Vrees of verbeelding?

November 28, 2009 in Sonder kategorie

Kyk, ek is ‘n rugbyman. Ek het die eierbôl ‘game’ gespeel van ek 8 jaar oud was, tot my werk belangriker geword het as die plesier van rugby. En ek was nooit bang nie. Die grootste ou kon maar op my afstorm, en ek was daar om hom met ‘n skouer in die kortribbes te klap met ‘n Joggie Jansen plettervat. Losskrums was a vreugde, selfs al het die ouens dit gereeld gebruik om jou met die vuis of toks by te kom. In my laaste wedstryd, teen Yskor, Van der Byl, het hulle slot my so hard geslaan dat ek vir tien minute ‘lights out’ was, en toe ek bykom toe gaan ek terug op die veld en sorteer die knaap toe weer op my beurt in die losskrum uit. (In daai dae het ons nog nie gebekommer oor harsingskudding nie) So ek vermoed ek kan met ‘n oop gemoed sê, ek is nie bang vir fisiese geweld nie.

 

Maar gesteraand sit ek na die krieket en kyk…

 

Kyk, die blote gedagte dat mens willens en wetens daar gaan staan en wag dat ‘n rooinek jou met ‘n klipharde bal probeer vermoor, en al wat jy het om jouself mee te beskerm is ‘n stuk wilgerhout, ‘n paar stukke spons en ‘n plastiek ‘helmet’, laat my hare orent staan. En daai manne kan ‘n bal gooi… Iewers tussen 140 en 150 kilometer per uur kom daai bal op jou af en jy moet keer vir jou ‘wickets’. Aikona, mens maak nie uit eie vrye wil so nie.

 

En dan is daar die veldwerkers. Mark Boucher het sulke lekker dik handskoene aan, maar die ander arme ouens moet daai bal kaalhand probeer vang. En as die bal hulle op die kneukels of die elmboog tref dan glimlag hulle net en vryf die seerplek vir ‘n vale. Ek het bietjie somme gedoen. As die bal by die kolf uitkom teen 145 kph, en die kolwer bliksem die ding terug. Dan gaan hy weer by die kolwer uitkom teen om en by dieselfde spoed – friksie ens, in aggenome. Dan duik die kolwer – nie uit die pad uit nie – nee, hy duik voor die bal in en steek ‘n hand uit om die ding te probeer vang! Met ‘n kaal hand…

 

My knape was almal kranige krieketspelers. Snotvis het selfs eendag 96 lopies aangeteken vir sy skool se 4e span. En hulle sê toe nou vir my, dis net omdat ek self nooit krieket gespeel het nie dat ek so bang is vir daai bal. Maar ek weet wat ek weet. Daai ding is kliphard en as hy jou tref gaan dit seer wees. Ek het eenkeer as klein seuntjie om die buitekant van ‘n krieket veld geloop op pad winkels toe en toe slaan iemand ‘n vier en die bal tref my in die sy waar ek aan die anderkant van die grens drafstap. Toe ek bykom lê ek op die naat van my rug met ‘n klomp bekommerde ooms wat in ‘n kringetjie om my staan.

 

Maar nou wonder ek… Is ek so bang vir daai bal omdat my verbeelding vir my sê hy gaan my seermaak. Of is ek so bang vir daai bal omdat hy my al seergemaak het? Ek vra maar net…

12 antwoorde op Vrees of verbeelding?

  1. I’m not convinced…

  2. Het jy die storie gehoor van gatiepie en Meraai? Blykbaar het ‘n bal Meraai oppie paai geslaat en ou Gatiepie moes dokter toe agterna…blykbaar was 3 van sy vingers gebreek. So dalk is krieket nog gevaarliker vir die toeskouers.

  3. Ek is so bang vir daai bal omdat hy my ook al seergemaak het…
    Ek sê liewer niks oor Vanderbijl se mense nie. Ek werk hier…

  4. Mens sou so dink ne…

  5. Dalk maar beter so…

  6. nee wat, hier is net mans in die geselskap…ek gaan double clutch eerder 🙂

  7. Vrees of Verbeelding … nee-nee … gesonde verstand.
    :))
    Nice post.

  8. Dankie.

  9. Ek sweer jy’t iets teen mans. Jy hou nie van ons geselskap nie, lag as die man van die bed afval…

  10. ag issie! nou is jy sommer plein aaklig met my :~(

  11. Jy moes nie so lelik en met soveel genoegdoening gelag het toe hy tussen die bed en bedkassie ingebliksem het nie…

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.