Jy blaai in die argief vir 2009 Oktober.

Die Koning, die Fees en d

Oktober 31, 2009 in Sonder kategorie

Die Koning, die Fees en die Vrystaat se Feëtjies.

 

Ek druk die bakkie se neus vroegoggend in die pad en sit dadelik vas by die Fonteinesirkel. Na ‘n lang ruk klim ek op die hoofweg en kies koers Krugersdorp se kant toe. Van daar is daar byna geen verkeer nie en ek klap Tarlton, die Denny sampioenfabriek en Carltonville sommer gou-gou af. Dan lê Potch voor.

 

As ek deur die dorp ry onthou ek menige Aardklop feeste en lang nagte deurkuier saam met my kleinsus en haar gewese man. Ek sien landmerke, herhinneringe, skoolsale wat teaters was en heelparty studente. Die mans is lenig en die meisies mooi. Een van die meisies dra ‘n t-hemp wat sê: Fact! Boermeisies rule!

 

Ek weet nie so mooi van die taal nie maar ek stem saam met die sentiment!

 

Die dieselenjin brul Orkney-wat-nie-snork-nie verby en dan ry ek Bothaville binne. Bothaville! Die Mieliehoofstad van Suid Afrika, en as jy wil stry, maak ons dit sommer die Mieliehoofstad van die Wêreld. Dis immers hier waar die jaarlikse Namposkou gehou word en waar mense van regoor die wereld kom kyk na die nuutse boerdery metodes en toerusting.

 

Daar is nie veel om die dorpie se lyf nie. Dis maar ‘n klein plekkie, maar dit verteenwoordig ‘n moerse klomp geld. Van die boere hier is RYK. Ek kry parkeerplek by Eben Dönges Primer, die hoofkwartier van die Mieliefees – om dit nou sy volle titel te gee – Die Pioneer Voedsel en Witblitsfees.

 

Ek probeer onthou wie Eben Dönges was. Iewers in die ou brein steek ‘n herhinnering vas van ‘n man wat president was vir twee of drie maande en toe beswyk het aan kanker… (Sal hom Google en kyk wat ek kan kry)

 

Met die intrapslag by die skool loop ek in Ray Brink vas. Sy is ‘n turboaangejaagde dinamo vermom as ‘n klein blonde vroutjie. Sy was in die diplomatieke diens, toe ‘n regsgeleerde, toe burgemeester van Bothaville en nou die organiseerder en touleier van die fees wat nou al van 1995 af kom. Sy groet my vinnig en stoom uit na ‘n ander vertrek om my touwys te maak oor my pligte.

 

Ons praat vinnig oor wat my te doen staan en dan stel sy my voor aan Robbie, die vriendelike jong AGS pastoor. Robbie laai my in sy Fordjie en ons ry die dorpie se agterstrate in waar hy my die huis gaan wys waarin ek gebore is. Ek is daar weg toe ek 18 maande oud was maar as ons in die straat afry wys ek na die huis op die hoek en vra: Is dit die plek? (My ma het blykbaar ses en dertig uur gebeur om my uit te kry. Ses en dertig uur van eerste kramp tot eerste skree… G’n wonder sy het issues met my nie)

 

Robbie is net so verbaas soos ek dat ek die plek nog kan onthou en ons loop om die huis, neem foto’s en wag vir die huiseienaar om vir ons oop te sluit.

 

Sy is ‘n pikante en vriendelike rooikop en ons stap geselsend deur die huis. Ek onthou die lang gang, en as sy vra of ek weet wat onder die mat is, sê ek sonder om te skroom: Blokkiesvloer. Hulle kyk my bra skepties aan, maar ek bel my ma en sy bevestig dat die gang ‘n blokkiesvloer gehad het. Die rooikop is heel opgepluk met die kennis en sê hulle gaan dadelik die mat laat optel en die blokkiesvloer laat skuur en skoonmaak. Ons groet, ek neem nog ‘n paar foto’s en ek en Robbie ry ‘n wye draai deur die dorp en bekyk die plek. Dan laai hy my by die Mieliemuseum af en my werk begin.

 

Ek is by die fees as beoordeelaar vir die Mejuffrou Mieliefees kompetisie. Ek is gevra om die aangename takie te verrig aangesien ek ‘n boorling van die dorp is.

 

My medebeoordeelaars is Ricus, ‘n verteenwoordiger van Pioneer – die hoofborg, Louié, die mooi tandarts, Nedine, die voormalige model en nou modelskooleienaar op die dorp en laastens Willie, die sameroeper van die beoordeelaars en plaaslike motorhandelaar en garage eienaar. Ray stoom in en gee ons elkeen ‘n presentjie vir ons moeite en vertel dan vinnig van die deelnemers. Ons kry elkeen ‘n stel vorms en penne en dan is ons reg om te begin.

 

Willie het die beoordeling ding al baie gedoen en hy vertel ons hoe dit werk

 

Die meisies wissel van 15 tot 22 en kom van Bothaville en verskeie ander dorpe in die omtrek af, met heel party meisies van ‘n modelagentskap van Klerksdorp af. Een meisie het self van Bloemfontein af gery om te kom deelnaam. Die eerste fase is onderhoude met die meisies en dan sal hulle huis toe gaan en regmaak vir vannaand se groot gebeurtenis.

 

Die eerste meisie kom in. Sy’s 15 en baie senuweeagtig. Ons mans probeer haar gerus stel maar die twee vrouens klim sommer kaalvuis in met moeilike vrae. Ek kan sien die arme kind is heel uit haar diepte uit en vra een of twee maklike goed soos wie haar gunsteling rugbyspan is (Cheetahs) en gunsteling speler (Jaques-Louis Potgieter) Willie vra goed oor 7e Laan en die meisie begin weer asemhaal, maar dan vra Ricus die meisie om hom iets van Pioneer te vertel. Dwa! Daar gaan al haar skamele selfvertroue en sy is maar te bly as ons sameroeper sê sy kan maar gaan.

 

Die volgende paar meisies is almal ouer, prefekte en selfs die hoofmeisies van hulle onderskeie skole. Hulle is almal baie gemakliker met die vrae en kom met meer sukses deur die onderhoudsessie. Dan kom een van die Klerksdorp meisies in. Sy is beeldskoon, lank, spring hoog, doen liefdadigheidswerk met weeskinders, lyk soos Cameron Diaz en ken die antwoorde op al die vrae, tot ek haar met my rugbyvraag gooi. Gunstelingspan? Blou Bulle. Gunstelingspeler… En daar kan die arme kind nie een speler se naam onthou nie. Nie ‘n enkele een nie… Ek traai help en vra watter posisie speel hy? Sy weet nie. Haar bubble bars net daar en sy loop taamlik druipstert daar uit.

 

Ons kry ‘n blaaskansie en saam met die, ‘n tamaai skinkbord met kos en drinkgoed. Ek volstaan met water maar eet my pad deur al die versnapperinge. Hoenderboudjies en frikkedelle en worsies en stukkies bees vleis en mini sosaties… Die mense hou van vleis! Lekker!

 

Ons vergelyk ons punte en stem oor die algemeen redelik saam. Nedine vertel ons dat van die meisies aan kompetisies dwarsoor die land deelneem. Hulle swot voor die kompetisies soos voor ‘n eksamen aan antwoorde op moontlike vrae. Die Klerksdorpkind het net vergeet om een of twee van die Bulle se spelers op te swot. Daar gaan vir my ‘n liggie op. Party van die meisies lieg dan mos soos tandetrekkers!

 

Die res van die middag gaan op dieselfde trant voort en ek probeer hard om die tandetrekkers uit te vang, tot groot vermaak van Willie en die ander. Maar kyk! Dis mooi meisies die. Vrek mooi. En hulle is oor die algemeen slim, aangename geselskap en selfversekerd. Ja, nee… Boeremeisies rule! 14 meisies, 14 onderhoude en so ‘n aks voor ses is ons klaar. Ons spat uitmekaar na ons huise, en in my geval gastehuis, om te stort en aan te trek vir die glinstergeleentheid.

 

Ek bly in Villa Sering, ‘n ruim en lekker plek met ‘n gemaklike bed en en suite badkamer. Na ‘n sessie van polish en paint is ek reg. Ek trek my Madiba hemp aan en vat die pad Eben Dönges toe.

 

Theophilus Ebenhaezer (Eben) Dönges (1898 – 1968) was een van die argitekte van apartheid en is na die heengaan van CR Swart as Staatspresident ingehuldig maar hy het aan ‘n hartaanval beswyk voor hy sy pos kon inneem. (Dankie Google!) Nou weet ons almal en kan ek aangaan sonder die geskiedenisles.

 

By die saal aangekom staan ons rond en word dan deur die onuitputbare Ray na die beoordeelaarstafel begelei. Die vermaak vir die aand is “Drie van die Bestes” – Kevin Leo, Danie Niehaus en Matthys Roets. Ek sien baie daarna uit want ek het al drie die manne al hoor sing, maar nog nie saam nie. Terwyl die ander gaste inkom gesels ons onder mekaar oor hoe en waaroor ons die meisies gaan beoordeel. Twee van my mede beoordeelaars het al klaar ‘n kortlys van so 5 name, maar ek verkies om bietjie te wag.

 

Dan kom die Mieliekoning in. Hy loop deur die saal en groet sy ‘onderdane’ en hy word begelei deur vier fris jong lyfwagte wat elkeen ‘n saak Pioneersaad dra. Hy’s ‘n bekende akteur en aangetrek met ‘n tamaai groen mantel, ‘n tradisionele plaashoed met zebravel om en versier met mielies en mielieblare en in sy hand het hy ‘n houtsepter ook versier met mielieblare. Hy doen so ‘n dansie en wikkel sy boude op maat van die musiek en ons lag. Snaakse man die… Dan gaan sit hy op sy troon en sy regterhand Ridder Ray kom in. Verskeie bedankings word namens die koning gedoen en dan oorhandig hulle ‘n oorkonde aan een van die plaaslike boere, Crawford von Abo, wat nou al etlike jare met die Zim regering baklei nadat hulle van sy plase onteien het. Sy vrou, Bibi, kry ook ‘n ruiker en tot groot applous van die gehoor gaan sit die twee.

 

Nou is dit weer die beurt van Ridder Ray en die koning. Hulle lê kaalvuis in onder verskeie dorpenaars en ander wat na hulle mening die Mieliehoofstad se beeld skade aangedoen het deur die laaste jaar. Die koning maak ‘n toesprakie wat deurspek is met mielieverwysings en dan word die gesant van die Vrystaatse premier op die verhoog verwelkom.

 

Sandlana Smit is ‘n wit ou wat in die premier se kantoor na minderheidsgroepe omsien. Hy’t net een arm en maak ‘n paar grappies daaroor. Ek verbaas my oor die gemaklikheid waarmee almal hom ontvang. Hy is per slot van rekening lid van die ANC vir die laaste 19 jaar en is met ‘n swart vrou getroud, maar nieminad knip ‘n oog nie. (Wat hulle agter sy rug van hom sê is natuurlik dalk heeltemal ‘n ander saak.) Hy dra die premier se groete aan die koning oor en oorhandig ‘n offisiële dokument aan hom. Dan vertel hy dan die Vrystaatse regering van ingang 2010 beplan om HOP huise vir arm blankes in Bothaville te bou. Dit word met applous begroet, en die koning maak weer ‘n toesprakie voordat hulle almal die verhoog verlaat en Drie van die Bestes oorneem.

 

Die manne mag maar sing.

 

Hulle vat na ‘n ruk ‘n breek en die meisies loop in ontspanningsdrag sodat ons hulle verder kan beoordeel. Kevin Leo is seremonimeester en hy is baie snaaks terwyl hy met die meisies skerts. Na die stappie gaan ons uit en besluit watter vier meisies moet wegval. Die 15jarige waarmee ons eerste die onderhoud gevoer het is een van die wat in die slag bly. Ek hoop nie dit doen haar emosioneel skade aan nie.

 

Die manne sing weer ‘n versie en dan kom die tien met aanddrag in. Wragtag, maar daar is mooi meisies in Bothaville! Die feëtjies trippel met die loopplank af en ek sien Willie, wat ‘n jaar of drie ouer as ek is, dra ook swaar aan sy jare vannaand.

Weer gaan ons uit om te koukus en weer sny ons vyf meisies uit die bondel.

 

Ons kom terug en gee die lys vir Kevin en nou loop die spanning hoog. Kevin wys met groot deernis die 5 meisies uit wat uitval en die oorblwende poppies loop weer vir ons. Daarna kry hulle elkeen kans om ‘n vraag uit die hoed te trek en dit te beantwoord.

 

My eerste keuse kry haar vraag, spot met “oom” Kevin en steek ‘n pragtige toesprakie af oor haar onderwerp. Die ander meisies kry ook kans en laaste is dit die spekskieter van flussies wat nie een speler uit haar gunstelingspan by name kon noem nie. Sy kry ‘n onmoonltlike moeilike vraag en stamel en stotter met groot moeite deur haar spreekbeurt.

 

Ons gaan koukus weer, wys die keer die drie meisies aan wat eerste, tweede en derde plekke beklee. Die laaste vyf feëtjies staan vas en ons gee vir Kevin die lys. My gunsteling het die meeste stemme gekry en sy word dan aangewys as Mejuffrou Mieliefees en wen ‘n klomp pryse. Daar is trane van blydskap en trane van pyn.

 

Later stap ek uit om ‘n traantjie te gaan stort en langs die ingang na die toilet kry ek die spekskieterjie wat soos Cameron Diaz lyk en sy huil snot en trane. Ek wik en weeg of ek iets moet sê of doen, maar hou dan maar verby. Om ‘n feëtjie te wees is nie maklik nie en hoe gouer die girl leer dat sy nie elke keer kan wen nie, hoe beter.

 

As ek egter uitkom staan sy steeds en huil en ‘n jong man, broer of kêrel (ek weet nie wie nie) het sy arm om haar. Sy sien my en vee trane af en vra my hoekom sy nie gewen het nie. Ek verduidelik dat haar laaste toespraak vermoedelik die rede was. Die jong man sê vir haar die ding is verby, sy moet dit agter haar sit en aanbeweeg, maar die feëtjie is die moer in en wil iemand of iets die blameer vir haar neerlaag. Ek sê dis eintlik teen die reëls om die uitslag mte haar te bespreek en blaas die aftog. (Dis ‘n lieg maar ek is te veel van ‘n sissie om langer die feëtjie se trane te trotseer)

 

Nog later kry ek die koning in die biertuin en hy vertel stories en vermaak die onderdane. Ek gaan sit eenkant in ‘n hoek en geniet die show en ek belowe myself: As hulle my vra is ek volgende jaar wragtag weer hier.

 

Nog later…

 

Ek sukkel om aan die slaap te raak en lê wonder wat dit aan jou selfbeeld moet doen as mense vir jou sê jy’s nie mooi genoeg nie. En wat op aarde besiel die pragtige jong meisies om hulleself aan die vernedering bloot te stel. Maar dan weer onthou ek die wenner se glimlag toe Kevin haar naam uitlees en ek verstaan: Hulle doen dit want Boeremeisies rule! Ok?

 

 

 

 

Die dou op sy lelie

Oktober 29, 2009 in Sonder kategorie

Toe ek nog student was het ek gaan paaie bou op ‘n klein dorpie in die Groen Kalahari. En so tussen die paaie bou deur, het ek sommer begin werk as kroegman in die plaaslike hotel. Nou die storie wat ek nou gaan vertel het begin as gevolg van Ferdie en Wilma se probleme.

 

Ferdie het, soos baie ander op die dorp, by die myn gewerk. En na sy skof het hy, soos baie ander, in die kroeg kom sit vir ‘n paar koues. Wilma het ook by die myn gewerk, in die mynbaas se kantoor, en sy het nooit ‘n paar koues in die kroeg kom drink, na werk, nie. Trouens, ons het Wilma nooit gesien nie. Sy’t nie saam met die ander vrouens kom kuier as daar rugby op die tv was nie, en as ons ‘n braai gehou het, het Ferdie ook alleen gekom.

 

Nou in so klein dorpie hou mens jou rede, want jy kan nie bekostig om vyande te maak nie, so niemand het ooit iets gesê oor Wilma en Ferdie nie. En toe uit die bloute uit hoor ons hulle was by Jakkals Viljee, die prokurower op die dorp, en hulle gaan skei. En dis ook nie lank nie of Ferdie trek in die hotel in.

 

En een aand na werk kom hy toe met die sak patats te vore. Wilma los hom oor sy drink gewoontes. Sy sê hy’s heeltyd by die hotel en nooit by die huis nie en sy kan dit nou nie meer uitstaan nie.

 

Vir die res van ons was dit ‘n openbaring want Ferdie was een van die ouens wat hom altyd beskaafd en opreg gedra het. Twee, drie biere, en dan gaan hy huistoe. En ons het almal gevoel Wilma is besig om die hol uit die hoender te ruk. Van ons het selfs met haar gaan praat oor die ding, maar sy het klaar besluit en haar voet was dwars neergesit…

 

En toe begin Ferdie regtig drink. Want om so alleen in die hotel te bly is nie lekker nie en elke dag moet hy vergaderings saam met die mynbaas doen en dan loop hy hom in Wilma vas. Maar dit het alles gestop die aand toe hy die dou van sy lelie wou gaan afskud.

 

Ons kroeg het twee deure gehad. Een met swaaideurtjies wat na die sypaadjie lei, en ‘n ander deur wat na die voorportaal van die hotel toe lei, waar die toilette was. As jy dus ‘n draai wou loop het jy of by die swaaideure uitgegaan en dan by die voordeur van die hotel in, na die toilet toe, of jy’t deur die ander deur, direk na die voorportaal, en die toilette, gegaan.

 

Ferdie se hart was die aand vreeslik seer want Jakkals het die papiere by hom afgelewer en hy moes teken. Terwyl hy toe so sit en wonder of daar nie ‘n ander manier is nie, drink hy toe kwaai, en toe in ‘n stadium staan hy op uit die gemakstoel in die hoek, en hy vertel met moeite hy gaan die dou van sy lelie afskud, en loop houvas, houvas na die swaaideure toe en uit na die sypaadjie. Ons wonder nog of iemand hom nie maar in die bed moet gaan sit nie en ek het net aangebied om dit te doen, toe gaan die deur na die voorportaal toe oop en Ferdie kom in. En hy mik na die hoek toe, en toe hy daar kom gaan staan hy met sy een hand teen die muur en hy tel die sitkussing van die leunstoel op met sy ander hand, en die kroeg word stil. En toe maak hy sy gulp oop en pie met groot genot die sitplek van die leunstoel pap, sop, nat.

 

Uit pure skok het nie een van ons beweeg nie, hom net oopmond aangestaar. En toe hy klaar is toe maak hy weer sy gulp toe en slaan die kussing af en hy voel, voel vir die ketting, maar hy kry hom nie. Hy staan toe lank vir die stoel en kyk en na ‘n ruk trek hy sy skouers op en loop weer by die deur uit na die portaal toe. Na ‘n ruk strompel hy toe weer by die swaaideure in en mik vir sy stoel waar hy met groot genoegdoening gaan sit en dadelik aan die slaap raak. Toe is die gort gaar!

 

Ons het almal net daar besluit dat genoeg nou genoeg is. Oom Fanie de Jager is afgevaardig en hy het gery om Wilma te gaan haal. Na ‘n ruk het hy haar steunend en kreunend in die kroeg ingedwing en haar gewys waar haar (amper) eks man op die nat stoel sit en slaap.

 

Dit het mooipraat gekos maar sy het ingewillig om hom te woord te staan as hy weer nugter is, en toe vat Oom Fanie haar weer huistoe, en ‘n paar van ons druk Ferdie in die stort, en toe in die bed in.

 

Die volgende dag is Ferdie nie werk toe nie en ‘n paar manne vertel hom, om die beurt, wat hy vir Wilma moet sê. Middagete kom sy toe daar aan, maar sy weier om in die kroeg in te kom en hulle gaan sit in die voorportaal waar ek hulle toe met yskoue koeldrank bedien.

 

Wat hulle vir mekaar gesê het weet ek nie, maar hulle is ‘n ruk later daar uit en huistoe en die volgende dag trek Ferdie uit die hotel uit en die tweetjies kyk mekaar aan met blink ogies en groot glimlagte.

 

Van toe af het Ferdie net twee aande ‘n week ‘n bier gedrink en Wilma het saamgekom as ons rugby kyk, of braai. And they all lived happily ever after… Of, ten minste tot ek daar weg is.

 

The moral of the story?

 

Ek weet vouens haat dit as mans nie die toilet se deksel afslaan nie, en nie die ketting trek nie. En die ou paar druppeltjies wat partykeer op die vloer beland oor ‘n man haastig is, dryf hulle tot raserny. Maar partykeer, net partykeer, help dit om die toilet heeltemal mis te pis en die ketting nie te trek nie! Vra maar vir Ferdie…

 

 

Grys hare se gevare

Oktober 28, 2009 in Sonder kategorie

Laai my ou maat Elmo my toe op om saam met hom Soweto toe te gaan op ‘n sakebesoek. (Ek vermoed hy’t my meer opgelaai vir die gesels as vir die sake) In Soweto aangekom het ons, ons draaie gery en ons make gemaak en Elmo se ma bel en vra of hy by haar kan omry op pad huistoe.

Nou moet ek eers verduidelik. Elmo was op 25 al grys. En nou dat ons albei in ons 50’s is is hy nie net grys nie, hy’s spierwit. Elmo is ook ‘n suksesvolle sakeman wat dwarsoor Afrika sake doen en met groot gemak met mense van alle kulture en kleure en godsdienste oor die weg kom. “Rassis” is nie iets wat enigiemand hom sal, of kan, noem nie en hy tik my gereeld oor die vingers as ek my vooroordele luidkeels laat blyk as ‘n taxibestuurder hom soos ‘n vark gedra.

Ons is toe nou klaar, en na ‘n koue varsetjie in ‘n vriendelike shebeen, ry ons Soweto uit, en in ‘n padblokade in. Die poliesman staan nader en Elmo gee hom sy lisensie. Die man lees die lisensie en vra wat het ons in Soweto kom doen. Elmo vertel dis besigheid en toe vra die man waarheen is  ons op pad. (Nou’s ek al reg om hom ‘n ginekologiese klap te gee want wat de donner het enigiets van die met hom te doen?) Elmo daarenteen glimlag en se ons gaan vir sy ma kuier. Die poliesman kyk Elmo sy grys hare, sy oe rek wawyd oop en hy se in uiterste ongeloof: “Hau! You stil got a  mother?”

Ons het tot in Pretoria gelag

Pasop wat jy se…

Oktober 26, 2009 in Sonder kategorie

‘n Ou pel van my is ‘n stoere Blou Bul ondersteuner en ek het hom dit vergewe, want hy was inderdaad ‘n steunpilaar in my tyd van nood. (Baie tye van nood) Alle geval… Hy kom toe nou van Loftus af waar hy die WP game in ‘n losie op ‘n grootskerm tv gekyk het saam met werskollegas. (Hoekom is daar tv’s in die losies? Jy kan mos net uitloop en die game lewendig sien)

Soos dit nou maar, volgens oorlewering, gaan in die losies is daar mildelik van Klippies en Coke verbruik tydens die naalbyt stryd. So kuier hulle toe verder, en verder en verder en diep in die nagtelike ure vat hy die pad huis toe, Garsfontein toe.

En hy kom om ‘n draai en toe is dit net ligte en die manne in blou (SAPS) en die manne in bruin (Tshwane Metro Police) en hulle trek hom af en wys hy moet stop.

En my ou pel besef hy’s in groot poef want selfs ‘n Toyota mag nie bestuur word met al daai Klippies in jou lyf nie.

En hy sien die man in bruin staan nader. En hy rol die venster af en tot sy verbasing sien hy, hy is ‘n sy.

En die (blykbaar) aanvallige dame in bruin kom staan by sy venster met die blaaspypie in haar hand. En die gevaarlike mengsel van Klippies en testostoroon skop in en hy se met ‘n Staal Burger stem: Naand Sexy!

En sy kyk hom op en af en waarsku hom: Besef jy dat alles wat jy se teen jou gehou mag word?

En hy smile.

En hy se:

TIETE!

Om John Wayne te wees…

Oktober 25, 2009 in Sonder kategorie

Om John Wayne te wees…

 

Ek sou die ou pennevruggie seker ‘n klomp titels kon gegee het maar ek dink die laaste paar dae aanmekaar aan John Wayne.

 

En daar staan ek toe in die swembadganggetjie van Game op soek na ‘n swembadborsel, want die Siberian Husky/Alsation kruis het die ander een opgevreet, vermoedelik omdat sy dit met ‘n blou t-bone verwar het. (Sy’s beeldskoon, maar besig!)

 

Hier kom ‘n jong welgeskape blondine ook in die gangetjie af, vermoedelik ook op soek na iets vir die swembad. En sy het ‘n kort broekie aan en ‘n bruin t-hemp wat styf pas. En voor op die t-hemp is iets geskryf in klein lettertjies, en ek probeer dit lees.

 

Nou kyk… Ek probeer my lewe soos John Wayne leef. My woord is my eer, my handdruk is ferm, ek kyk mense in die oë as ek met hulle praat en my rollies is skoon en geolie in hulle holsters. Ek trek die goed net uit as ek bedoel om iemand te skiet. Ek sit regop op my perd en ek beskerm vroue, kinders en diere.

 

Terwyl ek nog so ingedagte probeer lees wat op die meisie se bors staan, kom ek agter dat sy my ‘n KYK gee, en ek besef dis nie ‘n baie John Wayne ding wat ek nou doen nie. En ek vra om verskoning met my beste teater stem en in goeie Afrikaans. Maar die merrie KYK my en vra op Ingels wat ek dink ek doen, en in haar stem oor ek so ‘n effense Cockney infleksie. En pleks ek toe net soos ‘n pervert vir haar glimlag en wegloop, probeer ek toe weer die saak beredder deur vir haar my beste Queens English te sê dat ek nie besig is om haar buuste te bewonder nie, maar dat ek slegs haar t-hemp wil lees.

 

Iets wat ek gesê het moes haar die verkeerde idee gegee het want sy vra my hoe ek durf! (Kyk of praat… Ek’s nie seker nie) En ek besef skielik hoekom party van ons ou volkie die Ingelse na al die jare nog steeds haat. Want met die dat sy haar so vir my vererg, beduie sy met haar hande en haar buuste spring op en af, want sien, die rooinekkie het nie ‘n buustelyfie aan nie. Dis soos ‘n magneet vir my oë en ek kyk toe maar weer na die twee bonsende klonkies, en ek vermoed ek het dalk van pure plesier geglimlag.

 

Die rooinekkie haak toe af en klap na my, maar ek het in my jong dae geboks en ek bob en weave uit die klap se pad uit. Maar met die neem instink oor en ek bal my vuiste. Suiwer instink, ek belowe. Ek het 25 jaar gelede laas aan iemand geslaan, en hy het dit verdien. Maar weer verstaan die rooinekkie my lyftaal verkeerd en sy begin gil. Die volgende oomblik steek die ge-uniformde “siekoeritie” sy breë gesig om die hoek en vra wat aangaan. Ek probeer verduidelik maar die rooinekkie skree ek het haar ‘sexually harrass’. ‘Siekoeritie’ staan nader en die meisiekind klap weer na my en ek bob en weave, maar hou darem my hande af die keer.

 

“Wat sou John Wayne gedoen het?” dink ek by myself, maar die antwoord is nie dadelik beskikbaar nie, toe doen ek maar dit waarvoor ek opgelei is.

 

My ma het my universiteit toe gestuur om die ‘knowledge from the college’ op te doen en so tussen die Shakespeare deur het ek geleer hom om tegnies te lag en te huil. Ek ek begin huil. Krokodiltrane biggel oor my wange en toe skeur ‘n rou snik deur my bors en ek tjank soos ‘n klein hondjie wat onverwags ‘n armystewel op sy stertjie kry. En so tussen die tjankery deur sak ek af tot op my hurke en ek brul skor: “I was’t looking at your boobs! I was trying to read your t-shirt!

 

‘n Groot ou met ‘n hangsnor en ‘n borselkop, wat lyk of hy dalk vir die Bokke vaskop stut kon gespeel het, wat hardop tjank in die swembadgang van Game is selfs vir die bes opgeleide ‘siekoeritie’ een te veel, en hy blaas die aftog en op sy hakke is my Ingelse nemesis.

 

Ek vee my trane af en gee pad, en as ek by my kar kom besef ek ek het nooit vir die swembadborsel betaal nie…

 

Ek sal maar more terugggaan en betaal. Dis wat John Wayne sou gedoen het.

 

En ter afsluiting…

 

I’m writing this in English in the vain hope that the bra-less lady in the brown t-shirt might get to read this somehow…

 

If you don’t want me to look at your tits, don’t go shopping in a tight t-shirt without a bra!

Enetjie vir Zeppie (En al die ander mense wat gereeld langpad ry…)

Oktober 22, 2009 in Sonder kategorie

Hierdie is ‘n uitsonderlike manier om vriende te maak, geselsies aan te knoop en die gebroedsel oneindig geamuseerd te hou. Nee nie Lego, Steve of drugs nie… Maar as mens op jou kar se enjin kook sal jy nooit alleen wees nie, en jou kinders sal nooit vra of ons al daar is nie. Nee! Hulle sal vra, is die kos al gaar?

Vat lekker dik aluminiumfoelie en sit ‘n stuk op jou kombuistafel, of jou kar se enjinkap. Vat nou genoeg kaasworsies, of russians en sit diet in die middel van die foelie. Vou dit dig toe en maak seker niks steek uit nie. Vat nou nog ‘n stuk foelie en draai dit ook stewig om jou pakkie. Jou worsies is nou ordentlik verseel.

Soek nou ‘n plek op jou voertuig se enjin, weg van waaierbande, kabels wat beweeg ensovoorts. Sit jou pakkie met worsies op die geskikste plek op die enjin en indien nodig maak hom vas met binddraad. (Nie ‘cable ties’ nie, hulle smelt!)

Nou vat jy die langpad, en as jy die lekker geure van onder jou enjinkap uit begin ruik, soek aftrek plek en maak jou enjinkap oop. Trek handskoene aan en haal die pakkie uit sy leplek uit. Maak oop, en eet net so, of sit in worsbroodjies en dan smul jy te heerlik.

As daar ander mense in die omtrek is gaan hulle verseker naderstaan om uit te vind wat aangaan. Sien! Dadelik nuwe vriende…

En as almla lekker geeet het, haal jy nog ‘n pakkie uit die koelsak en maak hom vas op sy leplek in die enjin. Nou speel jy raai-raai met die gebroedsel. Ruik en raai wat’s in die pakkie… Te lekker.

FAQ’s

Hoe lank vat dit? Hang af van jou enjin maar gewoonlik so 30 min tot ‘n uur.

Gaan die kos nie na petrol of rook ruik en proe nie? Nie as jou pakkie lekker dig toegedraai is nie.

Wat anders kan ek nog op my enjin gaar maak? Ek het al van Pta na Bloemfontein ‘n hele hoender gebak.

Maar jy lieg moes nou? My pa was ‘n predikant. Ek sal mos nooit lieg oor iets so belangrik nie!

Laat weet as iemand anders al so iets gedoen het, of DIE een probeer het. Ek sal graag wedervaringe oor enjin kook wil uitruil.

Groetnis, tot volgende keer.

Plankie 

Hong Kong, Sjina en verder (4)

Oktober 8, 2009 in Sonder kategorie

Pattaya: Dag een.

 

Pattayia is ‘n vakansiedorp 120 kilo’s van Bangkok af. Strat hou gereeld daar vakansie en hy en Dwayne ken die plek goed. Ons pak op in Bangkok en stoor ons bagasie by die hotel. Dan’s ons weer op die lugtrein na MBK toe. Ons kry flitse, koplampe en ‘n nagsig apparaat (night sight) Strat koop ‘n goedkoop selfoon vir ‘n kroegmeisie in Pattaya vir wie hy een belowe het. Ons eet, loop rond en spandeer weer tyd in die internetkafee, nog steeds op soek na goedkoper kaartjies na Sjina. Ek raak ongeduldig maar ons kan nie pad vat Pattaya toe nie want ons wag vir Joi.

 

Uiteindelik is die bussie wat ons gehuur het by die hotel, Dwayne en Joi is ook daar en ons pak en ry. Die bestuurder van die Toyota Quantum weet waarheen om te gaan en ons los hom dat hy ry. Strat sit net agter die bestuurder, dan Dwayne en Joi en ek sit heel agter. Dis ‘n luukse bussie met leersitplekke en individuele lugversorging. Die enigste probleem is dat ek op die agteras sit. Ek voel elke knikkie en elke stamp. My aambeie sit naderhand soos pampoentjies in my keel…

 

Na omtrent ‘n uur is ons in Pattaya en ons stap by Sam Maguire’s in. Dis ‘n klein losieshuisie wat jy bereik deur in ‘n gangetjie af te stap. Daar is ‘n swembad en ‘n houttrap wat oplei na die vier verdiepings, elkeen met vier kamers. Kevin, die eienaar is ‘n Wallieser wat met ‘n plaaslike vrou getrou het. Hy’t die stukkie grond gekoop en sy hotelletjie opgerig. Die kamers is groot, skoon en gemaklik.

 

Voor die hotelletjie is ‘n reeks kroee. En van die kroee behoort aan ‘n ander Brit, Stephen, ook met ‘n plaaslike meisie getroud. Strat deel geskenke uit. Springbok vlae vir die kroeg, Springbok serpe vir die vrouens en pette ens vir die ander personeel. Daar word gesels, oor en weer onderhandel en dan huur ons drie bromponies, met valhelms en vat die pad. Ek begin nou gewoond raak daaraan om tienuur die aand in vreemde dorpe aan te kom en dan uit te gaan. Ons vleg deur die strate en stop vir brandstof.

 

By ‘n vrou met ‘n straatstalletjie langs die pad koop ons whiskey bottels met petrol in. Strat en Dwayne verseker my dis die goedkoopste manier van brandstof koop. Ek gooi twee bottels Johnny Walker en een bottel Jack in my skoeter en dan’s ek weer reg om te ry. Ons vleg weer deur die besige strate en parkeer naby die waterfront.

 

Ons sluit ons helms in die fietsies toe en begin stap. Ek en Strat stap voor en Dwayne en Joi volg. In Walking Street – waar mens die tyd van die aand net mag loop – is daar klub op klub, kafee op kafee en meisies en ladyboys oral. Daar is ook ‘n magdom Russe. Meeste plekke se spyskaarte is in Thai, Engels en Russies. Baie van die jong mans se hare is pynlik kort geskeer, soos wat mens net in die weermag sien. Oral sien jy ou Westerse mans met jong Thai meisies of Thai seuns…

 

Ons plak ons neer by ‘n kroeg waar daar harde musiek is – Strat se keuse – en hou die ‘passing parade’ dop. Daar is ‘n Thai dwerg met ‘n Mohican haarstyl wat hemploos op maat van die musiek rondspring. Mense gooi geld in sy hoed en hy dans! Later word sy plek ingeneem deur ‘n paar seuns in swart, met skeefgedraaide pette, wat ‘breakdancing’ doen. Hulle doen nie so goed soos die dwerg nie.

 

Daar is ‘n klein dogterjie, wat nie ouer as vyf of ses kan wees nie wat blomme verkoop. ‘n Groot neger kom die straat af. Hy’s ‘n kragapie met spiere op spiere. Amerikaner of Nigerier, dis nie moontlik om te se nie. Die klein meisietjie loop voor hom in en stop hom met ‘n klein handjie teen die bo-been. Hy kyk verbaas na haar, amper soos Goliat na Dawid moes gekyk het. Hy skud sy kop nors en probeer verby haar loop. Die meisietjie is egter nie so maklik om af te skud nie. Sy gaan staan weer voor hom en druk haar hand teen sy been. Nou’s die man ietwat gegooi. Hy probeer om haar loop, maar die keer stop sy hom deur haar klein handjie direk in sy geweerkabinet in te druk. Die man snak na sy asem, nes Goliat moes gedoen het toe die klip hom tussen die oe tref. Hy wil-wil die kleintjie omklap, maar besef dan hy word deur die toeristepolisie dopgehou. Hy krap ‘n paar note uit sy sak en gee dit vir die meisietjie. Sy tel die geld en gee dan vir hom haar hele bos blomme voor sy met ‘n groot glimlag weghardloop. Die blomkoper staan verward rond met die bos blomme in sy hand. Dan loop ‘n ladyboy hom by en haak by hom in. Sy aand begin vinnig afdraaende loop… En dan haak ‘n tweede ladyboy by hom in en druk haar tong in sy oor. Die arme man…

 

Die Thai Toeristepolisie is oral. Hulle word opgemaak deur polisiemanne van regoor die wereld. ‘n SA polisieman kan byvoorbeld na hulle toe kom en sy dienste aanbied. Hulle stel hom vir ‘n maand aan, gee hom ‘n uniform met die SA vlag langs sy naam. Hy kry nie salaris nie, maar hy bly verniet, eet verniet en kry boonop S&T. Al wat hy moet doen is om elke aand diens te doen totdat die toeriste gaan slaap. Indien enige Suid Afrikaner in sy wyk moeilikheid optel, moet hy help. Indien ‘n SA burger ‘n misdryf sou pleeg, sal hy ook gevra word om die arrestasie te doen. Ek sien Britse, Skotse, Spaanse en Russiese Toeristepolisie, maar geen SA vlag nie. Strat se hy het al SA polisielede daar gesien, maar hulle is maar dun gesaai. Hierdie geregsdienaars bewaar nie net die vrede nie, hulle doen ook ander goed.

 

Elke toeris wat in Thailand aankom word op ‘n sentrale databasis geregistreer. Sodra jy by ‘n hotel of gastehuis inboek moet die personeel jou registreer. Die polisie kan dan dadelik bepaal waar jy woon as hulle weet wie jy is. Dronk of verdwaalde toeriste kan by die toeristepolisie aanklop en hulle sal by hulle woning besorg word. Dis ‘n stelsel wat goed werk en met al die drinkende massas sien ek nie een insident nie. Die mense het ook lede wat nie in uniform is nie, wat deur die klubs beweeg en soek na moeilikheidmakers.

 

Magtag, maar ek hou van Thailand. More gaan ons die plek met ons skoeters platry. Ek kan nie wag nie.

 

Pattayia: Dag twee.

 

By ons in Namakwaland kan die manne prakseer met ‘n donkie. Enige ding kan reggemaak, geskuif of rondgedra word, solank jy ‘n donkie het. Hier in Pattaya doen hulle dieselfde, maar net met ‘n skoeter.

 

Die klein 125 cc skoeterkies is oral. Meesal Yamaha, maar darem so nou en dan ‘n Honda ook. Suzuki’s is min te sien. Hulle ry enorme vragte op die motorfietsies aan en jy sien gereeld meer as twee mense op so ‘n fiets. Gister sien ek drie jong meisies agtermekaar op een fiets en hulle ry! Jy sien ook families wat so saam, saam op ‘n fiets ry. Pa bestuur en tussen sy bene staan Kleinboet. Agter hom sit Ma, wat vir Baba en ‘n paar inkopiesakke vashou en agter haar sit Kleinsus, rustig en sonder vrees. Dis VYF mense op ‘n 125cc skoeter! Ongelooflik.

 

Die ander ding wat hulle hier doen is om syspanne aan die skoeterkies vas te maak. Die ‘sidecar’ se derde wiel het ‘n paar fris skokbrekers aan en dan kan hulle die kontrepsie gebruik vir die vervoer van enige iets. Dit kan ook ‘n mobiele winkel word vir kos, cd’s, skoene, klere… Noem dit en hulle doen dit. Daar is een eksentrieke jafel wat sy skoeter en syspan in ‘n reuse vermaaksentrum verander het. Hy ry die strate vol terwyl musiek uit sy voertuig bler. Hy dra cowboyklere en sing saam oor ‘n mikrofoon wat aan die karaoke stelsel in sy fiets gekoppel is.

 

‘n Paar jong skoolmeisies het so ‘n fiets waarmee hulle rondry en ‘n Thai lekkerny verkoop. Rys en piesang word gemeng en in ‘n worsievorm gerol. Dan draai hulle dit toe en rol dit op in ‘n paar piesang blare. Die spulletjie word nou op ‘n vuur gebraai en dan wag jy tot dit afkoel voor jy die piesangblare afhaal en die piesangrys worsie eet. Heerlik! Dit proe so bietjie soos mielipap aanbrandsels wat baie suiker en kondensmelk op het.

 

Ander ouens het ‘n gasbraaier op die ding en hulle verkoop sosaties en gebraaide worsies. Dis ongelooflik wat hulle alles op so ‘n syspan kan doen. Een ou wat gister by my verby is het ‘n suk of ses mense op sy syspan en hy ry taxi! Mens se bek hang oop.

 

Ons vat ons skoeters en ry teen die kus op. Joi kom nie saam nie, sy kuier by haar suster wat van Nieu Zeeland af hier kuier saam met haar man Eric. Eric is ‘n veel-geskeide Nieu Zeelander wat die Thai meisie op vakansie ontmoet het en toe met haar getrou het. Hy besit ‘n spul taxi’s in Wellington en is duidelik versot op sy mooi jong Thai vrou.

 

Eers doen ons by ‘n visserhawe aan waar die visstermanne besig is om hulle bote te was en nette te versorg. Die bote kom van oraloor en almal het veelkleurige linte voor aan om geluk en veiligheid te verseker. Van die matrose slaap in hangmatte op die dek en binne in die skuite. Dis eng en beknop. Ek sal nie inpas nie.

 

Daarna vat ons weer die pad en druk verder teen die kus op. Ons eet by ‘n pragtige restaurant wat op ‘n pont in die see le. Daar is net Thais in die plek en ons sukkel om reg te kom, totdat hulle vir ons ‘n spyskaart met prentjies bring. Dan kan ons wys na wat ons wil eet en ek kies ‘n vissop. Strat en Dwayne eet rys en hoender. Die soppie brand my dat ek brul, maar brand darem ook al die plaak van my tande af.

 

Hierna besoek on Nong Nooch. Dis die grootste botaniese tuin in die wereld en beslaan ongeveer 1000 hektaar. Op die terrein het hulle 24 troppe olifante wat almal werk vir hulle geld.

 

Ons gaan kyk na ‘n opvoering van tradisionele Thai dans en toneel. Die meisies is mooi en fyn en die olifante in die oorlogtoneel is briljant. Daarna gaan ons na die olifantkonsert kyk. Olifante gooi veerpyltjies na balonne, speel basketbal en sokker en trap enorme driewielfietse. Na elke item moet ons hulle voer. Klein seuntjies en dogtertjies loop rond en verkoop piesangs wat ons dan aan die olifante aanbied.

 

Na die spulletjie loop ons deur die tuine. Die eienaars het loopvlakke in die lug gebou sodat mens die tuin uit die lug uit kan sien. Dis enorm en asemrowend. Jy kan ook met ‘n oilifant deur die tuin toer of met ‘n toerbussie. Ons stap.

 

So kom ons op die eienaar se versameling motors af. Tydren Subaru’s en Lancers, twee Mini’s, ‘n Ford GT40, ‘n Shelby Mustang, Hummer H2 en H3, ‘n polisie Lamborghini, Lotus Elise, Exige, en Europa en ‘n Smart wat gesny is vir resies. Daar is ‘n Ariel Atom, verskeie veldvoertuie en selfs ‘n Toyota Hi-Lux Bigfoot. Die hele spul word in ‘n drieverdieping parkeer garage gehuisves. Asemrowend.

 

Na Nong Nooch ry ons huistoe en stort ,voor Stephen, die eienaar van die kroegie voor ons hotel, ons oplaai en na Molly Malone’s toe vat. Dis ‘n Ierse kroeg waar hulle Guinness verkoop en rugby uitsaai!

 

Ons is daar saam met Joi, Joi se sussie en Eric, die Nieu Zeelandse taxi eienaar. Ons skree en raas. Die Ausies blameer die ref en se die Sringbokke skop die game dood. Suur druiwe. Ons wen gemaklik en dan gaan sit ons weer by ‘n kafee en kyk na die mense wat verbyloop. Die wedstryd het 10uur Thaityd begin en teen die tyd wat Stephen ons by die hotel aflaai is dit al 3uur. Dis nog warm genoeg om te swem en tot groot konsternasie van die nagwag, val ek en Strat in die swembad in voor ons gaan slaap.

 

Pattaya is heerlik en goedkoop. Ek geniet my skoeterkie vreeslik en aangesien dit naweek is kuier ons lekker. Maar Maandag moet ons plan maak om in Sjina uit te kom. Ons het goeie hoop dat ons by Yamaha se fabriek of by Renli en Apollo ons resiesvoertuie gaan kry. Hou duim vas. Persoonlik voel ek, ek kan nie wag nie.

 

Sondag in Pattaya

 

Dis Sondag. Ek en Dwayne bestyg die skoeters en ry hawe toe. Strat bly agter om somme te doen want ons planne is besig om skeef te loop. Joi slaap.

 

Ons klim op ‘n veerboot en ry Coral Island toe. Dit kos ons 20 Baht per persoon. (Daar is 5 Baht in die Rand) Op die eiland huur ons een skoeter en met Dwayne voorop ry ons die eilandjie in ‘n japtrap plat. Daar is vier strande en veral die Russe hang hier uit in hulle dosyne. Jy ken hulle maklik uit. Hulle is of kreefrooi verbrand deur die son of hulle is neutbruin. Die meisies is nie eintlik mooi nie en die mans amper dronk van al die vodka wat hulle soos koeldrank drink.

 

Op die eiland kry on die eerste keer met monsoenreen te doen. Dit sak in ‘n digte gordyn uit sonder enige waarskuwing, en dan, net soos dit begin het, hou dit op. Ek en Dwayne is papnat. Ons vat die skoeterkie terug en koop sulke snaakse koekies gevul met pampoen, of hoender of vark of bees. Die koekies lyk soos brooddeeg wat klaar gerys het, en dit voel ook so. Ek wonder of ons rou kos gekry het, maar Dwayne verseker my dis hoe dit moet wees.

 

Teen die verwagting in is die koekies baie lekker, en ons koop nog ‘n stel. Dan gaan klim ons op die veerboot en wag om te ry. Hulle laai die skippie en as daar nie eers meer staanplek is nie vertrek ons terug Pattaya toe. Ek gaan stort en Dwayne gaan haal vir Joi wat by haar sussie kuier. Joi se regte naam is Rampay Zimunkot. Ek hou maar by Joi.

 

Ons vat die strate want alles is toe en ons kan nie kaartjies bespreek of enige besigheidsoproepe maak nie. Ons eindig in ‘n straatkroeg wat so groot is soos ‘n vliegtuigloods. Binne in is rye en rye perdeskoen kroegtoonbanke, elkeen beman met ‘n paar dansers, kroegmeisies en een kroegman. Ons kry stoele reg voor op die sypaadjie wat na die straat gedraai is. Ek en Strat neem plaas terwyl Dwayne en Joi straat af verdwyn. Na ‘n ruk sluit Stephen by ons aan. (Dis die Ier by wie ons, ons skoeterkies huur.) So sit ons die aand om en kyk na die massas wat verbyloop.

 

Prostitusie is onwettig in Thailand en tog het hulle ‘n hele toerisme bedryf opgebou wat alles op een of ander manier aan die seksindustrie gekoppel is. Kroegmeisies lok mans die kroee in en probeer hulle kry om soveel drankies as moontlik te koop. Daarop verdien hulle kommissie. Maar as ‘n man nou die meisie wou huistoe vat voor toemaaktyd, moet sy ‘n boete aan die kroeg betaal. Dit wissel van 250 Baht tot 500 Baht. Die man moet sy eie fooi met die meisie onderhandel vir haar dienste. Dit kan wissel van 1000 Baht tot ‘n paar skoene of ‘n rok of skoolfonds vir haar kind. Die verhouding van mans tot vrouens in Pattaya is ongeveer 14 vrouens tot een man.

 

Oral in die strate sien jy ou mans met jong meisies. Baie van hulle trou met die Thai meisie en bly. In elke Farang (uitlander) tydskrif of koerant wat ek hier lees is daar artikels oor die probleme van visums, trou, skei, kinders kry ens. indien jy met ‘n Thai vrou sou trou. Daar is ook verskeie artikels oor die etiket wat van ‘n Farang verwag word in die geselskap van ‘n Thai meisie. Al die Farangs met wie ek praat wat met Thai vrouens getrou het vertel dieseflde storie. Hy kon sy vrou in Engeland, of Duitsland of Amerika of waarookal nie meer vat nie, toe los hy haar en kom Pattaya toe. In Pattaya ontmoet hy gou-gou (of dalk nie so gou-gou nie) ‘n vrou wat bereid is om sy twak op te vreet. Hy trou of trek by haar in, kry werk, begin ‘n besigheid of leef op sy pensioen. Die meisie is maar te bly want sy kry ‘n ou man wie sy vir ‘n paar jaar moet oppas. Sy moet maak of sy van krieket, sokker en rugby hou, vrede maak met sy drink- en poepgewoontes, leer om sy tipe kos te kook, en as hy doodgaan erf sy.

 

Hy kry ‘n liefdevolle en pragtige lewensmaat vir sy laaste jare en sy kry haar toekoms verseker. Bargain!

 

As mens egter verder dink se dit heelwat oor die verhouding tussen man en vrou in die Westerse samelewing en van mans en vrouens se wedersyde verwagtinge van die huwelik.

 

Ek verkyk my aan die paartjies. Stokou omies wat met kieries loop het ‘n jong bokkie aan die arm wat diep in sy oe kyk en hom laat verstaan dat hy die beste ding is wat nog ooit met haar gebeur het. Die ironie is… Hy is heelwaarskynlik die beste ding wat ooit met haar gebeur het, want meeste van die meisies kom van klein dorpies af waar die lewensverwagting omtrent 50 jaar oud is. Hulle is brandarm en het geen vooruitsigte op ‘n beter lewe nie. So… As ‘n ou toppie haar ‘n beter lewe bied vat sy dit. Al wat sy hoef te doen is om sy twak op te vreet tot hy omkap, dan is sy in Thai terme ‘n welaf vrou.

 

In Boystown (nie soos die een by ons nie) gebeur dieselfde ding maar dis die keer net ou ballies en jong Thai mans…

 

Ek raak nou uitgekuier en ek mis my mense. Daar was slegte nuus uit SA uit en ek wil by die huis kom om ‘n skouer aan te bied.

 

Sjina begin ook vir my oor die horison verdwyn. Ons kyk tv nuus en sien daar is tifone, siklone, orkane en allerhande ander weergoggas oor die Suid Sjina see. Ons gaan nie daar kan invlieg nie en as ons trein ry mis ek my vlug huistoe. En dis alles te danke aan daai poepol in Indonesie wat nie sy woord gestand gedoen het nie.

 

Ons wag nou maar vir die weer, die Internet en die vliegtuie. Met tyd kom raad…

 

Pattaya, Sivarnabhumi Lughawe, Macau lughawe, Hong Kong. OR Tambo!

 

Ek het ‘n ding vir tale. Na twee weke in Italie kon ek ‘n basiese gesprek in Italiaans voer en redelik baie verstaan. Die subtiliteite ontgaan mens natuurlik. Dieselfde het in Mosambiek gebeur en in Engeland verstaan ek sommer alles wat hulle se… Maar Thai is taai. Deel van die probleem is die skrif wat die Thai’s gebruik. Dit lyk meer soos staafkode (barcode) as skrif. Dit is dus baie moeilik om ‘n woord wat jy hoor te vereenselwig met iets wat jy geskryf sien. Maar hier is ‘n lessie in Thai…

 

Indien jy ‘n man aanspreek gebruik jy “krap” en ‘n vrou is “ka”. M.a.w. ‘Hallo’ sal wees ‘sawadee ka’ vir ‘n vrou en ‘sawadee krap’ vir ‘n man. ‘Dankie’ is ‘khorb khoen’ en totsiens is weer ‘sawadee’. ‘ n Verdere komplikasie is dat baie woorde dieselfde gespel word maar anders uitgespreek word en dan iets heeltemal anders beteken. So, byvoorbeeld, is die woord vir ‘hond’ en ‘perd’ dieselfde maar dit word anders uitgespreek. (En ek gaan nie eers probeer om verder te verduidelik nie. Dit het my ontrent 5 minute gevat voor ek dit kon regkry om die twee diere se name reg uit te spreek!) “Sawadee” kan ook gebruik word vir ‘dankie’ en ‘asseblief’. Mens sit jou hande se palms teen mekaar, vingers na boontoe en maak so ‘n effense kopbuigingkie. “Sawadee!” Jou beloning isaltyd ‘n bree spontane glimlag van die Thai’s se kant af.

 

Name is net so moeilik en baie Thai’s gebruik Westerse name omdat ons dit darem kan uitspreek. Hier’s ‘n lekker naam vir julle… “Tittipron Pramparrasat”. Die kroegmeisies in die Polo Bar se name is Vritaporn, Kiep en Ohn. Dan het ek ook ‘n Dha leer ken en my bynaam was Poempoi, wat losweg “Pokkels” beteken.

 

Maar taalprobleme ten spyt, bly Thailand ‘n wonderlike plek met baie vriendelike mense en heerlike weer.

 

Op my laaste dag daar vier die land fees want dit is die koningen van Thailand se verjaarsdag. Strate word afgesper, skoolorkeste maak musiek, daar is trompoppies in tradisionele Thai drag, akrobate, optogte en baie kos. Ek verkyk my aan al die kleure en geure en proe aan goed wat ek nog nooit vantevore gesien het nie. Krieklarwes proe soos kaiings, ‘dragonfruit’ proe soos turksvye en alles , maar alles word bedien met ‘n sousie wat in ‘n meerder of mindere mate brand.

 

Kos is ook die sentrum van Thai sosiale lewe. Hulle sal jou nooi om saam te eet selfs al het hulle nie genoeg vir hulleself nie. Niemand daag op by ‘n geleentheid sonder kos nie. Tydens die koningen se verjaardag stap ek op die strand en kyk hoe Thai families rondom ‘n menigte bakkies kos sit en kuier. As jy lus is vir iets leun jy bloot oor en help jouself. Geliefdes voer mekaar oor en weer en alles is vrolik. En as die kos opraak kan jy maar seker wees iemand het nog ‘n bakkie met kos (en ‘n brandsousie!) iewers.

 

Drie-uur in die oggend bestel Joi kos van ‘n kosskoeter af, en sy en die kroegmeisies sit heerlik en smul. Wanneer sy haar oe oopmaak, of dit nou tienuur, elfuur of twaalfuur is, word daar dadelik aan gister se oorskiet geeet en dan moet daar weer nuut gekoop word. En niemand is vet nie!

 

Een van die moeilikste goed om te doen is om Thai’s se ouderdomme te skat. Een van die kroegmeisies wat ek raakloop lyk of sy twaalf kan wees, en as ‘n westerse polisieman haar vir haar identifikasie vra, ruk sy dit uit en bewys sy is eintlik 21! (Meisies mag nie in kroee werk voor hulle twintig is nie)

 

Ek ry vir oulaas ‘n draai deur Pattaya en neem ‘n paar laaste foto’s. Dan gaan ek terug hotel toe en pak. Ons het finaal uit Sjina gehoor dat ons eers na die naweek daar sal kan inkom, maar ek moet huistoe want ek moet repeteer vir Aardklop, en in my werk kan ek nie my boetie of pel kry om vir my in te staan nie.

 

Ek en Strat vat vroegoggend die pad Bangkok toe en hy groet my op die lughawe. Hy en Dwayne sal sonder my Sjina toe, en hopelik alles vasmaak wat vasgemaak moet word.

 

Asia Air vlieg my tot in Macau, waar ek amper handgemaan raak met ‘n taxi bestuurder wat ‘nie kleingeld het nie’. As ek hom voor die bors gryp, ontdek hy skielik ‘n hele sak vol kleingeld en ek vat dit en loop die veerboot stasie in. Die veerboot Hong Kong toe is amper leeg en sowat ‘n uur later meer ons vas.

 

Ek gooi my sakke oor die skouer en stryk aan na die sentrale stasie toe. Dis nie ver nie, net so ‘n drie of vier blokke, maar dis warm! En bedompig… Teen die tyd dat ek by die sentrale stasie aankom is ek papnat gesweet. Dit lyk of ek deur die reen moes stap. Ek koop ‘n treinkaartjie lughawe toe en boek my bagasie by Cathay Pacific se toonbank op die stasie in. Ek kry ‘n sitplek op die vliegtuig wat teen die paadjie is, en as my sak in die tonnel af verdwyn vat ek weer Kong Kong se strate.

 

Voor my loop ‘n Australier met ‘n t-hemp wat se: “No, I don’t want a f*cking, suit, massage or fake watch!” Ek lag net want op elke hoek en draai is daar ‘n afstammeling van Ismael wat ‘n snyerspak of horlosie aan jou wil verkoop. En dan is daar ook die ou tannies wat met helderkleurige plakkate probeer om jou in te lok vir ‘n massering. Die Australier se hemp help niks. Hy word net soveel soos ek gepla. Naderhand plak ek ‘n kyk op my gesig wat se: “Probeer net, en ek bliksem jou…” Sommige dinge is universeel en ek word baie minder gepla. (Partykeer help dit om akteur te wees!)

 

Ek kry Van der Merwe se kamerawinkel en neem ‘n paar fotos. Hy is ‘n Hong Kong Sjinees met ‘n voorliefde vir Suid Afrika en Suid Afrikaners en ‘n MOET as jy in Hong Kong is.

 

Na ‘n paar ure se doellose ronddwaal en rondrits op die moltrein, spring ek op die vliegtuig lughawe toe. Ek eets iets en stap aan boord. Langs my sit ‘n Suid Afrikaanse bosbouer wat konsultasiewerk in Sjina en Vietnam gaan doen het. Die res van die vlug is propvol Vietnamese vissermanne wat op pad Durban en Kaapstad toe is om vermoedelik op visserskepe te gaan oorneem as bemanning. Hulle praat nie Engels, Kantonees of Mandaryn nie, en die arme lugwaardinne het hulle hande vol.

 

Ek en my reisgenoot gesels kopstukke en ontdek sommer gou-gou ons het ‘n gesamentlike vriend. Klein wereldjie!

 

Dan, amper soos die monsoenreen, is dit verby. Drie weke in die vreemde en my mense wag vir my. Ek bars amper in trane uit want ek is bly om hulle te sien en ek is vrek bly om by die huis te wees.

 

Maar eendag gaan ek terug, en dan GAAN ek Sjina maak…

 

Ek kan nie wag nie!

 

 

Honk Kong Sjina en verder (3)

Oktober 7, 2009 in Sonder kategorie

Bangkok: Dag een.

 

Trio laai ons oudergewoonte laat op. Hy laai sy vrou by ‘n koopsentrum af om inkopies te doen. Sy groet vriendelik en verdwyn in die malende massa. Ons weet nog steeds nie wat haar naam is nie.

 

By die lughawe groet ons oor en weer en dan gaan ons in met ons bagasie. Ons vlieg Jet Star – ‘n redery wat ‘n maand vantevore twee vliegtuie kort na mekaar verloor het – g’n wonder hulle is die goedkoopste nie.

 

Na ‘n kort wip land ons in Singapoer. Dis ‘n reuse koopsentrum met alles wat ‘n mens se hart maar kan begeer. Ons gaan soomloos deur paspoort beheer en dwaal rond. Daar is per slot van rekening twee ure om dood te maak.

 

Die plek is pynlik skoon en netjies. (Kougom is onwetting in Singapoer…) Ons eet iets, koop ‘n geskenkie of twee en gaan staan in die tou vir ons vlug. Hulle vra ons beleefd om eenkant toe te staan terwyl hulle seker maak ons bagasie is wel oorgedra van die Jakarta vlug af.

 

Voor ons is ‘n Indier familie. Pa, met ‘n blou tulband op, ma, met ‘n sari, en verskeie kinders, ook met sari’s. Van die kinders is op die ouers se paspoort. Die man wat ons kaartjies knip vra oor die kinders se paspoorte. Pa, met die tulband, is dadelik op sy perdjie. Hy se dis ongehoord om kinders vir paspoorte te vra. Die man met die kaartjies probeer paai, maar pa is kwaad. Hy se hy het nog nooit gesien dat mense wat slegs kaartjies moet knip vir kinders se pasoorte vra nie. Kaartjieman vra die gesin om eenkant toe te staan terwyl die probleem uitgesorteer kan word. Ma, met die sari, tree die kryt binne. Sy verkondig luidkeels dat sy in die tou staan, dis haar reg om in die tou te staan en sy gaan nie beweeg nie. Pa pie ook ‘n straaltjie by.

 

Dwayne bied aan om te help. Hy se hy’s ‘n prokureur. Almal ignoreer hom.

 

Een van die Singapoeriaane vra of ons asseblief kan aanbeweeg. Nou is die gort gaar. Ma, met die sari, vlieg hom in. Sy se hulle weet goed alle Singapoeriaane is super-rassiste en sy gaan haar nie laat rondorder nie. Die Singapoeriaan, ‘n middeljarige man met ‘n bril en ‘n briewetas, mompel iets terug. Ma, met die sari, se as hy dronk is, moet hy liewer uit die gesprek uitbly.

 

Intussen is pa aan die ander kant van die toonbank en hy dring aan om die bestuurder te sien. In sy drif hamer hy op die kant van die toonbank en maak sy hand seer. Dis ‘n komiese oomblik en hy wil ons iets toesnou, maar dan tel hy ons en piek weer op die klein amptenaartjie agter die toonbank.

 

Ma, met die sari, is steeds besig om aan almal te verduidilk oor die rassisme in Singapoer en dit raak te veel vir ons held met die bril en die briewetas. Hy se hardop, eintlik luidkeels, dat Singapoer inderdaad rassisties is om Indiers, soos hulle, daar uit te hou. Dis ‘n ‘Kodak Moment’…

 

Ek staan reg om te keer as ma, met die sari, die man met die bril bespring, maar haar dogters gryp aan die sari en klou vas. Pa beveel stentories iets van die ander kant af, terwyl hy nog steeds sy hand vryf. Ma skraap die kinders bymekaar en stoom na die inloopgang van die vliegtuig. Pa vergeet van sy seer hand en hamer weer op die reling, terwyl hy aandring daarop om die baas te sien. Weer moet hy ophou hamer want hy beseer homself.

 

Dwayne beid aan om die ou se tulband af te ruk om hom iets anders te gee om oor te bekommer. Ek en Strat keer en beur hom die gang af in die rigting van die vliegtuig. As ons die tonnel ingaan hoor ons hoe hy steeds daarop aandring om die baas te sien oor die verregaande vermetelheid van die kaartjieman.

 

In die vliegtuig sit ma en stoom met haar kinders langs en agter haar. Pa se sitplek is oop langs die paadjie. Ons man met die bril kry ‘n sitplek langs haar maar aan die ander kant van die gangetjie. Onmiddelik begin hulle weer beledigings na mekaar toe slinger. Dis duidelik dat dit nie brilman se forte is nie, maar hy doen sy bes. Ma, met die sari, het geen inhibisies om hom en al sy stad- en geesgenote luidkeels te beledig nie. Die koffieknaap is goed opgelei en hy kyk vinnig na sy naamlys en vra brilman of hy niewers anders wil sit. Brilman sien sy kans, knik dankbaar en vlug na agter in die vliegtuig toe, terwyl ma, met die sari, nog steeds een of twee beledigings agterna slinger.

 

Dwayne loop verby haar op pad na ons sitplekke, agter in die vliegtuig, toe. Hy gesels vriendelik in Afrikaans met haar. Sy is so verbaas oor die aantreklike jong man wat so vriendelik met haar gesels, dat sy haar smoel net daar hou. Gelukkig het sy nie verstaan wat Dwayne vir haar gese het nie, en ek gaan dit ook nie herhaal nie… Dit was nie mooi nie.

 

Die res van die vlug sit angstig en wag vir pa, met die tulband. Ons wed onder mekaar of hulle hom gaan los en of hulle gaan wag. Dan kom pa, wasbleek onder die tulband in en gaan sit, soos dit hom betaam aan die hoof van sy gesin.

 

Twee ure later stryk ons by die nuwe Internasionale Sivarnabhumi Lughawe in Bangkok neer.

 

‘n Taxi laai ons op en ons is gou-gou op pad na die middestad en ons hotel – die Asian Hotel in Suriyaiya straat.

 

Bangkok is groot. En modern. BAIE GROOT. 12 miljoen inwoners bewoon ‘n gebied wat in ons taal van Delmas tot Krugersdorp sou strek en van Pretoria tot Vereeniging. Die stad word van krag voorsien deur vier kernkrag sentrales wat elkeen so groot is soos Koeberg. Daar is ‘n lugtrein wat die middestad bedien en teen Nuwejaar 2010 ook die nuwe lughawe sal bereik. Taxis is volop en goedkoop. Tuk-tuk’s loop die strate vol, maar die outjies is modern, kleurvol en goedversorg. Baie anders as Jakarta se afgeleefde noagmodelle. Hulle loop op gas en dis die eerste reuk wat jou tref as jy die strate betree.

 

Ons boek in, pak af en vat die strate. Die lugtrien vat ons na Sala Deang, ‘n versameling nou straatjies waar een nagklub op die ander ingeryg sit. Daar is ook ‘n enorme vlooimark en ek kan die pryse nie glo nie.

 

Op elke hoek word ons genooi na ‘n “ping-pong show” – meer daaroor later… Ons kry ‘n plek waar dit baie raas, gaan sit, bestel iets om te drink en kyk na die mense wat verbyloop. Die meisies in die kroeg se werk is om klante te kry om drank te koop. Hulle gebruik ‘n verskydenheid metodes om dit reg te kry.

 

Eers is hulle blatant en kom sit sommer op jou skoot. As jy se jy stel nie belang nie loop hulle, en die volgende klomp neem oor. Die meisies is nie so voor op die wa nie en hulle het ‘n tipe bordspel wat hulle met jou speel. As hulle wen, koop jy vir hulle koeldrank. Hulle wen altyd.

 

Daar is bedelaars, snoeperyverkopers en klein kindertjies wat skaam-skaam aan jou arm vat en vir jou ‘n roos te koop aanbied. Ek sien ook vir die eerste keer van Bangkok se berugte ‘ladyboys’. Dis jong mans wat hulleself soos vrouens aantrek en as prostitute werk. Meeste van hulle maak vrek lelike vrouens en hulle klante is te dronk om die verskil agter te kom. Maar een of twee dartel verby en dis net die groot voete en manlike gewrigte wat hulle weggee. Hulle sal skoonskip maak in Delmas en Ventersdorp…

 

In die kroeg is daar ‘n Russiese toergroep. Een van die vrouens, ‘n mooi blonde vrou met ‘n los wit rok aan, is boos want haar kerel vry te lekker na die Thai kroegmeisies. Na ‘n ruk tree van die ander vrouens in die groep vir haar in die bres en haar kerel willig, taamlik teesinnig, in om saam met haar huistoe te gaan.

 

Ons ry met ‘n tuk-tuk hotel toe en kom 3uur in die oggend daar aan.

 

“One night in bangkok makes a hard man humble…”

More werk ons.

 

Bangkok: Dag twee.

 

Ons spandeer die oggend in MBK en Computer City. MBK is ‘n groot koopsentrum onder ‘n kantoorblok. Die kantoorblok huisves ‘n creche, ‘n laerskool, ‘n hoerskool en ‘n universiteit. Die koopsentrum is ses verdiepings hoog en elke verdieping verkoop iets anders.

 

My slim foon – die een wat Neil Armstrong maan toe sou kon vat – is op die koffie. As jy hom aanskakel vorder hy net tot by die Nokia logo and gaan staan dan. Ek gee hom vir ‘n snotkop agter een van die toonbankies in die selfoonsaal en hy ondersoek die instrument. Dan vra hy my 400 Baht (omtrent R80) en spring aan die werk. Die foon koppel hy aan ‘n rekenaar en dan doen hy brommend ‘n paar dinge. Vyf minute later werk my foon weer, maar die MTN info is weg, sodat ek ‘n hele paar foonnommers verloor en ook die vermoe om sms’e te stuur. Maar die foon werk!

 

Ons gaan daarna na Computer City toe. Dis presies wat die naam se. ‘n Enorme gebou wat aan net een ding toegewy is – rekenaars. Ons dwaal vir ‘n paar uur deur die plek en koop en koop en koop – alles vir motorsport toepassings natuurlik.

 

Daarna spring ons weer in die lugtrein en gaan sit ons pakkies in ons hotel. Nou gryp ons ‘n tuk-tuk na die motor afdeling van Bangkok. Dis ‘n warboel straatjies vol winkeltjies en stalletjies wat kargoed verkoop. Ons kry HID ligte vir die motorfietse en dan loop ons per ongeluk ‘n windweerder (fairing) vir ‘n bromponie raak. Dwayne en Strat bekyk en bevoel die ding en koop dan. Hulle verduidelik dat alhoewel dit vir die Yamaha bromponie bedoel is, kan hulle dit op die quads maak pas. Strat gaan ‘n koolvesel weergawe van die windweerder maak wat sterk genoeg sal wees om die pas en straf te vat van die Dakar.

 

In Bangkok – en die hele Thailand – gaan hulle groot met die opgradering van hulle bromponies. Passtukke word aan die bakwerk van die motorfietse gesit om die vorm te verander. Helder kleure, kroom, koperwerk en ligte word aan die fietsies vasgemaak. Ek sien een fiets wat, soos ‘n tydren motor, ‘n hele rits ligte voor aan het, met ‘mag’ wiele, ‘n lang lugdraad met ‘n vlaggie aan en plakkers wat allerhande slagspreuke in Thai verkondig. Magtag!

 

Op pad terug hotel toe in die tuk-tuk vertel Strat dat die lugtrein groot betogings beroorsaak het toe hulle aankondig dat die ding die lughawe gaan bedien. Taxi bestuurders het in opstand gekom teen die trein aangesien hulle hulle besigheid – en werk – sou verloor. Klink bekend?

 

Die lugtrein is vol skoolkinders as ons weer die strate vat. Hulle dra uniforms wat bestaan uit wit hemde en broeke of rompe van verskillende kleure. Van die skole vereies dat leerlinge hulle name op die hempsakke borduur, ander weer het naamplaatjies. Die skole se name is goed soos: School no. 3, School no. 5 Sala Daeng District, School 7, ens. Seker makliker so as jy om en by 7 miljoen skoolkinders het…

 

Die lugtrien ry vinnig tussen die stasies en mense klim op en af. Ek verkyk my aan die meisies wat so klein, fyn en vriendelik is. Thailand is bekend as die “Glimlagnasie” en mens kan dit oraloor sien.

 

Ons gaan sit in ‘n Internetkafee en stuur e posse aan vriende en familie. Strat en Dwayne soek die goedkoopste vlugte Sjina toe. Dit blyk ‘n probleem te wees. Die kaartjies is peperduur en Sjina is groot! Ons moet drie plekke besoek. Twee van die plekke is redelik naby aan mekaar maar die ander een is heeltemal aan die anderkant van Sjina. Ons krap kop, probeer verskeie opsies en besluit uiteindelik om ‘n reisagent te nader.

 

Dis al laat, maar dis weer tyd vir Sala Deang. Die keer loop ons eers ‘n draai om na nog nuwe plekke te kyk wat ons nie die vorige aand gesien het nie. Oral staan mense wat jou nooi na “ping-pong show!”. Ons druk deur en eindig by ‘n restaurant waar ons heerlik eet. Ek weet nie wat ek eet nie, maar dit brand en dis heerlik.

 

Ons loop deur ‘n straatmark en land weer op by dieselfde plek waar ons die vorige aand was. Ons speel bordspeletjies saam met die meisies en kyk na die verbygaande massas. Dwayne het intussen ‘n Thai meisie wat hy op ‘n vorige besoek aan Thailand ontmoet het gebel. Sy daag op saam met ‘n vriendin en ons gesels heerlik. Dan vat Dwayne en sy vriendin, Joi die pad en ek en Strat gaan huistoe met ‘n tuk-tuk.

 

Die ping-pong show is ‘n ding wat eie is aan Bangkok. Meisies gebruik tafeltennesballe om mense te vermaak deur teikens raak te skiet ensovoorts. Hulle skiet ook veerpyltjies na ballonne. So ver klink dit redelik vervelig, en dit sou seker wees as jy nie geweet het hoe die meisies die tafeltennisballe en veerpyltjies beheer nie… Hulle doen dit deur lug deur die vaginale kanaal in te trek en dan uit te blaas.

 

Nou’t ek klaar gebloos en dis al wat ek oor “ping-pong shows’ gaan se.

Hong Kong, Sjina en verder (2)

Oktober 7, 2009 in Sonder kategorie

Macau.

 

Is ‘n terleurstelling… Dis soos Durban met casino’s. Dis bedompig, klein, en vaal. Van die lughawe af, as jy Oos kyk lyk dit selfs soos die Bluff, met olie rafinaderye en ‘n bebosde koppie.

 

Die rit van HK na Macau vat ‘n uur. Ons ry met ‘n veerboot wat aangedryf word deur twee Boeing enjins. Die tuig skeer oor die water met ‘n rustige wiegaksie wat jou bedrieg en laat dink jy ry stadig. Tot jy by die agterruit uitkyk, Water suile staan in groot boe agter die vaartuig en jy besef: Manne, die ding beweeg!

 

Na tien minute op see begin mense na agter hardloop. Ek dog eers daar is een of ander katastrofe voor in die boot, maar besef dan, aan die hand van die sakkies in die mense se hande, dat die beweging vir hulle te veel is. Katte skiet, is die doel van die oefening…

 

Party mense smeer Tiger Balm (‘n bietjie soos Deep Heat of Wintergreen) aan hulle slape. Ander plak goed agter hulle ore. Een vrou eet ‘n hardgekookte eier. Alles om die gevreesde seesiekte te besweer. Ek bestel ‘n bak noedles terwyl Strat en Dwayne ‘n mayonaise warmbrak eet. Ons is nie gepla met die seesiekte nie en al gou meer ons aan by Macau se veerboot stasie.

 

Die mense hier lyk subtiel anders. Macau (Van ‘O Ma Gau’ uit die oorspronklike Sjinees) was van 1550 tot 1999 ‘n Portuguese kolonie en die Meditireense invloed is duidelik te sien in die bou en die gesigte van die mense. In die ou deel van Macau is daar steeds geboue en strate wat netso uit een of ander Portugeuse dorp vervoer kon gewees het. Maar vir die res is dit Casino wereld. Al Las Vegas se groot name word hier verteenwoordeg, die MGM Grand, die Venetian, La Mirage en selfs the Suncity Group…

 

Ons is vroeg vir ons vlug na Jakarta en gryp ‘n gratis bus na die Venetian, nadat ons ons tasse teen $20 stuk laat stoor.

 

Die Venetian is ‘n binneshuise herskepping van Venesie – kompleet met gondels en singende gondeliers. Ons dwaal rond. My hart trek ‘n punt na die Azia Teater waar die Cirque Du Soleil optree, maar daar is net nie genoeg tyd nie.

 

‘n Wenk… Op die veerboothawe gryp ‘n beer ons en bied vir ons ‘n minibus aan na die lughawe toe. Hy begin met $800 vir die drie van ons. Laat val sy prys na $500 en toe na $250. Toe vra hy wat ons bereid is om te betaal… Ons loop na buite, klim op ‘n publieke bus en ry lughawe toe vir $8.50…

 

Na ons blitsbesoek aan Macau is dit weer op die bus en terug lughawe toe. Ons eet iets, stuur ‘n blits e pos of twee en hol vir die Viva Macau vlug.

 

Die Boeing is leeg… Die beeldskone porseleinpoppie wat in my gangetjie diens doen as lugwaardin se naam in “Icee” en haar houding dra dit uit…

Volgende stop, Jakarta! Of “Djok Djakarta” soos in die Leipoldt gedig… Ek kan nie wag nie…

 

Jakarta.

 

Ek gaan NOOIT weer oor verkeer kla nie. Ek belowe!

 

Jakarta lughawe lyk so bietjie soos ‘n versameling van Morula Sun geboue wat met hulle sinkplaat rondaweldakkies langs mekaar geplaas is. So ver ek kan sien het elke redery sy Morula Sunkompleks. Ons stap aan wal, probeer vir oulaas te vergeefs om ten minste ‘n glimlag uit Icee uit te kry en stap die gebou binne.

 

“Welcome to Indonesia. We have the death penalty for drug smuggling.”

 

Dis wat die helder teken bokant die ingang se. Ek begin onmiddelik bekommer oor my hoofpynpille, maar onderdruk dit dadelik as kinderagtig. Ons staan in ‘n lang tou en betaal vir ons visums – 20$US per persoon en dan gaan ons deur sekuriteit.

 

As ek ‘n doane beampte was sou ek my bagasie baie deeglik deursoek het. Ek het ‘n bokbaardjie en ‘n “flat-top” haarstyl wat my soos ‘n huursoldaat of mafia “hitman” laat lyk. Die mense glimlag egter vriendelik en vra my om my handbagasie deur die x-straal masjien te sit.

 

Veilig anderkant uit word ons deur Straddie se pel Trio ingewag. Hy’s ‘n aantreklike en vriendelike man met ‘n mooi glimlag. Hy’s van gemiddelde lengte en goed gebou. Hy dra khaki.

 

Trio wys ons dadelik hoe word dinge in Indonesie gedoen. Hy druk by die veiligheidswag verby en vat ons na ‘n kiosk waar hy vir ons blyplek beding in ‘n hotel. Dis ‘n hanetreetjie van die skougronde af en kos net 38$US per persoon per aand, vergeleke met die amper 200$US wat ons op die Internet gekry het.

 

Hy ry ‘n ou Isuzu stasiewa en ons pak in. Hy staan onwettig geparkeer voor die lughawe gebou, maar ‘n paar note in die polisieman se hand verseker dat ons kan ry sonder probleme. Dan begin die sports…

 

Eers sit ons vas. Soos in doodstil vas. Niks beweeg nie. Dan kom ‘n man met ‘n rooi handlig teen die ry karre afgestap. Hy waai die lig soos ‘n “light sabre” in Star Wars en skielik begin ons beweeg. Ons draai in ‘n bree dubbelbaan hoofweg in en ek koes. Net waar jy kyk is klein motorfietsies. 125Cc bromponies wat teen ‘n mal pas tussen die motors in en uit beweeg. Daar is verkeersligte maar meeste van hulle werk nie, en die wat wel werk word totaal geignoreer. As Trio ‘n gat sien in die stroom verkeer ry hy eenvoudig. Niemand druk toeters nie, en dit lyk of almal weet wanneer hulle moet ry en wanneer nie. Ons begin geboue langs die pad kry en dan is ons skielik in die miernes van ‘n stad. Daar is tuk-tuk taxi’s oral. So oud, dat hulle saam met Noag in die ark kon gewees het. En almal ry so vinnig as wat die verkeer hulle toelaat. Ons kom uiteindelik by die Golden Boutique Hotel aan. Dis ‘n kasarm met ‘n dak wat drie verdiepings bo die ingangsportaal uittroon. Oral is goud en sleg-nagemaakte Rennaisance skilderye. Daar is twee volgroote Dawid beelde (met vyeblare op die regte plekke) Griekse pilare hou die spul aanmekaar. Almal praat Engels maar dis moeilik om by die aksente verby te kom en te volg wat hulle nou eintlik bedoel.

 

Ons kamer is lekker groot, met twee driekwart beddens. ‘n Ekstra bed word vir Dwayne ingedra en dan vat Trio ons om sy vrou te gaan oplaai. Ons kom by die skougronde aan na nog ‘n mal rit deur die stad. ‘n Paar note verhoed dat die polisieman ons wegjaag van ons onwettige parkeerplek af.

 

Trio se vrou – ons word nooit aan haar voorgestel nie, en as ek haar naam vra lag se net – is ‘n klein vroutjie met ‘n bulhond gesiggie en klam haartjies. Sy klim in en ons ry.

 

Trio vat ons na ‘n restaurant toe waar hulle tradisionele seekos bedien. Ek bestel ‘n bier. Ons vis word binne ‘n japtrap voorgesit. Indonesiers eet met ‘n vurk en ‘n lepel. Ek hou ons gashere dop en maak hulle na. Die garnale sukkel maar die vis is maklik, en heerlik. Daar is allerhande bysouse wat jy na smaak oor jou kos gooi. Party is sag en soet en ander brand soos die hel. My Bintang bier word met ‘n glas propvol ys voorgesit. En omdat ek en Trio dadelik in ‘n kompetisie betrokke raak oor wie die warmste sous oor sy kos kan gooi, is die ysbier baie welkom. Seekat, garnale, vis, boontjiespruite en rys. En dan is daar nog ‘n ander groente wat sulke klein rooi boontjies in het… Dit brand dat dit vrek, maar ek hou uit en kou met ‘n groot glimlag my kos. Ek sien hoe Trio se vrou suurlemoensap oor haar kos uitdruk en ek volg haar voorbeeld. Dit help. Dit help baie.

 

Trio gee naderhand bes en vee sy sweet met ‘n sneesdoekie af. Daar is oral bokse met sneesdoekis en geen servette nie. Na nog ‘n Bintang vat Trio ons terug hotel toe en ons spreek af dat hy ons die volgende dag sal oppik.

 

Ons gaan slaap moeg en versadig.

 

Brekvis, en Strat en Dwayne eet piepklein ommelette. Hulle vra vir spek en eiers en ek moet hulle herhinner dat Indonesie ‘n Moslem land is – varkvleis is uit. Ons sal later agterkom dat varkvleis vrylik beskikbaar is en graag geeet word, maar net op sekere plekke.

 

As ek gedink het die vorige aand was erg gaan my oe nou behoorlik oop. Die donker het baie dinge verdoesel in die mal verkeer.

 

Ons sit buite die hotel en wag vir Trio. Skuins oorkant ons is ‘n t-aansluiting. Voertuie wat in die t indraai, ry net. Verkeer wat saam met die t ry, ry net. Hoe niemand mekaar stamp nie is ‘n raaisel. Dan kom ‘n luukse 4×4 na die t toe aan. Hy draai TEEN die verkeer in en ry by die hotel se ingang in. Niemand toet nie en niemand word beseer nie. Ek sluk my droe tong amper in…

 

Indonesie het geen reels of regulasies oor rook nie. Rokers rook net waar hulle wil en gooi hulle stompies neer net waar hulle wil. Trap hom sommer op die mat dood as dit daarop aankom. Vir ons drie wat nie rook nie is dit nogal erg.

 

Die skougronde is half leeg as ons daar aankom en Trio se dis oor dit Vrydag is. Die Moslems gaan moskee toe voor hulle skou toe kom en dit pas ons want ons kan ons eerste draai deur die skou stap voor die massas opdaag.

 

Ons het ons spanhempies aan en trek groot aandag. Veral die hemelbesem Dwayne vang al die klein meisietjies se oog. Hulle kan nie ophou na hom kyk en giggel nie. Hy geniet die aandag en flankeer vrolik in Afrikaans terug. Dit veroorsaak nog meer giggels en meer aandag op ons.

 

Daar is baie bekende produkte en ‘n magdom goed wat ek nog nooit gesien het nie. Oor die algemeen is die pryse van motors en motorfietse baie dieselfde as by ons, maar Indonesiese produkte is goedkoop en goed gemaak.

 

Een ou het ‘n patent waarmee jy gloeilampe uitdraai. Dis ‘n teleskoopstok met rubbervingertjies vooraan. Jy druk die rubbervingertjies om die gloeilamp en draai. Siedaar. Baie slim.

 

Een uistaller verkoop klanktoerusting vir motors, maar hy maak klankversterkers en luidsprekers vir openbare gebruik ook. Sy produk het die Presidentstoekenning vir innovasie en tegniese vordering gewen. Strat begin dadelik gesels en maak ‘n afspraak om verder te gesels..

 

So loop ons van stalletjie tot stalletjie en gesels en kyk. Klanktoerusting is groot in Indonesie. En meeste van die kompetisies in en om die skou word deur vervaardigers van klanktoerusting geborg. Daar is ook ‘n “drifting” kompetisie wat deur ‘n wiel vervaardiger geborg word. “Drifting” kom uit Japan en die doel van die oefening is om jou wiele te laat gly terwyl jy deur die draaie gaan. Hoe langer jy jou kar sywaarts kan hou, hoe meer punte wen jy. Ons spandeer ‘n uur in die stadion waar ons ons verlustig in die skreeunde bande en die manewales van die deelnemers. Party ouens mag maar, ander is duidelik daar met ma se kar en tol nie eers eenkeer die wiele nie. Strat en Dwayne kom van die Wesrand af en hulle ken van “drifting”. Hulle verduidelik die fyner puntjies van die sport en vertel met smaak van soortgelyke kompetisies waaraan hulle deegeneem het.

 

Ons maak vriende met ‘n bandevervaardiger wat dadelik ernstig besigheid wil gesels. Daarna onstmoet ons die voorstiiter van Indonesie se gesamentlike motorklubs wat ons nooi vir ete die volgende dag. Hy wil ook besigheid gesels. Lekker!

 

Die een terleurstelling is dat ons nie Strat se quad-konneksie kan opspoor nie. Ons vra Trio se raad en as hy hoor die man kom van Medan af, lag hy te lekker. Hy verduidelik dat ALMAL wat van Medan afkom skelms is. Ons is klaarblyklik ‘n pit gedruk. Gelukkig het Strat geen geld oorgeplaas nie. Ons sou die man in kontant betaal op die skou. Trio lig ons verder in dat vierwiel motorfietse verban is in Indonesie… Dis groot skade aangesien die rede hoekom ons Jakarta se skou besoek juis is om die transaksie vir die voertuie te beklink. Trio se hy sal plan maak en ons aan iemand anders voorstel. Dalk kan ons nog iets beredder.

 

Trio se stalletjie is propvol besoekers. Hy verkoop sport stuurwiele, koolvesel bakpanele en lugvervrissers vir binne in die kar. Hy maak ook koolvesel doppe vir selfone. Hy en sy span kan nie voorbly nie. Langs sy stalletjie is ‘n groep wat ook lugvervrissers verkoop maar Trio se koolvesel trek die mense en sy verkoopspan laat niemand toe om te gaan voor hulle iets gekoop het nie.

 

Trio en Strat het mekaar op die CEMA skou in Las Vegas ontmoet en groot viende geword. Strat is ‘n kenner van koolvesel en veselglas panele vanwee sy sleepwa besigheid. Sy maatskappy het die Beste Kwaliteitstoekenning op CEMA gewen vir hulle koolvesel en veselglas werk. Hy bedien Trio mildelik van raad en Trio suig dit op soos ‘n spons. Ek dwaal agter Dwayne aan en verlustig my daarin as hy so lekker op Afrikaans met die giggelende en blosende meisietjies flankeer.

 

Die Hollanse invloed is oral te bespeur. Die deel van die wereld was tog immers ‘n Hollandse kolonie. Batavia was dit genoem. Oral is tekens met woorde wat ek ken: bagasi, parkir, sop, inspirasi, klinik, loket, bus, asosiasi, en (Ag Vader is daar geen verlossing nie?) TELKOM! As ek om verskoning vra omdat ek in iemand vasloop se hy: Ni probleem ni… Brand, suur, taai… Alles woorde wat ons ken en wat jy versigtig moet gebruik as jy by Indonesiers is.

 

Trio vat ons na die skou na ‘n straatkafee waar ons lamsop eet. Nou kyk… Ek eet afval. Ek MAAK afval. Maar dit wat ons in daai branderige sop kry is nie lekker nie. Dit brand, is taai en suur. As Dwayne weier om verder te eet se hy vir sy pa hoekom. Trio tel dit op en wil ons dadelik na ‘n ander plek toe vat. Strat keer en se dis omdat Dwayne in die stad grootgeword het dat hy nie ordentlike kos kan waardeer nie. Ek gooi brandsous en kou vir ‘n vale. Strat bring ook manmoedig sy kant. Die keer loop ek as oorwinnaar uit die stryd uit. Ek vat die bakkie waarin daar ‘n sousie is wat vir my lyk soos Meang Kum – sojasous met heuning – en as ek dit oor my laaste rys uitggooi kry beide Trio en sy vrou ‘n oorval. “Hot!” se hy. Ek grinnik net en begin eet.

 

Bliksem!

 

Daai goed brand my tot in my naeltjie. My oe traan, ek word bleek, my asem slaan weg… Maar my ma het nie sissies grootgemaak nie en ek maak klaar. Trio skud sy kop en bied nog bier aan. Ek wys dit van die hand – die brand is mos nou nie SO erg nie…

 

By die hotel maak Strat my daarop attent dat Trio my nou gaan probeer uitbrand. Elke keer dat ons gaan eet gaan dit warmer word. Ek glo egter dat niks kan brand soos vannaand se kos nie en ek het DIT gemaak. Hulle skud net kop.

 

More is dag twee. Ons gaan probeer om ‘n paar manne vas te teken met ‘n borgskap of twee en daarna gaan ons seker weer eet… Ek kan nie wag nie!

 

Jakarta: Dag Twee.

 

Ons spandeer die oggend in die hotel besig met admin. Ek skryf ‘n paar briewe, sorteer besigheidskaartjies ens, terwyl Strat en Dwayne probeer om ons op ‘n vlug Sjina toe te kry. Gauzung. Hauzung, Tzausung… Iewers is fout. Hulle roep Trio se hulp in en hy se hy sal sien wat hy kan doen.

 

By die skou teken ons ‘n borg of twee vas, maak afsprake vir more en Maandag en hou onself besig met fotos neem.

 

El wil-wil aanmekaar voel dat ek mense herken. Die een lyk soos… En daai een lyk soos… Na ‘n ruk besef ek dat ek nie eintlik enigiemand herken nie en dat niemand na iemand spesifiek kyk nie. Dis ons gesamentlike herkoms – die invloed van die Hollanders. Ons het dieselfde gesigstand, houding, kyk in die oe… Al IS daar baie Oosterse bloed in die mense, en al is daar bitter min Oosterse bloed in my mense is daar tog iets wat op mekaar pas. ‘n Gesamentlike DNA… Dit stem my onrustig. Iewers hier loop iemand rond wat nes ek lyk…

 

Ek raak al meer bewus van my lyf. In Hatfield of op Loftus/Ellispark is ek ‘n gemiddelde ou. Hier is ek ‘n reus, ‘n logge homp wat altyd in die pad is. Ek probeer teen die mure langs beweeg, maar dit maak dit net erger. Meisietjies giggel skaam as hulle my sien en mans vermy my. Ek kry myself amper jammer…

 

By die Hyundai stalletjjie loop ons die 2010 Sokker gelukbringer raak. Op sy rug staan groot “South Africa – 2010” Ons vra vir ‘n foto, maar iemand sien ons t – hemde raak met ons logo en “South Africa” op en ons moet opsluit vir al wat fotograaf is poseer. Mense vra ons handtekeninge en ons moet aanmekaar verduidelik hoekom ons wit is. Ons kom dan van Afrika af… Wys jou net ne… Niemand ken ons eintlik nie.

 

Ons sien Indonesie se top jong musiekgroep “Gangcuters”. Hulle is brandmaer – 7 van hulle – maar hulle het ‘n hoofsanger wat lyk en klink soos ‘n kruis tussen ‘n jong Elvis en Freddy Mercury. Die man het die gehoor van meet af in die palm van sy hand en dis nie lank nie of almal sing en dans saam. Hy KAN sing… En dans. Dis regtig goeie musiek en baie goed aangebied. Hulle is na die skou toe gebring deur een van ons potensiele borge – GT Premuim Tyres.

 

Ons gaan eet by ‘n baie beskaafde Sjinese restaurant. Trio bied my gebakte padda op rys aan maar ek kies die paling. Dwayne sluk sy naarheid af en eet hoender en rys saam met sy pa. Ek sien Trio se plan. Hy weet hy kan my nie uit brand nie, nou gaan hy my probeer uitwalg… Ha! Ek het al slang, rot en krokodil geeet. Ons sal sien…

 

Buite die restaurant staan ons motor heel op ‘n ander plek. Ek kan dit nie verstaan nie want ek het net een bier gedrink, maar dan verduidelik ons gasheer dat jy jou motor ooplos sodat die motorwag, met uniform en ‘light sabre’ die ding kan wegstoot as jy dalk iemand vasparkeer het… Traai dit in SA.

 

Maar nou ja! More is nog ‘n dag. Ek kan nie wag nie…

 

Jakarta: Dag drie

 

Dis Sondag. Die skou is mal. Ons kry die voorsittter van die gesamentlike motorklubs in die hande en gesels. Amroe is ‘n intense man met ‘n groot passie vir karre en kar-aangeleenthede. In Indonesie is daar ‘n klub vir elke kar en elke model. Selfs die Kia Sendona het ‘n eienaarsklub… Na ons gesprek met Amroe gaan sit ons op die paviljoen en kyk na die finale van die ‘drifting’ kompetisie. Die ondersteuning vir die ‘local heroes’ is groot, maar hulle word goed ore aangesit deur twee besoekers van Malesie af. Uiteindelik jaag twee plaaslike manne teen mekaar vir derde en vierde plek en dan is dit die twee Maleisiers teen mekaar in die finaal.

 

‘Drifiting’ werk so… Twee motors spring saam weg, een agter die ander. Hulle ry die kronkelbaan so vinnig as moontlik en probeer die motors so ver as moontlik sywaarts hou. Die agterste kar probeer ook om aan die binnekant van die voorste motor te kom en hom so te intimideer dat hy verby kan kom. Dit alles terwyl beide motors sywaarts is. Dis verskriklik opwindend, veral as ons nader aan die finale vier kom.

 

Die finale vier is twee Maleisiers – Yotuka en Harikai, seker nie hulle regte name nie. Dan is daar twee plaaslike jaers, Rifat en Drol. (Dis hoe mens dit uitspreek, ek is nie seker van die spelling nie. Rifat verloor teen Yotuka en Harikai wys sy minagting vir Drol deur die hele baan met een arm by die venster uit te doen. Rifat en Drol jaag nou teen mekaar vir die derde en vierde plekke. Vir ons is dat baie duidelik dat Drol nie soos een bestuur nie en hy moet wen. Rifat dra egter die louere weg. – later verduidelik Amroe aan ons dat Rifat se pa baie hoog op in Indonesiese motorsport is. Rifat eindig ALTYD op die podium tensy hy sy kar afskryf…

 

Uiteindelik jaag die twee laaste motors. In die eerste draai stamp hulle mekaar en dis die einde van die storie. Flou einde, en die skare jou die Maleisiers uit.

 

Ons gaan terug na die Valen stalletjie. Valen is ook ‘n Indonesiese produk. Dis ‘n stuk gevormde rubber wat jy in die vere van jou voertuig invleg om hantering en remvermoe te verbeter. Die eienaar van Valen, Wayne, Strat en Dwayne gesels baie tegnies oor die moontlike gebruike van die produk op die Dakar en ek en ‘n paar van die meisies wat vir Valen werk begin gesels. Maggie, Chenny en Sisser is drie studente wat deur Valen op universiteit gehou word. Valen word hierin deur die regering gesteun. Wanneer die meisies klaar studeer het werk hulle vir Valen om hulle beurse af te betaal. Die maatskappy gebruik die jong dametjies gedurende vakansies en op skoue om donkiewerk te doen teen geen vergoeding nie. Valen kan ook ten eniger tyd se hulle dink nie die meisie gaan die mas opkom in die maatskappy nie en dan is hulle op hulle eie, tensy ‘n ander potensiele werkgewer hulle aanneem.

 

Strat en Dwayne beduie en ek leer die meisies Afrikaans praat. Hulle lyk vir my omtrent 12 of 13 jaar oud, maar Maggie is ‘n derdejaar bemarkingstudent en Chenny (ook 21) bestudeer industriele ontwerp.

 

Wayne gee ons ‘n hele stel van sy produkte om in Suid Afrika te toets. Ons groet en die meisies waai vrolik en probeer hulle tonge om ‘totsiens’ kry.

 

Ons eindig die aand in Pizzahut. Kan jy dit nou oorvertel…

 

Jakarta; Dag vier

 

Dit is nou so duidelik soos daglig dat Strat se kontak vir goedkoop ‘quads’ inderdaad ‘n skelm was. Trio se agent in Medan gaan na die adres wat Strat gekry het en daar is net ‘n lee gebou wat nog nie voltooi is nie. Ons besoek Yamaha Indonesie, en alhoewel hulle baie vriendelik is, kan hulle ons nie help nie. Hulle hou niks groter as 250cc aan nie en ons is op soek na 450cc kompetisie masjiene. Die hoofdoel van ons besoek aan Jakarta het dus op niks uitgeloop nie…

 

Ons hou kajuitraad en besluit om tydens ons besoek aan Sjina by die fabriek aan te doen waar Yamaha onderdele vervaardig word. Dalk kan ons direk van die fabriek af masjiene koop…

 

Trio laai ons by ‘n koopsentrum af terwyl hy na ‘n vergadering toe gaan. Dis ‘n sentrum wat maar in enige stad in SA kan inpas. Dieselfde winkels, alhoewel nie dieselfde name nie, word oral gesien. Ek kry wel ‘n plek wat klere van batikmateriaal verkoop, maar dis peprduur en nie baie mooi nie.

 

Ons ry ‘n draai deur die middestad van Jakarta. Die land bestaan uit meer as 1000 eilande met die grotes, Java, Bali, Sumatra… wat die kern vorm van die land se ekonomiese mag. In die middel van Jakarta is ‘n enorme beton naald met ‘n goue standbeeld bo-op. Trio vertel dat die standbeeld uit 40 kilogram goud gemaak is! Die strate is breed met baie bome en die geboue is modern, goed uitgele en indrukwekkend – baie ver van die nou straatjies vol bromponies waaraan ons tot dusver gewoond geraak het.

 

Oral is polisie en soldate. ‘n Maand voor ons besoek het ekstrimiste twee bomme by luukse hotelle in die middestad laat afgaan. Daar is geen teken van skade aan die geboue nie, maar die weermagteenwoordigheid is oral.

 

Ons vat die pad terug na ons hotel toe tydens spitsverkeer. Langs die pad staan dosyne seuns wat ‘n soort waaibeweging met hulle hande maak. Trio se hulle is jokkies. Tydens spitsverkeer moet alle motors ten minste vier mense in he. As jy nou egter nie genoeg mense in jou motor het nie, laai jy ‘n jokkie op, betaal hom 1 $US en laai hom aan die anderkant van die middestad weer af. So spaar jy jouself ‘n stewige boete…

 

Ons is terug by die hotel, ons vlug is bespreek na Bangkok toe – want snaaks genoeg is die goedkoopste manier om van Jakarta af in Sjina te kom, via Bangkok. Strat het vir ons plek bespreek in die Asia Hotel – ‘n plek wat hy goed ken.

 

O… Nog een slapie, en dan Bangkok. Ek kan nie wag nie!

 

Hong Kong, Sjina en verder (1)

Oktober 6, 2009 in Sonder kategorie

OR Tambo is besig om al hoe voller te word. Daar is verskeie vlugte wat almal omternt dieselfde tyd aan boord moet gaan an alhoewel dit die eerste keer is dat ek vanuit die nuwe Internasionale Terminaal uit vlieg, weet ek uit lang ondervinding dat my grootse vennoot op OR Tambo ‘n vroegtydige aankoms is. Maar die probleem is, ek is daar, maar my vluggenote is nie.

 

My indukwekkende selfoon lui. Dis nie net ‘n selfoon nie, nee, dis ‘n Nokia E90 Communicator! Dis ‘n foon met soveel fasilitiete dat NASA Neil Armstrong op die maan sou kon plaas met net die rekenaarkrag in die klein handstelletjie. Ongelukkig help dit my niks om my vluggenote op OR Tambo te kry nie. Die boodskap is dat hulle gaan 20 minute laat gaan wees. Dit beteken ‘n ekstra 20 minute bo-op die 20 wat hulle reeds laat is. Ek weet ook dit gaan nie 20 minute wees nie, maar eerder 30. Dis dan 50 minute laat – wat beteken ons “3 ure voor ons vlug vertrek ” soos voorgskryf deur die redery, slegs twee ure en tien minute gaan wees. My neurotiese akteursbrein begin om desperate planne te beraam. Om die situasie te beredder. My Calvinistiese opvoeding WEET dat daar ‘n onderwyser, dominee of ander gesagsfiguur gaan opduik om my te straf omdat ek laat is. En hy/sy gaan nie my taal kan praat nie. En hy/sy gaan geen genade met my probleem he nie, en alles gaan ‘n fokop uitdraai en EK gaan die gelag moet betaal ens, ens, ens.

 

Dan lui die foon weer. Die keer is dit die lang, elegante en mooie Petro wat se hulle is op die lughawe en besig om hulle sakke met plastiek toe te laat draai teen R50 ‘n sak in ‘n futiele poging om diewe op OR Tambo te fnuik. Nog ‘n Suid Afrikaanse uitvindsel om saam met lemmetjiesdraad, blaasvlamkarre en ander soortgelyke uitvindsels wat die wereld laat steier as hulle besef hoe desperaat sommige mense in SA nou eintlik is…

 

Daar word bladgeskud, verskonings aangebied en verduidelikings geopper. Ek is so suur soos ‘n knol maar uiteindelik is ons tasse ingedien, en kaartjies in die hand stap ek en Strat om kos te gaan soek, Petro en haar seun Dwayne gaan bank toe om nog vir oulaas ‘n banksakie of twee af te handel.

 

Ek, Strat en sy seun Dwayne is op pad Hong Kong toe om motorsport toerusting te gaan aankoop vir ons aanslag op die Dakar – die wereld se grootste motprsportbyeenkoms wat vir jare van Parys na Dakar in Afrika geloop het, maar wat deesdae (en vir die afsienbare toekoms) in Argentinie en Chile aangebied gaan word. Die redes daarvoor is polities en ekonomies van aard, maar vir ons as Suid Afrikaners bied dit groot geleendhede vir bemarking van ons land en die 2010 sokker werekdbeker, en natuurlik vir my persoonlik, die volvoering van ‘n droom om eendag die Dakar te doen.

 

Nie dat ek self gaan deelneem nie – op my ouderdom wil ek nie leer om ‘n vierwiel motorfiets te leer ry nie. Ons vat ‘n span jong ryers saam wat nog dink dis lekker om 10 000 kilometers in haglike omstandighede onder streng reels en kwaai wedrenomstandighede te doen. Een van hulle gaan Dwayne wees. Ek en Strat gaan saam as Spanbestuurder – ek – en Eienaar – Strat.

 

Stratford Voogt is ‘n legende in motorsportkringe. Hy is die man wat vierwielfiets wedrenne of “quad racing” in SA begin het. Hy het tot op 45 jarige ouderdom gejaag en elke wedren gewen waarvoor hy ingeskryf het. Dit na ‘n suksesvolle loopbaan as maraton atleet -waar hy die nimlike Petro onmoet het. Daarna was hy ‘n suksesvolle padfietsryer en na ‘n versrkiklke ongeluk met beide bene gebreek en weke in ‘n koma het hy besluit om nog vinnger te jaag.

 

Strat of “Straddie” en ek het deur ‘n gemeenskaplike vriend ontmoet. Hy’t my genooi om as navigator saam met hom te jaag in die “monster”, ‘n ysingswekkende Amerikaanse V8 resiesmasjien met geen vensters nie, baie min gemak en ‘n reputasie wat ver en wyd loop.

 

Mens leer nerens iemand so vinnig ken soos in ‘n veldwedrenmotor nie. Ek is navigator. Ek se hoe vinnig en waarheen Strat moet ry. Hy moet my 100% kan vertrou en ek vir hom. Ons werk goed saam onder druk en aldus die uitnodiging van sy kant af om spanbestuurder te speel in die Dakar. En in Sjina kan ons baie goed, baie goedkoop kry. Aldus…

 

Cathay Pacific vlieg ons oor Mosambiek, Madagaskar, Mauritius, Borneo, die Malakka Seeweg, en Thailand na Hong Kong. Dwayne speel speletjies op sy sitplek se vermaaklikheidstelsel. Strat kyk komedies en ek lees Deon Meyer se nuwe speurverhaal “Blood Safari”. Daarna kyk ek “The Reader”, ‘n fliek met te veel seks en te min storie, die Oskar ten spyt. Daarna kyk ek “Sweeney Todd” met die onvergelykbare Johnny Depp. Heerlik. Dan bring die kajuitpersoneel vir ons noedels vir brekvis en ons land.

 

Daar is ‘n kamera onder die vliegtuig gemonteer en jy kan op jou persoonlike vermaaksentrum kyk hoe die vliegtuig land op Hong Kong se nuwe lughawe. Die laaste keer dat ek hier was, het ons op Kai Tak geland, op ‘n aanloopbaan wat soos ‘n mal tong die Hong Kong hawe ingesteek het. Die vliegtuig moes soos ‘n naald deur die berge om Hong kong vleg en met dodelike presiesheid gaan sit met water en skepe aan beide kante. Hierdie landing is baie meer beskaaf en uiteindelik is ons op Sjinese grond. Kommunistiese Sjina. Rooi Sjina. Hmmm.

 

Die nuwe lughawe is skoon, massief en nie so vol mense as wat ek sou verwag nie. Oral is tekens in Sjinees en Engels sodat dit maklik is om jou pad te vind. Strat en Dwayne was al verskeie kere hier en ek laat my deur hule lei om al die rituele te voltooi. Doane, paspoortbeheer, gesondheidsbeheer (daar is varkgriep in die omgang) Dan is ons deur en ons ruil geld om en kies koers stasie toe.

 

Die stasie is reg langs die lughawe. Trouens, mens loop deur die terminaal tot op die perron, waar jy by ‘n masjien kaartjies koop. Elke twee minute is daar ‘n trein. Ons klim op en ry tot in Kowloon. Daar kry ons ‘n bus en klim ‘n blok van ons “hotel” af.

 

Ek gebruik die term baie ligweg.

 

Die Cosmic Hotel is op die 12e vloer van ‘n gebou in Nathan Road in Kowloon, tussen die Kowloon tuine en die hawe. Die kamer is agter vlekvryestaal veiligheidshekke. Nugter weet hoekom… Die kamer is 2 meter by 5 meter. Ek lieg nie. Behalwe die toilet en wasbak is daar ook ‘n stort agter glas en drie beddens. Twee beddens aan die kante van die lang nou kamertjie en ‘n derde bed dwars oor die vertrek onder die venster voltooi die res van die toerusting. Daar is ‘n ou kreunende lugversorger en ‘n waaier teen die muur. R350 per nag en elke oggend maak hulle die kamer skoon. Die antie van die hotel verseker ons aanmekaar dat dit eintlik heel ruim is vir Hong Kong… Sy is seker reg, want later die dag arriveer ‘n Sjinese familie met vier grootmense en twee kinders en trek oor die gang in ‘n identiese kamer in.

 

Ons vat die strate. Dis warm – 33 tot 34 grade en bedompig. Bedompig is nie eintlik ‘n woord wat beskryf hoe Hong Kong voel nie. Die vog in die lug val jou longe aan tot jy voel jy kan nie meer asem haal nie. Sodra jy by die deur uitloop is jy natgesweet. Jou oe is vol sweet, jou hande klam en jou voete swel op van die versengende hitte. En daar is mense oral. Jy kan nie wegkom nie. Sjinese, Koreane, Thais, Vietnamese, Westerlinge van alle uithoeke van die wereld, Egiptenare, Nigeriers, Ons en al die ander kinders van Adam onder die son.

 

Die reuke binne in die nou stegies waar toeriste rondloop, is eksoties en oorweldigend. Na ‘n kort ekspediesie om ons onmiddelike omgewing te verken, gaan soek ons iets om te eet. Ek is dadelik reg vir Dim Sum, die Sjinese se brekvis noedels. Strat en Dwayne lei my om een hoek dan ‘n ander en dan in ‘n yskoue lugverkoelde KFC in. Hulle bestel ‘n KFC brekvis en smul. Ek drink koffie. Verdomp! Mens kan die goed in Hatfield kry!

 

Dag een is ‘n “opsoek van ou kennisse” dag. Strat het een of twee mense wat hy tydens vorige besoeke leer ken het en ons stap ‘n paar draaie en onmoet ‘n paar mense. Tussendeur kry ons darem kans om die pragtige Kowloon tuine te besoek en te kyk hoe honderde Sjinese omies en tannies Tai Chi doen. Daarna met die veerboot oor die baai na Hong Kong eiland waar ons ronddwaal en vir die mense kyk. Piepklein Sjinese meisietjies in baie kort rokkies trippel heen en weer. Ernstige Britte en Skotte met briewetasse en dasse in die versengende hitte stap doelgerig tusssen die banke en besigheidsgeboue rond. Dan spring ons in een van die uitmuntende moltriene en keer terug Kowloon toe.

 

Hong Kong is ‘n stad met ‘n gesplete persoonlikheid. Kowloon is op die vasteland en dis hier waar meeste van die inwoners van die stad bly. Dis ook hier waar al die toeriste rondloop. Dis ‘n malende masse mense almal op pad iewers heen. Daar is min privaatmotors – huurmotors en busse rits op en af in die strate en mis mekaar net, net… Maar dis ‘n ander Hong Kong die as wat ek onthou. Dis skoon. Silwerskoon. Oral is daar tekens wat jou herhinner om hande te was. Trapreelings het tekens op wat jou inlig dat dit elke drie uur gesteriliseer word. Mens sien nie papiere, bottels of stompies nie. Heelparty mense, veral amptenare wat met die publiek deel, loop met gesigmaskers rond.

 

Rokers kry swaar in HK. Selfs in die park is daar tekens wat jou waarsku dat indien jy sou rook waar jy nie mag nie, kan jy ‘n boete opgele word van soveel as $HK 5000. (Dis omtrent R5000) En tog rook almal. Net waar jy kyk loop mense met sigarette in die strate rond. Daar is egter ‘n asbakkie bo-op elke asblik in die strate ingebou. Hulle word gereeld – elke twee of drie uur – skoongemaak. Ek sien ‘n arrogante Fransman wat sy Gaulois stompie in die straat doodtrap. Hy word onmiddlik deur verskeie Hong Kongers aangetree. Hy wil nog stry maar dan daag die polisie op. Hy moet desnoods sy stompie optel en na die naaste asblik loop en dit daar ingooi. En daarna kry hy ‘n boete…

 

Ek kan nie ophou om met die moltrien rond te ry nie. Jy kan enige plek in HK bereik met die vinnige, goedkoop en hiper-moderne treine. Daar is heeltyd mense maar die trein is altyd skoon, en betyds. Briljant. Absoluut briljant…

 

Middagete oorreed ek my reisgenote om ‘n Sjinese eetplek te betree. Ek bestel eg Sjinees en Dwayne volg my voorbeeld. Strat vra my om vir hom te bestel. Ek eet al my kos, helfte van Dwayne s’n en Strat se hele bord. Hy hou nie van sous op sy kos nie… Ek sien swarigheid…

 

Nog ‘n paar ure in die strate en dan eet ons by ‘n Thai restaurant. Die keer eet almal alles. Strat en Dwayne verseker my dat hulle nie vol fiemies is nie. (Dit klink vir my soos ‘n ou wat se: Ek’s nie ‘n rassis nie, maar…)

 

Ons slaap teen die verwagting in, baie lekker in ons sel.

Dag twee, en ons vat vroeg die strate. Brekvis die keer is by McDonalds…

 

Ons doen ‘n paar besigheidsbesoeke, kry pryse op trommels vir onderdele, koplampe vir in die nag werk ens. Dwayne soek selfoonpryse en die winskopies is vollop, maar jy moet wakkkerslaap. Hierdie mense gaan nie kerk toe nie…

 

Dan se Strat ons het genoeg gewerk, hulle gaan my “treat”. Ons spring in die moltrein en ry na die sentrale busstasie toe. Daar klim ons in ‘n dubbeldek bus en ry Stanley Market toe. Oor die berg, verby Repulse Bay en tot by Stanley Beach. Dis ‘n mal rit op ‘n nou bergpassie met ewe groot busse wat van vooraf kom. Ons gil soos kinders op ‘n mallemeule en geniet ons gate uit.

 

Repulse Bay en Stanley is ‘n ander koppie tee. Nog ‘n ander gesig van HK. Hier is baie meer Westerlinge en privaatmotors. Hier is baie duur motors. Ek sien selfs ‘n Maybach agentskap…

 

Die mark is maar so-so maar ek sien tog een of twee unieke stukke wat ek koop en wegsit om saam te vat vir die mense by die huis. Dan is ons terug in die bus en met ‘n ander roete terug HK toe. Hierdie keer laai die bus ons amper reg voor ons hotel af en ons maak planne vir aandete.

 

Ek eet eend. Niemand, en ek bedoel niemand kan met eend doen wat die Sjinese daarmee doen nie. Ek het al in Franse, Engelse en allerlei ander tipes restaurant eend geeet. Altyd peperduur en meesal ‘n terleurstelling. Die restaurant is vol boorlinge van HK. Ons is die enigste gwai lo’s (ronde oe) Strat en Dwayne eet vark en ons loop versadig uit, verbaas oor hoe min die rekening is.

 

Ons dwaal deur die besige strate en verkyk ons aan die mense. Sjinese meisies dra kort rokkies. Baie kort. En onder die rokkies ‘n denim kortbroek, of skibroeke. En aan hulle voete “gumboots”. Met luiperd motiwe of beesval, of slang of blomme… Maar “gumboots”… “n Ander skoeisel wat baie populer is, is ‘n soort stewel wat tot mid maermerrie opkom. Maar die voete is oopgesny sodat jy tot by die enkel stewel het, en van enkel tot toon, ‘n sandaal. Ek wonder hoe hierdie manier van aantrek in Hatfield of Auckland Park sou doen… Hulle is ook lief vir t hemde met slagspreuke op. Happy! Is populer. Of “Make me Happy”, “I like nice boys”… Dan is daar ander wat ek sien en lees maar nie verstaan nie. “I’d rather be lonesome”, “Bathing Ape” en my peroonlike favourite “Catch a falling knife…”?

 

Dan is dit terug na ons sel toe. More moet ons vroeg op om die veerboot na Macau te haal. Ek kan nie wag nie…