Hong Kong, Sjina en verder (1)

Oktober 6, 2009 in Sonder kategorie

OR Tambo is besig om al hoe voller te word. Daar is verskeie vlugte wat almal omternt dieselfde tyd aan boord moet gaan an alhoewel dit die eerste keer is dat ek vanuit die nuwe Internasionale Terminaal uit vlieg, weet ek uit lang ondervinding dat my grootse vennoot op OR Tambo ‘n vroegtydige aankoms is. Maar die probleem is, ek is daar, maar my vluggenote is nie.

 

My indukwekkende selfoon lui. Dis nie net ‘n selfoon nie, nee, dis ‘n Nokia E90 Communicator! Dis ‘n foon met soveel fasilitiete dat NASA Neil Armstrong op die maan sou kon plaas met net die rekenaarkrag in die klein handstelletjie. Ongelukkig help dit my niks om my vluggenote op OR Tambo te kry nie. Die boodskap is dat hulle gaan 20 minute laat gaan wees. Dit beteken ‘n ekstra 20 minute bo-op die 20 wat hulle reeds laat is. Ek weet ook dit gaan nie 20 minute wees nie, maar eerder 30. Dis dan 50 minute laat – wat beteken ons “3 ure voor ons vlug vertrek ” soos voorgskryf deur die redery, slegs twee ure en tien minute gaan wees. My neurotiese akteursbrein begin om desperate planne te beraam. Om die situasie te beredder. My Calvinistiese opvoeding WEET dat daar ‘n onderwyser, dominee of ander gesagsfiguur gaan opduik om my te straf omdat ek laat is. En hy/sy gaan nie my taal kan praat nie. En hy/sy gaan geen genade met my probleem he nie, en alles gaan ‘n fokop uitdraai en EK gaan die gelag moet betaal ens, ens, ens.

 

Dan lui die foon weer. Die keer is dit die lang, elegante en mooie Petro wat se hulle is op die lughawe en besig om hulle sakke met plastiek toe te laat draai teen R50 ‘n sak in ‘n futiele poging om diewe op OR Tambo te fnuik. Nog ‘n Suid Afrikaanse uitvindsel om saam met lemmetjiesdraad, blaasvlamkarre en ander soortgelyke uitvindsels wat die wereld laat steier as hulle besef hoe desperaat sommige mense in SA nou eintlik is…

 

Daar word bladgeskud, verskonings aangebied en verduidelikings geopper. Ek is so suur soos ‘n knol maar uiteindelik is ons tasse ingedien, en kaartjies in die hand stap ek en Strat om kos te gaan soek, Petro en haar seun Dwayne gaan bank toe om nog vir oulaas ‘n banksakie of twee af te handel.

 

Ek, Strat en sy seun Dwayne is op pad Hong Kong toe om motorsport toerusting te gaan aankoop vir ons aanslag op die Dakar – die wereld se grootste motprsportbyeenkoms wat vir jare van Parys na Dakar in Afrika geloop het, maar wat deesdae (en vir die afsienbare toekoms) in Argentinie en Chile aangebied gaan word. Die redes daarvoor is polities en ekonomies van aard, maar vir ons as Suid Afrikaners bied dit groot geleendhede vir bemarking van ons land en die 2010 sokker werekdbeker, en natuurlik vir my persoonlik, die volvoering van ‘n droom om eendag die Dakar te doen.

 

Nie dat ek self gaan deelneem nie – op my ouderdom wil ek nie leer om ‘n vierwiel motorfiets te leer ry nie. Ons vat ‘n span jong ryers saam wat nog dink dis lekker om 10 000 kilometers in haglike omstandighede onder streng reels en kwaai wedrenomstandighede te doen. Een van hulle gaan Dwayne wees. Ek en Strat gaan saam as Spanbestuurder – ek – en Eienaar – Strat.

 

Stratford Voogt is ‘n legende in motorsportkringe. Hy is die man wat vierwielfiets wedrenne of “quad racing” in SA begin het. Hy het tot op 45 jarige ouderdom gejaag en elke wedren gewen waarvoor hy ingeskryf het. Dit na ‘n suksesvolle loopbaan as maraton atleet -waar hy die nimlike Petro onmoet het. Daarna was hy ‘n suksesvolle padfietsryer en na ‘n versrkiklke ongeluk met beide bene gebreek en weke in ‘n koma het hy besluit om nog vinnger te jaag.

 

Strat of “Straddie” en ek het deur ‘n gemeenskaplike vriend ontmoet. Hy’t my genooi om as navigator saam met hom te jaag in die “monster”, ‘n ysingswekkende Amerikaanse V8 resiesmasjien met geen vensters nie, baie min gemak en ‘n reputasie wat ver en wyd loop.

 

Mens leer nerens iemand so vinnig ken soos in ‘n veldwedrenmotor nie. Ek is navigator. Ek se hoe vinnig en waarheen Strat moet ry. Hy moet my 100% kan vertrou en ek vir hom. Ons werk goed saam onder druk en aldus die uitnodiging van sy kant af om spanbestuurder te speel in die Dakar. En in Sjina kan ons baie goed, baie goedkoop kry. Aldus…

 

Cathay Pacific vlieg ons oor Mosambiek, Madagaskar, Mauritius, Borneo, die Malakka Seeweg, en Thailand na Hong Kong. Dwayne speel speletjies op sy sitplek se vermaaklikheidstelsel. Strat kyk komedies en ek lees Deon Meyer se nuwe speurverhaal “Blood Safari”. Daarna kyk ek “The Reader”, ‘n fliek met te veel seks en te min storie, die Oskar ten spyt. Daarna kyk ek “Sweeney Todd” met die onvergelykbare Johnny Depp. Heerlik. Dan bring die kajuitpersoneel vir ons noedels vir brekvis en ons land.

 

Daar is ‘n kamera onder die vliegtuig gemonteer en jy kan op jou persoonlike vermaaksentrum kyk hoe die vliegtuig land op Hong Kong se nuwe lughawe. Die laaste keer dat ek hier was, het ons op Kai Tak geland, op ‘n aanloopbaan wat soos ‘n mal tong die Hong Kong hawe ingesteek het. Die vliegtuig moes soos ‘n naald deur die berge om Hong kong vleg en met dodelike presiesheid gaan sit met water en skepe aan beide kante. Hierdie landing is baie meer beskaaf en uiteindelik is ons op Sjinese grond. Kommunistiese Sjina. Rooi Sjina. Hmmm.

 

Die nuwe lughawe is skoon, massief en nie so vol mense as wat ek sou verwag nie. Oral is tekens in Sjinees en Engels sodat dit maklik is om jou pad te vind. Strat en Dwayne was al verskeie kere hier en ek laat my deur hule lei om al die rituele te voltooi. Doane, paspoortbeheer, gesondheidsbeheer (daar is varkgriep in die omgang) Dan is ons deur en ons ruil geld om en kies koers stasie toe.

 

Die stasie is reg langs die lughawe. Trouens, mens loop deur die terminaal tot op die perron, waar jy by ‘n masjien kaartjies koop. Elke twee minute is daar ‘n trein. Ons klim op en ry tot in Kowloon. Daar kry ons ‘n bus en klim ‘n blok van ons “hotel” af.

 

Ek gebruik die term baie ligweg.

 

Die Cosmic Hotel is op die 12e vloer van ‘n gebou in Nathan Road in Kowloon, tussen die Kowloon tuine en die hawe. Die kamer is agter vlekvryestaal veiligheidshekke. Nugter weet hoekom… Die kamer is 2 meter by 5 meter. Ek lieg nie. Behalwe die toilet en wasbak is daar ook ‘n stort agter glas en drie beddens. Twee beddens aan die kante van die lang nou kamertjie en ‘n derde bed dwars oor die vertrek onder die venster voltooi die res van die toerusting. Daar is ‘n ou kreunende lugversorger en ‘n waaier teen die muur. R350 per nag en elke oggend maak hulle die kamer skoon. Die antie van die hotel verseker ons aanmekaar dat dit eintlik heel ruim is vir Hong Kong… Sy is seker reg, want later die dag arriveer ‘n Sjinese familie met vier grootmense en twee kinders en trek oor die gang in ‘n identiese kamer in.

 

Ons vat die strate. Dis warm – 33 tot 34 grade en bedompig. Bedompig is nie eintlik ‘n woord wat beskryf hoe Hong Kong voel nie. Die vog in die lug val jou longe aan tot jy voel jy kan nie meer asem haal nie. Sodra jy by die deur uitloop is jy natgesweet. Jou oe is vol sweet, jou hande klam en jou voete swel op van die versengende hitte. En daar is mense oral. Jy kan nie wegkom nie. Sjinese, Koreane, Thais, Vietnamese, Westerlinge van alle uithoeke van die wereld, Egiptenare, Nigeriers, Ons en al die ander kinders van Adam onder die son.

 

Die reuke binne in die nou stegies waar toeriste rondloop, is eksoties en oorweldigend. Na ‘n kort ekspediesie om ons onmiddelike omgewing te verken, gaan soek ons iets om te eet. Ek is dadelik reg vir Dim Sum, die Sjinese se brekvis noedels. Strat en Dwayne lei my om een hoek dan ‘n ander en dan in ‘n yskoue lugverkoelde KFC in. Hulle bestel ‘n KFC brekvis en smul. Ek drink koffie. Verdomp! Mens kan die goed in Hatfield kry!

 

Dag een is ‘n “opsoek van ou kennisse” dag. Strat het een of twee mense wat hy tydens vorige besoeke leer ken het en ons stap ‘n paar draaie en onmoet ‘n paar mense. Tussendeur kry ons darem kans om die pragtige Kowloon tuine te besoek en te kyk hoe honderde Sjinese omies en tannies Tai Chi doen. Daarna met die veerboot oor die baai na Hong Kong eiland waar ons ronddwaal en vir die mense kyk. Piepklein Sjinese meisietjies in baie kort rokkies trippel heen en weer. Ernstige Britte en Skotte met briewetasse en dasse in die versengende hitte stap doelgerig tusssen die banke en besigheidsgeboue rond. Dan spring ons in een van die uitmuntende moltriene en keer terug Kowloon toe.

 

Hong Kong is ‘n stad met ‘n gesplete persoonlikheid. Kowloon is op die vasteland en dis hier waar meeste van die inwoners van die stad bly. Dis ook hier waar al die toeriste rondloop. Dis ‘n malende masse mense almal op pad iewers heen. Daar is min privaatmotors – huurmotors en busse rits op en af in die strate en mis mekaar net, net… Maar dis ‘n ander Hong Kong die as wat ek onthou. Dis skoon. Silwerskoon. Oral is daar tekens wat jou herhinner om hande te was. Trapreelings het tekens op wat jou inlig dat dit elke drie uur gesteriliseer word. Mens sien nie papiere, bottels of stompies nie. Heelparty mense, veral amptenare wat met die publiek deel, loop met gesigmaskers rond.

 

Rokers kry swaar in HK. Selfs in die park is daar tekens wat jou waarsku dat indien jy sou rook waar jy nie mag nie, kan jy ‘n boete opgele word van soveel as $HK 5000. (Dis omtrent R5000) En tog rook almal. Net waar jy kyk loop mense met sigarette in die strate rond. Daar is egter ‘n asbakkie bo-op elke asblik in die strate ingebou. Hulle word gereeld – elke twee of drie uur – skoongemaak. Ek sien ‘n arrogante Fransman wat sy Gaulois stompie in die straat doodtrap. Hy word onmiddlik deur verskeie Hong Kongers aangetree. Hy wil nog stry maar dan daag die polisie op. Hy moet desnoods sy stompie optel en na die naaste asblik loop en dit daar ingooi. En daarna kry hy ‘n boete…

 

Ek kan nie ophou om met die moltrien rond te ry nie. Jy kan enige plek in HK bereik met die vinnige, goedkoop en hiper-moderne treine. Daar is heeltyd mense maar die trein is altyd skoon, en betyds. Briljant. Absoluut briljant…

 

Middagete oorreed ek my reisgenote om ‘n Sjinese eetplek te betree. Ek bestel eg Sjinees en Dwayne volg my voorbeeld. Strat vra my om vir hom te bestel. Ek eet al my kos, helfte van Dwayne s’n en Strat se hele bord. Hy hou nie van sous op sy kos nie… Ek sien swarigheid…

 

Nog ‘n paar ure in die strate en dan eet ons by ‘n Thai restaurant. Die keer eet almal alles. Strat en Dwayne verseker my dat hulle nie vol fiemies is nie. (Dit klink vir my soos ‘n ou wat se: Ek’s nie ‘n rassis nie, maar…)

 

Ons slaap teen die verwagting in, baie lekker in ons sel.

Dag twee, en ons vat vroeg die strate. Brekvis die keer is by McDonalds…

 

Ons doen ‘n paar besigheidsbesoeke, kry pryse op trommels vir onderdele, koplampe vir in die nag werk ens. Dwayne soek selfoonpryse en die winskopies is vollop, maar jy moet wakkkerslaap. Hierdie mense gaan nie kerk toe nie…

 

Dan se Strat ons het genoeg gewerk, hulle gaan my “treat”. Ons spring in die moltrein en ry na die sentrale busstasie toe. Daar klim ons in ‘n dubbeldek bus en ry Stanley Market toe. Oor die berg, verby Repulse Bay en tot by Stanley Beach. Dis ‘n mal rit op ‘n nou bergpassie met ewe groot busse wat van vooraf kom. Ons gil soos kinders op ‘n mallemeule en geniet ons gate uit.

 

Repulse Bay en Stanley is ‘n ander koppie tee. Nog ‘n ander gesig van HK. Hier is baie meer Westerlinge en privaatmotors. Hier is baie duur motors. Ek sien selfs ‘n Maybach agentskap…

 

Die mark is maar so-so maar ek sien tog een of twee unieke stukke wat ek koop en wegsit om saam te vat vir die mense by die huis. Dan is ons terug in die bus en met ‘n ander roete terug HK toe. Hierdie keer laai die bus ons amper reg voor ons hotel af en ons maak planne vir aandete.

 

Ek eet eend. Niemand, en ek bedoel niemand kan met eend doen wat die Sjinese daarmee doen nie. Ek het al in Franse, Engelse en allerlei ander tipes restaurant eend geeet. Altyd peperduur en meesal ‘n terleurstelling. Die restaurant is vol boorlinge van HK. Ons is die enigste gwai lo’s (ronde oe) Strat en Dwayne eet vark en ons loop versadig uit, verbaas oor hoe min die rekening is.

 

Ons dwaal deur die besige strate en verkyk ons aan die mense. Sjinese meisies dra kort rokkies. Baie kort. En onder die rokkies ‘n denim kortbroek, of skibroeke. En aan hulle voete “gumboots”. Met luiperd motiwe of beesval, of slang of blomme… Maar “gumboots”… “n Ander skoeisel wat baie populer is, is ‘n soort stewel wat tot mid maermerrie opkom. Maar die voete is oopgesny sodat jy tot by die enkel stewel het, en van enkel tot toon, ‘n sandaal. Ek wonder hoe hierdie manier van aantrek in Hatfield of Auckland Park sou doen… Hulle is ook lief vir t hemde met slagspreuke op. Happy! Is populer. Of “Make me Happy”, “I like nice boys”… Dan is daar ander wat ek sien en lees maar nie verstaan nie. “I’d rather be lonesome”, “Bathing Ape” en my peroonlike favourite “Catch a falling knife…”?

 

Dan is dit terug na ons sel toe. More moet ons vroeg op om die veerboot na Macau te haal. Ek kan nie wag nie…

 

 

 

1 antwoord op Hong Kong, Sjina en verder (1)

  1. Dankie. Ek waardeer. Maar wag! Daar kom nog…

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.