‘n Moderne Ikoon

November 22, 2009 in Sonder kategorie

50 jaar later…

 

Kyk, ek is ‘n petrolkop. (Natuurlik op die mees kunsinnige manier denkbaar…) En op my werf staan daar baie karre. Daar is die alledaagse vervoer – My Isuzu diesel bakkie, die rooikop se Ford diesel bakkie, skoonma se Hyundai… Dan besit ek ook ‘n 1957 Jaguar Merk 7. En dan is daar die Mini’s. Ses van hulle.

 

Die ding het so begin… In ‘n futiele poging om my pensioengeldjies nie heeltemal moertoe te stuur nie het ek vir elkeen van my drie seuns ‘n Mini gekoop vir hulle dertiende verjaarsdae. Die plan was eenvoudig, logies en slim. Elkeen kry ‘n Mini wat hy dan moet uitmekaar haal en weer aanmekaar sit en restoureer, en sodra hy dan oud genoeg is om wettiglik te bestuur het hy ‘n kar wat hy soos die palm van sy hand ken.

 

Ek het egter nie rekening gehou met my en die rooikop se gene nie. Sy het vir jare in die motorbedryf gewerk en sodoende al wat ‘n kursus is gedoen om al vinniger met enige iets met wiele te kan ry. En sy hou van vinnig ry. Op ons eerste date het sy my so bang gery ek het daar en dan besluit om met haar te trou sodat ek haar heer en meester kan wees en haar sodoende kan beveel om stadiger te ry. (Nog ‘n slim, logiese, eenvoudige plan wat sy gat gesien het.)

 

Alle geval… Number One Son was skaars veertien toe sy rooi Mini klaar is, kompleet met resies sitplekke, ‘n rolhok en ‘n warmgemaakte enjin. (Ek belowe ek het hom nie geleer om so te wees nie. Hy’t alles op die Internet gekry.) En toe leen hy ‘n kartreiler en toe gaan jaag hy resies. Middelkind het net ‘n aks langer gevat voor hy ook renbaan toe is met sy Mini. En toe kom Snotvis (die jongste) en hy kry ‘n Mini stasiewa wat hy in ‘n “Shaggin Wagon’ (sy woorde) verander. En hy gaan jaag ook resies.

 

Resies jaag is baie soos boer. Jy ploeg baie geld in die land in en dan wag jy. En dan ploeg jy nog geld in en nog en nog en nog… Julle kry die prentjie. Nou het ek nie net my eie resies jaaery wat ek moet borg nie, ek het drie seuns wat ook jaag. En die rooikop begin sê dis nie regverdig nie, sy het dan nou niks om mee saam te jaag nie…

 

En dis alles die Mini se skuld.

  

Vyftig jaar gelede het Alec Issigonis saam met ‘n paar kollegas in ‘n kroegie langs die Teemsrivier gesit en agter op ‘n papierservet sy idees vir ‘n nuwe klein motorjie uitgestip. Oor die volgende paar weke het die karretjie gestalte begin kry in Issigonis se kop en sketse het op koeverte, notaboekies, tafelblaaie en selfs tafeldoeke begin verskyn soos wat Issigonis sy idees verfyn het. Toe hy uiteindelik tevrede was het hy sy idee aan die bestuur van BMC (British Motor Corporation) gaan verkoop. Vier maande later het die eerste Mini die lig gesien.

 

Hierdie ikoniese motorjie het die wêreld stormgeloop. Almal het ‘n Mini gehad of begeer. Mary Quant, die Beatles, Twiggy, Jean Shrimpton… Noem hulle name, hulle het Mini’s gery. Mini karre en mini rompe was in. Dit was die ‘swinging sixties’ .

 

BMC se bestuur het gehoop dat die Mini se produksie vir ongeveer twee tot drie jaar sou hou. Maar toe kom John Cooper na vore en begin Mini’s warm maak en begin wedrenne wen met hulle. Wie het nog nie gehoor van die legendariese Mini Coopers nie? In die begin stadium het hulle maar net ‘n 850 cc enjin gehad, maar ek het ‘n foto van John Cooper, in ‘n Mini, wat vir Jim Clark, in ‘n V8 Ford Galaxie, in ‘n draai verbysteek. Die Mini het die Monte Carlo tydren gewen. En uiteindelik het BMC besef die mini is hier om te bly.

 

En in die vyftigste bestaansjaar van die Mini leef die karretjies nog steeds legendaries voort. By ‘n onlangse klubkampionskap by Zwartkops renbaan, buite Pretoria, het ek gestaan en kyk hoe Number One Son die Klub se Victor Laudorum word in sy selfgeboude, vyftig jaar oue, Mini. Number One Son se leningsrekening by my pensioenvonds, tot op hede, staan onder twintig duisend… En van die ander manne wat aan die kampioenskap deelneem ry met goed wat ‘n miljoen, plus, kos.

 

Middelkind en Snotvis het ook al ‘n paar trofees en pryse losgery en as die rooikop aanhou brom oor ‘n resieskar gaan ons sommer gou-gou ‘n nuwe trofeekas moet bou. (En my planne vorder fluks vir die 2011 Dakar…)

 

Dankie Sir Alec. Dankie BMC. En dankie Mini!

 

(Ek gaan binnekort ‘n steekproef oor mini’s op die blog laat verskyn, so begin gerus poleer aan julle eie Mini stories!)

20 antwoorde op ‘n Moderne Ikoon

  1. louisna het gesê op November 22, 2009

    Plankloper, ek plak later vir jou ‘n Ministorietjie.

  2. Ek kan nie wag nie Ouboet!

  3. louisna het gesê op November 22, 2009

    OK, hou vas

  4. sprokie het gesê op November 22, 2009

    Ek is gek oor minis. Maar die oues, ek soek ook een!

  5. 🙂

  6. Dis die oues waarvan ek praat. Die REGTE Mini.

  7. Ou-Top het gesê op November 22, 2009

    Al nadeel van die wonderlike Mini in my tyd was, n ou kon nie n girl lekker vry in die Drive-ins nie. Nee, n Dodge, n Valiant, of selfs n Ford Galaxy , kon die ding doen. Maar ai, daai Minis was oulike goed.

  8. Waar ‘n wil is, is ‘n weg… In een van my Mini boeke is ‘n handleiding oor hoe om die vry ding (en natuurlik die donker daad van die nag) in ‘n Mini te doen. Maar ek gee jou gelyk, mens moet jonk, fiks en soepel wees. En niks vry so lekker soos die agterseat van ‘n Valiant nie!

  9. Puik geskryf …

  10. Jy sal my nou nie glo, maar vanoggennd toe ek by my flat uitloop staan daar so ‘n pragtig gerestoureerde Mini voor my deur. Bloedrooi. Nostalgie na ‘n jeug in die Kaap. En hier in Holland is mos min Engelse karre. Ek sien juis daar staan ‘n ou Morris Minor by ‘n garage waar ek met die trem verby ry. Sal moet afklim en gaan kyk. Dankie!

  11. Neem ‘n foto en stuur aan as jy kan asdb!

  12. Dankie!

  13. My laaitie sou nooit pas in ‘n mini nie. Toe maak ek die maar ‘n Nissan 1400 champ.

  14. Niks fout met die Champ nie.

  15. Trakie het gesê op November 24, 2009

    Gelukkig is jy wie se rooikop saam laat wiel. Wederhelf se donkerkop neig eenkant toe as dit by karre kom.

  16. Ja. Ek is baie dankbaar. Ek sien aprty van die ander manne wat skelm moet kom jaag. Dis nie lekker nie.

  17. Lekkerste karre ooit! ‘n Mens kan dit nie vergeet nie. Jy’s ‘n wonderlike pa om jou kinders iets te gee as ‘n uitdaging! Geluk met hulle prestasies! Lank lewe die Mini! My broer het so ‘n warmgemaakte mini Cooper gehad. Eintlik twee van my broers. Groot trots en groot pret gewees.

  18. Dankie Antie. Het julle dalk nog foto’s van die Cooper?

  19. My broer het onlangs vir byna drie maande pal gewerk aan een van die nuwe Mini Coopers. Was in ‘n ongeluk, engin was gaar en en en… Hy was behoorlik deur die vorige eienaar se gat getrek.
    Verlede Vrydag klim hy vir die eerste keer agter die stuur en vat sy bywyfie vir ‘n rit sodat sy kan voel hoe ry ‘n Mini.
    Twee ure later staan hy op die verkoopslokaal se vloer.
    Blykbaar ry hy glad nie soos die ou Mini van desjare, waarmee ons weekliks R2 se petrol ingegooi het, om 15 kilometer ver te ry om ‘n 10Kg sak aartappels agter in te probeer laai, nie.

  20. Ja nee… Die ou Mini was in naam en in werklikheid ‘n klein buksie wat die grotes met minagting opgedonner het.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.