Assistent vir niemand

November 10, 2009 in Sonder kategorie

Vaatjie Viljee was ‘n ou maat van my. Paar jaar ouer as ek in jare, maar nie in intellek nie. En Vaatjie was ‘n goeie pel want hy het vir die SAS en H gewerk op Kaapstadhawe en daarom kon hy verniet trein ry. En so het hy toe vir my een van sy ou treinpasse gegee en ons het met tippex en wisser dit reggekry dat dit lyk soos die Real McCoy en toe kon ek ook die Kaap platry sonder om ooit iets aan die SAS en H te betaal vir die voorreg. Van Kaap tot Kuilsrivier en Simonstad tot in die Kaap het ek daai treine gery! En dit was lekker en dit was oor die algemeen skoon en veilig. (Helaas nie meer nie! Miskien moes ek maar betaal het dan het die treine dalk beter gelyk, vandag…)

 

Alle geval, Vaatjie se werk op die stasie was om die Inspekteur te assisteer. Die Inspekteur was ‘n man vir wie Vaatjie die wêreld se respek en agting gehad het. Hy was ook so bang vir hom soos die duiwel vir ‘n slypsteen. (BTW. Hoekom is die duiwel bang vir ‘n slypsteen??)

 

Vaatjie het in die oggende ingegaan werk toe, die koerant gekoop en voor die Inspekteur neergesit en dan gaan tee maak met twee Marie biscuits op die piering. Dan het hy die lys van skepe en skeepvragte gaan haal wat die dag geinspekteer moet word. Die Inspekteur het die lys geinspekteer en dan het hy sy pen, sy clipboard en sy bril gevat, sy khaki jas aangetrek en hy en Vaatjie het dan die dag se werk begin. Hulle inspeksies van skeepsvrag was gemik daarop om te sien dat geen produkte die land inkom wat dalk skadelik vir mens of dier kon wees nie.

 

Steekproewe is op sakke met saad gedoen. Kaas is bekyk en geproe (Díé dat Vaatjie so dik geraak het) Melk is getoets ens. Aan die einde van die dag het hulle dan ‘n verslag opgestel wat deur Vaatjie met twee vingers in triplikaat op ‘n ou Olivetti tikmasjien getik is. En more het hulle weer dieselfde gedoen.

 

Op ‘n goeie dag kom Vaatjie doodsbleek by my aan en vertel dat die Inspekteur na De Aar verplaas is, en Vaatjie is bang, want gaan hy ook verplaas word? Wat gaan van sy ma word? Ek het niks geweet van die SAS en H se verplasingsbeleid nie en ou Vaatjie probeer gerusstel.

 

‘n Week later het Vaatjie nog niks gehoor nie. Twee weke, drie weke en toe is die maand om en die Inspekteur vertrek De Aar toe. En die nuwe Inspekteur kom daar aan met sy eie assistent. En van toe af het Vaatjie se lewe drasties verander. Hy’t in die oggende treingery hawe toe en dan tee gemaak vir die nuwe Inspeteur en sy assistent. En dan het Hy die koerant gelees. So teen middagete stap hy na die kroeg toe en speel n’ paar potjies snoeker, Dan gaan loop hy die dokke plat en gesels met almal en vannaand gaan hy weer huistoe.

 

En so het dit vir maande aangegaan en niemnd het besef Vaatjie werk nie, maar hy kry salaris. En toe gaan sy ma dood en ou Vaatjie besluit dis seker maar sy straf omdat hy so lui is. Hy’t aansoek gedoen om op die sleepbote in die hawe te werk en na ‘n paar maande se opleiding stap hy toe ook aan boord.

 

Ek is weg uit Kaapstad uit en toe ek na jare weer daar kom was daar g’n teken van Vaatjie nie. Niemand het hom onthou nie en daarom het niemand geweet waarheen hy is nie.

 

Ek wonder of Vaatjie nie moeg geword het vir die lewe op die sleepboot nie en weer sy werk gaan vat het as assistent van niemand. As iemand van hom weet? Laat weet my… Asb.

9 antwoorde op Assistent vir niemand

  1. veralda het gesê op November 10, 2009

    ‘as niemand van jou weet nie, kan niemand jou vergeet nie’

  2. Too true

  3. Vaatjie klink of hy goed in die ANC of onderwyskorps sou inpas.

  4. Berwick het gesê op November 10, 2009

    😉

  5. Dankie man.

  6. Dis nogal ‘n raak kommentaar!

  7. baby78 het gesê op November 12, 2009

    So bang vir iets wees soos die duiwel vir ‘n / die sluipsteen/draaisteen/knapsak.

    Die slypsteenvrees berus op ‘n oorlewing dat die duiwel as straf die sluipsteen moet dra as hy ‘n dronk man laat verongeluk.

    Die knapsak vrees het ‘n ander oorlewings as oorsprong:

    Dit is gegrond op ‘n ou Vlaamse verhaal oor die smid wat sy siel aan die duiwel verkoop het. Hierdie soort verhaal het reeds in 1587 in Frankfurt verskyn in D. Johann Fausten, waarin Faust (‘n historiese figuur wat deur sy handeling ook Martin Luther oortuig het dat hy oor demoniese magte beskik) 24 jaar se jeug, kennis en towerkrag van die duiwel onvang het in ruil vir sy onsterflike siel.
    Die Vlaamse smid kon ongelukkig nie dieselfde kontrak beding nie en moes met sewe jaar tevrede wees.
    Tydens die sewe jaar kom Sint Petrus daar om sy donkies te laat beslaan.
    Die smid, waarskynlik onder die indruk van die vernaamheid van die besoeker, doen die nodige gratis.
    Sint Petrus skenk hom toe drie wense.
    Die smid vra gewoon dat iemand wat op sy stoel sit, nie sonder sy verlof sal kan opstaan nie. Dieselfde wens geld ook vir iemand wat in sy geldsak kruip of in sy peerboom klim. Volgens kontrak kom die duiwel na sewe jaar terug om sy smid te eis.
    Die smid nooi hom om te gaan sit solank as wat hy hom gaan klaarmaak. Toe die smid terugkom, kan die duiwel nie opstaan nie en die smid laat hom eers belowe dat hy nog sewe jaar sal wag voordat hy terugkom.
    Die volgende keer haal die smid die duiwel oor om pere te gaan pluk as padkos vir die reis, met dieselfde resultaat van nog sewe jaar uitstel.
    Die derde keer groet die smid hom vriendelik en knoop ‘n praatjie aan: “Is dit waar dat jy jou baie groot kan maak ? vra hy.
    Die duiwel knik en is skielik so groot soos ‘n toring (so lui die Vlaamse verhaal, nie so groot soos ‘n reus of ‘n berg nie)
    “Kan jy jou ook so klein maak dat jy in hierdie sakkie kan kruip?” vra die smid.
    Natuurlik kan die duiwel dit doen. Die smid knoop skielik die sak toe en sit dit op die aambeeld. Hy roep al die manne met hamers en beveel hulle om die sak te slaan.
    Hulle het die duiwel behoorlik plat geslaan, en voordat hulle hom laat loop het, moes hy belowe dat hy die smid nie weer lastig sou val nie.
    Van daardie tyd is hy bang vir ‘n sak.
    (In die Vrystaat, volgens een bron is daar ‘n soutsakweergawe van hierdie verhaal.)

    Bron lys: Spreekwoorde en waar kom hulle vandaan. (Anton F. Prinsloo)

  8. baby78 het gesê op November 12, 2009

    Ai die arme Vaatjie.. werk maar in die staats diens so 😀

  9. Dankie Donsie! Ek waardeer dit!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.