Jy blaai in die argief vir 2010 Januarie.

Om mure te bou

Januarie 25, 2010 in Sonder kategorie

Ek moes nou die oggend op ‘n sakebesoek na Sodom en Gomorra toe gaan en het dus met ‘n ekstra halfuur in hand die Jakarandastad agter my gelaat. Al gou-gou het die draadloos my ingelig daar daar weer probleme op die hoofweg is, en toe kies ek maar liewer koers in Kayalami se rigting om te probeer om die ergste verkeer te vermy.

 

Die plan werk toe baie goed en sommer gou-gou seil ek by die wêreldbekende motorrenbaan verby. Net so ‘n entjie verder begin ek groot advertensieborde aan my linkerkant sien. Die borde adverteer ‘n nuwe ‘lifestyle village’ en volgens die borde gaan mens alles daar kry, van skole – pre-primer, primer en sekondêr – bergfiets paadjies, wandelpaadjies, visdamme waar mens mag vlieghengel (nie papgooi nie, let asb op!), winkelsentrums, gemeenskapsentrum, gimnasium, restaurante, skoonheidspa’s, en nog sommer baie ander aanloklikhede. Daar gaan ook 24 uur sekuriteit wees en patrollies om te verseker dat almal veilig en gelukkig is.

 

Die borde word al groter en die versoekings al smaakliker en dan! Die MUUR! Daar is ‘n tamaai muur rondom die plek en die grootste advertensiebord van almal kondig aan: “This wall is 27 kilometres long and 4 metres high!” Magtag, maar dis mos ‘n moerse muur?

 

Ons bou natuurlik deesdae mure om ons privaatheid te beskerm en om seker te maak die ongewenste vreemdelinge bly buite. Binne die mure kan ons braai, kaal swem, geweld pleeg of sommer net dronk word saam met vriende en familie. Buite die mure dra ons ons werksklere en verdien die nodige om die muur in stand te hou. Ek self het ‘n lekker fris muur om my werf en as ek langs my swembad sit voel ek wragtag soos ‘n koning van alles wat ek gadeslaan. Al wat my muur nie buite hou nie is die geraas. Lorries, mense, Loftus, (Ek kan hoor as ‘n drie gedruk woord voor ek dit op tv sien… geweerskote, alarms, sirenes en honde. Maar dis ‘n klein prysie om te betaal vir die ander voordele wat my muur my bied.

 

Al die pad Johannesburg toe dink ek aan die groot muur. 27 kilo’s lank en 4 meter hoog? En dis ‘n mooi muur. Elke nou en dan ingelê met leiklip en dan’s daar sulke ribbebene wat elke paar meter teen die muur oploop, vemoedelik om die ding te versterk sodat hy nie omval as dit reën nie. Ek kon nie die hekke sien wat mens toegang verleen tot die binnekant nie, maar ek is seker dit sal imposant en belangrik vertoon. En baie mense gaan hier koop juis as gevolg van die muur! My muur by die huis is baie goed vir die doel waarvoor hy gebou is, maar mens kyk die heeltyd teen hom vas. Maar ‘n muur van 27 kilometer kan mens se familie tog sekerlik beveilig sonder dat jy elke keer in hom hoef vas te kyk as jy wil gaan water afslaan in die tuin.

 

En so kom ek toe by my betsemming aan en doen die besigheid wat ek beplan het en vat toe weer koers huistoe. Maar dis nou al heelwat later en selfs op my gekose agterpaadjie is daar buffer teen buffer verkeer. En soos wat my gewoonte is begin ek vir die mense in die karre rondom my loer. Hier sien ek ‘n paar jong manne wat lekker sit en bier drink in die verkeer op die maat van harde musiek. Daar weer ‘n vrou wat op die selfoon praat, grimering aansit, (die tyd van die dag?) ‘n sigaret rook en haar kar in die pad probeer hou. En baie besigheidsmense wat of suur lyk vir die dag se gebeure of op die selfoon besig is. En net toe ek weer by die MUUR verby ry kyk ek in my spieëltjie. Die meisie in die karretjie agter my is mooi, pragtig mooi, en sy gesels met iemand op haar selfoon. Die verkeer is baie stadig en ek kan lekker van agter my donkerbril vir die mooi meisie sit ek kyk sonder om te bekommer dat ek ‘n ongeluk gaan maak of veroorsaak. En toe skielik ruk sy die foon van haar oor af weg en begin snot en trane huil…

 

Ek skrik my byna dood! Die een oomblik nog gesels sy laggend en skertsend met haar vriend/vriendin/familielid oor die foon en die volgende oomblik tjank sy. Dan vee sy met haar handjie oor haar oë en gesels verder deur die trane maar met ‘n glimlag op haar gesig. Na ‘n ruk huil sy weer en dan vee sy die trane af en gesels verder.

 

Ek bewonder die meisie se toewyding tot ‘n vrolike gesprek al kan ek in my tru-spieëltjie sien sy is stukkend van binne. Naderhand word ek kwaad vir die dom kwas aan die anderkant van die lyn. Kan hy/sy dan nie hoor hoe ontsteld my nuwe verkeer vriendin is nie? As die verkeer weer tot stilsyand kom moet ek net keer of ek vlieg uit die kar uit om haar te gaan troos en die persoon aan die anderkant sleg te sê, maar ek doen dit nie…

 

Want sien… Ons bou mure. Nie net om ons huise nie, maar ook om onsself. Ek kan nie sommer haar muur gaan ombliksem en maak en breek soos ek wil nie. Trouens ek kan nie sommer goedsmoeds oor my eie mure klim om haar te gaan help nie. Ons mure betsaan uit gewoontes, ‘goeie maniere’, rituele…

 

“We are creatures of habit!”

 

En so sit ek toe maar vir die volgende drie kilometer na die meisie en kyk wat dan lag en dan huil. En ek wonder teen wie, of wat, sy die muur gebou het. Wat verhoed haar om vir die ander persoon te skree: “Gaan skeit man! Jy maak my nou baie seer! Ek sit en huil hier en jy weet dit nie eers nie!”

 

Naderhand draai sy af en ek wens ek kon haar op ‘n manier laat verstaan dat ek graag sou wou help as ek kon.

 

Maar die mure is te hoog en te lank. Hoër as 4 meter en beslis langer as 27 kilometer…

 

Klippe op die Afrikanerhart…

Januarie 21, 2010 in Sonder kategorie

Die het nou niks met my laaste blog oor my seun en myself te doen nie… Entlik het dit bokkerol met Afrikaners te doen. Maar ek kon nie aan ‘n ander ttitel dink nie en dis nou ‘n baie persoonlike moermeter-afblaas-blog die…

Sorrie.

Ek moes gou gaan proviand inneem want vannaand is weer my beurt voor die potte.  (Of dalk agter die potte en voor die stoof?) Hoe dit ookal sy… Lekker in Spar rondgeloop en met die ou Jode-anties gesels; ‘n woordtjie gewissel met Jacko wat die rakke regpak, lekker met Charmaine gekorswil terwyl sy my inkopies in die geldklaviertjie inpons en toe op pad kar toe ‘n grappie gedeel met Joggie, die karwag. En toe klim ek met ‘n lied in my hart agter die stuurwiel in en kies koers huistoe.

Maar toe maak ek die fout om die draadloos aan te skakel.

“waar die son set (sic) – Baaaaby!

 moet ek jou kom red – Baaaaby!”

Sing sy, en klink of sy op Prozac is. En dan val hy in…

“In hierdie hel van ‘n plek – Baaaby!

Met ‘n mes teen my nek – Baaaaby!”

En so ploeter die rymelary voort net om elke keer met ‘n “Baaaaby” afgewissel te word.

Wanneer hulle die refrein as duet aantree, klink dit nogal goed. Hulle is ten  minste nie vals nie! Maar nes ek ontspan en die liedjie begin geniet, kom daar weer ‘n “Baaaaby”!

Ek sweer ek luister eerder na Steve se “Bloubul” (gril) as hierdie sinnelose “Baaaaby”

Kan ons nie asseblief die gebruik van die woord “baby” in alle Afrikaanse liedjies verban nie? Al noem die sangers dit ‘songs’ en al sing hulle in ‘n ‘band’ by ‘n opelug ‘gig’…

Ek raak so die moer in ek kan my eie kak met klippe gooi…

Weereens – SORRIE!

Die gekraakte Plankie.

Klippe op die vaderhart…

Januarie 20, 2010 in Sonder kategorie

In Januarie 1975 moes ek by Jhb stasie aanmeld om die trein te haal Simonstad toe. Vandaar sou ons loop tot by SAS Simonsberg  waar ons verskree en verskrik die lang pad aangedurf het na matroosdom toe. Van ons het dit geniet, ander weer nie. Maar ons het dit gedoen want dit was ons plig. Dis eers jare daarna dat ek polities bewus geraak het  en my en my regering se motiewe begin bevraagteken het. Maar ek wil nie nou daaroor gesels nie…

‘n Week voor ek moes vertrek word my ma siek. Doodsiek. En my ma is nie ‘n vrou wat siek word of kla nie. (Voor haar onlangse rugoperasie het die chirurg met verwondering in sy oe vir my gese: “Jou ma is nie ‘n vrou wat maklik kla nie. Na regte moes sy weke gelede al nie meer kon loop nie!” Sy was 76) Alle geval… Daar le my ma toe in die hospitaal en almal kom kuier van heinde en verre. En my pa se suster gaan sien my ma in die hospitaal en kom terug en vertel my dis alles my skuld!

Jy kon my met ‘n veer ombliksem… Dit kom toe uit dat ek in ‘n ondenkende oomblik genoem het dat ek nie sal omgee om in ‘n duikboot diens te doen nie. Dit het my ma toe in ‘n paniek laat gaan, waaaruit nie dokter, dominee of dop haar kon kry nie. Eers toe ek plegtig voor getuies beloof dat ek nie my voet aan ‘n duikboot sal waag nie, het sy beter geword en is toe ontlsaan.

My pa het my vrolik en skertsend by die stasie afgelaai, grappies met die offisiere gemaak en my gewaarsku om ” my ding uit gate te hou, sodat my gat uit dinge sou uitbly “. En daarmee is ek vort om 18 maande later terug te keer huistoe, net om te ontdek dat my ouers in my afwesigheid die huis verbreek en verbou het en my slaapkamerloos gelaat het in die proses. Praat van verwerping!

En in daai agtien maande het ek amper ‘n man geword. My tuiskoms na ‘n slaapkamerlose ouerhuis was die laaste klip in die muur.

Vanoggend moes ek my seun, my jongste, by Tukkies se High Performance Centre gaan aflaai. Hy’s ‘n kranige skrumskakel en is aanvaar by die Bulls/Tuks Rugby Akakademie vir die jaar 2010. Hulle vertrek kort daarna na ‘n voorbereidingskamp iewers in die bos, en aan sy gesels kan ek aflei die breiers het hulle belowe dit gaan erger as Kamp Staaldraad wees en elkeen van hulle kan verseker wees hy GAAN kots voor hulle huistoe kom.

Ek baklei teen die knop in my keel. Ek kan sien hy is senuweeagtig maar hy doen sy bes om dit nie te wys nie. Ek het nie woorde om hom  mee te help nie, want ek weet dit gaan nie so erg wees nie, maar hy sal my nie glo nie want ek was per slot van rekening nooit op so ‘n kamp nie. Ek probeer verduidelik dat ek darem ook eenkeer moes afskeid neem en ek sou oorlog toe gaan vir agtien maande. Hy gee my ‘n bejammerende kyk en vertel dat hierdie rugby is, nie die vloot nie…

Hy stap weg met sy toksak oor sy skouer, bree skouers en gespierde bene regop en reg vir die uitdaging, en ek wonder of my pa ook lus was om te huil toe ek weggestap het trein toe. En ek wonder oor my ma. Wat sou se se as ek haar na al die jare vertel dat ek tog op ‘n duikboot was en heelhuids anderkant uitgekom het?

My seun verdwyn tussen die ander seuns, klim op ‘n bus en ignoreer my, soos wat seuns doen. Ek staan belsuiteloos rond, wil naderstaan en hom vir oulaas ‘n druk gee. iets in die oor fluister, maar wat?

Dis per slot vanrekening net rugby… Nie oorlog nie.

En sy kamer sal net so vir hom wag.

Kuruman, Andriesvale en verder… (5)

Januarie 19, 2010 in Sonder kategorie

Na ‘n paar dae se speel in die duine kies ek en die seuns koers huis toe… Swakop, Windhoek, Gobabis, Botswana, RSA, Pretoria… Van 04h00 tot 23h00… Om en by 1800 kilo’s… Magtag! DIT was ‘n ent…

Ons pragtige sleepwa wat by die huis moes bly!

Die twee Nanyi’s agter die Landy. Snotvis, Dwayne en Tito maak die kwad vas.

Die Landy staan al weer met petrol wat kook… Warm, verlate wereld daai…

Jian, die Sjinese ingeneur, wat geen Engels of Afrikaans kon praat nie.

Ons blyplek in Langstrand tussen Swakop en Walvisbaai.

‘n Baie welkome gesig na so ‘n lang tyd van die huis af!

Hoop julle het dit geniet… Ek het!

Kuruman, Andriesvale en verder (4)

Januarie 16, 2010 in Sonder kategorie

Dis van die hoogste duine in die wereld! Ai ons het lekkr gespeel! Bo is Number One son in die Jianshe en onder is ek in die tweetrek Nanyi besig om Duin 2 buite Walvis baai te klim.

Kuruman, Andriesvale en verder (3)

Januarie 13, 2010 in Sonder kategorie

Die aand eet ons ‘n heerlike buffet ete by die Kalahari Lodge op Koës wat bestaan uit skaapvleis en slaaie. Te lekker! Oor ‘n paar koue moute hou ons kajuitraad en besluit om die volgende dag so gou as moontlik in Windhoek te kom waar ons toegang sal hê tot ‘n werkswinkel om die verkoelers van die karretjies te skuif sodat dit meer lug kan skep en sodoende die enjintjies meer effektief sal kan afkoel.

 

Simon en sy span is ook daar en ons gesels kopstukke, dan is dit terug skool toe en almal kruip in.

 

Vroegoggend vlieg Dwayne en Tito onder die Land Rover in en pluk die petroltenk uit. Ons kry los stukkies rubber in die petrol en ontdek ook dat die duur nuwe petrolpyp wat Strat ingesit het voor ons weg is nie heeltemal petrolbestand is nie. Ons vermoed dit het te doen met die kwaliteit van die petrol in die platteland. Daar is baie raad en planne van alle oorde maar al wat ons kan doen is om die stuk pyp te vervang en te hoop vir die beste.

 

Almal pak op en ons vat weer die pad. Die Chev ry vooruit en ons volg so goed ons kan. Wat ons egter nie besef nie is dat die Chev op die ondersteuningspanne se roete ry, terwyl ons kortpad vat Windhoek toe. Die Landy gaan staan elke 50 kilometer en al manier om hom weer aan die gang te kry is om brandstof in te gooi tot hy vol is. Ek dra ses kanne petrol en twee kanne diesel agterop die Isuzu en stop elke keer saam met Strat om petrol in te gooi. Die Isuzu maak Cochas net – net. Trouens my diesel raak op soos ek by die vulstasie inry en ek gooi diesel in. Dan moet die dieselpomp met die hand gepomp word totdat daar weer diesel in die enjin is en ons ry terug tot waar ons die Landy kry, 6 kilo’s buite die dorp. Ons gooi weer petrol uit die kanne uit en Strat ry tot op Cochas waar hy by die vulstasie volmaak. Ons trek groot aandag en dan vat ons weer die pad.

 

Intussen het die Chev twee pap wiele opgetel, en na die spaarwiel opgesit is, moet hulle noodgedwonge een van die Nanyi’s aflaai en hulp gaan soek. Gilo kry dit reg om ‘n tweedehandse band by ‘n boer te koop en hulle is dan weer op pad, maar hulle verloor drie ure.

 

Ons sukkel aan tot by die teerpad en dan kry Strat ‘n blink plan. Ons vat ‘n stuk spaar petrolpyp en druk hom van buite af in die Landy se petroltenk in. Dan plak ons die pyp aan die buitekant van die Landy vas en herlei dit na die enjin toe. Dit veroorsaak dat die petrol teen ‘n koeler temperatuur by die enjin aankom sodat die BMW rekenaar nie weer in ‘n stil stuipe ingaan nie en uiteindelik kan ons ry sonder om elke 50 kilo’s te stop. Ons kom teen skemer in Windhoek aan by die Aurebusch Kamp en Karavaanpark. Volgens die organiseerders is daar vir ons almal plek bespreek, maar die ongeskikte knaap agter die toonbank lig my in dat hulle vol is. Ons bel vir Simon, Simon bel die karavaanpark en skielik is daar vir ons plek. Almal se moermeters is teen die tyd goed in die rooi en kamp opslaan is nie ‘n aangename ondervinding nie. Strat ry saam met Tito na die werkswinkel waar daar aan die Nanyi’s gewerk word en vat ons inkopiesakke met die bestandele vir die aandete saam met hom. Ons kom egter reg met ‘n paar blikke wat ek in my noodkis het en ek gaan naderhand slaap. In die nag begin dit reen en ek skarrel rond om alles onder die seil in te kry. Iewers in die nag kom Strat en Tito terug. Willie, Gilo en Meneer Vuil slaap elders.

 

Volgende oggend is ek vroeg op en begin brekvis aanmekaar slaan, maar Strat en Tito vat weer die pad sonder om te eet. Ek voer die Sjinese en die res van die span, en dan pak ons op ons gemak op. Ons gooi diesel in, ry ‘n draai deur Windhoek en kry dan ‘n kaart van die stad. Ons spoor die adres van die werkswinkel op en kom by die werkswinkel aan waar werk aan die twee karretjies se verkoelers vluks vorder. Die viertrek voertuigie se verkoeler is reeds hoog teen die raam opgeskuif waar dit lekker lug kan vang en ons wag vir nog onderdele om die werk aan die tweetrek te voltooi.

 

Die werkswinkle behoort aan Dippies, ‘n sakeman en beesboer van Windhoek. Hy’s ‘n petrolkop van formaat en net waar jy kyk staan renmotors en tydrenmotors van alle kleure en geure. Hy gooi sy fasiliteite vir ons oop en gee ons selfs ‘n drywer wat vir Strat kan rondry na al wat winkel is om die nodige te koop.

 

Een probleem waarin ons, ons vasloop is om die pype van die enjin na die verkoeler te verleng. Ons kan, vir verskeie redes, nie net rubber gebruik nie, en die metaalpyp wat ons kan opspoor is te duk of te dun om in die rubber hegstukke in te pas. Maar ‘n boer maak ‘n plan…

 

Ons kry ‘n stuk steel van ‘n ou sonsambreel en dis net die regte dikte. Een, twee, drie saag ons dit in die regte lengtes, sit die spulletjie aanmekaar en siedaar die verkoelers is aan die enjins gekoppel. Teen die tyd is dit egter al drieuur en ons jaag om by die aflaaiplek te kom van waar ons met die karretjies op die grondpad Swakopmund toe moet ry.

 

Snotvis, Petro en Yian gaan teerpad om met die bostreiler, Meneer Vuil laai ons af by die begin van die grondpad en hy draai dan om, om ook met die teerpad langs Swakop toe te ry. Ek en Strat ry in in die tweetrek Nanyi en Willie en Gilo in die viertrek. Dwayne, Tito, Number One Son en Bob kom agterna met die Landy en sleep die Jianshe op sy sleepwa.

 

Op die BBC program Top Gear, het ek een aand gesien hoe die drie aanbieders gaan soek na ‘the best driving road in the world’. Hulle het met ‘n Ferarri, ‘n Porsche en ‘n Aston Martin iewers in Frankryk of Italië ‘n asemrowende bergpas gaan ry en dit verklaar as die die beste pad om vinnig op te ry in die wêreld. Wel ek het nuus vir hulle…

 

Die, om en by, 300 kilometer grondpad tussen Windhoek en Swakopmund deur die Naukluft Namib Wildreservaat is sekerlik die lekkerste grondpad in die wêreld. Wye draaie, op en afdraaendes, ongelooflike vistas en asembenewende afgronde, maak van die pad ‘n belewenis om te ry. Maar bewaar jou siel as jy ‘n wiel verkeerd neersit!

 

Gelukkig is Strat ‘n man wat die stange goed kan vasvat en ons bom teen die roete af teen ‘n spoed wat min mense hom dit sal kan nadoen. Halfpad is daar ‘n klein plato aan die kant van die pad en die plaaslike boere rig tradisioneel hier ‘n rusplek in waar die Desert Run mense eetgoed en koeldrank kan koop. Ons kom egter so laat daar aan dat hulle al opgepak is, en ons kan net ‘n koeldrank by hulle kry. Ons wag omtrent ‘n halfuur, maar daar is geen teken van ons spanmaats nie. Strat besluit dat ons maar moet aanstoot angesien ons moet probeer om Swakop te haal voor donker.

 

Ons gooi die mielies en ry teen die sakkende son in, kus toe. Die brandstof raak min en ons stop by ‘n plaas om te hoor of ons nie dalk ‘n paar liter kan koop nie, maar die plek is gesluit en daar is nie eers ‘n hond om vir ons te blaf nie. Net voor dit heeltemal donker is, gaan staan ons sonder petrol. Ons draai die karretjie met sy rug na die wind en maak onsself so klein as wat ons kan om die geniepsige briesie te ontduik. Dis naderhand pikdonker en vrek koud en ons wag.

 

Na omtrent ‘n uur sien ons ligte op die horison en na nog tien minute trek Willie en Gilo langs ons in. Hulle het baie gesukkel met die viertrek se enjinrekenaar, maar uiteindelik ‘n plan bewimpel om die ding koel te hou en toe, na ‘n pap wiel, en hulp van die ondersteuningspan, lekker aan die gang gekom. Na nog ‘n paar minute kom die Landy ook daar aan en ons gooi brandstof in. Dan vlieg ons weg vir ‘n mal, opwindende rit deur die nag. In ‘n stadium wys Strat na die spoedmeter en tot my verbasing sien ek dat ons vinniger as 160 ry… Dis hoekom ek aan die sportsoort deelnaam. Ek het al baanrenne gedoen, aan tydrenne deelgeneem en met ‘n motorfiets gejaag, maar niks gee my die adrenalien inspuiting wat ‘n goedopgestelde veldwedren motor my gee nie. Daar dikwels nie ‘n pad nie. Daar’s gereeld klippe en dongas om te vermy of om oor te spring. Baie keer is jy nieseker of jy nog op die roete is nie, en dikwels maak mens nie klaar nie. Maar die gevoel van genoegdoening en oorwinning as jy na agt of nege ure uit die kar uitklim is onbeskryflik, al het jy heel laaste klaargemaak…

 

Ek het ‘n stuk plastieksak onder my t-hemp ingedruk om die erste koue te keer en Strat het ‘n stuk koerant geryp. Ten spyte van die voorsorg kry ons steeds baie koud, met wind wat van oral af in die karretjie inwarrel. Veral my knieë – ons dra kortbroeke – voel naderhand solied gevries. Uiteindelik kom ons tog by die teerpad aan buite Swakop, waar Meneer Vuil en die sleepwa vir ons wag. Ons laai en kies koers na ons splaapplek, en warm koffie, toe. Magtag, maar dit was ‘n ent!

Kuruman, Andriesvale en verder (2)

Januarie 12, 2010 in Sonder kategorie

Die res van die ‘Desert Run’ ekspedisie het die vorige dag by Kuruman weggespring en via Van Zylsrus en Middelputs deur die Kgalagadi Oorgrenspark gery tot by die Molopo Lodge. Van hier af trek ons nou weer verder deur die rooi duine tot by die Rietfontein grenspos tussen Namibië en die RSA. Daarna moet ons oornag in ‘n dorpie met die naam van Koës (of Khuis) en dit word uitgespreek ‘Koois”.

 

Dwayne en Number One Son klim in die Jianshe, Willie en Gilo in die viertrek Nanyi en ek vat die wiel van die tweetrek Nanyi, met Yian die Sjinese ingeneur langs my. Strat, Tito, die Mosambieker, Bob, die Sjinees, en Petro ry met die Land Rover agter ons aan op die roete vir ingeval iemand vasbrand. Snotvis vat die Isuzu en die bostreiler met die teerpad langs grenspos toe. Meneer Vuil doen dieselfde met die Chev en die lang slaapwa.

 

Draai links by Molopo Lodge se hek uit, ry ‘n hele ent teerpad en draai dan links af op ‘n tweespoor paadjie die duine in… Dwayne-hulle is eerste op die pad en hulle laat waai. Die Jianshe het maar ‘n topsnelheid van om en by 80 kilometer per uur, maar wat hy verloor op spoed maak hy op met ratse padhouvermoë. Die viertrek Nanyi gee van die begin af probleme. Dis warm! 47 grade is niemand se speelmaat nie… My tweetrek karretjie loop dat dit vrek in die duine maar ek sien die bekommerde Yian tik aanmekaar op die temperatuurmeter wat konstant in die rooi is. Die verkoelertjie en waaier sit agter die enjin en in hierdie moordende temperature is dit nie ‘n goeie ding nie. Yian is ook nie gewoond daaraan om teen hoë spoed blindelings langs ‘n nou tweespoorpaadjie af te bliksem nie. Die arme man klou vir ‘n vale en trek elke nou en dan sy sitplekgordels stywer. Die gewillige enjintjie brul en die Nanyi klouter oor alles wat in sy pad staan. In ‘n stadium kom ons op ‘n stywe duin af waar ‘n ondersteuningspan met ‘n Toyota bakkie vasgeval het. Daar staan ‘n lang tou bakkies aan die onderkant van die duin terwyl almal spook om die Toyota uit die pad uit te kry. Ek trek ‘n rat af en gaan langs die konfooi verby en teen die duin op, sonder om ‘n oog te knip. Ons bokspring bo-oor die kruin en dan is daar ‘n lang afdraaende na die pan toe. Net voor die pan is daar ‘n sloot van omtrent ‘n halwe meter diep. Ek sien die ding te laat en gaan oop ketel bo-oor. Die Nanyi knip nie eers ‘n oog nie, maar vreet die ou slootjie sommerso op. Op die pan gooi ek ‘n paar lekker wye draaie, laat die karretjie sywaarts gly, vang hom en gooi hom anderkant toe… Te heerlik!

 

Aan die kant van die pan is ‘n paar groot bome en daar kry ons vir Simon Fourie en sy span wat foto’s neem en gesels. Hulle vertrek naderhand verder en ons wag vir Strat en Willie-hulle om op te daag. Dwayne en Number One Son is voor ons op die pan en hulle is ook al moeg gespeel. Dan sien ons vir Willie-hulle, maar iets is verkeerd. Die linkeragterwiel wikkel vir ‘n vale heen en weer! Ons kry hulle om te stop en sien dan dat drie van die vier boute wat die wiel moet vashou reeds weg is. Ons leen boute van die ander wiele af en draai die wiel vas. Gilo reken die fout lê by die manier waarop die Sjinese die wiel gebou het. By ons het allooiwiele ‘n staalvoering binne in die gaatjie waarin die wielbout moet vasdraai. Sonder daai staalvoering is dit maklik vir die bout om aan die aluminium van die allooiwiel vas te byt en jou te laat glo dat die ding vasgedraai is, alhoewel hy NIE vas is nie. (Iets om aan aandag te gee as ons by die huis kom.)

 

Na ‘n ruk kom ons ondersteuningsvoertuig ook op die pan aan. Strat-hulle het lank agter die vasgevalde bakkie gestaan en ek kan sommer sien hy’s suur. Ons gesels ‘n bietjie oor die werkverrigting van die karretjies en dan spring ons weer weg. Ek looi die Nanyi en Yian klou! ‘n Paar duine verder is daar ‘n vurk in die pad. ‘n handgemaakte teken verduidelik dat links vir die “manne” is, en regs, vir die ‘woosies” Links is ‘n laaaang rooi duin en regs is grondpad. Halfpad teen die duin op lê ‘n Kia op sy pens in die sand… Ek stop, trek diep asem in en storm die duin. Aan die voet van die duin is nog ‘n handgemaakte kennisgewing wat eenvoudig sê; “Faster!” Ek druk die toereteller in die rooi in, en in tweede rat hol die karretjie die bult op, by die vasgevalde Kia verby en bo-oor die kruin. Trouens, ons kom so vinnig bo aan dat ons met al vier wiele in die lug oor die kruin spring!

 

Ons land hard en dan het ek net tweede rat… Ons sukkel vir nog so ‘n kilometer aan en dan sien ek ‘n koelteboom. Ons trek onder die boom in en Yian spring aan die werk. Eers maak hy die luik oop wat net onder die handrem tussen die sitplekke lê. Hy vroetel met sy vingers in die gat rond, maar spring dan uit en begin onder die boom na iets soek. Yian praat nie Engels nie, so ons kommunikasie is beprek tot handgebare. Hy kom terug met twee kameeldoringtakkies wat hy soos Sjinese eetstokkies in sy vingers vasklem. Met die implemente krap hy in die holte tussen die sitplekke rond en kom dan triomfantlik met ‘n halfmaanvormige stukkie metaal te voorskyn. Hy skuif die kabel wat van die rathefboom na die ratkas toe loop in posisie, druk die die stukkie metaal in plek en kap dit met ‘n klip stewig in posisie in. Hy gooi die klip weg, maak die luik toe en wys my ek moet ry. Ek voel – voel met die rathefboom en die karretjie gly gemaklik in eerste rat in. Ons trek met ‘n brul weg en ek loer vir Yian. Hy sit agteroor met ‘n breë glimlag op sy bakkies, duidelik trots op homself.

 

Ek wonder oor hom. Hy’s ‘n begaafde ontwerper en ingeneur, maar hy kan nie ‘n taal praat waarin ons kan kommunikeer nie. Hy bly in ‘n reuse industriële sentrum in Sjina saam met ses miljoen ander mense. Was hy al ooit in ‘n woestyn? Was hy al ooit uit die stad uit? Is dit sy eerste besoek aan ‘n ander land? Aan sy paspoort, splinternuut, lyk dit nie of hy ‘n gesoute resiger is nie. Bob het my vertel dat Yian 47 jaar oud is. (Bob self is 27) Is hy getroud, het hy kinders? En hier sit hy langs ‘n mal man wat soos ‘n besetene deur die woestyn jaag en aanmekaar op die nippertjie staan van ‘n moerse ongeluk. Die enjintemperatuur is aanmekaar in die rooi en die veerstelsel werk sekerlik harder as wat Yian ooit bedoel het dat dit moet werk toe hy dit ontwerp het. Hulle het ons egter gevra om hulle te help om die karrtjies te ontwikkel as ernstige renmotors en daar is net een manier om dit te doen. Ry die ding so hard jy kan, en kyk wat breek. Maak seker jy weet hoekom dit gebreek het en verbeter dit sodat dit nie weer sal breek nie. So hou jy aan tot jou voertuig so sterk is dat jy met ‘n geruste hart deur die bosse kan jaag sonder om te bekommer dat iets gaan afval en jou gaan dood- of seermaak.

 

Na ‘n 150 kilometer is ons uit die duine uit en op ‘n harde grondpad. Ek looi die mielies en ons hardloop gemaklik teen 120 /130 die res van die afstand af tot waar ons vir Snotvis en Meneer Vuil onder die koelte van ‘n garage se afdak kry. Ons drink water, hou ons koppe onder die kraan en wag vir die res van ons span. Dwayne en Number One Son is volgende om aan te kom en ‘n ruk na hulle, Willie en Gilo in die viertrek Nanyi. Hulle het kwaai gesukkel met oorverhitting en ons besluit daar en dan dat die verkoelers van die karretjies geskuif sal moet word vir beter werkverrigting. Ons wag en wag en begin naderhand bekommer dat ons nie die grenspos gaan haal nie. Dan kry ons ‘n boodskap dat Strat-hulle moeilikheid het. Ons haal die bostreiler af en ek en Dwayne ry terug op die roete om Strat hulle te gaan soek. Ons kry vier of vyf voertuie wat staan, meesal met gebreekte sleepwaens. ‘n Quad of motorfiets se sleepwa is ontwerp om die goed op teerpad te vervoer. Ry nou lang ente met hom oor ‘n spul duine en dan ‘n grondpad en hy val uitmekaar uit.

 

Eindelik sien ons vir Strat-hulle langs die pad staan. Die Land Rover is toegerus met ‘n 2.8 BMW enjin en hy hol dat dit vrek. Maar die enjin is ook baie meer gesofistikeerd as wat nodig is in ‘n Landy. Daar is soveel sensors en veiligheidstoerusting aan boord dat die enjin nie regtig geskik is vir die Kalahari se sand en hitte nie. Strat het gestop om die Kia uit die sand uit te haal en daarna het die BMW enjin se rekenaar besluit iets is fout. Dit het veroorsaak dat die enjin net in ’emergency mode’ wou werk, wat beteken het Strat kon nie vinniger as 40 kilometer per uur ry nie. Omdat hulle toe nou so stadig ry, word die petrol in die plastiek petroltenk wat onder die Landy se pens lê, so warm dat dit begin kook waar dit by die enjin ingaan. Nou bekommer die BMW rekenaar eers en hy sluit alles af. En daar staan die ‘beste 4 by 4 by verre’ langs die grondpad…

 

Ons haak hom toe maar agter die Isuzu en sleep hom dorp toe. Ons kry die Landy weer aan die loop en maak die grenspos net-net. Meneer Vuil, Willie en Gilo ry vooruit met die Chev en die lang sleepwa, en ek ry die 150 kilo’s agter Strat aan tot op Koës. Ons ry by die skool se hekke in en slaan kamp op, op die rugbyveld.

Magtag maar dit was ‘n ent!

 

Kuruman, Andriesvale en verder (1)

Januarie 12, 2010 in Sonder kategorie

Dit het alles begin met ‘n Toyota enjin wat nie wou pas in ‘n Mercedes trok nie…

 

Sien, ons ou spannetjie is besig om voertuie voor te berei vir die 2011 Dakar wedren en ons werk al maande aan die beplanning van die jaarlikse ‘SA Bike Magazine Desert Run’ wat deur die nimlike Simon Fourie gereël word sodat mense die voorreg kan hê om in die duine van die Namib te gaan speel met hulle motorfietse, quads en viertrek voertuie. Ons beplan om die trippie te gebruik om ons drie prototipes te toets.

 

Daar is drie karretjies. Die eerste is ‘n Jianshe met ‘n 400cc Yamaha enjin. Soos hy staan is hy ‘n speelding, en ‘n baie lekker een daarby! Maar ons beplan om ‘n 800cc enjin in die ding te sit en hom om te bou sodat ons die motortjie vir die Dakar kan inskryf. Met dubbeld die krag en ander modifikasies gaan dit ‘n brutale renmotor wees wat sekerlik ‘n paar manne se oë sal laat rek. Maar die 800 cc lê nog iewers in die toekoms. Vir nou wil ons net die veerstelsel en buisraam in die duine gaan toets.

 

Jianshe is ‘n reuse Sjinese konglomeraat wat al Yamaha se produkte, asook ‘n klomp ander goed bou, soos byvoorbeeld die alombekende AK 47. Dis die derde grootste maatskappy in Sjina, en volgens Forbes is hulle jaarlikse omset drie keer groter as Suid Afrika se jaarlikse begroting. Hulle gaan ons Dakar aanslag ondersteun.

 

Dan het ons twee Nanyi’s. Die Sjinese motorjies kom in tweetrek en viertrek weergawes en is toegerus met 1100cc enjintjies. Bob Quoi, die bemarkingsbestuurder vir die maatskappy en Yian Kwon, die hoofingeneur, is saam met ons op die ekspedisie. Hulle wil bitter graag leer oor wat ons doen om motors vir die moordende Dakar voor te berei.

 

Saam met die Sjinese is ons ‘n span van 12 mense.

 

Die oorspronklike plan was heel eenvoudig. Alles – motors, gereedskap, kampeertoerusting, kos en klere – word in die groot dienswa gelaai en dan volg ons met ‘n Landrover en my Isuzu. Ongelukkig blaas die perd wat die voorhaker wa moet sleep toe sy Mercedes Benz enjin. Ons het twee dae voor ons moet vertrek Kuruman toe! Ons soek naarstigtelik rond en kry ‘n fris V6 Toyota enjin by ‘n skrootwerf. Baie rande later is die enjin by die werkswinkel en word hy ingebou in die perd in. En net daar begin die moeilikheid…

 

Die Toyota se elektronika wil nie met die meganika van die Mercedes sleepvoertuig praat nie. Daar’s drie ingeneurs en verskeie werktuigkundiges in ons span en nie een kan hond haaraf maak met die probleem nie. Ons kry naderhand iemand in die hande wat ‘n kenner is op die gebied van elektronika van motors en hy belowe hand en mond om ons te kom hand gee, maar hy daag toe uiteindelik nooit op nie. Twee uur die oggend van die dag waarop ons moet vertrek, gee ons bes en beweeg oor na plan B…

 

By ons werf staan ‘n dubbeldekker sleepwa wat ontwerp is om klein sleepwaentjies te vervoer. Ons sny die boonste dek af en versterk die spulletjie sodat ons die twee Nanyi’s daarop kan laai. Een van ons span besit ‘n groot V8 Chev en hy sal hierdie lang sleepwa haak. Die Jianshe gaan op sy eie treiler agter die Land Rover ry. Al die gereedskap, kos en klere gaan in ‘n bostreiler in en ek sleep hom met die Isuzu.

 

Intussen word die Nanyi’s se houer op Durbanhawe deur die doane vertraag sodat hulle ook ruim drie dae later as beplan by ons werf opdaag. Nie ‘n goeie begin nie…

 

Maar uiteindelik is die groot oomblik daar en ons trek, ‘n dag laat, weg. Omdat ons die wegspring in Kuruman gemis het, moet ons nou mik vir Andriesvale, ‘n klein plekkie 300 kilo’s anderkant Upington. Dis ‘n epiese tog en die swaar sleepwa agter my bakkie verdubbel my dieselverbruik sodat ons elke dan en wan moet stop om vol te maak. Saam met my in die bakkie is Number One Son, my oudste, Snotvis, my jongste en die twee Sjinese. Ons ry laatmiddag van Sundra af en kom sonop in Andriesvale by die Molopo Lodge aan. Dis nou via Ventersdorp, Coligny, Sannieshof, Kuruman en Upington… Magtag, maar dis ‘n ent!