Hong Kong, Sjina en verder (2)

Oktober 7, 2009 in Sonder kategorie

Macau.

 

Is ‘n terleurstelling… Dis soos Durban met casino’s. Dis bedompig, klein, en vaal. Van die lughawe af, as jy Oos kyk lyk dit selfs soos die Bluff, met olie rafinaderye en ‘n bebosde koppie.

 

Die rit van HK na Macau vat ‘n uur. Ons ry met ‘n veerboot wat aangedryf word deur twee Boeing enjins. Die tuig skeer oor die water met ‘n rustige wiegaksie wat jou bedrieg en laat dink jy ry stadig. Tot jy by die agterruit uitkyk, Water suile staan in groot boe agter die vaartuig en jy besef: Manne, die ding beweeg!

 

Na tien minute op see begin mense na agter hardloop. Ek dog eers daar is een of ander katastrofe voor in die boot, maar besef dan, aan die hand van die sakkies in die mense se hande, dat die beweging vir hulle te veel is. Katte skiet, is die doel van die oefening…

 

Party mense smeer Tiger Balm (‘n bietjie soos Deep Heat of Wintergreen) aan hulle slape. Ander plak goed agter hulle ore. Een vrou eet ‘n hardgekookte eier. Alles om die gevreesde seesiekte te besweer. Ek bestel ‘n bak noedles terwyl Strat en Dwayne ‘n mayonaise warmbrak eet. Ons is nie gepla met die seesiekte nie en al gou meer ons aan by Macau se veerboot stasie.

 

Die mense hier lyk subtiel anders. Macau (Van ‘O Ma Gau’ uit die oorspronklike Sjinees) was van 1550 tot 1999 ‘n Portuguese kolonie en die Meditireense invloed is duidelik te sien in die bou en die gesigte van die mense. In die ou deel van Macau is daar steeds geboue en strate wat netso uit een of ander Portugeuse dorp vervoer kon gewees het. Maar vir die res is dit Casino wereld. Al Las Vegas se groot name word hier verteenwoordeg, die MGM Grand, die Venetian, La Mirage en selfs the Suncity Group…

 

Ons is vroeg vir ons vlug na Jakarta en gryp ‘n gratis bus na die Venetian, nadat ons ons tasse teen $20 stuk laat stoor.

 

Die Venetian is ‘n binneshuise herskepping van Venesie – kompleet met gondels en singende gondeliers. Ons dwaal rond. My hart trek ‘n punt na die Azia Teater waar die Cirque Du Soleil optree, maar daar is net nie genoeg tyd nie.

 

‘n Wenk… Op die veerboothawe gryp ‘n beer ons en bied vir ons ‘n minibus aan na die lughawe toe. Hy begin met $800 vir die drie van ons. Laat val sy prys na $500 en toe na $250. Toe vra hy wat ons bereid is om te betaal… Ons loop na buite, klim op ‘n publieke bus en ry lughawe toe vir $8.50…

 

Na ons blitsbesoek aan Macau is dit weer op die bus en terug lughawe toe. Ons eet iets, stuur ‘n blits e pos of twee en hol vir die Viva Macau vlug.

 

Die Boeing is leeg… Die beeldskone porseleinpoppie wat in my gangetjie diens doen as lugwaardin se naam in “Icee” en haar houding dra dit uit…

Volgende stop, Jakarta! Of “Djok Djakarta” soos in die Leipoldt gedig… Ek kan nie wag nie…

 

Jakarta.

 

Ek gaan NOOIT weer oor verkeer kla nie. Ek belowe!

 

Jakarta lughawe lyk so bietjie soos ‘n versameling van Morula Sun geboue wat met hulle sinkplaat rondaweldakkies langs mekaar geplaas is. So ver ek kan sien het elke redery sy Morula Sunkompleks. Ons stap aan wal, probeer vir oulaas te vergeefs om ten minste ‘n glimlag uit Icee uit te kry en stap die gebou binne.

 

“Welcome to Indonesia. We have the death penalty for drug smuggling.”

 

Dis wat die helder teken bokant die ingang se. Ek begin onmiddelik bekommer oor my hoofpynpille, maar onderdruk dit dadelik as kinderagtig. Ons staan in ‘n lang tou en betaal vir ons visums – 20$US per persoon en dan gaan ons deur sekuriteit.

 

As ek ‘n doane beampte was sou ek my bagasie baie deeglik deursoek het. Ek het ‘n bokbaardjie en ‘n “flat-top” haarstyl wat my soos ‘n huursoldaat of mafia “hitman” laat lyk. Die mense glimlag egter vriendelik en vra my om my handbagasie deur die x-straal masjien te sit.

 

Veilig anderkant uit word ons deur Straddie se pel Trio ingewag. Hy’s ‘n aantreklike en vriendelike man met ‘n mooi glimlag. Hy’s van gemiddelde lengte en goed gebou. Hy dra khaki.

 

Trio wys ons dadelik hoe word dinge in Indonesie gedoen. Hy druk by die veiligheidswag verby en vat ons na ‘n kiosk waar hy vir ons blyplek beding in ‘n hotel. Dis ‘n hanetreetjie van die skougronde af en kos net 38$US per persoon per aand, vergeleke met die amper 200$US wat ons op die Internet gekry het.

 

Hy ry ‘n ou Isuzu stasiewa en ons pak in. Hy staan onwettig geparkeer voor die lughawe gebou, maar ‘n paar note in die polisieman se hand verseker dat ons kan ry sonder probleme. Dan begin die sports…

 

Eers sit ons vas. Soos in doodstil vas. Niks beweeg nie. Dan kom ‘n man met ‘n rooi handlig teen die ry karre afgestap. Hy waai die lig soos ‘n “light sabre” in Star Wars en skielik begin ons beweeg. Ons draai in ‘n bree dubbelbaan hoofweg in en ek koes. Net waar jy kyk is klein motorfietsies. 125Cc bromponies wat teen ‘n mal pas tussen die motors in en uit beweeg. Daar is verkeersligte maar meeste van hulle werk nie, en die wat wel werk word totaal geignoreer. As Trio ‘n gat sien in die stroom verkeer ry hy eenvoudig. Niemand druk toeters nie, en dit lyk of almal weet wanneer hulle moet ry en wanneer nie. Ons begin geboue langs die pad kry en dan is ons skielik in die miernes van ‘n stad. Daar is tuk-tuk taxi’s oral. So oud, dat hulle saam met Noag in die ark kon gewees het. En almal ry so vinnig as wat die verkeer hulle toelaat. Ons kom uiteindelik by die Golden Boutique Hotel aan. Dis ‘n kasarm met ‘n dak wat drie verdiepings bo die ingangsportaal uittroon. Oral is goud en sleg-nagemaakte Rennaisance skilderye. Daar is twee volgroote Dawid beelde (met vyeblare op die regte plekke) Griekse pilare hou die spul aanmekaar. Almal praat Engels maar dis moeilik om by die aksente verby te kom en te volg wat hulle nou eintlik bedoel.

 

Ons kamer is lekker groot, met twee driekwart beddens. ‘n Ekstra bed word vir Dwayne ingedra en dan vat Trio ons om sy vrou te gaan oplaai. Ons kom by die skougronde aan na nog ‘n mal rit deur die stad. ‘n Paar note verhoed dat die polisieman ons wegjaag van ons onwettige parkeerplek af.

 

Trio se vrou – ons word nooit aan haar voorgestel nie, en as ek haar naam vra lag se net – is ‘n klein vroutjie met ‘n bulhond gesiggie en klam haartjies. Sy klim in en ons ry.

 

Trio vat ons na ‘n restaurant toe waar hulle tradisionele seekos bedien. Ek bestel ‘n bier. Ons vis word binne ‘n japtrap voorgesit. Indonesiers eet met ‘n vurk en ‘n lepel. Ek hou ons gashere dop en maak hulle na. Die garnale sukkel maar die vis is maklik, en heerlik. Daar is allerhande bysouse wat jy na smaak oor jou kos gooi. Party is sag en soet en ander brand soos die hel. My Bintang bier word met ‘n glas propvol ys voorgesit. En omdat ek en Trio dadelik in ‘n kompetisie betrokke raak oor wie die warmste sous oor sy kos kan gooi, is die ysbier baie welkom. Seekat, garnale, vis, boontjiespruite en rys. En dan is daar nog ‘n ander groente wat sulke klein rooi boontjies in het… Dit brand dat dit vrek, maar ek hou uit en kou met ‘n groot glimlag my kos. Ek sien hoe Trio se vrou suurlemoensap oor haar kos uitdruk en ek volg haar voorbeeld. Dit help. Dit help baie.

 

Trio gee naderhand bes en vee sy sweet met ‘n sneesdoekie af. Daar is oral bokse met sneesdoekis en geen servette nie. Na nog ‘n Bintang vat Trio ons terug hotel toe en ons spreek af dat hy ons die volgende dag sal oppik.

 

Ons gaan slaap moeg en versadig.

 

Brekvis, en Strat en Dwayne eet piepklein ommelette. Hulle vra vir spek en eiers en ek moet hulle herhinner dat Indonesie ‘n Moslem land is – varkvleis is uit. Ons sal later agterkom dat varkvleis vrylik beskikbaar is en graag geeet word, maar net op sekere plekke.

 

As ek gedink het die vorige aand was erg gaan my oe nou behoorlik oop. Die donker het baie dinge verdoesel in die mal verkeer.

 

Ons sit buite die hotel en wag vir Trio. Skuins oorkant ons is ‘n t-aansluiting. Voertuie wat in die t indraai, ry net. Verkeer wat saam met die t ry, ry net. Hoe niemand mekaar stamp nie is ‘n raaisel. Dan kom ‘n luukse 4×4 na die t toe aan. Hy draai TEEN die verkeer in en ry by die hotel se ingang in. Niemand toet nie en niemand word beseer nie. Ek sluk my droe tong amper in…

 

Indonesie het geen reels of regulasies oor rook nie. Rokers rook net waar hulle wil en gooi hulle stompies neer net waar hulle wil. Trap hom sommer op die mat dood as dit daarop aankom. Vir ons drie wat nie rook nie is dit nogal erg.

 

Die skougronde is half leeg as ons daar aankom en Trio se dis oor dit Vrydag is. Die Moslems gaan moskee toe voor hulle skou toe kom en dit pas ons want ons kan ons eerste draai deur die skou stap voor die massas opdaag.

 

Ons het ons spanhempies aan en trek groot aandag. Veral die hemelbesem Dwayne vang al die klein meisietjies se oog. Hulle kan nie ophou na hom kyk en giggel nie. Hy geniet die aandag en flankeer vrolik in Afrikaans terug. Dit veroorsaak nog meer giggels en meer aandag op ons.

 

Daar is baie bekende produkte en ‘n magdom goed wat ek nog nooit gesien het nie. Oor die algemeen is die pryse van motors en motorfietse baie dieselfde as by ons, maar Indonesiese produkte is goedkoop en goed gemaak.

 

Een ou het ‘n patent waarmee jy gloeilampe uitdraai. Dis ‘n teleskoopstok met rubbervingertjies vooraan. Jy druk die rubbervingertjies om die gloeilamp en draai. Siedaar. Baie slim.

 

Een uistaller verkoop klanktoerusting vir motors, maar hy maak klankversterkers en luidsprekers vir openbare gebruik ook. Sy produk het die Presidentstoekenning vir innovasie en tegniese vordering gewen. Strat begin dadelik gesels en maak ‘n afspraak om verder te gesels..

 

So loop ons van stalletjie tot stalletjie en gesels en kyk. Klanktoerusting is groot in Indonesie. En meeste van die kompetisies in en om die skou word deur vervaardigers van klanktoerusting geborg. Daar is ook ‘n “drifting” kompetisie wat deur ‘n wiel vervaardiger geborg word. “Drifting” kom uit Japan en die doel van die oefening is om jou wiele te laat gly terwyl jy deur die draaie gaan. Hoe langer jy jou kar sywaarts kan hou, hoe meer punte wen jy. Ons spandeer ‘n uur in die stadion waar ons ons verlustig in die skreeunde bande en die manewales van die deelnemers. Party ouens mag maar, ander is duidelik daar met ma se kar en tol nie eers eenkeer die wiele nie. Strat en Dwayne kom van die Wesrand af en hulle ken van “drifting”. Hulle verduidelik die fyner puntjies van die sport en vertel met smaak van soortgelyke kompetisies waaraan hulle deegeneem het.

 

Ons maak vriende met ‘n bandevervaardiger wat dadelik ernstig besigheid wil gesels. Daarna onstmoet ons die voorstiiter van Indonesie se gesamentlike motorklubs wat ons nooi vir ete die volgende dag. Hy wil ook besigheid gesels. Lekker!

 

Die een terleurstelling is dat ons nie Strat se quad-konneksie kan opspoor nie. Ons vra Trio se raad en as hy hoor die man kom van Medan af, lag hy te lekker. Hy verduidelik dat ALMAL wat van Medan afkom skelms is. Ons is klaarblyklik ‘n pit gedruk. Gelukkig het Strat geen geld oorgeplaas nie. Ons sou die man in kontant betaal op die skou. Trio lig ons verder in dat vierwiel motorfietse verban is in Indonesie… Dis groot skade aangesien die rede hoekom ons Jakarta se skou besoek juis is om die transaksie vir die voertuie te beklink. Trio se hy sal plan maak en ons aan iemand anders voorstel. Dalk kan ons nog iets beredder.

 

Trio se stalletjie is propvol besoekers. Hy verkoop sport stuurwiele, koolvesel bakpanele en lugvervrissers vir binne in die kar. Hy maak ook koolvesel doppe vir selfone. Hy en sy span kan nie voorbly nie. Langs sy stalletjie is ‘n groep wat ook lugvervrissers verkoop maar Trio se koolvesel trek die mense en sy verkoopspan laat niemand toe om te gaan voor hulle iets gekoop het nie.

 

Trio en Strat het mekaar op die CEMA skou in Las Vegas ontmoet en groot viende geword. Strat is ‘n kenner van koolvesel en veselglas panele vanwee sy sleepwa besigheid. Sy maatskappy het die Beste Kwaliteitstoekenning op CEMA gewen vir hulle koolvesel en veselglas werk. Hy bedien Trio mildelik van raad en Trio suig dit op soos ‘n spons. Ek dwaal agter Dwayne aan en verlustig my daarin as hy so lekker op Afrikaans met die giggelende en blosende meisietjies flankeer.

 

Die Hollanse invloed is oral te bespeur. Die deel van die wereld was tog immers ‘n Hollandse kolonie. Batavia was dit genoem. Oral is tekens met woorde wat ek ken: bagasi, parkir, sop, inspirasi, klinik, loket, bus, asosiasi, en (Ag Vader is daar geen verlossing nie?) TELKOM! As ek om verskoning vra omdat ek in iemand vasloop se hy: Ni probleem ni… Brand, suur, taai… Alles woorde wat ons ken en wat jy versigtig moet gebruik as jy by Indonesiers is.

 

Trio vat ons na die skou na ‘n straatkafee waar ons lamsop eet. Nou kyk… Ek eet afval. Ek MAAK afval. Maar dit wat ons in daai branderige sop kry is nie lekker nie. Dit brand, is taai en suur. As Dwayne weier om verder te eet se hy vir sy pa hoekom. Trio tel dit op en wil ons dadelik na ‘n ander plek toe vat. Strat keer en se dis omdat Dwayne in die stad grootgeword het dat hy nie ordentlike kos kan waardeer nie. Ek gooi brandsous en kou vir ‘n vale. Strat bring ook manmoedig sy kant. Die keer loop ek as oorwinnaar uit die stryd uit. Ek vat die bakkie waarin daar ‘n sousie is wat vir my lyk soos Meang Kum – sojasous met heuning – en as ek dit oor my laaste rys uitggooi kry beide Trio en sy vrou ‘n oorval. “Hot!” se hy. Ek grinnik net en begin eet.

 

Bliksem!

 

Daai goed brand my tot in my naeltjie. My oe traan, ek word bleek, my asem slaan weg… Maar my ma het nie sissies grootgemaak nie en ek maak klaar. Trio skud sy kop en bied nog bier aan. Ek wys dit van die hand – die brand is mos nou nie SO erg nie…

 

By die hotel maak Strat my daarop attent dat Trio my nou gaan probeer uitbrand. Elke keer dat ons gaan eet gaan dit warmer word. Ek glo egter dat niks kan brand soos vannaand se kos nie en ek het DIT gemaak. Hulle skud net kop.

 

More is dag twee. Ons gaan probeer om ‘n paar manne vas te teken met ‘n borgskap of twee en daarna gaan ons seker weer eet… Ek kan nie wag nie!

 

Jakarta: Dag Twee.

 

Ons spandeer die oggend in die hotel besig met admin. Ek skryf ‘n paar briewe, sorteer besigheidskaartjies ens, terwyl Strat en Dwayne probeer om ons op ‘n vlug Sjina toe te kry. Gauzung. Hauzung, Tzausung… Iewers is fout. Hulle roep Trio se hulp in en hy se hy sal sien wat hy kan doen.

 

By die skou teken ons ‘n borg of twee vas, maak afsprake vir more en Maandag en hou onself besig met fotos neem.

 

El wil-wil aanmekaar voel dat ek mense herken. Die een lyk soos… En daai een lyk soos… Na ‘n ruk besef ek dat ek nie eintlik enigiemand herken nie en dat niemand na iemand spesifiek kyk nie. Dis ons gesamentlike herkoms – die invloed van die Hollanders. Ons het dieselfde gesigstand, houding, kyk in die oe… Al IS daar baie Oosterse bloed in die mense, en al is daar bitter min Oosterse bloed in my mense is daar tog iets wat op mekaar pas. ‘n Gesamentlike DNA… Dit stem my onrustig. Iewers hier loop iemand rond wat nes ek lyk…

 

Ek raak al meer bewus van my lyf. In Hatfield of op Loftus/Ellispark is ek ‘n gemiddelde ou. Hier is ek ‘n reus, ‘n logge homp wat altyd in die pad is. Ek probeer teen die mure langs beweeg, maar dit maak dit net erger. Meisietjies giggel skaam as hulle my sien en mans vermy my. Ek kry myself amper jammer…

 

By die Hyundai stalletjjie loop ons die 2010 Sokker gelukbringer raak. Op sy rug staan groot “South Africa – 2010” Ons vra vir ‘n foto, maar iemand sien ons t – hemde raak met ons logo en “South Africa” op en ons moet opsluit vir al wat fotograaf is poseer. Mense vra ons handtekeninge en ons moet aanmekaar verduidelik hoekom ons wit is. Ons kom dan van Afrika af… Wys jou net ne… Niemand ken ons eintlik nie.

 

Ons sien Indonesie se top jong musiekgroep “Gangcuters”. Hulle is brandmaer – 7 van hulle – maar hulle het ‘n hoofsanger wat lyk en klink soos ‘n kruis tussen ‘n jong Elvis en Freddy Mercury. Die man het die gehoor van meet af in die palm van sy hand en dis nie lank nie of almal sing en dans saam. Hy KAN sing… En dans. Dis regtig goeie musiek en baie goed aangebied. Hulle is na die skou toe gebring deur een van ons potensiele borge – GT Premuim Tyres.

 

Ons gaan eet by ‘n baie beskaafde Sjinese restaurant. Trio bied my gebakte padda op rys aan maar ek kies die paling. Dwayne sluk sy naarheid af en eet hoender en rys saam met sy pa. Ek sien Trio se plan. Hy weet hy kan my nie uit brand nie, nou gaan hy my probeer uitwalg… Ha! Ek het al slang, rot en krokodil geeet. Ons sal sien…

 

Buite die restaurant staan ons motor heel op ‘n ander plek. Ek kan dit nie verstaan nie want ek het net een bier gedrink, maar dan verduidelik ons gasheer dat jy jou motor ooplos sodat die motorwag, met uniform en ‘light sabre’ die ding kan wegstoot as jy dalk iemand vasparkeer het… Traai dit in SA.

 

Maar nou ja! More is nog ‘n dag. Ek kan nie wag nie…

 

Jakarta: Dag drie

 

Dis Sondag. Die skou is mal. Ons kry die voorsittter van die gesamentlike motorklubs in die hande en gesels. Amroe is ‘n intense man met ‘n groot passie vir karre en kar-aangeleenthede. In Indonesie is daar ‘n klub vir elke kar en elke model. Selfs die Kia Sendona het ‘n eienaarsklub… Na ons gesprek met Amroe gaan sit ons op die paviljoen en kyk na die finale van die ‘drifting’ kompetisie. Die ondersteuning vir die ‘local heroes’ is groot, maar hulle word goed ore aangesit deur twee besoekers van Malesie af. Uiteindelik jaag twee plaaslike manne teen mekaar vir derde en vierde plek en dan is dit die twee Maleisiers teen mekaar in die finaal.

 

‘Drifiting’ werk so… Twee motors spring saam weg, een agter die ander. Hulle ry die kronkelbaan so vinnig as moontlik en probeer die motors so ver as moontlik sywaarts hou. Die agterste kar probeer ook om aan die binnekant van die voorste motor te kom en hom so te intimideer dat hy verby kan kom. Dit alles terwyl beide motors sywaarts is. Dis verskriklik opwindend, veral as ons nader aan die finale vier kom.

 

Die finale vier is twee Maleisiers – Yotuka en Harikai, seker nie hulle regte name nie. Dan is daar twee plaaslike jaers, Rifat en Drol. (Dis hoe mens dit uitspreek, ek is nie seker van die spelling nie. Rifat verloor teen Yotuka en Harikai wys sy minagting vir Drol deur die hele baan met een arm by die venster uit te doen. Rifat en Drol jaag nou teen mekaar vir die derde en vierde plekke. Vir ons is dat baie duidelik dat Drol nie soos een bestuur nie en hy moet wen. Rifat dra egter die louere weg. – later verduidelik Amroe aan ons dat Rifat se pa baie hoog op in Indonesiese motorsport is. Rifat eindig ALTYD op die podium tensy hy sy kar afskryf…

 

Uiteindelik jaag die twee laaste motors. In die eerste draai stamp hulle mekaar en dis die einde van die storie. Flou einde, en die skare jou die Maleisiers uit.

 

Ons gaan terug na die Valen stalletjie. Valen is ook ‘n Indonesiese produk. Dis ‘n stuk gevormde rubber wat jy in die vere van jou voertuig invleg om hantering en remvermoe te verbeter. Die eienaar van Valen, Wayne, Strat en Dwayne gesels baie tegnies oor die moontlike gebruike van die produk op die Dakar en ek en ‘n paar van die meisies wat vir Valen werk begin gesels. Maggie, Chenny en Sisser is drie studente wat deur Valen op universiteit gehou word. Valen word hierin deur die regering gesteun. Wanneer die meisies klaar studeer het werk hulle vir Valen om hulle beurse af te betaal. Die maatskappy gebruik die jong dametjies gedurende vakansies en op skoue om donkiewerk te doen teen geen vergoeding nie. Valen kan ook ten eniger tyd se hulle dink nie die meisie gaan die mas opkom in die maatskappy nie en dan is hulle op hulle eie, tensy ‘n ander potensiele werkgewer hulle aanneem.

 

Strat en Dwayne beduie en ek leer die meisies Afrikaans praat. Hulle lyk vir my omtrent 12 of 13 jaar oud, maar Maggie is ‘n derdejaar bemarkingstudent en Chenny (ook 21) bestudeer industriele ontwerp.

 

Wayne gee ons ‘n hele stel van sy produkte om in Suid Afrika te toets. Ons groet en die meisies waai vrolik en probeer hulle tonge om ‘totsiens’ kry.

 

Ons eindig die aand in Pizzahut. Kan jy dit nou oorvertel…

 

Jakarta; Dag vier

 

Dit is nou so duidelik soos daglig dat Strat se kontak vir goedkoop ‘quads’ inderdaad ‘n skelm was. Trio se agent in Medan gaan na die adres wat Strat gekry het en daar is net ‘n lee gebou wat nog nie voltooi is nie. Ons besoek Yamaha Indonesie, en alhoewel hulle baie vriendelik is, kan hulle ons nie help nie. Hulle hou niks groter as 250cc aan nie en ons is op soek na 450cc kompetisie masjiene. Die hoofdoel van ons besoek aan Jakarta het dus op niks uitgeloop nie…

 

Ons hou kajuitraad en besluit om tydens ons besoek aan Sjina by die fabriek aan te doen waar Yamaha onderdele vervaardig word. Dalk kan ons direk van die fabriek af masjiene koop…

 

Trio laai ons by ‘n koopsentrum af terwyl hy na ‘n vergadering toe gaan. Dis ‘n sentrum wat maar in enige stad in SA kan inpas. Dieselfde winkels, alhoewel nie dieselfde name nie, word oral gesien. Ek kry wel ‘n plek wat klere van batikmateriaal verkoop, maar dis peprduur en nie baie mooi nie.

 

Ons ry ‘n draai deur die middestad van Jakarta. Die land bestaan uit meer as 1000 eilande met die grotes, Java, Bali, Sumatra… wat die kern vorm van die land se ekonomiese mag. In die middel van Jakarta is ‘n enorme beton naald met ‘n goue standbeeld bo-op. Trio vertel dat die standbeeld uit 40 kilogram goud gemaak is! Die strate is breed met baie bome en die geboue is modern, goed uitgele en indrukwekkend – baie ver van die nou straatjies vol bromponies waaraan ons tot dusver gewoond geraak het.

 

Oral is polisie en soldate. ‘n Maand voor ons besoek het ekstrimiste twee bomme by luukse hotelle in die middestad laat afgaan. Daar is geen teken van skade aan die geboue nie, maar die weermagteenwoordigheid is oral.

 

Ons vat die pad terug na ons hotel toe tydens spitsverkeer. Langs die pad staan dosyne seuns wat ‘n soort waaibeweging met hulle hande maak. Trio se hulle is jokkies. Tydens spitsverkeer moet alle motors ten minste vier mense in he. As jy nou egter nie genoeg mense in jou motor het nie, laai jy ‘n jokkie op, betaal hom 1 $US en laai hom aan die anderkant van die middestad weer af. So spaar jy jouself ‘n stewige boete…

 

Ons is terug by die hotel, ons vlug is bespreek na Bangkok toe – want snaaks genoeg is die goedkoopste manier om van Jakarta af in Sjina te kom, via Bangkok. Strat het vir ons plek bespreek in die Asia Hotel – ‘n plek wat hy goed ken.

 

O… Nog een slapie, en dan Bangkok. Ek kan nie wag nie!

 

9 antwoorde op Hong Kong, Sjina en verder (2)

  1. Ooooo Bangkok is awesome…vat beslis n rit met n tuk-tuk dis onvergeetlik lekker

  2. Ek weet niks van karre en bande en goed af nie – en ek stel nie eers belang nie – maar jy skryf so lekker dat ek elke woorde gelees het!

  3. Wag daar kom nog baie tuk tuk ritte ens…

  4. Dankie! Bly jy geniet dit!

  5. he he gaan groot en geniet dit

  6. Staan by joburg..

  7. Ek wag inspanning om te hoor/lees

  8. Ek het nou 1, 2, 3, en 4 geplaas. Ek hoop jy geniet dit.

  9. Ek gaan beslis dankie dat jy laat weet het.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.