Die Koning, die Fees en d

Oktober 31, 2009 in Sonder kategorie

Die Koning, die Fees en die Vrystaat se Feëtjies.

 

Ek druk die bakkie se neus vroegoggend in die pad en sit dadelik vas by die Fonteinesirkel. Na ‘n lang ruk klim ek op die hoofweg en kies koers Krugersdorp se kant toe. Van daar is daar byna geen verkeer nie en ek klap Tarlton, die Denny sampioenfabriek en Carltonville sommer gou-gou af. Dan lê Potch voor.

 

As ek deur die dorp ry onthou ek menige Aardklop feeste en lang nagte deurkuier saam met my kleinsus en haar gewese man. Ek sien landmerke, herhinneringe, skoolsale wat teaters was en heelparty studente. Die mans is lenig en die meisies mooi. Een van die meisies dra ‘n t-hemp wat sê: Fact! Boermeisies rule!

 

Ek weet nie so mooi van die taal nie maar ek stem saam met die sentiment!

 

Die dieselenjin brul Orkney-wat-nie-snork-nie verby en dan ry ek Bothaville binne. Bothaville! Die Mieliehoofstad van Suid Afrika, en as jy wil stry, maak ons dit sommer die Mieliehoofstad van die Wêreld. Dis immers hier waar die jaarlikse Namposkou gehou word en waar mense van regoor die wereld kom kyk na die nuutse boerdery metodes en toerusting.

 

Daar is nie veel om die dorpie se lyf nie. Dis maar ‘n klein plekkie, maar dit verteenwoordig ‘n moerse klomp geld. Van die boere hier is RYK. Ek kry parkeerplek by Eben Dönges Primer, die hoofkwartier van die Mieliefees – om dit nou sy volle titel te gee – Die Pioneer Voedsel en Witblitsfees.

 

Ek probeer onthou wie Eben Dönges was. Iewers in die ou brein steek ‘n herhinnering vas van ‘n man wat president was vir twee of drie maande en toe beswyk het aan kanker… (Sal hom Google en kyk wat ek kan kry)

 

Met die intrapslag by die skool loop ek in Ray Brink vas. Sy is ‘n turboaangejaagde dinamo vermom as ‘n klein blonde vroutjie. Sy was in die diplomatieke diens, toe ‘n regsgeleerde, toe burgemeester van Bothaville en nou die organiseerder en touleier van die fees wat nou al van 1995 af kom. Sy groet my vinnig en stoom uit na ‘n ander vertrek om my touwys te maak oor my pligte.

 

Ons praat vinnig oor wat my te doen staan en dan stel sy my voor aan Robbie, die vriendelike jong AGS pastoor. Robbie laai my in sy Fordjie en ons ry die dorpie se agterstrate in waar hy my die huis gaan wys waarin ek gebore is. Ek is daar weg toe ek 18 maande oud was maar as ons in die straat afry wys ek na die huis op die hoek en vra: Is dit die plek? (My ma het blykbaar ses en dertig uur gebeur om my uit te kry. Ses en dertig uur van eerste kramp tot eerste skree… G’n wonder sy het issues met my nie)

 

Robbie is net so verbaas soos ek dat ek die plek nog kan onthou en ons loop om die huis, neem foto’s en wag vir die huiseienaar om vir ons oop te sluit.

 

Sy is ‘n pikante en vriendelike rooikop en ons stap geselsend deur die huis. Ek onthou die lang gang, en as sy vra of ek weet wat onder die mat is, sê ek sonder om te skroom: Blokkiesvloer. Hulle kyk my bra skepties aan, maar ek bel my ma en sy bevestig dat die gang ‘n blokkiesvloer gehad het. Die rooikop is heel opgepluk met die kennis en sê hulle gaan dadelik die mat laat optel en die blokkiesvloer laat skuur en skoonmaak. Ons groet, ek neem nog ‘n paar foto’s en ek en Robbie ry ‘n wye draai deur die dorp en bekyk die plek. Dan laai hy my by die Mieliemuseum af en my werk begin.

 

Ek is by die fees as beoordeelaar vir die Mejuffrou Mieliefees kompetisie. Ek is gevra om die aangename takie te verrig aangesien ek ‘n boorling van die dorp is.

 

My medebeoordeelaars is Ricus, ‘n verteenwoordiger van Pioneer – die hoofborg, Louié, die mooi tandarts, Nedine, die voormalige model en nou modelskooleienaar op die dorp en laastens Willie, die sameroeper van die beoordeelaars en plaaslike motorhandelaar en garage eienaar. Ray stoom in en gee ons elkeen ‘n presentjie vir ons moeite en vertel dan vinnig van die deelnemers. Ons kry elkeen ‘n stel vorms en penne en dan is ons reg om te begin.

 

Willie het die beoordeling ding al baie gedoen en hy vertel ons hoe dit werk

 

Die meisies wissel van 15 tot 22 en kom van Bothaville en verskeie ander dorpe in die omtrek af, met heel party meisies van ‘n modelagentskap van Klerksdorp af. Een meisie het self van Bloemfontein af gery om te kom deelnaam. Die eerste fase is onderhoude met die meisies en dan sal hulle huis toe gaan en regmaak vir vannaand se groot gebeurtenis.

 

Die eerste meisie kom in. Sy’s 15 en baie senuweeagtig. Ons mans probeer haar gerus stel maar die twee vrouens klim sommer kaalvuis in met moeilike vrae. Ek kan sien die arme kind is heel uit haar diepte uit en vra een of twee maklike goed soos wie haar gunsteling rugbyspan is (Cheetahs) en gunsteling speler (Jaques-Louis Potgieter) Willie vra goed oor 7e Laan en die meisie begin weer asemhaal, maar dan vra Ricus die meisie om hom iets van Pioneer te vertel. Dwa! Daar gaan al haar skamele selfvertroue en sy is maar te bly as ons sameroeper sê sy kan maar gaan.

 

Die volgende paar meisies is almal ouer, prefekte en selfs die hoofmeisies van hulle onderskeie skole. Hulle is almal baie gemakliker met die vrae en kom met meer sukses deur die onderhoudsessie. Dan kom een van die Klerksdorp meisies in. Sy is beeldskoon, lank, spring hoog, doen liefdadigheidswerk met weeskinders, lyk soos Cameron Diaz en ken die antwoorde op al die vrae, tot ek haar met my rugbyvraag gooi. Gunstelingspan? Blou Bulle. Gunstelingspeler… En daar kan die arme kind nie een speler se naam onthou nie. Nie ‘n enkele een nie… Ek traai help en vra watter posisie speel hy? Sy weet nie. Haar bubble bars net daar en sy loop taamlik druipstert daar uit.

 

Ons kry ‘n blaaskansie en saam met die, ‘n tamaai skinkbord met kos en drinkgoed. Ek volstaan met water maar eet my pad deur al die versnapperinge. Hoenderboudjies en frikkedelle en worsies en stukkies bees vleis en mini sosaties… Die mense hou van vleis! Lekker!

 

Ons vergelyk ons punte en stem oor die algemeen redelik saam. Nedine vertel ons dat van die meisies aan kompetisies dwarsoor die land deelneem. Hulle swot voor die kompetisies soos voor ‘n eksamen aan antwoorde op moontlike vrae. Die Klerksdorpkind het net vergeet om een of twee van die Bulle se spelers op te swot. Daar gaan vir my ‘n liggie op. Party van die meisies lieg dan mos soos tandetrekkers!

 

Die res van die middag gaan op dieselfde trant voort en ek probeer hard om die tandetrekkers uit te vang, tot groot vermaak van Willie en die ander. Maar kyk! Dis mooi meisies die. Vrek mooi. En hulle is oor die algemeen slim, aangename geselskap en selfversekerd. Ja, nee… Boeremeisies rule! 14 meisies, 14 onderhoude en so ‘n aks voor ses is ons klaar. Ons spat uitmekaar na ons huise, en in my geval gastehuis, om te stort en aan te trek vir die glinstergeleentheid.

 

Ek bly in Villa Sering, ‘n ruim en lekker plek met ‘n gemaklike bed en en suite badkamer. Na ‘n sessie van polish en paint is ek reg. Ek trek my Madiba hemp aan en vat die pad Eben Dönges toe.

 

Theophilus Ebenhaezer (Eben) Dönges (1898 – 1968) was een van die argitekte van apartheid en is na die heengaan van CR Swart as Staatspresident ingehuldig maar hy het aan ‘n hartaanval beswyk voor hy sy pos kon inneem. (Dankie Google!) Nou weet ons almal en kan ek aangaan sonder die geskiedenisles.

 

By die saal aangekom staan ons rond en word dan deur die onuitputbare Ray na die beoordeelaarstafel begelei. Die vermaak vir die aand is “Drie van die Bestes” – Kevin Leo, Danie Niehaus en Matthys Roets. Ek sien baie daarna uit want ek het al drie die manne al hoor sing, maar nog nie saam nie. Terwyl die ander gaste inkom gesels ons onder mekaar oor hoe en waaroor ons die meisies gaan beoordeel. Twee van my mede beoordeelaars het al klaar ‘n kortlys van so 5 name, maar ek verkies om bietjie te wag.

 

Dan kom die Mieliekoning in. Hy loop deur die saal en groet sy ‘onderdane’ en hy word begelei deur vier fris jong lyfwagte wat elkeen ‘n saak Pioneersaad dra. Hy’s ‘n bekende akteur en aangetrek met ‘n tamaai groen mantel, ‘n tradisionele plaashoed met zebravel om en versier met mielies en mielieblare en in sy hand het hy ‘n houtsepter ook versier met mielieblare. Hy doen so ‘n dansie en wikkel sy boude op maat van die musiek en ons lag. Snaakse man die… Dan gaan sit hy op sy troon en sy regterhand Ridder Ray kom in. Verskeie bedankings word namens die koning gedoen en dan oorhandig hulle ‘n oorkonde aan een van die plaaslike boere, Crawford von Abo, wat nou al etlike jare met die Zim regering baklei nadat hulle van sy plase onteien het. Sy vrou, Bibi, kry ook ‘n ruiker en tot groot applous van die gehoor gaan sit die twee.

 

Nou is dit weer die beurt van Ridder Ray en die koning. Hulle lê kaalvuis in onder verskeie dorpenaars en ander wat na hulle mening die Mieliehoofstad se beeld skade aangedoen het deur die laaste jaar. Die koning maak ‘n toesprakie wat deurspek is met mielieverwysings en dan word die gesant van die Vrystaatse premier op die verhoog verwelkom.

 

Sandlana Smit is ‘n wit ou wat in die premier se kantoor na minderheidsgroepe omsien. Hy’t net een arm en maak ‘n paar grappies daaroor. Ek verbaas my oor die gemaklikheid waarmee almal hom ontvang. Hy is per slot van rekening lid van die ANC vir die laaste 19 jaar en is met ‘n swart vrou getroud, maar nieminad knip ‘n oog nie. (Wat hulle agter sy rug van hom sê is natuurlik dalk heeltemal ‘n ander saak.) Hy dra die premier se groete aan die koning oor en oorhandig ‘n offisiële dokument aan hom. Dan vertel hy dan die Vrystaatse regering van ingang 2010 beplan om HOP huise vir arm blankes in Bothaville te bou. Dit word met applous begroet, en die koning maak weer ‘n toesprakie voordat hulle almal die verhoog verlaat en Drie van die Bestes oorneem.

 

Die manne mag maar sing.

 

Hulle vat na ‘n ruk ‘n breek en die meisies loop in ontspanningsdrag sodat ons hulle verder kan beoordeel. Kevin Leo is seremonimeester en hy is baie snaaks terwyl hy met die meisies skerts. Na die stappie gaan ons uit en besluit watter vier meisies moet wegval. Die 15jarige waarmee ons eerste die onderhoud gevoer het is een van die wat in die slag bly. Ek hoop nie dit doen haar emosioneel skade aan nie.

 

Die manne sing weer ‘n versie en dan kom die tien met aanddrag in. Wragtag, maar daar is mooi meisies in Bothaville! Die feëtjies trippel met die loopplank af en ek sien Willie, wat ‘n jaar of drie ouer as ek is, dra ook swaar aan sy jare vannaand.

Weer gaan ons uit om te koukus en weer sny ons vyf meisies uit die bondel.

 

Ons kom terug en gee die lys vir Kevin en nou loop die spanning hoog. Kevin wys met groot deernis die 5 meisies uit wat uitval en die oorblwende poppies loop weer vir ons. Daarna kry hulle elkeen kans om ‘n vraag uit die hoed te trek en dit te beantwoord.

 

My eerste keuse kry haar vraag, spot met “oom” Kevin en steek ‘n pragtige toesprakie af oor haar onderwerp. Die ander meisies kry ook kans en laaste is dit die spekskieter van flussies wat nie een speler uit haar gunstelingspan by name kon noem nie. Sy kry ‘n onmoonltlike moeilike vraag en stamel en stotter met groot moeite deur haar spreekbeurt.

 

Ons gaan koukus weer, wys die keer die drie meisies aan wat eerste, tweede en derde plekke beklee. Die laaste vyf feëtjies staan vas en ons gee vir Kevin die lys. My gunsteling het die meeste stemme gekry en sy word dan aangewys as Mejuffrou Mieliefees en wen ‘n klomp pryse. Daar is trane van blydskap en trane van pyn.

 

Later stap ek uit om ‘n traantjie te gaan stort en langs die ingang na die toilet kry ek die spekskieterjie wat soos Cameron Diaz lyk en sy huil snot en trane. Ek wik en weeg of ek iets moet sê of doen, maar hou dan maar verby. Om ‘n feëtjie te wees is nie maklik nie en hoe gouer die girl leer dat sy nie elke keer kan wen nie, hoe beter.

 

As ek egter uitkom staan sy steeds en huil en ‘n jong man, broer of kêrel (ek weet nie wie nie) het sy arm om haar. Sy sien my en vee trane af en vra my hoekom sy nie gewen het nie. Ek verduidelik dat haar laaste toespraak vermoedelik die rede was. Die jong man sê vir haar die ding is verby, sy moet dit agter haar sit en aanbeweeg, maar die feëtjie is die moer in en wil iemand of iets die blameer vir haar neerlaag. Ek sê dis eintlik teen die reëls om die uitslag mte haar te bespreek en blaas die aftog. (Dis ‘n lieg maar ek is te veel van ‘n sissie om langer die feëtjie se trane te trotseer)

 

Nog later kry ek die koning in die biertuin en hy vertel stories en vermaak die onderdane. Ek gaan sit eenkant in ‘n hoek en geniet die show en ek belowe myself: As hulle my vra is ek volgende jaar wragtag weer hier.

 

Nog later…

 

Ek sukkel om aan die slaap te raak en lê wonder wat dit aan jou selfbeeld moet doen as mense vir jou sê jy’s nie mooi genoeg nie. En wat op aarde besiel die pragtige jong meisies om hulleself aan die vernedering bloot te stel. Maar dan weer onthou ek die wenner se glimlag toe Kevin haar naam uitlees en ek verstaan: Hulle doen dit want Boeremeisies rule! Ok?

 

 

 

 

8 antwoorde op Die Koning, die Fees en d

  1. Lekker stuk – het nie eers geweet daar is so ‘n plek nie!

    (ja Orraait ek is ‘n Vaalpens)

  2. Dankie! Ja, Bothaville bestaan rerig!

  3. hutton het gesê op Oktober 31, 2009

    😉

  4. Dankie!

  5. pasella het gesê op November 1, 2009

    Voorheen bekend as Mej Mielie!

  6. Ja maar hulle het dit baie gou verander weens ouesn soos ek en jy wat nou ja… Gedagtes het.

  7. baby78 het gesê op November 12, 2009

    Dit was nou ‘n lekker stukkie lees die 🙂 Very nice 🙂

  8. Dankie Donsie

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.