gaan en het dus met ‘n ekstra halfuur in hand die Jakarandastad agter my gelaat. Al gou-gou het die draadloos my ingelig daar daar weer probleme op die hoofweg is, en toe kies ek maar liewer koers in Kayalami se rigting om te probeer om die ergste verkeer te vermy.

 

Die plan werk toe baie goed en sommer gou-gou seil ek by die wêreldbekende motorrenbaan verby. Net so ‘n entjie verder begin ek groot advertensieborde aan my linkerkant sien. Die borde adverteer ‘n nuwe ‘lifestyle village’ en volgens die borde gaan mens alles daar kry, van skole – pre-primer, primer en sekondêr – bergfiets paadjies, wandelpaadjies, visdamme waar mens mag vlieghengel (nie papgooi nie, let asb op!), winkelsentrums, gemeenskapsentrum, gimnasium, restaurante, skoonheidspa’s, en nog sommer baie ander aanloklikhede. Daar gaan ook 24 uur sekuriteit wees en patrollies om te verseker dat almal veilig en gelukkig is.

 

Die borde word al groter en die versoekings al smaakliker en dan! Die MUUR! Daar is ‘n tamaai muur rondom die plek en die grootste advertensiebord van almal kondig aan: “This wall is 27 kilometres long and 4 metres high!” Magtag, maar dis mos ‘n moerse muur?

 

Ons bou natuurlik deesdae mure om ons privaatheid te beskerm en om seker te maak die ongewenste vreemdelinge bly buite. Binne die mure kan ons braai, kaal swem, geweld pleeg of sommer net dronk word saam met vriende en familie. Buite die mure dra ons ons werksklere en verdien die nodige om die muur in stand te hou. Ek self het ‘n lekker fris muur om my werf en as ek langs my swembad sit voel ek wragtag soos ‘n koning van alles wat ek gadeslaan. Al wat my muur nie buite hou nie is die geraas. Lorries, mense, Loftus, (Ek kan hoor as ‘n drie gedruk woord voor ek dit op tv sien… geweerskote, alarms, sirenes en honde. Maar dis ‘n klein prysie om te betaal vir die ander voordele wat my muur my bied.

 

Al die pad Johannesburg toe dink ek aan die groot muur. 27 kilo’s lank en 4 meter hoog? En dis ‘n mooi muur. Elke nou en dan ingelê met leiklip en dan’s daar sulke ribbebene wat elke paar meter teen die muur oploop, vemoedelik om die ding te versterk sodat hy nie omval as dit reën nie. Ek kon nie die hekke sien wat mens toegang verleen tot die binnekant nie, maar ek is seker dit sal imposant en belangrik vertoon. En baie mense gaan hier koop juis as gevolg van die muur! My muur by die huis is baie goed vir die doel waarvoor hy gebou is, maar mens kyk die heeltyd teen hom vas. Maar ‘n muur van 27 kilometer kan mens se familie tog sekerlik beveilig sonder dat jy elke keer in hom hoef vas te kyk as jy wil gaan water afslaan in die tuin.

 

En so kom ek toe by my betsemming aan en doen die besigheid wat ek beplan het en vat toe weer koers huistoe. Maar dis nou al heelwat later en selfs op my gekose agterpaadjie is daar buffer teen buffer verkeer. En soos wat my gewoonte is begin ek vir die mense in die karre rondom my loer. Hier sien ek ‘n paar jong manne wat lekker sit en bier drink in die verkeer op die maat van harde musiek. Daar weer ‘n vrou wat op die selfoon praat, grimering aansit, (die tyd van die dag?) ‘n sigaret rook en haar kar in die pad probeer hou. En baie besigheidsmense wat of suur lyk vir die dag se gebeure of op die selfoon besig is. En net toe ek weer by die MUUR verby ry kyk ek in my spieëltjie. Die meisie in die karretjie agter my is mooi, pragtig mooi, en sy gesels met iemand op haar selfoon. Die verkeer is baie stadig en ek kan lekker van agter my donkerbril vir die mooi meisie sit ek kyk sonder om te bekommer dat ek ‘n ongeluk gaan maak of veroorsaak. En toe skielik ruk sy die foon van haar oor af weg en begin snot en trane huil…

 

Ek skrik my byna dood! Die een oomblik nog gesels sy laggend en skertsend met haar vriend/vriendin/familielid oor die foon en die volgende oomblik tjank sy. Dan vee sy met haar handjie oor haar oë en gesels verder deur die trane maar met ‘n glimlag op haar gesig. Na ‘n ruk huil sy weer en dan vee sy die trane af en gesels verder.

 

Ek bewonder die meisie se toewyding tot ‘n vrolike gesprek al kan ek in my tru-spieëltjie sien sy is stukkend van binne. Naderhand word ek kwaad vir die dom kwas aan die anderkant van die lyn. Kan hy/sy dan nie hoor hoe ontsteld my nuwe verkeer vriendin is nie? As die verkeer weer tot stilsyand kom moet ek net keer of ek vlieg uit die kar uit om haar te gaan troos en die persoon aan die anderkant sleg te sê, maar ek doen dit nie…

 

Want sien… Ons bou mure. Nie net om ons huise nie, maar ook om onsself. Ek kan nie sommer haar muur gaan ombliksem en maak en breek soos ek wil nie. Trouens ek kan nie sommer goedsmoeds oor my eie mure klim om haar te gaan help nie. Ons mure betsaan uit gewoontes, ‘goeie maniere’, rituele…

 

“We are creatures of habit!”

 

En so sit ek toe maar vir die volgende drie kilometer na die meisie en kyk wat dan lag en dan huil. En ek wonder teen wie, of wat, sy die muur gebou het. Wat verhoed haar om vir die ander persoon te skree: “Gaan skeit man! Jy maak my nou baie seer! Ek sit en huil hier en jy weet dit nie eers nie!”

 

Naderhand draai sy af en ek wens ek kon haar op ‘n manier laat verstaan dat ek graag sou wou help as ek kon.

 

Maar die mure is te hoog en te lank. Hoër as 4 meter en beslis langer as 27 kilometer…

 

19 antwoorde op Om mure te bou

  1. Yip…

  2. zephur het gesê op Januarie 25, 2010

    Dink net aan al die bou materiaal wat in daai muur in is…kon ‘n paar huise gebou het met daai.

  3. Dankie Ghaap.

  4. Dis nie altemit nie!

  5. Baie, baie waar wat jy hier geskryf het. Ek ken van hierdie mure maar alte goed – het sommer kasteel sterkte en hoogte met hakkiesdraad bo-oor om my gebou en staan party verstom dat sommige mense dit soms regkry om hulle pad onderdeur te “leopard crawl” bloot omdat hulle net eenvoudig nie moed opgee nie en bereid is om verder as net veldiep te kyk.. Maar jy’s reg – ons bou baie mure rondom onsself….om watter rede ook al – maar hulle is daar.

  6. Beste skrywe wat ek in jare gelees het.
    Wens ek kon meer as 5 sterre gee.

  7. Baie dankie. Ek waardeer dit opreg.

  8. Dankie vir die inloer.

  9. Hey ek het ook gelaaik. Ek weet nie in watter deel jy van Pretoria bly nie. Maar hier in die doostelike voorstede staan die mure natuurlik net so hoog. Van Mooikloof tot Boardwalk Meander. Van Silver Lakes tot by wie weet waar. Is net sulke moerse mure. Soms dink ek ons bly in die last outpost of apartheid. Bou net laers.

  10. Selle ou storie hier in Brooklyn

  11. Dit bly maar ‘n stryd, ne? Dankie vir die inloer!

  12. Trakie het gesê op Januarie 30, 2010

    Puik!

  13. Dankie!

  14. Baie dankie!

  15. Dankie.

  16. zephur het gesê op Februarie 3, 2010

    Nou waar is Plankloper…

  17. Hardloop my beentjies af om nie van die plank af te val nie… Januarie en Februarie is mos maar die maer maande. Sal darem oor die naweek weer kans kry om te blog. (Ek hoop!)

  18. Nou wonder ek hoeveel keer mense my dopgehou het as ek hartseer is en oor die foon praat.
    Die slag wat iemand vra hoe dit gaan en die trane dan skielik net oorweldig.
    Dink dit sou beter met ons gegaan het as ons maar party keer dalk net oor die muur klim, nie noodwendig afbreek nie, net oorklim.
    wonder of die oorklim nie dalk bietjie aan die muur sal skaaf dat hy korter en laer word nie?

  19. Ja maar mens moet verlief neem dat jy partykeer baie nerwe en velle verloor so met die oorskuur!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.