Hong Kong, Sjina en verder (4)

Oktober 8, 2009 in Sonder kategorie

Pattaya: Dag een.

 

Pattayia is ‘n vakansiedorp 120 kilo’s van Bangkok af. Strat hou gereeld daar vakansie en hy en Dwayne ken die plek goed. Ons pak op in Bangkok en stoor ons bagasie by die hotel. Dan’s ons weer op die lugtrein na MBK toe. Ons kry flitse, koplampe en ‘n nagsig apparaat (night sight) Strat koop ‘n goedkoop selfoon vir ‘n kroegmeisie in Pattaya vir wie hy een belowe het. Ons eet, loop rond en spandeer weer tyd in die internetkafee, nog steeds op soek na goedkoper kaartjies na Sjina. Ek raak ongeduldig maar ons kan nie pad vat Pattaya toe nie want ons wag vir Joi.

 

Uiteindelik is die bussie wat ons gehuur het by die hotel, Dwayne en Joi is ook daar en ons pak en ry. Die bestuurder van die Toyota Quantum weet waarheen om te gaan en ons los hom dat hy ry. Strat sit net agter die bestuurder, dan Dwayne en Joi en ek sit heel agter. Dis ‘n luukse bussie met leersitplekke en individuele lugversorging. Die enigste probleem is dat ek op die agteras sit. Ek voel elke knikkie en elke stamp. My aambeie sit naderhand soos pampoentjies in my keel…

 

Na omtrent ‘n uur is ons in Pattaya en ons stap by Sam Maguire’s in. Dis ‘n klein losieshuisie wat jy bereik deur in ‘n gangetjie af te stap. Daar is ‘n swembad en ‘n houttrap wat oplei na die vier verdiepings, elkeen met vier kamers. Kevin, die eienaar is ‘n Wallieser wat met ‘n plaaslike vrou getrou het. Hy’t die stukkie grond gekoop en sy hotelletjie opgerig. Die kamers is groot, skoon en gemaklik.

 

Voor die hotelletjie is ‘n reeks kroee. En van die kroee behoort aan ‘n ander Brit, Stephen, ook met ‘n plaaslike meisie getroud. Strat deel geskenke uit. Springbok vlae vir die kroeg, Springbok serpe vir die vrouens en pette ens vir die ander personeel. Daar word gesels, oor en weer onderhandel en dan huur ons drie bromponies, met valhelms en vat die pad. Ek begin nou gewoond raak daaraan om tienuur die aand in vreemde dorpe aan te kom en dan uit te gaan. Ons vleg deur die strate en stop vir brandstof.

 

By ‘n vrou met ‘n straatstalletjie langs die pad koop ons whiskey bottels met petrol in. Strat en Dwayne verseker my dis die goedkoopste manier van brandstof koop. Ek gooi twee bottels Johnny Walker en een bottel Jack in my skoeter en dan’s ek weer reg om te ry. Ons vleg weer deur die besige strate en parkeer naby die waterfront.

 

Ons sluit ons helms in die fietsies toe en begin stap. Ek en Strat stap voor en Dwayne en Joi volg. In Walking Street – waar mens die tyd van die aand net mag loop – is daar klub op klub, kafee op kafee en meisies en ladyboys oral. Daar is ook ‘n magdom Russe. Meeste plekke se spyskaarte is in Thai, Engels en Russies. Baie van die jong mans se hare is pynlik kort geskeer, soos wat mens net in die weermag sien. Oral sien jy ou Westerse mans met jong Thai meisies of Thai seuns…

 

Ons plak ons neer by ‘n kroeg waar daar harde musiek is – Strat se keuse – en hou die ‘passing parade’ dop. Daar is ‘n Thai dwerg met ‘n Mohican haarstyl wat hemploos op maat van die musiek rondspring. Mense gooi geld in sy hoed en hy dans! Later word sy plek ingeneem deur ‘n paar seuns in swart, met skeefgedraaide pette, wat ‘breakdancing’ doen. Hulle doen nie so goed soos die dwerg nie.

 

Daar is ‘n klein dogterjie, wat nie ouer as vyf of ses kan wees nie wat blomme verkoop. ‘n Groot neger kom die straat af. Hy’s ‘n kragapie met spiere op spiere. Amerikaner of Nigerier, dis nie moontlik om te se nie. Die klein meisietjie loop voor hom in en stop hom met ‘n klein handjie teen die bo-been. Hy kyk verbaas na haar, amper soos Goliat na Dawid moes gekyk het. Hy skud sy kop nors en probeer verby haar loop. Die meisietjie is egter nie so maklik om af te skud nie. Sy gaan staan weer voor hom en druk haar hand teen sy been. Nou’s die man ietwat gegooi. Hy probeer om haar loop, maar die keer stop sy hom deur haar klein handjie direk in sy geweerkabinet in te druk. Die man snak na sy asem, nes Goliat moes gedoen het toe die klip hom tussen die oe tref. Hy wil-wil die kleintjie omklap, maar besef dan hy word deur die toeristepolisie dopgehou. Hy krap ‘n paar note uit sy sak en gee dit vir die meisietjie. Sy tel die geld en gee dan vir hom haar hele bos blomme voor sy met ‘n groot glimlag weghardloop. Die blomkoper staan verward rond met die bos blomme in sy hand. Dan loop ‘n ladyboy hom by en haak by hom in. Sy aand begin vinnig afdraaende loop… En dan haak ‘n tweede ladyboy by hom in en druk haar tong in sy oor. Die arme man…

 

Die Thai Toeristepolisie is oral. Hulle word opgemaak deur polisiemanne van regoor die wereld. ‘n SA polisieman kan byvoorbeld na hulle toe kom en sy dienste aanbied. Hulle stel hom vir ‘n maand aan, gee hom ‘n uniform met die SA vlag langs sy naam. Hy kry nie salaris nie, maar hy bly verniet, eet verniet en kry boonop S&T. Al wat hy moet doen is om elke aand diens te doen totdat die toeriste gaan slaap. Indien enige Suid Afrikaner in sy wyk moeilikheid optel, moet hy help. Indien ‘n SA burger ‘n misdryf sou pleeg, sal hy ook gevra word om die arrestasie te doen. Ek sien Britse, Skotse, Spaanse en Russiese Toeristepolisie, maar geen SA vlag nie. Strat se hy het al SA polisielede daar gesien, maar hulle is maar dun gesaai. Hierdie geregsdienaars bewaar nie net die vrede nie, hulle doen ook ander goed.

 

Elke toeris wat in Thailand aankom word op ‘n sentrale databasis geregistreer. Sodra jy by ‘n hotel of gastehuis inboek moet die personeel jou registreer. Die polisie kan dan dadelik bepaal waar jy woon as hulle weet wie jy is. Dronk of verdwaalde toeriste kan by die toeristepolisie aanklop en hulle sal by hulle woning besorg word. Dis ‘n stelsel wat goed werk en met al die drinkende massas sien ek nie een insident nie. Die mense het ook lede wat nie in uniform is nie, wat deur die klubs beweeg en soek na moeilikheidmakers.

 

Magtag, maar ek hou van Thailand. More gaan ons die plek met ons skoeters platry. Ek kan nie wag nie.

 

Pattayia: Dag twee.

 

By ons in Namakwaland kan die manne prakseer met ‘n donkie. Enige ding kan reggemaak, geskuif of rondgedra word, solank jy ‘n donkie het. Hier in Pattaya doen hulle dieselfde, maar net met ‘n skoeter.

 

Die klein 125 cc skoeterkies is oral. Meesal Yamaha, maar darem so nou en dan ‘n Honda ook. Suzuki’s is min te sien. Hulle ry enorme vragte op die motorfietsies aan en jy sien gereeld meer as twee mense op so ‘n fiets. Gister sien ek drie jong meisies agtermekaar op een fiets en hulle ry! Jy sien ook families wat so saam, saam op ‘n fiets ry. Pa bestuur en tussen sy bene staan Kleinboet. Agter hom sit Ma, wat vir Baba en ‘n paar inkopiesakke vashou en agter haar sit Kleinsus, rustig en sonder vrees. Dis VYF mense op ‘n 125cc skoeter! Ongelooflik.

 

Die ander ding wat hulle hier doen is om syspanne aan die skoeterkies vas te maak. Die ‘sidecar’ se derde wiel het ‘n paar fris skokbrekers aan en dan kan hulle die kontrepsie gebruik vir die vervoer van enige iets. Dit kan ook ‘n mobiele winkel word vir kos, cd’s, skoene, klere… Noem dit en hulle doen dit. Daar is een eksentrieke jafel wat sy skoeter en syspan in ‘n reuse vermaaksentrum verander het. Hy ry die strate vol terwyl musiek uit sy voertuig bler. Hy dra cowboyklere en sing saam oor ‘n mikrofoon wat aan die karaoke stelsel in sy fiets gekoppel is.

 

‘n Paar jong skoolmeisies het so ‘n fiets waarmee hulle rondry en ‘n Thai lekkerny verkoop. Rys en piesang word gemeng en in ‘n worsievorm gerol. Dan draai hulle dit toe en rol dit op in ‘n paar piesang blare. Die spulletjie word nou op ‘n vuur gebraai en dan wag jy tot dit afkoel voor jy die piesangblare afhaal en die piesangrys worsie eet. Heerlik! Dit proe so bietjie soos mielipap aanbrandsels wat baie suiker en kondensmelk op het.

 

Ander ouens het ‘n gasbraaier op die ding en hulle verkoop sosaties en gebraaide worsies. Dis ongelooflik wat hulle alles op so ‘n syspan kan doen. Een ou wat gister by my verby is het ‘n suk of ses mense op sy syspan en hy ry taxi! Mens se bek hang oop.

 

Ons vat ons skoeters en ry teen die kus op. Joi kom nie saam nie, sy kuier by haar suster wat van Nieu Zeeland af hier kuier saam met haar man Eric. Eric is ‘n veel-geskeide Nieu Zeelander wat die Thai meisie op vakansie ontmoet het en toe met haar getrou het. Hy besit ‘n spul taxi’s in Wellington en is duidelik versot op sy mooi jong Thai vrou.

 

Eers doen ons by ‘n visserhawe aan waar die visstermanne besig is om hulle bote te was en nette te versorg. Die bote kom van oraloor en almal het veelkleurige linte voor aan om geluk en veiligheid te verseker. Van die matrose slaap in hangmatte op die dek en binne in die skuite. Dis eng en beknop. Ek sal nie inpas nie.

 

Daarna vat ons weer die pad en druk verder teen die kus op. Ons eet by ‘n pragtige restaurant wat op ‘n pont in die see le. Daar is net Thais in die plek en ons sukkel om reg te kom, totdat hulle vir ons ‘n spyskaart met prentjies bring. Dan kan ons wys na wat ons wil eet en ek kies ‘n vissop. Strat en Dwayne eet rys en hoender. Die soppie brand my dat ek brul, maar brand darem ook al die plaak van my tande af.

 

Hierna besoek on Nong Nooch. Dis die grootste botaniese tuin in die wereld en beslaan ongeveer 1000 hektaar. Op die terrein het hulle 24 troppe olifante wat almal werk vir hulle geld.

 

Ons gaan kyk na ‘n opvoering van tradisionele Thai dans en toneel. Die meisies is mooi en fyn en die olifante in die oorlogtoneel is briljant. Daarna gaan ons na die olifantkonsert kyk. Olifante gooi veerpyltjies na balonne, speel basketbal en sokker en trap enorme driewielfietse. Na elke item moet ons hulle voer. Klein seuntjies en dogtertjies loop rond en verkoop piesangs wat ons dan aan die olifante aanbied.

 

Na die spulletjie loop ons deur die tuine. Die eienaars het loopvlakke in die lug gebou sodat mens die tuin uit die lug uit kan sien. Dis enorm en asemrowend. Jy kan ook met ‘n oilifant deur die tuin toer of met ‘n toerbussie. Ons stap.

 

So kom ons op die eienaar se versameling motors af. Tydren Subaru’s en Lancers, twee Mini’s, ‘n Ford GT40, ‘n Shelby Mustang, Hummer H2 en H3, ‘n polisie Lamborghini, Lotus Elise, Exige, en Europa en ‘n Smart wat gesny is vir resies. Daar is ‘n Ariel Atom, verskeie veldvoertuie en selfs ‘n Toyota Hi-Lux Bigfoot. Die hele spul word in ‘n drieverdieping parkeer garage gehuisves. Asemrowend.

 

Na Nong Nooch ry ons huistoe en stort ,voor Stephen, die eienaar van die kroegie voor ons hotel, ons oplaai en na Molly Malone’s toe vat. Dis ‘n Ierse kroeg waar hulle Guinness verkoop en rugby uitsaai!

 

Ons is daar saam met Joi, Joi se sussie en Eric, die Nieu Zeelandse taxi eienaar. Ons skree en raas. Die Ausies blameer die ref en se die Sringbokke skop die game dood. Suur druiwe. Ons wen gemaklik en dan gaan sit ons weer by ‘n kafee en kyk na die mense wat verbyloop. Die wedstryd het 10uur Thaityd begin en teen die tyd wat Stephen ons by die hotel aflaai is dit al 3uur. Dis nog warm genoeg om te swem en tot groot konsternasie van die nagwag, val ek en Strat in die swembad in voor ons gaan slaap.

 

Pattaya is heerlik en goedkoop. Ek geniet my skoeterkie vreeslik en aangesien dit naweek is kuier ons lekker. Maar Maandag moet ons plan maak om in Sjina uit te kom. Ons het goeie hoop dat ons by Yamaha se fabriek of by Renli en Apollo ons resiesvoertuie gaan kry. Hou duim vas. Persoonlik voel ek, ek kan nie wag nie.

 

Sondag in Pattaya

 

Dis Sondag. Ek en Dwayne bestyg die skoeters en ry hawe toe. Strat bly agter om somme te doen want ons planne is besig om skeef te loop. Joi slaap.

 

Ons klim op ‘n veerboot en ry Coral Island toe. Dit kos ons 20 Baht per persoon. (Daar is 5 Baht in die Rand) Op die eiland huur ons een skoeter en met Dwayne voorop ry ons die eilandjie in ‘n japtrap plat. Daar is vier strande en veral die Russe hang hier uit in hulle dosyne. Jy ken hulle maklik uit. Hulle is of kreefrooi verbrand deur die son of hulle is neutbruin. Die meisies is nie eintlik mooi nie en die mans amper dronk van al die vodka wat hulle soos koeldrank drink.

 

Op die eiland kry on die eerste keer met monsoenreen te doen. Dit sak in ‘n digte gordyn uit sonder enige waarskuwing, en dan, net soos dit begin het, hou dit op. Ek en Dwayne is papnat. Ons vat die skoeterkie terug en koop sulke snaakse koekies gevul met pampoen, of hoender of vark of bees. Die koekies lyk soos brooddeeg wat klaar gerys het, en dit voel ook so. Ek wonder of ons rou kos gekry het, maar Dwayne verseker my dis hoe dit moet wees.

 

Teen die verwagting in is die koekies baie lekker, en ons koop nog ‘n stel. Dan gaan klim ons op die veerboot en wag om te ry. Hulle laai die skippie en as daar nie eers meer staanplek is nie vertrek ons terug Pattaya toe. Ek gaan stort en Dwayne gaan haal vir Joi wat by haar sussie kuier. Joi se regte naam is Rampay Zimunkot. Ek hou maar by Joi.

 

Ons vat die strate want alles is toe en ons kan nie kaartjies bespreek of enige besigheidsoproepe maak nie. Ons eindig in ‘n straatkroeg wat so groot is soos ‘n vliegtuigloods. Binne in is rye en rye perdeskoen kroegtoonbanke, elkeen beman met ‘n paar dansers, kroegmeisies en een kroegman. Ons kry stoele reg voor op die sypaadjie wat na die straat gedraai is. Ek en Strat neem plaas terwyl Dwayne en Joi straat af verdwyn. Na ‘n ruk sluit Stephen by ons aan. (Dis die Ier by wie ons, ons skoeterkies huur.) So sit ons die aand om en kyk na die massas wat verbyloop.

 

Prostitusie is onwettig in Thailand en tog het hulle ‘n hele toerisme bedryf opgebou wat alles op een of ander manier aan die seksindustrie gekoppel is. Kroegmeisies lok mans die kroee in en probeer hulle kry om soveel drankies as moontlik te koop. Daarop verdien hulle kommissie. Maar as ‘n man nou die meisie wou huistoe vat voor toemaaktyd, moet sy ‘n boete aan die kroeg betaal. Dit wissel van 250 Baht tot 500 Baht. Die man moet sy eie fooi met die meisie onderhandel vir haar dienste. Dit kan wissel van 1000 Baht tot ‘n paar skoene of ‘n rok of skoolfonds vir haar kind. Die verhouding van mans tot vrouens in Pattaya is ongeveer 14 vrouens tot een man.

 

Oral in die strate sien jy ou mans met jong meisies. Baie van hulle trou met die Thai meisie en bly. In elke Farang (uitlander) tydskrif of koerant wat ek hier lees is daar artikels oor die probleme van visums, trou, skei, kinders kry ens. indien jy met ‘n Thai vrou sou trou. Daar is ook verskeie artikels oor die etiket wat van ‘n Farang verwag word in die geselskap van ‘n Thai meisie. Al die Farangs met wie ek praat wat met Thai vrouens getrou het vertel dieseflde storie. Hy kon sy vrou in Engeland, of Duitsland of Amerika of waarookal nie meer vat nie, toe los hy haar en kom Pattaya toe. In Pattaya ontmoet hy gou-gou (of dalk nie so gou-gou nie) ‘n vrou wat bereid is om sy twak op te vreet. Hy trou of trek by haar in, kry werk, begin ‘n besigheid of leef op sy pensioen. Die meisie is maar te bly want sy kry ‘n ou man wie sy vir ‘n paar jaar moet oppas. Sy moet maak of sy van krieket, sokker en rugby hou, vrede maak met sy drink- en poepgewoontes, leer om sy tipe kos te kook, en as hy doodgaan erf sy.

 

Hy kry ‘n liefdevolle en pragtige lewensmaat vir sy laaste jare en sy kry haar toekoms verseker. Bargain!

 

As mens egter verder dink se dit heelwat oor die verhouding tussen man en vrou in die Westerse samelewing en van mans en vrouens se wedersyde verwagtinge van die huwelik.

 

Ek verkyk my aan die paartjies. Stokou omies wat met kieries loop het ‘n jong bokkie aan die arm wat diep in sy oe kyk en hom laat verstaan dat hy die beste ding is wat nog ooit met haar gebeur het. Die ironie is… Hy is heelwaarskynlik die beste ding wat ooit met haar gebeur het, want meeste van die meisies kom van klein dorpies af waar die lewensverwagting omtrent 50 jaar oud is. Hulle is brandarm en het geen vooruitsigte op ‘n beter lewe nie. So… As ‘n ou toppie haar ‘n beter lewe bied vat sy dit. Al wat sy hoef te doen is om sy twak op te vreet tot hy omkap, dan is sy in Thai terme ‘n welaf vrou.

 

In Boystown (nie soos die een by ons nie) gebeur dieselfde ding maar dis die keer net ou ballies en jong Thai mans…

 

Ek raak nou uitgekuier en ek mis my mense. Daar was slegte nuus uit SA uit en ek wil by die huis kom om ‘n skouer aan te bied.

 

Sjina begin ook vir my oor die horison verdwyn. Ons kyk tv nuus en sien daar is tifone, siklone, orkane en allerhande ander weergoggas oor die Suid Sjina see. Ons gaan nie daar kan invlieg nie en as ons trein ry mis ek my vlug huistoe. En dis alles te danke aan daai poepol in Indonesie wat nie sy woord gestand gedoen het nie.

 

Ons wag nou maar vir die weer, die Internet en die vliegtuie. Met tyd kom raad…

 

Pattaya, Sivarnabhumi Lughawe, Macau lughawe, Hong Kong. OR Tambo!

 

Ek het ‘n ding vir tale. Na twee weke in Italie kon ek ‘n basiese gesprek in Italiaans voer en redelik baie verstaan. Die subtiliteite ontgaan mens natuurlik. Dieselfde het in Mosambiek gebeur en in Engeland verstaan ek sommer alles wat hulle se… Maar Thai is taai. Deel van die probleem is die skrif wat die Thai’s gebruik. Dit lyk meer soos staafkode (barcode) as skrif. Dit is dus baie moeilik om ‘n woord wat jy hoor te vereenselwig met iets wat jy geskryf sien. Maar hier is ‘n lessie in Thai…

 

Indien jy ‘n man aanspreek gebruik jy “krap” en ‘n vrou is “ka”. M.a.w. ‘Hallo’ sal wees ‘sawadee ka’ vir ‘n vrou en ‘sawadee krap’ vir ‘n man. ‘Dankie’ is ‘khorb khoen’ en totsiens is weer ‘sawadee’. ‘ n Verdere komplikasie is dat baie woorde dieselfde gespel word maar anders uitgespreek word en dan iets heeltemal anders beteken. So, byvoorbeeld, is die woord vir ‘hond’ en ‘perd’ dieselfde maar dit word anders uitgespreek. (En ek gaan nie eers probeer om verder te verduidelik nie. Dit het my ontrent 5 minute gevat voor ek dit kon regkry om die twee diere se name reg uit te spreek!) “Sawadee” kan ook gebruik word vir ‘dankie’ en ‘asseblief’. Mens sit jou hande se palms teen mekaar, vingers na boontoe en maak so ‘n effense kopbuigingkie. “Sawadee!” Jou beloning isaltyd ‘n bree spontane glimlag van die Thai’s se kant af.

 

Name is net so moeilik en baie Thai’s gebruik Westerse name omdat ons dit darem kan uitspreek. Hier’s ‘n lekker naam vir julle… “Tittipron Pramparrasat”. Die kroegmeisies in die Polo Bar se name is Vritaporn, Kiep en Ohn. Dan het ek ook ‘n Dha leer ken en my bynaam was Poempoi, wat losweg “Pokkels” beteken.

 

Maar taalprobleme ten spyt, bly Thailand ‘n wonderlike plek met baie vriendelike mense en heerlike weer.

 

Op my laaste dag daar vier die land fees want dit is die koningen van Thailand se verjaarsdag. Strate word afgesper, skoolorkeste maak musiek, daar is trompoppies in tradisionele Thai drag, akrobate, optogte en baie kos. Ek verkyk my aan al die kleure en geure en proe aan goed wat ek nog nooit vantevore gesien het nie. Krieklarwes proe soos kaiings, ‘dragonfruit’ proe soos turksvye en alles , maar alles word bedien met ‘n sousie wat in ‘n meerder of mindere mate brand.

 

Kos is ook die sentrum van Thai sosiale lewe. Hulle sal jou nooi om saam te eet selfs al het hulle nie genoeg vir hulleself nie. Niemand daag op by ‘n geleentheid sonder kos nie. Tydens die koningen se verjaardag stap ek op die strand en kyk hoe Thai families rondom ‘n menigte bakkies kos sit en kuier. As jy lus is vir iets leun jy bloot oor en help jouself. Geliefdes voer mekaar oor en weer en alles is vrolik. En as die kos opraak kan jy maar seker wees iemand het nog ‘n bakkie met kos (en ‘n brandsousie!) iewers.

 

Drie-uur in die oggend bestel Joi kos van ‘n kosskoeter af, en sy en die kroegmeisies sit heerlik en smul. Wanneer sy haar oe oopmaak, of dit nou tienuur, elfuur of twaalfuur is, word daar dadelik aan gister se oorskiet geeet en dan moet daar weer nuut gekoop word. En niemand is vet nie!

 

Een van die moeilikste goed om te doen is om Thai’s se ouderdomme te skat. Een van die kroegmeisies wat ek raakloop lyk of sy twaalf kan wees, en as ‘n westerse polisieman haar vir haar identifikasie vra, ruk sy dit uit en bewys sy is eintlik 21! (Meisies mag nie in kroee werk voor hulle twintig is nie)

 

Ek ry vir oulaas ‘n draai deur Pattaya en neem ‘n paar laaste foto’s. Dan gaan ek terug hotel toe en pak. Ons het finaal uit Sjina gehoor dat ons eers na die naweek daar sal kan inkom, maar ek moet huistoe want ek moet repeteer vir Aardklop, en in my werk kan ek nie my boetie of pel kry om vir my in te staan nie.

 

Ek en Strat vat vroegoggend die pad Bangkok toe en hy groet my op die lughawe. Hy en Dwayne sal sonder my Sjina toe, en hopelik alles vasmaak wat vasgemaak moet word.

 

Asia Air vlieg my tot in Macau, waar ek amper handgemaan raak met ‘n taxi bestuurder wat ‘nie kleingeld het nie’. As ek hom voor die bors gryp, ontdek hy skielik ‘n hele sak vol kleingeld en ek vat dit en loop die veerboot stasie in. Die veerboot Hong Kong toe is amper leeg en sowat ‘n uur later meer ons vas.

 

Ek gooi my sakke oor die skouer en stryk aan na die sentrale stasie toe. Dis nie ver nie, net so ‘n drie of vier blokke, maar dis warm! En bedompig… Teen die tyd dat ek by die sentrale stasie aankom is ek papnat gesweet. Dit lyk of ek deur die reen moes stap. Ek koop ‘n treinkaartjie lughawe toe en boek my bagasie by Cathay Pacific se toonbank op die stasie in. Ek kry ‘n sitplek op die vliegtuig wat teen die paadjie is, en as my sak in die tonnel af verdwyn vat ek weer Kong Kong se strate.

 

Voor my loop ‘n Australier met ‘n t-hemp wat se: “No, I don’t want a f*cking, suit, massage or fake watch!” Ek lag net want op elke hoek en draai is daar ‘n afstammeling van Ismael wat ‘n snyerspak of horlosie aan jou wil verkoop. En dan is daar ook die ou tannies wat met helderkleurige plakkate probeer om jou in te lok vir ‘n massering. Die Australier se hemp help niks. Hy word net soveel soos ek gepla. Naderhand plak ek ‘n kyk op my gesig wat se: “Probeer net, en ek bliksem jou…” Sommige dinge is universeel en ek word baie minder gepla. (Partykeer help dit om akteur te wees!)

 

Ek kry Van der Merwe se kamerawinkel en neem ‘n paar fotos. Hy is ‘n Hong Kong Sjinees met ‘n voorliefde vir Suid Afrika en Suid Afrikaners en ‘n MOET as jy in Hong Kong is.

 

Na ‘n paar ure se doellose ronddwaal en rondrits op die moltrein, spring ek op die vliegtuig lughawe toe. Ek eets iets en stap aan boord. Langs my sit ‘n Suid Afrikaanse bosbouer wat konsultasiewerk in Sjina en Vietnam gaan doen het. Die res van die vlug is propvol Vietnamese vissermanne wat op pad Durban en Kaapstad toe is om vermoedelik op visserskepe te gaan oorneem as bemanning. Hulle praat nie Engels, Kantonees of Mandaryn nie, en die arme lugwaardinne het hulle hande vol.

 

Ek en my reisgenoot gesels kopstukke en ontdek sommer gou-gou ons het ‘n gesamentlike vriend. Klein wereldjie!

 

Dan, amper soos die monsoenreen, is dit verby. Drie weke in die vreemde en my mense wag vir my. Ek bars amper in trane uit want ek is bly om hulle te sien en ek is vrek bly om by die huis te wees.

 

Maar eendag gaan ek terug, en dan GAAN ek Sjina maak…

 

Ek kan nie wag nie!

 

 

11 antwoorde op Hong Kong, Sjina en verder (4)

  1. perskepit het gesê op Oktober 8, 2009

    Bly jy het jou reis na hierdie deel van die wereld geniet!

  2. Dankie

  3. Dit klink sos fantasties,ek is skoon jaloers omdat ek nie nog daar is nie.

    Bly jy het dit geniet 🙂

  4. Doen jouself ‘n guns en kom daar uit. Dis goedkoper as om Durb’s toe te gaan en as jy slim is, kan jy LAAAAANK vakansie hou sonder stress.

  5. Vraag: Hoe maak ek as ek iemand op die blogwerf se ondersteuner wil word. (Ek sien ek het al twee!)

  6. Ek weet ek en my ma was ‘n maand met vakansie in Bangkok,Malaysia en ook Kota Kinakubalu..Fantasties gewees

  7. Jy gaan na die persoon se blogwerf wie by wie jy ‘n ondersteuner wil wees en “click” op die icon met die hartjie ogies wat sê add to blogroll

  8. Baie insiggewend!

  9. Dankie

  10. Hewig lekker saam met jou getoer! Baie dankie!

  11. Antie, dankie. Jammwer ek kom nou eers by jou uit maar ek was op die platteland, weg van die blikbrein en die internet. Dankie dat jy gelees het!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.