Klippe op die vaderhart…

Januarie 20, 2010 in Sonder kategorie

In Januarie 1975 moes ek by Jhb stasie aanmeld om die trein te haal Simonstad toe. Vandaar sou ons loop tot by SAS Simonsberg  waar ons verskree en verskrik die lang pad aangedurf het na matroosdom toe. Van ons het dit geniet, ander weer nie. Maar ons het dit gedoen want dit was ons plig. Dis eers jare daarna dat ek polities bewus geraak het  en my en my regering se motiewe begin bevraagteken het. Maar ek wil nie nou daaroor gesels nie…

‘n Week voor ek moes vertrek word my ma siek. Doodsiek. En my ma is nie ‘n vrou wat siek word of kla nie. (Voor haar onlangse rugoperasie het die chirurg met verwondering in sy oe vir my gese: “Jou ma is nie ‘n vrou wat maklik kla nie. Na regte moes sy weke gelede al nie meer kon loop nie!” Sy was 76) Alle geval… Daar le my ma toe in die hospitaal en almal kom kuier van heinde en verre. En my pa se suster gaan sien my ma in die hospitaal en kom terug en vertel my dis alles my skuld!

Jy kon my met ‘n veer ombliksem… Dit kom toe uit dat ek in ‘n ondenkende oomblik genoem het dat ek nie sal omgee om in ‘n duikboot diens te doen nie. Dit het my ma toe in ‘n paniek laat gaan, waaaruit nie dokter, dominee of dop haar kon kry nie. Eers toe ek plegtig voor getuies beloof dat ek nie my voet aan ‘n duikboot sal waag nie, het sy beter geword en is toe ontlsaan.

My pa het my vrolik en skertsend by die stasie afgelaai, grappies met die offisiere gemaak en my gewaarsku om ” my ding uit gate te hou, sodat my gat uit dinge sou uitbly “. En daarmee is ek vort om 18 maande later terug te keer huistoe, net om te ontdek dat my ouers in my afwesigheid die huis verbreek en verbou het en my slaapkamerloos gelaat het in die proses. Praat van verwerping!

En in daai agtien maande het ek amper ‘n man geword. My tuiskoms na ‘n slaapkamerlose ouerhuis was die laaste klip in die muur.

Vanoggend moes ek my seun, my jongste, by Tukkies se High Performance Centre gaan aflaai. Hy’s ‘n kranige skrumskakel en is aanvaar by die Bulls/Tuks Rugby Akakademie vir die jaar 2010. Hulle vertrek kort daarna na ‘n voorbereidingskamp iewers in die bos, en aan sy gesels kan ek aflei die breiers het hulle belowe dit gaan erger as Kamp Staaldraad wees en elkeen van hulle kan verseker wees hy GAAN kots voor hulle huistoe kom.

Ek baklei teen die knop in my keel. Ek kan sien hy is senuweeagtig maar hy doen sy bes om dit nie te wys nie. Ek het nie woorde om hom  mee te help nie, want ek weet dit gaan nie so erg wees nie, maar hy sal my nie glo nie want ek was per slot van rekening nooit op so ‘n kamp nie. Ek probeer verduidelik dat ek darem ook eenkeer moes afskeid neem en ek sou oorlog toe gaan vir agtien maande. Hy gee my ‘n bejammerende kyk en vertel dat hierdie rugby is, nie die vloot nie…

Hy stap weg met sy toksak oor sy skouer, bree skouers en gespierde bene regop en reg vir die uitdaging, en ek wonder of my pa ook lus was om te huil toe ek weggestap het trein toe. En ek wonder oor my ma. Wat sou se se as ek haar na al die jare vertel dat ek tog op ‘n duikboot was en heelhuids anderkant uitgekom het?

My seun verdwyn tussen die ander seuns, klim op ‘n bus en ignoreer my, soos wat seuns doen. Ek staan belsuiteloos rond, wil naderstaan en hom vir oulaas ‘n druk gee. iets in die oor fluister, maar wat?

Dis per slot vanrekening net rugby… Nie oorlog nie.

En sy kamer sal net so vir hom wag.

22 antwoorde op Klippe op die vaderhart…

  1. Baie geluk met jou seun se prestasie!
    Dis eintlik ‘n baie hartseer storie die…

  2. Die stuk is so mooi geskryf.Die teenstellings tussen rugby en oorlog,oorlog en rugby.’n Moederhart/Vaderhart.

  3. Jip… Dankie

  4. Dankie MK. Eintlik het ek sommer net geskryf… Maar mens kan seker nie help om te redigeer soos jy aangaan nie.

  5. Dankie! Watch this space! soos hulle se.

  6. Ons hou duim vas! Dankie vir die inloer.

  7. Die Rooikop het in die kar bly sit, juis om nie die seunskind te ontstig nie… *Demmit, gee aan daai rol papier!*

  8. Mooi geskryf….toilet paier is nodig hierso om trane af te vee.

  9. Dankie..

  10. Nou praat jy..

  11. jannel1 het gesê op Januarie 20, 2010

    Oorlog is amper so erg soos Rugby 🙂

    Sterkte en ons glo die bul gaan ‘n man terugkom al het hy nog ‘n kamer in jou huis.

  12. Puik!

  13. Dankie Jan!

  14. High praise indeed. Dankie DsP

  15. Amper mis ek die een. Baie goed geskryf. Beter as goed. Briljant.
    Ek het nie kiddies van my eie nie, maar verlede week kry ek ‘n foto van eks-skoonsus van my oudste broer se tweetjies met hul skoolklere, reg vir die een se eerste dag op skool.
    En toe kry ek ook daai knop in my keel.

  16. Lekker, lekka, lekerrr het ek gelees en geassosieer. Soos , amper so as WP, WEER ‘N SLAG KAN WEN!!

  17. Bryan Haban, Jaque Fourie, en die lys gaan aan… Een van die dae het julle ‘n baie mooi span opgemaak uit Bulle, Leeus en Cheetahs. Dan wen julle alles…

  18. Dankie man… Ek het hoeka ou skoolfotos gaan soek na die storie en ook weer begin snik oor my drie bulletjies wat nou al so groot is…

  19. Dit ga eintlik oor my lekker lees. Jinne, maar omtrent die opvliegreaksie: WP het darem self ‘n grootklomp geverloor!!

  20. Kyk… In die dae toe ek nog rugby gespeel het, het ekgeleer dat die beste manier om die los bal te wen, is om eerste op te vlieg… Noe doen ek maar net dieselfde as ek oor rugby gesels. Vlieg eerste op! Sorrie…
    (Ware verhaal… Pel van my staan om ‘n braaivleisvuur en gesels rugby. Hulle vra hom toe wie hy ondersteun, toe se hy die Stormers. Lang stilte… Toe se een ou droog: So, jy’s ‘n rugbyliefhebber, nie ‘n rugbykenner nie…)

    Terloops… Ek’s ‘n Leeu.

  21. Ten besluite. En met groot agting en respek, die keer het die bal bly lê, of andersinds my kompliment is skoon gemis. Dis jammer. Maar dit vertel ook insigself ‘n eie verhaal van gespannendheid. Dit terwyl by my as WP supporter daar geen twyfel is dat die Stormers dit weer nie gaan maak nie, altans vir solank as wat Rassie daar bly.

  22. Ek kan sommer sien ons gaan nog lekker om die blog met rugbay saam kuier die jaar…

Los ’n antwoord vir plankloper. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.