Om mayonaise te maak.

Februarie 17, 2011 in Sonder kategorie

Dis nie vir sissies nie…

 

Jy begin met ‘n eiergeel of twee. Jy kan ‘n instrumentjie koop wat help om die gele te skei. Dit lyk so bietjie soos ‘n lepel met gleuwe in. Dan breek jy jou eier versigtig in die bol van die lepel in. Die geel bly lê en die wit glip deur die gleuwe uit. Of jy kan die eier eenvoudig van een deel van die dop na die ander oorgooi totdat die geel van die wit geskei is. Maar dis nie maklik nie.

 

Gooi nou jou twee eiergele in ‘n mengbak saam met ‘n knypie sout en ‘n bietjie peper. Dan gooi jy twee teelepels mosterdpoeier by en begin dit klits. Nadat alles goed geklits is kan jy begin om olie by te gooi. Teelepel vir teelepel gooi jy die olie by terwyl jy deurentyd klits. Vat ‘n blaaskans en proe die mengsel. Dis nou tyd vir asyn of suurlemoensap na smaak. Dan klits jy weer en gooi weer olie by. Die mengsel begin naderhand emulsifiseer en dan kan jy die olie bietjie vinniger begin bygooi.

 

So hou jy aan totdat jou mengsel soos mayonaise lyk en proe. ‘n Groot inmaakfles vol mayonaise sal jou omtrent 30 na 40 minute vat om te maak. Dis baie moeite, maar as jy dit eers een keer geproe het sal jy nooit weer winkelmayonaise koop nie.

 

Namate jou tegniek verbeter kan jy ander geure en smake by jou mayonaise gooi om vriende en familie te verras en verheug. Chili, laventel, roosmaryn, tiemie of koljander. Allerlei geure kan by die mayonaise gegooi word en jy sal sommer gou-gou bestellings begin kry van die luies, dommes en onkundiges af. Maar wees gewaarsku. Dis baie werk!

 

En as jy die olie te vinnig bygooi gaan die emulsiefiseringsproses verkeerd loop en die olie gaan skei van die eier. Dan sit jy met ‘n olierige, onsmaaklike gemors wat net goed is vir ‘n baie honger hond of die asblik.

 

Ek het in die week die gier gekry om mayonaise te maak. My geduld het opgeraak en ek moes 45 minute se werk weggooi. My eiers was op, my olie ook; en ek had nie mayonaise nie.

 

Dis amper soos die liefde.

 

Die eerste skamerige ontmoeting van die bestandele. Die saamklits deur dik en dun. Die olie van ervaring en lekkerkry (en swaarkry) en uiteindelik die heerlike, romerige samesyn van twee sielemaats.

 

Maar wees maar geduldig. Die sensitiewe proses kan so maklik skeefloop…

14 Januarie

Januarie 14, 2011 in Sonder kategorie

Ek kan nou nie eintlik dink dat die dag vir enige ander rede bekend moet wees nie, maar vir my en my familie is dit die eerste verjaardag wat ons sonder my geliefde Ousus moet vier. Ek’s verbaas oor die gebrek aan trane. Ek mis haar. Ek mis haar vreeslik, maar ek huil  nie meer nie. En dis ‘n goeie ding.

Die kunstefeeste, Letterdash en Facebook

Januarie 11, 2011 in Sonder kategorie

Ek probeer al van gister af om te reageer op Kelly se skrywe oor die kunstefeeste en Afrikaans. Letterdash wil my nie toelaat nie. Donnerse Letterdash. Op Facebook het die vermoe verloor om foto’s te sien . (Nee, ek het nie blind geword nie, ek het seker die verkeerde knoppie gedruk) Donnerse facebook. En nou die “feeste” en Afrikaans.

 

Hier gaan ons.

 

My probleem met die debat is dat die sogenaamde “Kunstefeeste” bona fide teater in die land doodgewurg het. Mense wat voorheen tien of twaalf keer ‘n jaar teater toe gegaan het -hetsy Staatsteater of elders – besoek nou ‘n “fees”, sien 12 stukke in een week en gaan vir die res van die jaar nie weer teater toe nie. (Die regering se ontrekking van subsidies aan die streeksrade het natuurlik ook ‘n groot bydrae gelewer tot die chaotiese toestand.)

Die ander probleem is dat nuwe werk – hetsy Afrikaans, Engels of watter ander landstaal ookal – nie meer buite die “feeste” kan bestaan nie. Dit word meestens 10 keer opgevoer, by KKNK, Aardklop en Inniebos en daarna kraai g’n haan weer nie. Andersins word die stuk keer op keer, jaar na jaar, by die “feeste” opgevoer – ‘Betesda’ is een voorbeeld. (Daar is baie ander)

Die feesorganiseerders se moeilikste taak is om mense te trek en nog steeds te lyk asof hulle nie net op winsbejag uit is nie. Hulle moet darem gesien word om iets te doen vir ons “kultuur” Afrikaanse popmusiek het vir hulle die perfekte uitkoms gegee. Dit en vlooimarkte. “Dis mos ons taal en ons mense…” Waar’s die nuwe drama’s, opera’s, musiekblyspele? Die groot borge gooi enorme bedrae geld na die feeste toe, maar probeer ‘n bydrae kry tot nuwe werk… So sit ons nou ons dae om in die gesellige, geborgde tente en luister na een Afrikaanse “sanger” na die ander. DIS mos kultuur!

Ja, meeste lande wat teater pleeg het ‘n teater publiek wat slegs 4 of 5 % van die samelewing beslaan, met enkele uitsonderings na – Duitsland, Frankryk, Japan… Selfs in Engeland kan teater nie bestaan sonder subsidies nie en die eertydse gesubsidieerde repertoriumteater op die Engelse platteland bestaan nie meer nie want daar is eenvoudig nie meer geld nie. (In London spot kunstenaars dat dit net Jode en gays is wat teater ondersteun, en as hulle almal by jou produksie was is dit tyd om te sluit.) Maar daardie 4 of 5% is gewoonlik die mense met die meeste koopkrag. ‘n Goeie mark om te betrek as jy wil adverteer met ‘n borgskap of twee.

Die “feeste” doen nie veel vir ons Afrikanerkultuur nie. Die biertuine, dronk tieners, dronk mans met boeppense (ek is een van hulle), luide musiek uit die geborgde tente en lee sale by goeie produksies teken ons as ‘n spul boertige bullebakke wat nie die verskil tussen Shakespeare en Steve ken nie.

Nou’t ek klaar gal gebraak. Sien julle by KKNK>

Vanoggend

Desember 14, 2010 in Sonder kategorie

Vanoggend…

Het ek in die spieel gekyk.

En my pa gesien.

(Magtag! Maar hy’t oud geword.)

Om te huil

Desember 5, 2010 in Sonder kategorie

Dis kwart voor een op ‘n Sondagoggend. My foon biep-biep om aan te dui dat daar ‘m sms deurgekom het. Ek sukkel regop kry my bril in die hande en sit dit op. Dan laat ek die foon eers ‘n slag val voor ek die regte knoppie gebruk kry. Dis van my ma af. “Sy’s huistoe”.

Ek le stil in die donker met die foon in my hand. Ousus is dood. Huistoe. My sussie. My ouer suster.Dood.

Ek le lank en dink en dan sit ek die foon weer op die bedkassie neer, rol om en le met oop oe die dag en inwag. Teen vyf dertig kan ek nie meer nie. Ek staan op, tap ‘n bad vol warm water en le vir ‘n ruk en week. Dan trek ek aan en gaan sit voor die rekenaar. Die huis is doodstil en nie eers die honde kla by die deur soos wat hulle gewoonlik doen as hulle hoor ek is wakker nie.

Op Facebook lees ek die doodsberig van my sussie se oudste dogter af. Daar is foto’s van haar en reeds ‘n magdom boodskappe van vriende, kenisse en kollegas.

Sy was ‘n briljante vrou wat ‘n redelik nuttelsose graad by RAU verwerf het en dit deur die jare gebruik het om haarself beter te bekwaam totdat sy as wereldkenner gereken is in haar gekose vakgebied. As professor by die Universiteit van Alabama in Tuscaloosa, VSA het sy die wereld platgereis om gaslesings te gee. Haar tesisse en skripsies het oral bewondering afgedwing.

As ma van drie dogters het sy haarself ook bekwaam in die fyner kunsies van koskook, kinders grootmaak, haar man gelukkig te hou en naald- en breiwerk te doen. Haar grootste lekker-kry was die Amerikaanse “Chilli Cook-Off” wat sy gewen het met haar eie Kaapse Kerrie en rys.

Sy was ‘n uitmuntende musikant met “Perfect pitch” en sy kon enige ding met ‘n klawerbord speel. Haar mezzo-sopraan stem het my menige kere laat huil met die emosie wat sy kon weergee in haar musiek.

Sy was lief vir fliek en het veral van die ou musiekblyspele gehou. Nelson Eddy en Jeanette MacDonald was haar gunstelinge.

In Amerika het sy ook ‘n liefde vir Amerikaanse Voetbal ontwikkel en soos met alles in haar lewe ‘n kenner geword op die gebeid van die Crimson Tide – Alabama U se kampioenspan. Ek moes gereeld e-posse van haar verduur oor die span se statistieke en wen pogings.

Ek hoor hoe die Rooikop begin beweeg en gaan maak vir haar tee. Ek vertel haar van die sms en sy hou my lank vas. Dan stoot ek haar weg en gaan sit in die sitkamer. Ek staar dofweg na die muur en wonder hoekom ek niks voel nie. Na ‘n ruk gaan ek kombuis toe en maak vir myself koffie, maak die deur oop en voer die honde. Luna die wit Alsation/Husky teef lek aan my hand, iets wat sy nooit doen nie. Ek vryf haar kop en gaan sit weer voor die rekenaar. Op Facebook stroom die boodskappe steeds in.

My oudste seun kom staan in die deur en maak keelskoon. Ek staan op en hy sit sy arms om my. Dan vir die eerste keer huil ek soos ‘n baba.

Die Groot Ding

November 9, 2010 in Sonder kategorie

 

Die gerugte oor die Groot Ding loop al weke en die volk redekawel en stry oor die meriete en waarheid van die saak. Party van die gemoedeliker geeste soos Zeppie en Plankie is dadelik te vinde vir die saak en probeer die ander ompraat om mee te doen.

 

Van die meer siniese geeste soos Spekbek en Angeliscious dink dis net ‘n gerug met geen waarde nie. Maankind hou haar rede en sit eenkant en wag om meer konkrete bewyse te kry. Sy en Thomas gesels oor hullle eie dinge terwyl hy aan ‘n kameel suig (nogal ‘n oulike truuk as jy ‘n posduif is)

 

Die ander duiwe in die eskader gaan hulle gang, en doen wat duiwe daagliks doen. Geen standbeeld word onaangereek gelos nie. En die stad is hulle oester.

 

Tan Twak wil die ding egter nie laat gaan nie en vlieg daagliks ‘n verkenningsvlug oor die park waar die Groot Ding kwansuis gaan gebeur. Na ‘n week is hy seker van sy feite en nader hy die ouderlinge, Ouboet en DSP, wat met aandag en oorleg na Jan se plan luister. Hulle roep vir Gladdebande nader en hy gee sy maning en dan word die volk van heinde en ver nader gewink.

 

Op die walle van die Mighty Apies vergader hulle om na die plan te luister. Van die mense wat onder die bome verbyloop kan hulle oe nie glo vir al die duiwe wat op een plek vergader nie. Hulle loop ook lekker onder die duiwe se uitskytsels deur want ‘n duif is ‘n duif en ‘n duif moet doen wat ‘n duif moet doen.

 

DSP vertel vir die volk van Jan se bevindinge. Maangodin vra of hulle die saak nie vir Ghaap moet gee sodat hy ‘n steekproef kan doen nie, maar Ghaap is die een duif wat nie opgedaag het nie.

 

Tweeling, Kelly, Roosmaryn en Pink Stilletto’s beplan dadelik ‘n funksie vir na die tyd en Modderkeokie belowe om ‘n ogie oop te hou vir enige vreemde katte.

 

Van die jonger duiwe vlieg daaglikse sorties oor die teikengebied en raporteer terug. Selgroepe word geskep onder leiding van Spekbek en elke groep kry sy spesifieke taak. Katryn sing vir ‘n vale om almal entoesiasties en gemoedelik te behou en dan is die Groot Dag uiteindelik daar.

 

Die duiwe vlieg in wye draaie om die teiken gebied en die opwinding bou voelbaar op. Selfs Papeslaai sluit aan en hy’s nie eers ‘n duif nie. Hulle neem plaas op bome en geboue en telefoondrade rondom die teiken gebied. Die mense op die grond wonder oor die samedromming van die stad se duiwe, maar hulle is ook besig met hulle eie Groot Ding en gee die duiwe maar net ‘n kyk of twee.

 

Een van die tv kameramanne besef egter iets groot is aan die gebeur en hy hou sy instrument op die duiwe gerig terwyl die mense toesprake maak en hande klap. Dan, uiteindelik is die Groot Oomblik daar!

 

Een van die mense trek ‘n toutjie en die swart, geel en groen doek seil majestieus van die standeeld af. Mens trek asems in, klap hande, pink traantjies weg en doen wat mense doen as hulle in vevoering raak.

 

DSP kyk vir Ouboet en Ouboet gee die bevel.

 

Dit is tyd! Dit is tyd om te skyt!”

 

In een groot massa trek die eskader lugwaarts en trek op die standbeeld af. In geordende eskadronne loods hulle, hulle anvalle een na die ander tot die standbeeld amper heeltemaal toegeskyt is. Die mense gil en skree en slaan op vlug en wonder of dit dalk Hitchcock se voels is wat toeslaan. Net die een kameraman soek skuiling en neem die hele morsige aanval af.

 

En dan…

 

Na omtrent tien minute is dit klaar. Die duiwe verdwyn in die niet en die kameraman laat sy tv kamera liefderik oor die gemors wals. Van kop tot tone is die standbeeld bedek met duifskyt. Daar is slegs een oop kolletjie. Aspris? Wonder die kameraman, maar skud dan sy kop in ogeloof. Hy fokus op die oop kol. Dis ‘n naamplaat, en dit se:

 

In honour of our valiant leader Comrade Julius Malema.”

 

Fluit, fluit…

Liefde Inniebos

November 5, 2010 in Sonder kategorie

 

Ek kom laatmiddag by my blyplek aan, pak haastig af, en vat die pad in dorp toe vir ons Inniebos aanbieding. By die lokaal is alles onder beheer en ek staan ‘n bietjie rond om te wys ek stel belang voor ek weer teruggaan na my blyplek toe.

 

Die plek waar ek bly is lieflik. Daar is ‘n spul houthuiseis van verskillende grotes wat op die oewer van die Sterkspruit gebou is, en ‘n dek wat uitkyk oor die seekoeie se speelplek, en hulle baljaar jou elke oggend wakker met hulle diep bas “Hu! Hu! Hu!”

 

Ek gaan maak my tuis op die dek met ‘n yskoue bier in die hand en kyk hoe die son ondergaan oor die Laeveld. Later kom nog gaste aan, met dieselfde idee as ek en ons stel mekaar oor en weer voor. Van die kunstenaars ken ek, maar natuurlik is die feesgangers vir my vreemd.

 

Ons kuier lekker en later kom ‘n groep feesgangers daar aan. Drie paartjies met kinders van verskillende ouderdomme. Die een paartjie se dogter is een of twee en twintig en sy en haar vriendin gaan sit eenkant, ver van ons af soos meisies van daai ouderdom seker maar doen. Deur die loop van die aand kyk ek elke n ou en dan na hulle, en hulle sit koppe bymekaar en gesels.

 

Die volgende dag is besig. Daar is tagtigduisend mense by die fees en ons moet bontstaan. Ek kom laataand weer by die blyplek aan, gaan gooi vir my ‘n drankie en loop soek geselskap op die dek.

 

Ons kuier lekker en gesels land en sand aanmekaar. In ‘n stadium kom die twee jong dames daar aan en gaan sit weer eenkant, weg van die res van ons af. Ek sien hoe hulle wang teen wang soentjies blaas en foto’s neem op hulle selfone. Dis die tipe foto’s wat mens gereeld op Facebook sien van vriendinne wat saam by ‘n funksie, fees of partytjie was.

 

Nog later vang my oog die twee wat mekaar op die mond soen en foto’s neem.

 

Dis uiteindelik tyd vir my om te gaan slaap en ek groet die bittereinders wat nog op die dek rondsit en kies koers na my houthuise toe.

 

Elkeen van die huisies is met ‘n stoepie toegerus wat uitkyk oor die rivier en mens kan van die jou stoep af jou buurman se stoep sien. Ek sit niks ligte aan nie en gaan sit om tot ruste te kom op my stoep, terwyl ek vir oulaas aan my glas suig.

 

Na ‘n ruk word ek bewus van ‘n beweging op die stoep langs my. ‘n Vuurhoutjie gaan aan en ‘n kers word aangesteek. Ek besef dat my bure die twee jong dametjies is wat mekaar vroëer die aand op die dek saam saam afgeneem het. Ek besef ook dat hulle nie klere aan het nie. Hulle het iets aan, maar in die flou kerslig en deur die blare kan ek nie mooi uitmaak of dit onderklere of bikin’s is nie. Ek hoor hoe hulle saggies giggel en vir mekaar fluister, en nes ek begin skaam raak oor ek hulle so sit en afloer, staan die enetjie op en vat haar vriendin se hand. Sy trek haar uit die stoel uit op, omhels haar en soen haar diep en innig. Ek sien hoe sy haar hand onder haar vriendin se broekie indruk en dit stadig heen en weer beweeg. Dan raak dit wragtig te veel vir my en ek vlug geluidloos my hut binne. Ek sukkel om die prentjie uit my kop uit te kry en skakel die tv in my kamer aan.

 

By gebrek aan iets anders lê ek toe maar en rofstoei kyk. Die “Undertaker” gooi “Rey Misterio” in die kryt rond en maak sy lewe hel. Uiteindelik gooi hy hom by die kryt uit en die arme “Rey Misterio” bly in ‘n misrabele hopie op die grond lê. Dan storm ‘n paar van sy makkers die saal binne en die “Undertaker” moet homself verdedig teen ‘n oormag van vyf of ses man. Dit eindig heel voorspelbaar met die “Undertaker” wat goed les opsê vir die manier waarop hy “Rey Misterio” behandel het. Iewers tydens die volgende geveg raak ek aan die slaap.

 

As ek wakker word is daar een of ander aksiefilm op die kassie, met Bruce Willis wat verskeie misdadigers help om die tydelike met die ewige te verwissel. Ek sakel af en trek my klere uit. As ek my slaapbroek aantrek hoor ek ‘n bronstige kat wat buite my hut iewers skree. Ek weet ek sal nie kan slaap met die kat se jagse geskree nie en stap uit om te sien of ek die kat kan kry en verjaag. Op my stoepie steek ek vas. Die geluid kom uit my bure se hut. Nie ‘n kat nie. Dalk ‘n katjie…

 

Ek staan lank en luister en dan raak sy stil.

 

Ek lê in die donker en dink aan die twee meisies en hulle obsessie met mekaar. Ek ken die gevoel; het al deelgeneem aan die liefdespel wat diep in die na-nag op ‘n gil en ‘n kreun eindig. En ek besef dat, aan die einde van die dag, is dit maar altyd wat ons inniebos soek. Net ‘n bietjie liefde…

 

Besoek

Augustus 26, 2010 in Sonder kategorie

Ek lê op die nou bedjie in die motel op Baton Rouge, Louisiana in die VSA en dink aan Kris Kristofferson se liedjie.

 

“Freedom’s just another word for nothing left to lose

Freedom ain’t worth nothing but it’s free…

Feeling good was easy, Lord, when Bobby sang the blues

Feeling good was good enough for me…”

 

Dis nie maklik om vannaand goed te voel nie. Die hitte is versengend en die humiditeit is hemelhoog. Om die venster oop te maak help niks, want die briesie koel niks af nie en dit maak die geraas van die straat se kant af net erger. Die lugversorger in die hoek proes en blaas soos ‘n asmatiese ou dieselenjin maar doen ook nie veel aan die kamer se temperatuur nie.

 

Iewers verder in die gang af lê my sussie en haar man. Ek hoop hulle lugversorger werk, want sy is siek.

 

Die oproep was baie onverwags en laat een aand.

 

“Ek’s besig om dood te gaan. Ek wil jou weer eenkeer sien.”

 

Hoe hanteer mens dit?

 

Ek leen geld, reël inderhaas ‘n visum vir die VSA, koop ‘n kaartjie en klim op ‘n Delta Airways vlug na Atlanta. Vyftien en half uur later land ons op die grootste lughawe in die wêreld en ek kry my aansluiting na Birmingham.

 

Birmingham se lughawe is klein en ek sien dadelik my swaer wat my inwag. Ons groet soos vreemdelinge, wat ons eintlik is, want in die agtien jaar wat hulle nou al in die VSA woon het ek hom net drie keer gesien, en een van daardie kere was by my pa se begrafnis.

 

Buite die lughawe slaan die hitte amper my asem weg en ons loop haastig die koel parkeergarage binne waar ons in sy Japanese SUV klim. Die kar se lugversorger werk goed en ons vat die pad Tuscaloosa toe. Dis omtrent ‘n uur se ry en al wat mens sien van die omgewing is die teerpad en die bome wat langs die pad staan.

 

Hierdie bome is ruig en hoog en mens kan niks van die landskap of die dorpies langs die pad sien nie. Net die teerpad en die bome.

 

Ons gesels maar moeilik, want as alles gesê en gedaan is, ken ons mekaar nie eintlik nie. Hy en my sussie het begin uitgaan terwyl ek in die Vloot was en daarna is ek universiteit toe en hulle is getroud en het op ander plekke gaan bly want hy is ‘n sendeling. Hulle eerste besoek aan die VSA was om te studeer, maar toe kry hy ‘n pos as dosent en hulle het nooit weer teruggekeer Suid Afrika toe nie. Ons probeer egter manmoedig om die gesprek gemoedelik aan die gang te hou en vermy die onderwerp van my sussie se kanker.

 

In Tuscaloosa doen ons by hulle ruim huis aan waar ek my sus vir die eerste keer in vyf jaar sien. Ek bars in trane uit as ek haar groet. Sy het vyf en veertig kilogram in die laaste paar maande verloor en sy lyk verwese… Afgetakel.

 

Ek spring deur ‘n stort terwyl hulle die tassse in die kar pak en dan vat ons dadelik weer die pad Houston toe, want in Houston is die MD Anderson Kankerhospitaal en dis waar sy een van die wêreld se voorste kankerdokters moet gaan sien.

 

Ons ry vir vyf ure lank op die eindelose teerpad met die eindelose bome tot op Baton Rouge waar ons in die motel inboek. En hier lê ek en wonder oor die maer vrou wat besig is om dood te gaan in ‘n motelkamer iewers in die gang af.

 

My sussie. Ousus. Speelmaat en mede musikant. Sy’s geseën met “perfect pitch” en kan enigiets met ‘n klawerbord speel. Sy sing ook soos ‘n engel en ek ken haar nie meer nie. Haar Afrikaans is outyds en haar Engels is Amerikaans.

 

Die volgende oggend val ons weer in die pad en druk deur na Houston toe. Weer is die pad met bome beraam en as ons uiteindelik in Houston aankom is dit ‘n verligting om weer beton en geboue te sien.

 

Ons hotel is reg langs die hospitaal en is trouens deur ‘n wandelgang met die hospitaal verbind. Ek kry ‘n rolstoel vir haar en vir die volgende twee dae maak ek dit my werk om haar rond te stoot terwyl haar man ons deur die doolhof van gange navigeer van een afspraak na die ander. Ek hou my lyf hofnar en vertel die een snaakse storie na die ander. Ons skater van die lag en kry snaakse kyke van die ander mense in die gange.

 

Chemoterapie is feitlik die enigste raad teen kanker en oral sien jy mense, mans en vrouens, met kaalkoppe. My sus het nie haar hare verloor nie, maar sy het grys geword, en kroes. Ek jaag resies met ander mense in rolstoele en ons wissel die lang wag tussen afsprake af met grappe en stories oor ons kinderdae.

 

Dis miskien die beste kankerhospitaal in die wêreld maar hulle skedulering is maar power. Elke afspraak wat ons nakom is feitlik met twee of drie ure vertraag. Swaer se moermeter druk naderhand in die rooi in en hy verduidlik baie diplomaties aan die ontvangsdame by een van die menigte toobanke waar ons weereens kortaf aangesê word om te wag, dat sy vrou baie siek is. Sy is nie daar vir ‘n tandarts afspraak nie. Hulle gee vir ons ‘n toestelletjie wat rooi gloei en vrolik biep as hulle jou wil hê, en sê ons kan in die kamer gaan wag.

 

Dit begin beter gaan want sus kan op die bed lê in plaas daarvan om in die rolstoel te sit en as die toestelletjie begin biep vat ons haar na haar afspraak toe. Eindelik is al die toetse klaar en ons kom na elf die aand terug in ons hotelkamers.

 

Die volgende oggend het sy nog een of twee toetse en dan begin die lang wag vir die dokter. Twee en ‘n halfuur na haar afspraak tyd gaan sy in om hom te sien. Die nuus is nie wonderlik nie, maar onder die omstandighede die beste wat ons kan verwag. Volgens die uitslae van al die toetse het die sarkoma’s nie veel gekrimp nie, maar hulle aktiwiteit is baie minder. Met ander woorde die chemo is besig om die kanker tot bedaring te bring. Ek begin sommer weer tjank.

 

Ons pak en ry terug Alabama toe waar my sus ‘n professor is by Alabama U, en ‘n wêreldkenner op haar vakgebied. Die verligting is tasbaar en ons gesels vrolik oor die toekoms, iets wat sy vir maande nie durf doen het nie. Sy begin sommer dadelik beplan aan haar sillabis vir die nuwe semester want die klasse begin ‘n dag of twee nadat ons in weer Tuscaloosa aankom.

 

Ons slaap oor in New Orleans en sus kry dit selfs reg om drie straatblokke saam met ons te loop na ‘n Kreoolse restaurant waar ons smul aan “Blackened Fish” en Abita bier. (Sy eet net ‘n klein stukkie gestoomde vis) Ons vat haar terug hotel toe en sy val dadelik in die bed.

 

Ek vat die strate van die French Quarter en land by een jazz plekkie na die ander op in Bourbon Street. By een Kreoolse kroeg speel ek op uitnodiging saam met die orkes en hulle is verwonderd dat ek so goed regkom. Ek verduidelik van Boeremusiek en die ooreenkomste tussen hulle musiek en ons s’n en kom na menige heildronke laataand in my hotelkamer aan.

 

Ek kan nie slaap nie en gaan luister ‘n keer of wat by hulle deur, om te hoor of daar tekens van lewe is.

 

Die volgende oggend eet ons brekvis en vat weereens die lang boombelaaide pad Tuscaloosa toe.

 

My sus val dadelik in as sy by haar huis kom. Deur middel van Skype en ander soortgelyke middels kan sy klas gee sonder om kampus toe te gaan. Sy doen ‘n fakulteitsvergadering via die Internet, publiseer haar lesings op ‘n klasblog, ontmoet haar studente via Skype en raak laatmiddag, uitgeput, grys en verwese agter haar Apple aan die slaap.

 

Ek kook vir ‘n vale. Boerekos, soos ons ma gemaak het. Melkkos, souskluitjies, pampoenkoekies, begrafnisrys… Alles word in porsiepakkies verpak en gevries vir later. Ek maak sap, beetslaai en bobotie en dek die tafel vir as die predikant kom kuier. Hy’s ‘n Jood wat tot bekering gekom het en nou hulle gemeente met harde werk en deernis bedien. Hy geniet ons kos en, ek dink, ons geselskap ook.

 

Ek kuier saam met my suster se jongste dogter en gaan luister hoe hulle skoolorkes oefen. Ek en Swaer ry rond en hy wys my die wondere van die Tuscaloosa. Ek kom gou agter hy’s ‘n petrolkop soos ek en ons gesels kopstukke oor ons gemeenskaplike passie. En ons eet. Magtag ,maar ons eet! Alabama U se voetbalspan, die Crimson Tide, is die huidige nasionale kampioene en oral waar jy kyk sien jy die passievolle aanhangers van die span. Ons gaan kyk na die universiteit se stadion wat plek het vir eenhonderd en twee duisend mense (die dorp het maar net ‘n aks oor die driehonderd duisend inwoners!) en ry op die kampus rond. Hy mis rugby, maar kan dit darem op die internet kry. My suster daarenteen, het ‘n volslae Crimson Tide ‘groupie’ geword.

 

Saans kuier ek en my sus tot laat in die tv kamer. Ons kyk na amusante programme op die verskeie koskanale en gesels oor alles en nog wat – veral haar kinders en kleinkinders en hoe sy hulle mis. Een dogter bly in Colorado en die ander in San Diego en ons gesels met hulle op Skype en sy sing vir haar kleinkinders – Siembamba en ander liedjies uit ons kinderdae. Die klein Amerikanertjies verstaan seker nie veel nie, maar hulle is lief vir hulle Ouma se pragtige stem. (My sus – ‘n Ouma!) Ek probeer ook bydra met Dapper Muis en Heidi maar hulle verkies Ouma se stem.

 

Later gaan wys Swaer my die luukse gemeenskap op Lake Tuscaloosa waar mense ys in hulle swembaddens gooi om dit swembaar te maak, en waar daar reuse waaiers op die setperke van die gholfbaan is om die spelers af te koel. Selfs die gholfkarretjies het lugversorging in. Hy wys my die huis wat hy en my suster wou koop voor sy siek geword het. Hy vertel hoe al hulle planne op wag gesit is na die eerste diagnose. Hy’s naby aan trane.

 

Dis tyd om huistoe te gaan en ek groet. Soen my suster. Kyk in haar oë, sien die verlange. Ek belowe dat sy my weer sal sien. Groet hulle jongste wat met haar Springboktrui op pad is skool toe. Belowe dat sy by ons kan bly as sy SA toe kom. Klim in die kar, vee trane af.

 

Op pad lughawe toe ry ons weer by die meer verby. Ek maak ‘n opmerking oor die pragtige huise wat hy my gewys het, en hy sê, na ‘n effense stilte: “Ek sal dit alles ruil en weggee as sy net weer gesond kan wees.”

 

“Freedom’s just another word for nothing left to lose,

Freedom ain’t worth nothing but it’s free…”

 

Ek gesels nou elke dag met haar op Facebook.

 

TYD….

Julie 29, 2010 in Sonder kategorie

My ma het aljimmer sgekla dat daar nie genoeg ure in die dag is nie. As kind was daai stelling vir my ‘n duisterheid – tyd kon dan so lank stilstaan voor die fliek, of die kuier of die vakansie!

Maar hier is ek nou in middeljare… En wragtag daar’s nie genoeg ure in die dag nie! Ek kom loer in wanneer ek kan, maar vir skryf is daar min tyd. Ek gaan egter een van die dae lekker ver kuier en sal dan beslis tyd he om weer bietjie te blog. Hoop julle het nie van my vergeet nie!

I’LL BE BACK!

Plankloper.

Hercules, die dokter en die doringrosie.

Julie 14, 2010 in Sonder kategorie

  

Paul was op skool my beste pel, rugbymaat, drinkebroer en vennoot. Saam het ons matriekwiskunde deurgeworstel; saam het ons by garage paarties gevry; saam het ons Cravenweek gespeel en saam-saam het ons die eerste keer lekker dronk geword. En toe is matriek verby en ek gaan Vloot toe en Paul gan swot. Medies.

 

Na my rukkie in die Vloot het ek gaan rondloop in Europa, geleer dat kroegmanspeel nie kinderspeletjies is nie en later teruggekom huistoe om te gaan swot by die Universiteit van Pretoria. En daar loop ek toe weer in my ou kameraad vas, wat teen die tyd al derde jaar-amper-dokter is. En net daar tel ons weer die leisiels op en kuier van voor af vir dood.

 

Paul het egter in sy drie jaar ‘n volwasse man geword wat deur al wat meisiemens as baie aantreklik ge-ag is. Lank en donker, met breë skouers en blou oë en ‘n diep bas stem het hom die vangs van die kampus gemaak. Ek het sy krummels met groot dankbaarheid onder my vlerk geneem en wat ek nie in “looks” gehad het nie het ek voor opgemaak met persoonlikheid en snaakse stories.

 

Paul het lekker gewoeker onder die dames in my kunstige departement en moes selfs ‘n keer of wat om hulp roep as die meer voor-op-die-wa meisiekinders vir hom te veel geraak het.

 

En toe ek in my derde jaar is kom daar ‘n nuwe eerstejaartjie daar aan met die wonderlike naam – Hercules. Hercules van Rooyen, van Baberton af. ‘n Griekse god en kragreus was hy beslis nie. Trouens hy was aan die tengerige kant met ‘n fyn stemmetjie en slap gewriggies. Maar dit was my plig as sy senior om hom touwys te maak in die geheimenisse van ons departement en ek het my bes gedoen.

 

Hoekom sy ma-hulle hom Hercules gedoop het sal g’n mens weet nie, maar hulle het hom baie goeie maniere geleer en hy’t sommer gou-gou ‘n populere deel van ons boheemse klomp geword. Die meisies was gek oor hom want hy kon dans. Enigiets van die Rumba tot die Samba en alles tussenin. By elke sokkie het die meisies gewedywer om hom as “date” te kry want hy kon die aand omdans en nie probeer om hulle te soen as hy hulle huis toe vat nie.

 

So in die middel van sy eerstejaar het hy een aand by my woonstel opgedaag en kom bieg dat hy nie die mas opkom met sy prakties nie. Die akademie was nie te veel van ‘n probleem nie, maar die prakties, ai…

 

So het ons toe tot laat gesels en hy’s daar weg met ‘n lied in sy hart en die volgende dag het hy die professor ingelig dat hy gaan opskop. Hercules is toe daar weg en alhoewel hy nog so een of twee sokkies bygebring het, het hy gou die kampus se stof van sy voete afgeskud.

 

Intussen het ek en Paul die stange behoorlik vasgevat en uiteindelik het ons albei in ons gekose rigtings gekwalifiseer. Paul is weermag toe en het op Voortrekkerhoogte sy loopbaan as dokter begin.

 

Twee, drie jaar later loop ek eendag vir Hercules in die bank raak, en ons gaan drink opsluit ‘n vars drinkding. Hy vertel toe dat hy by ‘n dansateljee aangesluit het en nou sy lewe maak deur die eensames, die soekendes en die verveeldes te leer dans. Hy vertel my toe ook skamerig van Brian. Hy’t Brian by die ateljee ontmoet en die twee het dadelik verlief geraak op mekaar en later saam ingetrek en huis opgesit.

 

Brian was ook ‘n danser en het sy brood verdien as dieselmac. Hy’t vragmotors en busse onderhou deur die dag en snags het hy gedans. En die twee was baie gelukkig saam. Ek het later heelwat van die twee te sien gekry en Brian het aan my bakkie gewerk as dit nodig geword het.

 

Paul het intussen klaar gemaak by die Weermag en begin praktiseer en sommer gou-gou ‘n florerende praktyk opgebou.

 

‘n Jaar of drie later sterf Brian in ‘n ernstige motorongeluk. Hercules – teen hierdie tyd het hy al meeste mense oorreed om hom Herkie te noem – het bitter moeilik die alleenheid gewoond geword en ‘n paar keer by my kom sit met trane in sy oë. So gebeur dit toe ook, ongeveer 2 jaar na Brian se dood, dat hy weer een aand by my sit toe Paul daar opdaag.

 

Ek kon sommer dadelik sien dat Hercules net so oor Paul voel as die talle dames wat deur die jare voor Paul se sjarme geval het. Paul was sy vriendelike self en teen die einde van die aand het Hercules onderneem om van nou af al sy medies probleme voor Paul se deur te kom lê. Hy’s daar weg – vroliker as wat ek hom in al die tyd sedert Brain se dood gesien het. Paul het my vertel van die nuwe lig in sy lewe, ‘n oud model en sakevrou, en gesê hy dink die een is dalk die trouvrou. Daaraan het ek my nie veel gesteur nie want ek het daai storie ten minste drie keer ‘n maand gehoor. Ek het hom so effens gespot oor die indruk wat hy op Herkie gemaak het, maar hy het dit net afgelag.

 

Die voilgende dag bel Hercules en vra uit oor Paul. Ek verseker hom dat Paul nie in mans belangstel nie en dat hy wat Hercules is dalk gaan seerkry as hy ‘n kans met die man sou neem.

 

Omtrent drie weke later kom Paul een middag na werk by my aan. Hy’t dieselfde veraf uitdrukking in sy oë wat hy in matriek gekry het as ou Brits hom vra oor logaritmes. Hy maak die bottel whisky wat hy by hom het oop en gooi vir ons elkeeen ‘n stewige dop. En hy begin vertel…

 

Hercules het opgedaag en ‘n dringende afspraak gesoek. Hy’t vir sy ontvangsdame gesê om die man in te druk en toe aangegaan met sy dag. ‘n Halfuur later loop Herkie in en Paul kan sien die man is baie ongemaklik. Paul vra uit en Herkie erken toe dat hy ‘n ernstige pyn uit. Na nog bietjie geduldige vrae, erken Herkie dat die pyn in sy “fondament” is. Paul vra toe dat Herkie sy broek moet uitrek en gaan lê, wat die man toe ook summier doen.

 

Paul trek jas en handskoene aan en trek die gordyn weg. En daar lê Hercules, op sy maag met kaal boudjies in die lug. Paul steek vas. En dan sê hy met moeite: “Magtag Hercules, g’n wonder jy’t ‘n pyn in jou dinges nie, daar’s ‘n roos in!”

 

Hercules loer skalks oor sy skouer en antwoord: “Lees die kaartjie skat. Lees die kaartjie!”