Kuruman, Andriesvale en verder (2)

Januarie 12, 2010 in Sonder kategorie

Die res van die ‘Desert Run’ ekspedisie het die vorige dag by Kuruman weggespring en via Van Zylsrus en Middelputs deur die Kgalagadi Oorgrenspark gery tot by die Molopo Lodge. Van hier af trek ons nou weer verder deur die rooi duine tot by die Rietfontein grenspos tussen Namibië en die RSA. Daarna moet ons oornag in ‘n dorpie met die naam van Koës (of Khuis) en dit word uitgespreek ‘Koois”.

 

Dwayne en Number One Son klim in die Jianshe, Willie en Gilo in die viertrek Nanyi en ek vat die wiel van die tweetrek Nanyi, met Yian die Sjinese ingeneur langs my. Strat, Tito, die Mosambieker, Bob, die Sjinees, en Petro ry met die Land Rover agter ons aan op die roete vir ingeval iemand vasbrand. Snotvis vat die Isuzu en die bostreiler met die teerpad langs grenspos toe. Meneer Vuil doen dieselfde met die Chev en die lang slaapwa.

 

Draai links by Molopo Lodge se hek uit, ry ‘n hele ent teerpad en draai dan links af op ‘n tweespoor paadjie die duine in… Dwayne-hulle is eerste op die pad en hulle laat waai. Die Jianshe het maar ‘n topsnelheid van om en by 80 kilometer per uur, maar wat hy verloor op spoed maak hy op met ratse padhouvermoë. Die viertrek Nanyi gee van die begin af probleme. Dis warm! 47 grade is niemand se speelmaat nie… My tweetrek karretjie loop dat dit vrek in die duine maar ek sien die bekommerde Yian tik aanmekaar op die temperatuurmeter wat konstant in die rooi is. Die verkoelertjie en waaier sit agter die enjin en in hierdie moordende temperature is dit nie ‘n goeie ding nie. Yian is ook nie gewoond daaraan om teen hoë spoed blindelings langs ‘n nou tweespoorpaadjie af te bliksem nie. Die arme man klou vir ‘n vale en trek elke nou en dan sy sitplekgordels stywer. Die gewillige enjintjie brul en die Nanyi klouter oor alles wat in sy pad staan. In ‘n stadium kom ons op ‘n stywe duin af waar ‘n ondersteuningspan met ‘n Toyota bakkie vasgeval het. Daar staan ‘n lang tou bakkies aan die onderkant van die duin terwyl almal spook om die Toyota uit die pad uit te kry. Ek trek ‘n rat af en gaan langs die konfooi verby en teen die duin op, sonder om ‘n oog te knip. Ons bokspring bo-oor die kruin en dan is daar ‘n lang afdraaende na die pan toe. Net voor die pan is daar ‘n sloot van omtrent ‘n halwe meter diep. Ek sien die ding te laat en gaan oop ketel bo-oor. Die Nanyi knip nie eers ‘n oog nie, maar vreet die ou slootjie sommerso op. Op die pan gooi ek ‘n paar lekker wye draaie, laat die karretjie sywaarts gly, vang hom en gooi hom anderkant toe… Te heerlik!

 

Aan die kant van die pan is ‘n paar groot bome en daar kry ons vir Simon Fourie en sy span wat foto’s neem en gesels. Hulle vertrek naderhand verder en ons wag vir Strat en Willie-hulle om op te daag. Dwayne en Number One Son is voor ons op die pan en hulle is ook al moeg gespeel. Dan sien ons vir Willie-hulle, maar iets is verkeerd. Die linkeragterwiel wikkel vir ‘n vale heen en weer! Ons kry hulle om te stop en sien dan dat drie van die vier boute wat die wiel moet vashou reeds weg is. Ons leen boute van die ander wiele af en draai die wiel vas. Gilo reken die fout lê by die manier waarop die Sjinese die wiel gebou het. By ons het allooiwiele ‘n staalvoering binne in die gaatjie waarin die wielbout moet vasdraai. Sonder daai staalvoering is dit maklik vir die bout om aan die aluminium van die allooiwiel vas te byt en jou te laat glo dat die ding vasgedraai is, alhoewel hy NIE vas is nie. (Iets om aan aandag te gee as ons by die huis kom.)

 

Na ‘n ruk kom ons ondersteuningsvoertuig ook op die pan aan. Strat-hulle het lank agter die vasgevalde bakkie gestaan en ek kan sommer sien hy’s suur. Ons gesels ‘n bietjie oor die werkverrigting van die karretjies en dan spring ons weer weg. Ek looi die Nanyi en Yian klou! ‘n Paar duine verder is daar ‘n vurk in die pad. ‘n handgemaakte teken verduidelik dat links vir die “manne” is, en regs, vir die ‘woosies” Links is ‘n laaaang rooi duin en regs is grondpad. Halfpad teen die duin op lê ‘n Kia op sy pens in die sand… Ek stop, trek diep asem in en storm die duin. Aan die voet van die duin is nog ‘n handgemaakte kennisgewing wat eenvoudig sê; “Faster!” Ek druk die toereteller in die rooi in, en in tweede rat hol die karretjie die bult op, by die vasgevalde Kia verby en bo-oor die kruin. Trouens, ons kom so vinnig bo aan dat ons met al vier wiele in die lug oor die kruin spring!

 

Ons land hard en dan het ek net tweede rat… Ons sukkel vir nog so ‘n kilometer aan en dan sien ek ‘n koelteboom. Ons trek onder die boom in en Yian spring aan die werk. Eers maak hy die luik oop wat net onder die handrem tussen die sitplekke lê. Hy vroetel met sy vingers in die gat rond, maar spring dan uit en begin onder die boom na iets soek. Yian praat nie Engels nie, so ons kommunikasie is beprek tot handgebare. Hy kom terug met twee kameeldoringtakkies wat hy soos Sjinese eetstokkies in sy vingers vasklem. Met die implemente krap hy in die holte tussen die sitplekke rond en kom dan triomfantlik met ‘n halfmaanvormige stukkie metaal te voorskyn. Hy skuif die kabel wat van die rathefboom na die ratkas toe loop in posisie, druk die die stukkie metaal in plek en kap dit met ‘n klip stewig in posisie in. Hy gooi die klip weg, maak die luik toe en wys my ek moet ry. Ek voel – voel met die rathefboom en die karretjie gly gemaklik in eerste rat in. Ons trek met ‘n brul weg en ek loer vir Yian. Hy sit agteroor met ‘n breë glimlag op sy bakkies, duidelik trots op homself.

 

Ek wonder oor hom. Hy’s ‘n begaafde ontwerper en ingeneur, maar hy kan nie ‘n taal praat waarin ons kan kommunikeer nie. Hy bly in ‘n reuse industriële sentrum in Sjina saam met ses miljoen ander mense. Was hy al ooit in ‘n woestyn? Was hy al ooit uit die stad uit? Is dit sy eerste besoek aan ‘n ander land? Aan sy paspoort, splinternuut, lyk dit nie of hy ‘n gesoute resiger is nie. Bob het my vertel dat Yian 47 jaar oud is. (Bob self is 27) Is hy getroud, het hy kinders? En hier sit hy langs ‘n mal man wat soos ‘n besetene deur die woestyn jaag en aanmekaar op die nippertjie staan van ‘n moerse ongeluk. Die enjintemperatuur is aanmekaar in die rooi en die veerstelsel werk sekerlik harder as wat Yian ooit bedoel het dat dit moet werk toe hy dit ontwerp het. Hulle het ons egter gevra om hulle te help om die karrtjies te ontwikkel as ernstige renmotors en daar is net een manier om dit te doen. Ry die ding so hard jy kan, en kyk wat breek. Maak seker jy weet hoekom dit gebreek het en verbeter dit sodat dit nie weer sal breek nie. So hou jy aan tot jou voertuig so sterk is dat jy met ‘n geruste hart deur die bosse kan jaag sonder om te bekommer dat iets gaan afval en jou gaan dood- of seermaak.

 

Na ‘n 150 kilometer is ons uit die duine uit en op ‘n harde grondpad. Ek looi die mielies en ons hardloop gemaklik teen 120 /130 die res van die afstand af tot waar ons vir Snotvis en Meneer Vuil onder die koelte van ‘n garage se afdak kry. Ons drink water, hou ons koppe onder die kraan en wag vir die res van ons span. Dwayne en Number One Son is volgende om aan te kom en ‘n ruk na hulle, Willie en Gilo in die viertrek Nanyi. Hulle het kwaai gesukkel met oorverhitting en ons besluit daar en dan dat die verkoelers van die karretjies geskuif sal moet word vir beter werkverrigting. Ons wag en wag en begin naderhand bekommer dat ons nie die grenspos gaan haal nie. Dan kry ons ‘n boodskap dat Strat-hulle moeilikheid het. Ons haal die bostreiler af en ek en Dwayne ry terug op die roete om Strat hulle te gaan soek. Ons kry vier of vyf voertuie wat staan, meesal met gebreekte sleepwaens. ‘n Quad of motorfiets se sleepwa is ontwerp om die goed op teerpad te vervoer. Ry nou lang ente met hom oor ‘n spul duine en dan ‘n grondpad en hy val uitmekaar uit.

 

Eindelik sien ons vir Strat-hulle langs die pad staan. Die Land Rover is toegerus met ‘n 2.8 BMW enjin en hy hol dat dit vrek. Maar die enjin is ook baie meer gesofistikeerd as wat nodig is in ‘n Landy. Daar is soveel sensors en veiligheidstoerusting aan boord dat die enjin nie regtig geskik is vir die Kalahari se sand en hitte nie. Strat het gestop om die Kia uit die sand uit te haal en daarna het die BMW enjin se rekenaar besluit iets is fout. Dit het veroorsaak dat die enjin net in ’emergency mode’ wou werk, wat beteken het Strat kon nie vinniger as 40 kilometer per uur ry nie. Omdat hulle toe nou so stadig ry, word die petrol in die plastiek petroltenk wat onder die Landy se pens lê, so warm dat dit begin kook waar dit by die enjin ingaan. Nou bekommer die BMW rekenaar eers en hy sluit alles af. En daar staan die ‘beste 4 by 4 by verre’ langs die grondpad…

 

Ons haak hom toe maar agter die Isuzu en sleep hom dorp toe. Ons kry die Landy weer aan die loop en maak die grenspos net-net. Meneer Vuil, Willie en Gilo ry vooruit met die Chev en die lang sleepwa, en ek ry die 150 kilo’s agter Strat aan tot op Koës. Ons ry by die skool se hekke in en slaan kamp op, op die rugbyveld.

Magtag maar dit was ‘n ent!

 

4 antwoorde op Kuruman, Andriesvale en verder (2)

  1. Ek wou jou kom vra wat is ‘n plan- kloper en besef nou vir die eerste keer jy is eintlik ‘n plank-loper.
    (Skool was nie baie effektief vir my nie!)
    Goeie naam!

  2. Dankie…

  3. Klink na ‘n belewenis. Karre met computers… My Daewoo se rekenaar het my so baie probleme gegee. Die dag voor ek van hom ontslae geraak het(uit radeloosheid) besef ek toe eers die battery kabel was nie reg vas nie. Na hy mooi vasgemaak was, het als klopdisselboom gewerk.
    Maar ek was klaar met hom.
    Lekker gelees hier.

  4. Selfs in Formule 1 sukkel hulle met ‘unexplained electrical faults’. Waar’s die dae wat jy jou kar se bdrading met bloudraad kon regmaak…

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.