Honk Kong Sjina en verder (3)

Oktober 7, 2009 in Sonder kategorie

Bangkok: Dag een.

 

Trio laai ons oudergewoonte laat op. Hy laai sy vrou by ‘n koopsentrum af om inkopies te doen. Sy groet vriendelik en verdwyn in die malende massa. Ons weet nog steeds nie wat haar naam is nie.

 

By die lughawe groet ons oor en weer en dan gaan ons in met ons bagasie. Ons vlieg Jet Star – ‘n redery wat ‘n maand vantevore twee vliegtuie kort na mekaar verloor het – g’n wonder hulle is die goedkoopste nie.

 

Na ‘n kort wip land ons in Singapoer. Dis ‘n reuse koopsentrum met alles wat ‘n mens se hart maar kan begeer. Ons gaan soomloos deur paspoort beheer en dwaal rond. Daar is per slot van rekening twee ure om dood te maak.

 

Die plek is pynlik skoon en netjies. (Kougom is onwetting in Singapoer…) Ons eet iets, koop ‘n geskenkie of twee en gaan staan in die tou vir ons vlug. Hulle vra ons beleefd om eenkant toe te staan terwyl hulle seker maak ons bagasie is wel oorgedra van die Jakarta vlug af.

 

Voor ons is ‘n Indier familie. Pa, met ‘n blou tulband op, ma, met ‘n sari, en verskeie kinders, ook met sari’s. Van die kinders is op die ouers se paspoort. Die man wat ons kaartjies knip vra oor die kinders se paspoorte. Pa, met die tulband, is dadelik op sy perdjie. Hy se dis ongehoord om kinders vir paspoorte te vra. Die man met die kaartjies probeer paai, maar pa is kwaad. Hy se hy het nog nooit gesien dat mense wat slegs kaartjies moet knip vir kinders se pasoorte vra nie. Kaartjieman vra die gesin om eenkant toe te staan terwyl die probleem uitgesorteer kan word. Ma, met die sari, tree die kryt binne. Sy verkondig luidkeels dat sy in die tou staan, dis haar reg om in die tou te staan en sy gaan nie beweeg nie. Pa pie ook ‘n straaltjie by.

 

Dwayne bied aan om te help. Hy se hy’s ‘n prokureur. Almal ignoreer hom.

 

Een van die Singapoeriaane vra of ons asseblief kan aanbeweeg. Nou is die gort gaar. Ma, met die sari, vlieg hom in. Sy se hulle weet goed alle Singapoeriaane is super-rassiste en sy gaan haar nie laat rondorder nie. Die Singapoeriaan, ‘n middeljarige man met ‘n bril en ‘n briewetas, mompel iets terug. Ma, met die sari, se as hy dronk is, moet hy liewer uit die gesprek uitbly.

 

Intussen is pa aan die ander kant van die toonbank en hy dring aan om die bestuurder te sien. In sy drif hamer hy op die kant van die toonbank en maak sy hand seer. Dis ‘n komiese oomblik en hy wil ons iets toesnou, maar dan tel hy ons en piek weer op die klein amptenaartjie agter die toonbank.

 

Ma, met die sari, is steeds besig om aan almal te verduidilk oor die rassisme in Singapoer en dit raak te veel vir ons held met die bril en die briewetas. Hy se hardop, eintlik luidkeels, dat Singapoer inderdaad rassisties is om Indiers, soos hulle, daar uit te hou. Dis ‘n ‘Kodak Moment’…

 

Ek staan reg om te keer as ma, met die sari, die man met die bril bespring, maar haar dogters gryp aan die sari en klou vas. Pa beveel stentories iets van die ander kant af, terwyl hy nog steeds sy hand vryf. Ma skraap die kinders bymekaar en stoom na die inloopgang van die vliegtuig. Pa vergeet van sy seer hand en hamer weer op die reling, terwyl hy aandring daarop om die baas te sien. Weer moet hy ophou hamer want hy beseer homself.

 

Dwayne beid aan om die ou se tulband af te ruk om hom iets anders te gee om oor te bekommer. Ek en Strat keer en beur hom die gang af in die rigting van die vliegtuig. As ons die tonnel ingaan hoor ons hoe hy steeds daarop aandring om die baas te sien oor die verregaande vermetelheid van die kaartjieman.

 

In die vliegtuig sit ma en stoom met haar kinders langs en agter haar. Pa se sitplek is oop langs die paadjie. Ons man met die bril kry ‘n sitplek langs haar maar aan die ander kant van die gangetjie. Onmiddelik begin hulle weer beledigings na mekaar toe slinger. Dis duidelik dat dit nie brilman se forte is nie, maar hy doen sy bes. Ma, met die sari, het geen inhibisies om hom en al sy stad- en geesgenote luidkeels te beledig nie. Die koffieknaap is goed opgelei en hy kyk vinnig na sy naamlys en vra brilman of hy niewers anders wil sit. Brilman sien sy kans, knik dankbaar en vlug na agter in die vliegtuig toe, terwyl ma, met die sari, nog steeds een of twee beledigings agterna slinger.

 

Dwayne loop verby haar op pad na ons sitplekke, agter in die vliegtuig, toe. Hy gesels vriendelik in Afrikaans met haar. Sy is so verbaas oor die aantreklike jong man wat so vriendelik met haar gesels, dat sy haar smoel net daar hou. Gelukkig het sy nie verstaan wat Dwayne vir haar gese het nie, en ek gaan dit ook nie herhaal nie… Dit was nie mooi nie.

 

Die res van die vlug sit angstig en wag vir pa, met die tulband. Ons wed onder mekaar of hulle hom gaan los en of hulle gaan wag. Dan kom pa, wasbleek onder die tulband in en gaan sit, soos dit hom betaam aan die hoof van sy gesin.

 

Twee ure later stryk ons by die nuwe Internasionale Sivarnabhumi Lughawe in Bangkok neer.

 

‘n Taxi laai ons op en ons is gou-gou op pad na die middestad en ons hotel – die Asian Hotel in Suriyaiya straat.

 

Bangkok is groot. En modern. BAIE GROOT. 12 miljoen inwoners bewoon ‘n gebied wat in ons taal van Delmas tot Krugersdorp sou strek en van Pretoria tot Vereeniging. Die stad word van krag voorsien deur vier kernkrag sentrales wat elkeen so groot is soos Koeberg. Daar is ‘n lugtrein wat die middestad bedien en teen Nuwejaar 2010 ook die nuwe lughawe sal bereik. Taxis is volop en goedkoop. Tuk-tuk’s loop die strate vol, maar die outjies is modern, kleurvol en goedversorg. Baie anders as Jakarta se afgeleefde noagmodelle. Hulle loop op gas en dis die eerste reuk wat jou tref as jy die strate betree.

 

Ons boek in, pak af en vat die strate. Die lugtrien vat ons na Sala Deang, ‘n versameling nou straatjies waar een nagklub op die ander ingeryg sit. Daar is ook ‘n enorme vlooimark en ek kan die pryse nie glo nie.

 

Op elke hoek word ons genooi na ‘n “ping-pong show” – meer daaroor later… Ons kry ‘n plek waar dit baie raas, gaan sit, bestel iets om te drink en kyk na die mense wat verbyloop. Die meisies in die kroeg se werk is om klante te kry om drank te koop. Hulle gebruik ‘n verskydenheid metodes om dit reg te kry.

 

Eers is hulle blatant en kom sit sommer op jou skoot. As jy se jy stel nie belang nie loop hulle, en die volgende klomp neem oor. Die meisies is nie so voor op die wa nie en hulle het ‘n tipe bordspel wat hulle met jou speel. As hulle wen, koop jy vir hulle koeldrank. Hulle wen altyd.

 

Daar is bedelaars, snoeperyverkopers en klein kindertjies wat skaam-skaam aan jou arm vat en vir jou ‘n roos te koop aanbied. Ek sien ook vir die eerste keer van Bangkok se berugte ‘ladyboys’. Dis jong mans wat hulleself soos vrouens aantrek en as prostitute werk. Meeste van hulle maak vrek lelike vrouens en hulle klante is te dronk om die verskil agter te kom. Maar een of twee dartel verby en dis net die groot voete en manlike gewrigte wat hulle weggee. Hulle sal skoonskip maak in Delmas en Ventersdorp…

 

In die kroeg is daar ‘n Russiese toergroep. Een van die vrouens, ‘n mooi blonde vrou met ‘n los wit rok aan, is boos want haar kerel vry te lekker na die Thai kroegmeisies. Na ‘n ruk tree van die ander vrouens in die groep vir haar in die bres en haar kerel willig, taamlik teesinnig, in om saam met haar huistoe te gaan.

 

Ons ry met ‘n tuk-tuk hotel toe en kom 3uur in die oggend daar aan.

 

“One night in bangkok makes a hard man humble…”

More werk ons.

 

Bangkok: Dag twee.

 

Ons spandeer die oggend in MBK en Computer City. MBK is ‘n groot koopsentrum onder ‘n kantoorblok. Die kantoorblok huisves ‘n creche, ‘n laerskool, ‘n hoerskool en ‘n universiteit. Die koopsentrum is ses verdiepings hoog en elke verdieping verkoop iets anders.

 

My slim foon – die een wat Neil Armstrong maan toe sou kon vat – is op die koffie. As jy hom aanskakel vorder hy net tot by die Nokia logo and gaan staan dan. Ek gee hom vir ‘n snotkop agter een van die toonbankies in die selfoonsaal en hy ondersoek die instrument. Dan vra hy my 400 Baht (omtrent R80) en spring aan die werk. Die foon koppel hy aan ‘n rekenaar en dan doen hy brommend ‘n paar dinge. Vyf minute later werk my foon weer, maar die MTN info is weg, sodat ek ‘n hele paar foonnommers verloor en ook die vermoe om sms’e te stuur. Maar die foon werk!

 

Ons gaan daarna na Computer City toe. Dis presies wat die naam se. ‘n Enorme gebou wat aan net een ding toegewy is – rekenaars. Ons dwaal vir ‘n paar uur deur die plek en koop en koop en koop – alles vir motorsport toepassings natuurlik.

 

Daarna spring ons weer in die lugtrein en gaan sit ons pakkies in ons hotel. Nou gryp ons ‘n tuk-tuk na die motor afdeling van Bangkok. Dis ‘n warboel straatjies vol winkeltjies en stalletjies wat kargoed verkoop. Ons kry HID ligte vir die motorfietse en dan loop ons per ongeluk ‘n windweerder (fairing) vir ‘n bromponie raak. Dwayne en Strat bekyk en bevoel die ding en koop dan. Hulle verduidelik dat alhoewel dit vir die Yamaha bromponie bedoel is, kan hulle dit op die quads maak pas. Strat gaan ‘n koolvesel weergawe van die windweerder maak wat sterk genoeg sal wees om die pas en straf te vat van die Dakar.

 

In Bangkok – en die hele Thailand – gaan hulle groot met die opgradering van hulle bromponies. Passtukke word aan die bakwerk van die motorfietse gesit om die vorm te verander. Helder kleure, kroom, koperwerk en ligte word aan die fietsies vasgemaak. Ek sien een fiets wat, soos ‘n tydren motor, ‘n hele rits ligte voor aan het, met ‘mag’ wiele, ‘n lang lugdraad met ‘n vlaggie aan en plakkers wat allerhande slagspreuke in Thai verkondig. Magtag!

 

Op pad terug hotel toe in die tuk-tuk vertel Strat dat die lugtrein groot betogings beroorsaak het toe hulle aankondig dat die ding die lughawe gaan bedien. Taxi bestuurders het in opstand gekom teen die trein aangesien hulle hulle besigheid – en werk – sou verloor. Klink bekend?

 

Die lugtrein is vol skoolkinders as ons weer die strate vat. Hulle dra uniforms wat bestaan uit wit hemde en broeke of rompe van verskillende kleure. Van die skole vereies dat leerlinge hulle name op die hempsakke borduur, ander weer het naamplaatjies. Die skole se name is goed soos: School no. 3, School no. 5 Sala Daeng District, School 7, ens. Seker makliker so as jy om en by 7 miljoen skoolkinders het…

 

Die lugtrien ry vinnig tussen die stasies en mense klim op en af. Ek verkyk my aan die meisies wat so klein, fyn en vriendelik is. Thailand is bekend as die “Glimlagnasie” en mens kan dit oraloor sien.

 

Ons gaan sit in ‘n Internetkafee en stuur e posse aan vriende en familie. Strat en Dwayne soek die goedkoopste vlugte Sjina toe. Dit blyk ‘n probleem te wees. Die kaartjies is peperduur en Sjina is groot! Ons moet drie plekke besoek. Twee van die plekke is redelik naby aan mekaar maar die ander een is heeltemal aan die anderkant van Sjina. Ons krap kop, probeer verskeie opsies en besluit uiteindelik om ‘n reisagent te nader.

 

Dis al laat, maar dis weer tyd vir Sala Deang. Die keer loop ons eers ‘n draai om na nog nuwe plekke te kyk wat ons nie die vorige aand gesien het nie. Oral staan mense wat jou nooi na “ping-pong show!”. Ons druk deur en eindig by ‘n restaurant waar ons heerlik eet. Ek weet nie wat ek eet nie, maar dit brand en dis heerlik.

 

Ons loop deur ‘n straatmark en land weer op by dieselfde plek waar ons die vorige aand was. Ons speel bordspeletjies saam met die meisies en kyk na die verbygaande massas. Dwayne het intussen ‘n Thai meisie wat hy op ‘n vorige besoek aan Thailand ontmoet het gebel. Sy daag op saam met ‘n vriendin en ons gesels heerlik. Dan vat Dwayne en sy vriendin, Joi die pad en ek en Strat gaan huistoe met ‘n tuk-tuk.

 

Die ping-pong show is ‘n ding wat eie is aan Bangkok. Meisies gebruik tafeltennesballe om mense te vermaak deur teikens raak te skiet ensovoorts. Hulle skiet ook veerpyltjies na ballonne. So ver klink dit redelik vervelig, en dit sou seker wees as jy nie geweet het hoe die meisies die tafeltennisballe en veerpyltjies beheer nie… Hulle doen dit deur lug deur die vaginale kanaal in te trek en dan uit te blaas.

 

Nou’t ek klaar gebloos en dis al wat ek oor “ping-pong shows’ gaan se.

2 antwoorde op Honk Kong Sjina en verder (3)

  1. MBK is freaken fantasties ons was daar gewees ‘n maand terug ek het my verkyk aan alles en wou mal gaan daar binne… Beste slagspreek van daardie mensies as hulle ons 3 (ek ,moeder en suster) gesien het small size you too big…en al waar ons verskil is lengte (ons al 3 langer as 1.70) ek meen…maak klere vir n groter mark LOL

  2. Ek het vanself wyd gesoek vir iets wat pas. Toe maar net sokkies gekoop…

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.