Die groot vraag

November 12, 2009 in Sonder kategorie

Partykeer kan die verkeerde vraag op die verkeerde tyd, groot moles maak!

Ons sit gister so ‘n halwe rugbyspan groot om die lang tafel in die kantien en eet middagete. En die manne gesels rugby en voorrye en politiek en Julius en Eskom en so aan. En ek kom toe egter dat die jong mannetjie wat regoor my sit verkeerdom eet. Almal van ons eet met die vurk in die likerhand en die mes, regs. Maar die knaap het sy mes in die linkerhand en vurk in die regter. En ek sit hom ek kyk want hy het boonop nog so ‘n bakarm manier van die kos in sy mond kry. Nie ongeskik of ongepoets nie, net anders.

 

Hy kom na ‘n ruk agter ek sit hom en dophou en vra my toe of iets verkeerd is, en ek sê nee, maar jy eet anders. En toe hou almal hom dop. En hy raak al meer verboureerd en skaam en toe begin ons praat oor die feit dat hy anders eet. Hy sê hy is nie links nie, maar hy eet al sy lewe lank so. En dan voeg hy by: “Ek dink…”

 

Vanoggend kom hy na my toe en half desperaat wil hy weet hoekom ek hom nou juis op sy manier van eet attent gemaak het. Ek trek skouers op, want ek het nie bedoel om aanstoot te gee nie, dit maar net ‘n opmerking.  ‘n Onskuldige vraag. Toe sê hy vir my dat hy nou glad nie meer weet hoe om te eet nie. As hy eet soos gister voel dit snaaks, as hy hande omruil voel dit snaaks, en hy weet nie wat om te doen nie. Arme man!

 

En dit laat my toe dink aan Oom Servaas wat daar iewers naby Jan Kempdorp geboer het. En Oom Servaas het ‘n lang, welige, spierwit, baard gehad. En alhoewel hy gevorderd was in jare was hy springlewendig en gesond en kon hy menige man van helfte sy ouderdom uitstof as dit by werk kom.

 

Oom Servaas het sy gesondheid toegeskryf aan slaap. “As mens goed en rustig slaap word jou liggaam se beskadigde selle gesond en jou brein rus en jou siel kan met die Skepper praat.”

 

En toe eendag by ‘n nagmaaldiens vra die kranige jong dominee ewe onskuldig vir Oom Servaas of hy met sy baard bo, of onder die komberse slaap.

 

Van daardie dag af het Oom Servaas nooit weer ‘n rustige nag gehad nie, want hy’t nog nooit vantevore daaraan gedink nie.

10 antwoorde op Die groot vraag

  1. Die ironie is dat ons daagliks gekonfronteer word met menige vrae wat meestal by ons verbyvlieg sonder dat ons tweekeer daaraan dink, of dat ons handelinge daardeur beinvloed word, dan, eendag word ons gekonfronteer deur vrae wat Ewigheidswaarde het. Almal kry sulke dae en vrae, en hoe dit op ons impakteer is wat belangrik is. Be Blessed.

  2. baby78 het gesê op November 12, 2009

    Dis ‘n baie interresante een… laat mens nogal dink…

  3. Dankie vir die saamlees

  4. Dankie!

  5. Fanx Murph!

  6. O gonna! Krap waardit nie jeuk nie! Toemaar, onwetend zondig niet!

  7. Maar ai, as jy eers gekrap het dan jeuk dit eers!

  8. Nou pra’ jy. Dankie vir die lees!

  9. ek eet ook so verkeerd-om, en ek is ook nie links nie. gelukkig weet ek dit al laaaankal, en dit voel vir my reg so.

  10. Dankie vir die saamlees!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.