Negatiewe motivering

September 4, 2011 in Sonder kategorie

Stilbaai is verdomp nie stil in Desember nie. Daarom dat ek op Die Dekke sit en bier drink, weg van die gedruk en gedruis van die strand af. Die jongman wat ongenooid by my kom sit is duidelik ‘n boerseun, mooi skoon oop eerlike gesig, maar goed gemoer. Die blou sakke onder sy oe het al ‘n groen kleur en sy neus is duidelik gebreek. Steek sy hand uit en stel homself voor.

 

“Oom” begin hy onseker.

 

“Ek sien oom se kar het ‘n Gauteng registrasienommer. Ek is in die nood oom. Ek soek ‘n saamry geleentheid terug Wes-Transvaal toe, oom.”

 

My nuuskierigheid was geprikkel, hy lyk nie na die baklei tipe nie, vra dus wie vir hom so verniel het?

 

Hy het lank stil gebly, weg gekyk strand se kant toe. Ek was later half ongemaklik want ek kon sien die trane is naby. Na ‘n ruk uitgewurg: “ Dit was my eie vrou, oom.”

 

Geweet hier is ‘n storie wat ek moet hoor. Hom genooi om ‘n bier saam met my te drink en my te vertel. Hy het ingestem, gevra of hy nie maar ook kos kon bestel nie want hy het lanklaas geëet.

 

“Oom, as ‘n vrou jou vra om haar te help deur haar negatief te motiveer, moet haar nooit ooit glo nie! Dis net moeilikheid!”

 

Hy het op ‘n plaas, soos hy dit stel, groot gekom. Een van baie kinders, net boeties en geen sussies nie. Nie eers die bure het dogters gehad wat hom ‘n bietjie gewoond aan vroumense kon maak nie. ‘n Landbouskool bygewoon waar die vroulike geslag ook maar baie dun gesaai was. So sy kennis van die nukke en grille van die vroulike geslag was min. Tog het dit hom geluk toe hy dertig jaar slaan en sy plaas ekonomies word om die nuwe jong huishoudkunde onderwyseres onder die ander manne se neuse weg te raap.

 

Gou getrou en sommer dadelik met kinders begin. En dis nou net daar waar die moeilikheid begin het. Want na die eerste drie kinders het die gewig wat sy vrou tydens die swangerskap aangesit het gebly. Nie dat sy nou eintlik voor die tyd maer was nie.

 

“Ek kan mos nie ‘n vrou staan wat soos ‘n droogte koei lyk nie, net heup- en skouerbene. Nee, ‘n vrou moet rondings en vatplek hê.”

 

Die ekstra gewig wat sy aangesit het hom nie gepla nie, vir haar wel. Veral toe hulle planne maak om ‘n slag met ‘n seevakansie te gaan – die gedagte aan haarself in ‘n swembroek op die strand het haar nie aangestaan nie.

 

Sy standaard antwoord, wanneer sy vra en wat hy uit sy hart uit bedoel het: “ Ek is lief vir jou net soos jy is.” Het niks gehelp om haar onvergenoegdheid oor haar gewig te verbeter nie.

 

Vir ‘n maand of twee het sy elke Maandag met ‘n nuwe dieet begin. Wat gewoonlik net tot die Woensdag of Donderdag gehou het. Die ekstra gewig het gebly.

 

Toe word dit sommer sy skuld, want hy ondersteun haar glo nie genoeg nie. Kom sy op die blink gedagte dat hy haar moet help deur haar negatief te motiveer. Dink sy, hardegat wat sy is, is die wag-maar-ek-sal-jou-wys tipe motivering net wat sy nodig het om gewig te verloor.

 

Aanvanklik wou hy nie byt aan die ding nie. Hy kan mos nie lelik wees met die vrou van sy hart nie, dis dan sy werk om haar te koester en lief te hê. Maar as sy eers ‘n ding in haar kop het…….

 

Later maar, net om die vrede te bewaar, begin om haar liggies negatief te motiveer. Niks ernstig nie. Sou byvoorbeeld sy oë groot maak en rol wanneer sy voor hom uittrek. Of as hy in die kombuis by haar verby stap aan haar vetrolletjie vat. Aan die dun lippies en die ogies wat sy op ‘n spleet trek het hy afgelei dat die tipe motivering werk. Sy het selfs ‘n bietjie gewig verloor.

 

Hoe later hoe meer gemaklik het hy geraak om sy vroutjie negatief te motiveer. Meer selfvertroue gekry en dit selfs verbaal begin doen – ligte skimpe begin gooi. Nogal in sy mou gelag oor sy eie spitsvondighede wat hy uitgedink het.

 

As sy worstel om in haar onderklere te kom, so terloops opgemerk: “Ten minste kan jy nou cleavage wys.”

 

Haar “My ou appelfiguurtjie” te noem terwyl hy liefderyk oor haar heup te streel.

“Moet jy nie maar jou kraamklere inpak vir die vakansie nie?”

 

Verbasend, dit het gewerk, sy het gewig verloor. Nie dat sy hom vertel het na haar weeklikse weegsessies nie, want om die een of ander rede was sy dikbek met hom. Maar hy kon self sien sy verloor gewig en die sukses het na sy kop gegaan.

 

Net voor hulle na die see vertrek het was hy al braaf genoeg om haar “Donder dye” te noem. Gevat aan te beveel, toe sy nie ‘n swembroek na haar smaak kry nie, dat sy vir haar een laat pasmaak by Tent & Canvas op die dorp.

 

By die see gearriveer het dit nie by hom opgekom dat die slag gelewer is nie. Hy kan maar ophou, die gewig wat sy nog nie verloor het nie, gaan sy nie nou meer verloor nie. Sy het hom ook nie reg gehelp nie, want praat, praat sy lankal nie meer met hom nie. Vir hom was haar stilstuipe egter aanduidend dat sy motivering werk.

 

Die laaste strooi? Hy weet nie wat hom besiel het nie, daar waar hy op die duin gesit het en sy vrou en kinders dophou het. Vermoed dit was die son en die paar biere se skuld. Toe sy vrou weer opkyk van waar sy met die kleuters in die vlak water speel, wys hy na haar en skree met sy harde plaasstem: “Dikkes, jy’s myne!” Sy moet mos weet hy is lief vir haar, dik of nie. En hy is nie skaam om dit voor al hierdie mense te sê nie, almal kan maar hoor.

 

Van die mense op die strand het opgestaan om te sien wie die onderwerp van sy toegeneendheid is, na haar beduie. Sy het die kinders net daar by die oppasser gelos en na hom gestorm. Vir hom kompleet gelyk soos ‘n agt wiel John Dear trekker wat ploeg, die sand maak sulke suile weerskante van haar, te mooi vir ‘n saaiboer soos hy. Haar met ope arms staan en inwag want hy was onder die indruk sy kom ook haar liefde vir hom bevestig.

 

So op twintig tree het hy haar vir die laaste keer negatief gemotiveer met: “Jy moes my voor die troue gesê het jy het Saartjie Baartman gene!”

 

Haar voorkop het hom mooi op die brug van sy neus getref. Toe is sy deur hom, oor hom en reguit na hulle vakansiewoonstel.

 

Eers sy bewyssyn herwin nadat die lewensredder seewater uit ‘n dogtertjie se sandkasteelemmertjie oor hom uitgegooi het. Terug van die dokter vind hy hul woonstel gesluit. Sy nuwe kombi, sy beneukte vrou, sy kinders, die huishulp, sy beursie, sy selfoon, al hul bagasie is net weg. En dit was drie dae gelede.

 

“Oom, ek erken, ek weet nie baie van vrouens af nie. Maar ek weet nou dat jy hulle nie moet glo as hulle vra dat jy hul negatief moet motiveer nie. Al is jy hoe lief vir hulle. Daar kan niks goeds van kom nie!”

 

Ek het die paartjie jare later weer by NAMPO-skou raakgeloop, by die beeste afdeling. Sy vol en mollig, hy steeds baie lief vir haar. Hulle het nog drie kinders ryker geword, die hele spannetjie net seuns.

 

 

Die UIF-kantoor

September 2, 2011 in Sonder kategorie

Die UIF kantoor is maar soos die meeste anders staatsdienskantore wat veronderstel is om die publiek te dien. Effens vuil, plek-plek afgeskilfer, bedompig met ‘n ligte mensreuk. Rye en rye verweerde stoele waarop mense met moedelose gesigte musical chairs speel tot dit hulle beurt is om hul vorms in te handig. Vorms wat nagegaan en getjap moet word sodat hulle ‘n werkloosheidversekeringsgeldjie kan ontvang om hopelik die maand te kan deursien.

 

Hulle is almal hier, van die huishulp wat vertel hoe onregverdig haar madam, vir wie sy al sewentien jaar werk, met haar was. Tot die stroewe ex-yuppie wat net voor hom uitstaar en met niemand praat nie, oogkontak vermei. ‘n Groepie naaldwerksters wat in die “Chonk” se klerefabriek gewerk het, dis nou tot die fabriek na Lesotho verskuif is omdat die arbeidswetgewing in SA te streng is. Die net-voor-aftree-ouderdom oom in sy verweerde pak wat selfbewus hier tussen die warm lywe sit, skaam-kwaad dat werkloosheid hom ook oorgekom het. Nou, op hierdie ouderdom, nou na al sy jare van lojale diens? Langs hom ‘n madala in sy konstruksie overall wat sy veiligheidshelm om en om draai in sy verweerde hande, na die grond staar en heeltyd sy kop liggies skud. En natuurlik ek. Ek sit ook hier toe mister Boere-bling die vertrek inkom.

 

Met selfvertroue stap hy in, kyk rond en gaan sit dan op die oop stoel aan die einde van die slangetjie mense wat wag. Blink punt skoene, nou broek, laag oopgeknoopte hemp, swaar juweliersware, flashy. Kyk hy rond, maak oogkontak met my en besluit ek is die een wat sy storie moet aanhoor al is daar drie rye mense tussen ons. Dit terwyl ek juis nie in daai rigting wil kyk nie – ongemaklik oor die vrou wat haar baba sonder enige inhibisie in die openbaar borsvoed.

 

“Ek het my eie panel-beaters gehad jy weet.”

 

Verwens weer my ouers wat my so goed groot gemaak het dat ek na hom luister en hom nie doodeenvoudig ignoreer nie.

 

“Ek het nie hierdie ou UIF-geldjie nodig nie” vertel hy vir almal in die vertrek om te hoor.

 

“Maar dis ‘n beginsel saak” reken hy en gee my ‘n intense kyk met.

 

“Gereken ek het al die jare UIF betaal, waarom sal ek dit nie kom terugeis nie. Die regering gaan dit tog net steel of uitmors.” Kyk rond om te sien wie nog luister.

 

“Dis nou nie of ons eintlik baie geld ontvang nie, nê. Net genoeg om my Hummer se tenk vol te maak en ‘n bottel of twee whiskey te koop. Nie dat ek cheap whiskey drink nie, moet ek jou sê.”

 

Genadiglik was ek naby aan voor en kon sonder skuldgevoelens sy monoloog onderbreek toe dit my beurt is. Vort sonder om weer in sy rigting te kyk.

 

Eers nog sake in die stad gaan doen voor ek weer by die UIF-kantoor moes verby ry huistoe. Hom in die ry by die bushalte sien staan, gestop om hom ‘n saamry geleentheid aan te bied. Maar eers toe ek die derde keer my toeter druk besef sy wegkyk om my nie raak te sien nie is doelbewus.

 

 

 

 

‘n Kwaai vrou is eintlik ‘n seen………

Maart 11, 2011 in Sonder kategorie

Die manne staan om die braaivleisvuur met ‘n mout in die hand. Ons praat nie meer rugby nie want ons span het verloor, nou klae ons maar oor ons kwaai vrouens.

 

“Nee, julle manne verstaan verkeerd, ‘n kwaai vrou is eintlik ‘n moerse groot seën.”

 

Daar was ‘n lang en verbaasde stilte na sy woorde, die ongeloof in sy maters se oë duidelik. Want ons weet ons se vrouens mag dalk kwaai wees, maar syne is sommer plein weg hoogs bedonderd. Hy is ook nou wel baie wilder as ons, maar hy val beslis in die battered husband kategorie. Net laas maand nog het sy vir hom met die besemstok verduidelik toe hy warm by die huis aankom. En waar sy bles begin, wys die littekens van haar eetvurk nog.

 

“Dis oorlat hulle vir ons so lief is dat hulle so kwaai is.”

 

Sulke wilde uitlatings kan nie net so sonder verduideliking gelaat word nie, die manne dring aan hy moet verduidelik waar die nuwe en kontroversiële insigte vandaan kom.

 

Vertel hy ons dis nou al ‘n ruk dat hy met die nuwe lewenswysheid in hom loop. Vandat hy sy moeder by die ouetehuis gaan haal het vir tannie Nonnie en oom Tinny se sestigste huweliksherdenking. Oom Tiny, is soos sy naam aandui, ‘n reus van ‘n mens en tannie Nonnie breekbaar klein en fyn. Die twee bejaardes sit en dophou en teenoor sy ma opgemerk dat dit darem ongelooflik is dat twee mense na soveel jare nog so liefdevol met mekaar is. Lig sy ma hom in dat hy nou oud genoeg is om die familie geheime te weet. Ja, dink hy by homself dit is seker al lankal tyd, hy is darem al middeljarig. Die geheim, dit was nie altyd so met oom Tiny en tannie Nonnie nie – sy het hom glo reg gemoer.

 

Tannie Nonnie was die laatlam van ‘n ryk boer in die Wes-Transvaal, daar waar daar nog spoeldiamante in die gruis lê. Oom Tiny het as veertienjarige seun net eendag in die stofpad langs daar opgedaag. Geweier om te praat oor waar hy vandaan kom, op die diggins begin werk wat aan die plaas gegrens het. Die twee het mekaar maar so oor die draad geloer as kinders. Hoe en waar dit begin het, hoe lank dit aangegaan het, het niemand geweet nie. Maar sy was skaars klaar met skool toe die twee uit die bloute aankondig dat hulle gaan trou. Haar ma het gehuil en haar pa het gedreig om te onterf. Daar is gewys op sy gebrek aan agtergrond, dat hy rof is, dat hy net ‘n arbeider op die diggings is, dat sy te sag is en hy haar sal verniel. Maar jeugliefde laat hulle nie voorskryf nie. Jare se laatlam bederf het gemaak dat tannie Nonnie gewoond was daaraan om haar sin te kry, ook hierdie keer het sy dit reggekry.

 

Om verlief te wees op ‘n ruwe diamant is een ding, om met hom getroud te wees en saam met hom te bly is ‘n ander ding. Soos deur almal voorspel, was daar gou moeilikheid. Oom Tiny was ‘n delwer, elke aand na werk ‘n dop saam met die manne gaan drink, party aande meer as ander. ‘n Bietjie gesmokkel, gedobbel en vuisgeslaan ook. En as haar gekla en kerm vir hom te veel word effens rof met tannie Nonnie geraak. Nog niks ernstig nie, haar ‘n bietjie geruk en gepluk, maar die vrees was daar dat dit sou eskaleer. Die wat geweet het, het gesê sy moet hom los. Maar sy wou nie, want sy was lief vir hom – ten spyte van. Maar sy het ook geweet dat sy plan moet maak want as haar familie uitvind was daar oorlog. Haar vier broers was beneukte en sterke derduiwels wat as harde boere geglo het aan hulle eie soort geregtigheid, as hulle hiervan te hore moes kom was die kans goed dat haar geliefde in ‘n erdvarkgat of op die bodem van ‘n diep kuil in die rivier sou eindig.

 

As deel van haar plan ‘n groot pot vaseline gekoop. Een aand het oom Tiny weer sterk aangeklam by die huis gekom, maar sy het nie baklei nie. Liefdevol sy kos vir hom voorgesit en met ‘n belofte in haar stem vir hom gesê dat sy solank vir hom badwater gaan intap sodat hy skoon is wanneer hy bed toe kom. Toe hy lekker ontspanne in die bad lê en week stap sy in met haar pa se handsambok, nog ‘n regte seekoeisambok. En net daar in die bad het sy hom uitgelooi. Hy het probeer om uit te kom, maar die bad wat sy vooraf met vaseline gesmeer het was te glad. Later net gelê en sy pakslae gevat. Toe sy met hom klaar was sy drinkebroers gaan roep om hom hospitaal toe te vat. Drie dae later nadat hy ontslaan is het hulle hul gesprek gehad, het sy vir hom verduidelik dat sy dit uit liefde vir hom gedoen het.

 

Die manne om die vuur was lank stil, uiteindelik een na die ander hul koppe instemmend geknip. Ja, dis waar, nooit so daaroor gedink nie. Waar sou helsems soos ons op geëindig het as dit nie vir ons kwaai vrouens was wat so lief is vir ons nie?

 

 

 

 

Sjef vs kok

Maart 9, 2011 in Sonder kategorie

“Julle moere, ek is nie ‘n kok nie en ek weier om kos te maak.” Net so, in daai presiese woorde reken hy vir ons daar waar ons manne om die bosveldvuur sit. En ons is diep seergemaak deur sy woorde en weiering, ons jag al jare saam en almal moet tog ‘n beurt kry om kos te maak. Hy het eers nog sekelbos op die vuur gesit, vir hom ‘n skuimkop geskink voor hy begin verduidelik wat sy moerigheid met kosmaak is.

 

Vertel hy vir ons hy het nie ‘n probleem om vir ons kos te maak nie, inteendeel, maar hy is nie ‘n kok nie hy is ‘n sjef. Weier beslis om ‘n kok genoem te word, klaar gepraat. En dit is alles sy army kok se skuld.

 

As offisier het hy in sy tweede jaar van diensplig kommandolede opgelei daar iewers in die berge naby Barberton teen die Swaziland grens. ‘n Dienspligtige se droom – sy eie army kampie, sy eie bakkie, sy eie drywer en klerk, sy eie kok, kommandolede wat nie te paraat is nie en ook nie ‘n PF in sig om dit alles te bederf nie.

 

Die kamp kok wat aan hom toegewys is se naam was Gavin. Gavin het skool gegaan in een van die eksklusiewe Engelse skole in Johannesburg en voor die weermag het hy nie een aand nie onder sy mamma se dak geslaap nie. Dit het ten hemele geskree dat die arme knaap diensplig moes doen. Kon nie eers soos ‘n man loop of praat as hy hard probeer nie. Alternatiewe seksuele voorkeure gehad. Fynbesnaard, met sy eerste uitkak het hy aan die snik geraak. Geen militêre houding van enige aard nie. Ons mater het hard probeer om van Gavin ‘n soldaat te maak, maar hy het besef hy veg ‘n verlore geveg toe hy sy moer strip en Gavin aan die kraag paradegrond toe sleep vir ‘n opfok en Gavin sy G3K4-kaart uitpluk: “Luitenant, jy kan my nie ‘n opfok gee nie. Ek het ‘n lek hart, asma en kry epilepsie . Ek vrek so gou soos nou.” Maar sy hart met tyd versag, want het besef Gavin is nie hier uit vrye wil nie en netnou sny die outjie dalk sy polse of iets. Die oorblywende maande in vrede spandeer, selfs geheg geraak aan die klein twak. Die beste kos in die hele weermag gekry.

 

Dit was in hul laaste dae voor uitklaar dat hy oor die lengte van die paradegrond skree: “Kok kom hier!” En dit is presies hier waar dit gebeur, Gavin ruk sy losgat in ‘n militêre knop, marsjeer perfek, doen ‘n perfekte halt, ‘n perfekte saluut: “Luitenant, ek is ‘n sjef, ‘n kok hang tussen ‘n man se bene!” Doen weer ‘n perfekte saluut, omkeer en weg marsjeer. En dis waarom.

 

Ons manne om die vuur het verstaan, daar is eenparig besluit hy mag maar ‘n sjef wees, maar more is dit steeds sy beurt om ontbyt maak.

Explain vir darrie hond.

Desember 13, 2010 in Sonder kategorie

Sit nou die dag in een van daai verpligte seminare waarmee die maatskappy ons almal se tyd so kan mors. Luister na die HR-juffer oor die belangrikheid van kommunikasie, vertel sy in hoë taal vir ons ou hande wat ons reeds weet. Maar sy hou vir haar slim hoor, weet my te vertel my motto van “Work or get fired” is nie effektiewe kommunikasie nie. Ek verskil natuurlik, ek dink dit is baie effektiewe kommunikasie, daar is nie plek vir misverstand nie.

 

Ewentewel, terwyl sy voort babel oor kommunikasie onthou ek van oom Wynand se hond.

 

Oom Wynand het op ‘n dorpie in die Laeveld gebly, maar het gatvol geraak vir skool laaities wat op hul fifties in die straat op en af jaag, die bure se blaffende brakke, die geraas by die taxi-rank op die hoek, die reuk van die nagkar op Donderdae… Sommer gatvol vir die dorp in die algemeen en besluit toe om vir hom ‘n plot buite die dorp te koop.

 

Saam met die plot erf hy toe ‘n klomp hoenders en vir outa George. Het outa George maar uit liefdadigheid aangehou want hy was oud en afgeleef en kon nog net ‘n bietjie in die tuin ploeter. Hy was ‘n alleenloper wat nie met die ander werkers gemeng het nie, het glo as jongman uit Malawi hierheen gekom. Volgens gerugte gevlug omdat hy sy vrou en die se skelmpie met die knopkierie doodgeslaan het.

 

Die hoeders op die plot was baie, hulle skrop en loop die hele werf vol. Net in die aand het hulle hok toe gegaan. Regte vryloop hoenders, nog lank voordat daar sulke hoenders op Woollies se rakke was.

 

Daar word toe besluit die plot moet ook ‘n groot hond hê. Die stoepkakkertjies wat saam van die dorp gekom het slaap in die huis en is buitendien te bang om die werf op te pas. Het sommer ‘n hond by die DBV gaan haal, moeilik om te sê watse hond. So baie bloedlyne, kon net met sekerheid sê dit is ‘n hond.

 

Sommer van dag een was daar moeilikheid met die hond – die hond het die hoenders gejaag en as hy gelukkig was ook gevang.

 

Die mense het gewaarsku, die hond sal weggemaak moet word want ‘n hond wat eers begin hoenders vang het leer dit nooit weer af nie. Hulle het alles probeer. Die hond geslaan, met water gespuit, die hoenderskarkasse met rissies gedokter. Maar as hulle sien was die werf weer vol vere en die hoenders se getalle minder. Later selfs ekstreme metodes probeer, ‘n dooie hoender om die hond se nek vasgemaak tot dit afvrot, die hond vir drie dae sonder kos en water in die hoenderhok vasgemaak maar niks het gehelp nie.

 

Die hoender getalle op die plot het baie min geword. Toe oom Wynand raadop na die laaste vangs die geweer in die huis gaan haal het outa George gekeer: “Laat ekke eerste vir daarrie hond explain”.

 

Outa George het plat op die gras gaan sit met een van die hoenders in sy arms. Die hond maak lê voor hom.

 

“Sien djy hierdie plek?” Hy het na die vier hoekpale van die plot beduie. “Hierdie, dis ons se plek.”

 

“Sien djy hierdie huise?” Na die opstal en werkershuise gewys. “Hierdie, dis ons se huise.”

 

Die hond het met ‘n frons vir outa George gelê en kyk.

 

“Sien djy hierdie goeters?” Sommer so in die rondte beduie na die implimente en voertuie op die werf. “Hierdie, dis ons se goeters.”

 

Die hond het sy kop skeef gedraai, sy aandag intens by outa George.

 

Outa George het sy eelt gewerkte vinger na die hond gewys.

 

“Djy, djy is die hond, djy is ons se hond. Djou se werk is om op te pas. Djy kyk agter ons se plek, djy kyk agter ons se huise, djy kyk agter ons se goeters.”

 

“Djy sien hierdie hoenderjies?” Druk die hoender tot teen die hond se neus. “Hierdie, dis ons se hoendertjies. Djy vang hom nie, djy eet hom nie. Djy kyk agter hom. Djy verstaan?”

 

‘n Ruk die hond in die oë gekyk, die hoender neergesit, en weg gestap.

 

Daarna het oom Wynand se hoenders vooruit geboer, die hond het nooit weer een van hulle gevang nie. Self sy kop gedraai en weg gekyk as hulle die oorskiet in sy kosbak kom vreet. Verskeie wilde katte en selfs ‘n muishond by die hoenderhok doodgebyt.

 

Dink ek in die lesinglokaal – Ja juffrou voortvarend, jy mag baie weet van slim woorde en kommunikeer, maar jy weet nog nie van explain nie.

 

 

 

 

Eerste jaguitnodiging aan susterskind.

November 4, 2010 in Sonder kategorie

Goeie dag, jonge heer Quintin.

 

Ek hoop as die brief jou vind dat alles wel is met jou en die familie. Hier by ons gaan alles genadiglik ook nog voor die wind.

 

Soos beloof kan jy hierdie jaar saam met my gaan jag in die bosveld. Ek en jou ouers het gepraat en dit gaan (DV) die naweek van 10 tot 12 Julie plaasvind. Ons gaan noord van die Waterberge op die oewers van die Tambotierivier ons tente opslaan. Oom Nico Steyn , direkte afstammeling van President Steyn van die destydse Republiek van die Oranje Vrystaat en jare lange mater van my, en sy seun Barend Hendrik Steyn, gaan saam met ons op die ekspedisie.

 

Hier volg ‘n lys van noodsaaklikhede wat jy gaan nodig hê:

 

‘n Hoed om die son uit jou oë te hou en te keer dat jou sagte harsings kaings braai.

 

Sonskerm om aan te smeer. Die son hier in die bosveld kan julle bleek outjies erg verbrand as hy vir jou alleen kry.

 

Gemaklike stapskoene wat al ingeloop is. Ons jag te voet. Ek dra vellies sonder kouse, my voete stink nou wel erg, maar ek sukkel nie met steekgras in my kouse nie.

 

Bosklere, dis nou ou klere want ons jag in sekelbos en swarthaak wêreld wat ‘n man se klere erg kan skeur. Kakie of dowwe groen en bruin werk die beste, dis nou sodat die bokke ons nie kan sien nie.

 

‘n R1 of ‘n R2 muntstuk. Dit moet ‘n silver muntstuk wees. Die is verpligtend, want ek en jy het ‘n familie tradisie om af te handel. ‘n Mannetjie van jou ouderdom moet ‘n knipmes hê, maar ‘n knipmes mag nie gegee word nie, dit moet vir ‘n silver muntstuk geruil word – anders ‘sny dit die vriendskap af’ volgend die bygeloof.

 

Kooigoed, dit wil sê kussing, komberse en slaapsak. Dis nie nodig dat jy daarmee sukkel nie, ek sal dit voorsien. Het gedink dis die maklikste as ek sommer Werda, my Rottweiler teef, se kussing en kombers vir jou vat want julle is omtrent ewe groot.

 

Skoon netjiese klere vir jou vlug terug Kaap Kolonie toe. Ek steur my gewoonlik nou nie eintlik aan skoon klere nie, maar ek wil nie hê die mense wat saam met jou vlieg moet dink ons hier in die bosveld is ‘n klomp bekvelders nie.

 

Jy kan skoon onderklere en kouse bring as jy wil, maar dis nou net as jy rerig rerig wil skoon aantrek.

 

Tandepaste en tandeborsel – opsioneel.

 

Seep en sjampoo is ook opsioneel. Ek sal jou sommer aan hierdie kant skrop met Sunlight seep by ‘n beeskrip net voor ek jou weer op die vliegtuig sit.

 

As jy wel wil slaap in die aande is dit belangrik dat jy oorpluisies bring, want tannie Jovita beweer ek snork soos ‘n gekweste wille vark as ek slaap. Maar ek dink nie dit is waar nie, ek bedoel, ek slaap nog al die jare met myself en ek het myself nog nooit hoor snork nie.

 

Dis nie nodig om ‘n noodhulpsakkie te bring nie, ek was in die army en het ‘n noodhulpsakkie waarmee ek alles kan behandel. Enige iets van krappe, blase, klem-in-die-kaak, snye, kweswonde, infeksies, helse dorings, bloedings, babelaas, malaria, harsingskudding, spuitpoep, bosluiskoors, slangbyt, skerpioensteek, omlope, lintwurms, hondsdolheid, bek-en-klouseer, meswonde, vallende siekte, bloukolle, ingroei toonnaels, stupidgeit, allergie, beenbreuke, jeukplekke, hardlywigheid, hartaanvalle, luiheid, miltsiekte, ontwatering, sonsteek, slaaploosheid, moegheid, piep, munchies, galsiekte ens kan ek reg dokter. Wees asb daarop voorbereid dat jy heel party van bogenoemde toestande sal ervaar.

 

Proviant sal ek voorsien, pap en sous hy esh en vleis is daar ook baie, ons moet dit nog net eers jag en slag. Tussen my en jou, ek verstaan nie waarom die vroumense so aangaan oor slaai en groente nie, ek en my vrinne het nog nooit ooit skeurbuik gekry nie. En ons kondisie is baie goed, jy sal sien as ons weer ontmoet. As ons om ‘n hoek kom sien jy eers die pens, dan die mens. Terloops, ek dink dit is omdat julle daar in die Wie-Pie vis en braaibroodjies braai eerder as pap en vleis soos ons hier in die noorde dat die Bulle die Stormertjies so sleg opdreun in rugby. Maar as jy nou rerig ‘n lus vir ‘n stukkie vis ontwikkel kan ons ‘n stuk lewer aan ‘n hoek-en-lyn sit en kyk of ons vir jou ‘n barber of ‘n waterskilpad kan vang om te eet.

 

Vloeibare verversings – dis nou die bier en whiskey. Ek sal dit aan hierdie kant koop en sommer ook self opdrink. Penkoppe soos jy mag nog net koeldrank en vrugtesappies drink, wat ek ook sal voorsien.

 

‘n Lyfband, ook bekend as ‘n gordel. Vir julle strandlopers wat so sukkel om regte Afrikaans te praat, dit is ‘n belt. Belangrik want jy gaan die waterbottel dra.

 

Skeermes en skeerseep is nie nodig nie want ons hier in die Transvaal dra baard in die winter. Kan nie meer onthou nie, word jy nou tien of elf hierdie jaar? Maar ewen-te-wel jy skeer seker darem al? Weet jy, toe ek so oud soos jy was het ek darem al twee jaar lank geskeer, nè. En my eerste pyp gehad.

 

Dis belangrik dat jy jou eie flits bring as jy in die aand ‘n nood het en bosse toe moet gaan nie. En sonder ‘n flits val jy oor tentpenne en loop jy in doringbosse en ongediertes vas.

 

 

Bring jou eie witgoud, ek gebruik nie daai sagte goeters nie, ek hou sommer altyd ‘n koerant in die bakkie aan vir sulke noodgevalle. Heedendaags, met al die slegte nuus en politiek, is dit ook nog al waarvoor die koerant goed is.

 

Dit kan baie koud word hier in die nagte en as jy nie genoeg warm klere gebring het nie sal jy by die vuur moet slaap om te oorleef want in ‘n jagkamp word nie lepel-gelê nie.

 

‘n Skeidsregtersfluitjie, dit word om jou nek gedra vir ingeval jy verdwaal dat jy geraas kan maak sodat ons jou kan opspoor voor dit donker is. Hier is nog baie wolwe en tierre in hierdie geweste, en vir hulle is ‘n knapie soos jy net ‘n voorgereg. Ek hoor die geleerde mense noem wolwe en tierre eintlik bruin hiena’s en luiperds. Maar dit is nie al wat gevaarlik is nie want hier wemel dit ook van die satan se eie bloedkinders – mamba’s, pofadders, skerpioene, bobejaanspinnekoppe en Fona & Flora.

 

Aansmeer- of spuitgoed, om die muskiete, vlooie en bosluise van jou maer lyfie af te hou. Veral die bosluise hier is vreksels, as hulle vol gesuip is aan jou bloed is hulle so groot soos tennisballe voor hulle van pure dikgeit afval. Ons manne hier in die bosveld se voorposte eet gereeld rou knoffel en drink mampoer om die bloedsuiggoeters van ons af te hou.

 

Ek hoor by jou moeder dat jy lid is van die Voortrekkers? Dit is ‘n baie goeie organisasie om aan te behoort, moet ek jou sê. Stuur groete vir die neefs en nigs daar onder in die Kolonie, al het hulle voorgeslagte nie saam getrek nie of later jare weer terug getrek Kaap toe. Verder is dit vir my goeie nuus, want daar is ‘n paar dinge wat hulle jou dalk kan leer, soos:

 

Hoe om te nommer twee in die veld met net jou witgoud en ‘n graaf. Baie belangrik dat hulle jou ook leer hoe om dit korrek te merk, want as dit gebeur dat ek jou landmyn oopgrou is daar groot oorlog.

 

Hoe om ‘n vuur te maak sonder blits of wat julle stadsjapies daai witgoed wat so na parafien stink ookal noem.

 

Spoorsny. Daar by julle in die Karoo kan jy mos tot môre sien en kyk jy waar die bok val of heen hardloop. Maar hier by ons is die bokke taai en moet jy ‘n spoor kan vat om jou bok in die digte bosse op te spoor.

 

Hoe om die rigting van die wind te toets in die veld sodat ons altyd onder die wind is en die bokke ons nie kan ruik en weghardloop nie. Hier by ons waai die wind nie soos daar by julle in die Kaap van Storms nie. Hier tussen die ruie bosse roer die wind net so effens, maar as jy aan die verkeerde kant van die wind is ruik die bokke jou ver!

 

Terloops, met my jare wat nou aanstap is ek soms kort van gedagte. So as ek vir Neefie, Poepies, Umfaan, Tin-Tin, Bokbal, Mensding, Beesblaas, Penkop, Boetman, Balsak of Knopgat roep moet jy weet dit is jy. Ek sukkel soms net ‘n bietjie om name te onthou.

 

Nou ja, laat dit goed gaan tot dan. Wees tog nou soet en luister vir jou moeder en vader en sommer vir Eveline ook. En stuur groete vir jou sussie en vir die vierbeen familie Lientjie en Zorro.

 

Jou liefhebbende oom.

 

‘Die Bar Bosvelder’

Seer mense en honde

November 3, 2010 in Sonder kategorie

“Seer mense is soos seer hônne” sê die oom my daar in Nampo se kroeg. Ek was nie lus vir die engte van my gastehuiskamertjie nie en het met die oom aan die gesels geraak toe ek ‘n dop gaan drink. Hom vertel van my Rottweiler teef se heupoperasie en hoe beneuk sy was van die pyn toe hy die opmerking kwyt raak.

 

Keer hy dadelik toe hy sien ek frons, ek moet hom nie verkeerd verstaan nie, hy hou van mens en nog meer van honde. Daar is glo ‘n trop honde op sy plaas, van windhonde om die jakkals se getalle laag te hou, boerboelle, ‘n plaag foksies tot by daai verdomde poedel-ding waarvoor sy vrou so lief is. Soos dit maar gaan op ‘n plaas is daar kort-kort ongevalle met so ‘n spul honde op die werf. Honde wat baklei, wat onder ‘n trekker beland, in ‘n draad vassit, ystervark probeer vang, deur ‘n kwaai koei gegaffel word, deur die buurman se helsemse seuns gekwes word – noem maar op dit gebeur. Met seerkry is daar net twee soorte honde word ek ingelig. Die een hond sal onmiddellik na jou toe kom, kom lê vir hulp. Die ander gaan kruip in die diepste donkerste plek in wat hy kan kry en dan wil hy byt as jy hom daar wil uit om te help.

 

Mense dieselfde. Sy laatlam het net voor matriek se eindeksamen soos altyd hulle koffie kamer toe gebring die Sondag voor kerk, op die voetenend gaan sit en begin huil. Vertel van haar en die getroude LO onnie en haar toestand. Dadelik kom hulp soek, vandag is sy daar deur. Getroud met ‘n wonderlike man wat ook haar kind sy van en liefde gegee het.

 

Sy tweede oudste seun het gaan staan en trou met poppie uit die stad. Nie eers twee jaar gehou nie, toe kon sy nie meer die stilte op die plaas hanteer nie, vort met ‘n man wat sy oor die internet ontmoet het. Die seun het net stiller en stiller geword, later glad nie meer gepraat nie, die familie begin vermy. Daar in die kareeleegte agter die opstal sy haelgeweer se sneller met sy groottoon gaan getrek.

 

“Ja-a, seer mense is soos seer hônne.”

Delicia

Oktober 29, 2010 in Sonder kategorie

“Haar naam was Delicia, en die hemel weet sy was” vertel hy my. Eintlik wil hy my vertel van sy onlangse operasie, daarom moet hy eers by Delicia begin.

 

Ons het saam diensplig gedoen, uitgeklaar en kontak verloor. Net geweet hy het iewers in die Laeveld gaan skoolgee om sy beurs terug te werk. Mekaar by die vakansie-oord se snoepie raakgeloop waar hy vir ‘n string kindertjies kom draairoomysse koop het. Sit ons langs die swembad en gesels terwyl hy dophou dat sy spannetjie mekaar nie versuip nie.

 

Hy vertel sy storie, maar dit is half of hy met homself praat, nie heeltemal bewus dat ek daar is nie. Vars uit die weermag, eerste jaar wat hy skoolgee was Delicia in sy registerklas, maar soos die duiwel dit wou hê ook ekonomie en rekeningkunde by hom gekry. So hulle het mekaar baie gesien, elke dag.

 

Altyd gewonder wie in hulle right mind noem hulle dogter Delicia? Het hulle na haar gekyk toe dit by naamgee kom en gesien sy het daai x-faktor wat mans eendag gaan mal maak? Of het hulle ‘n breinfloute gehad, haar die naam gegee en sy het besluit om die naam haar missie in die lewe te maak? Wie weet? Feit is, haar naam het gepas.

 

Sy was net effens rebels. Soms in die moeilikheid omdat sy teen die skoolreëls in haar hare los dra of haar rok se soom hoër is as voorgeskryf. Vroeg geweet van haar sensualiteit en geweet hoe om dit te gebruik. Daar was nie ‘n persoon van die manlike geslag op daai skoolterrein wat nie van haar bewus was nie. Van die standers sessie wat nog besluit oor sy seksuele voorkeure tot by Ou Bokkem die skoolhoof. Almal om haar pinkie gedraai. Nie haar tyd gemors met skoolseuns nie, nee sy het met jongmans buite die skool uitgegaan. Dis nou tot sy daai eerste dag in sy klas ingestap het en besluit het hy is die een. Openlik by hom aangelê en geflankeer, haar bes probeer. Dit was ‘n bitter lang jaar, maar hy is trots om te kan sê hy het nie eenkeer ingegee nie. Moet hy egter bieg, baie onbehoorlike drome oor haar gehad.

 

Einde van die jaar is hy vort na ‘n skool in die stad sodat hy verder kon studeer, sy het haar grootmens lewe gaan begin. Haar laaste briefie – hoe lief sy hom het, wat kon gewees het, hoe stukkend haar hart is – onder sy motor se ruitveër gekry. Mekaar nooit weer gesien nie. Dis nou tot sy operasie.

 

Na hulle jongste onbeplande telg besluit hy en sy vrou dit is nou klaar, hy moet maar liewerste vir die knip-knip operasie gaan. Lê hy in daai belaglike operasiejurk wat jou agterkant so ontbloot laat toe Suster Delicia instap met sy lêer onder haar arm. Na die aanvanklike ongemak gesels hulle gemaklik en vertel wat in hul onderskeie lewens aangaan. Moet hy weereens bieg, dit het steeds ge-bzzz van die elektrisiteit tussen hulle. Indien moontlik, lyk sy nog meer njammies in haar sustersuniform as in haar skooljurk.

 

Later die dag daag sy en ‘n skare giggelende leerlingverpleegster by hom op en maak die gordyne rondom sy bed toe. Lig sy hom met ‘n skalkse glimlag in sy is besig met opleiding en sy gaan nou aan die studente demonstreer hoe pasiënte geskeer moet word, daar, daar waar hy geopereer gaan word. Wat kon hy doen, maar sy oë toegemaak en met sy voorarm oor sy gesig terug gelê en dit soos ‘n man gevat. Gelukkig het hy die susmiddel wat die narkotiseer gebring het reeds gedrink so hy het darem nie gewys wat hy dink nie.

 

Maar sy was nog nie klaar met hom nie. In die teater lig die dokter hom in dat hulle vandag nie baroque gaan luister soos gewoonlik nie want Suster Delicia het gevra dat ‘n spesiale versoek vir hom gespeel word. Terwyl hy veg teen die narkose wat begin werk speel Rod Steward se The first cut is the deepest.

 

 

 

 

Outyds word vs oud word?

Oktober 28, 2010 in Sonder kategorie

Ek kan nie besluit nie, is ek besig om oud of net oudtyds te word.

 

Is van die geslag wat nog geleer is ‘n man het altyd drie dinge by hom – ‘n sakdoek, ‘n pen en ‘n knipmes. Maar nou se dae kom ek agter ek is besig om terug te gryp na die verlede, na die minder ontwikkelde, na die vroeëre tegnologie. Waarom weet ek nie.

 

Vat nou maar my knipmes. Tot onlangs het ek my Leatherman gebruik wat soos ‘n junior toolbox is. Tipies man het ek ook die nuutste en beste knipmesse. Messe met ‘n lem lockback funksie, aan die belt-klip knipmesse, knipmesse met spring-loaded lemme vir eenhand oopmaak, getande lemme vir beter sny, selfs ‘n mes met sy eie liggie… Maar het weer my ou offisiersknipmes uit my weermagbalsak gaan krap en dra die nou by my. Die eenvoudige ou silver Victorinox met sy kruisie op die hef, die enkele lem al geslyp dat dit meer na ‘n els as ‘n lem lyk. Het selfs ook op my laaste jag op Alldays ‘n Okapi vir my by die plaaswinkeltjie gekoop, waar kan jy nou ‘n meer eenvoudige knipmes kry.

 

Dra ook nie meer een van die fancy goue of silver penne wat ek persent gekry het aan my nie. Geen nuwe tegnologie van roller-bal, balpunt, yell punt of wat ook al vir my nie. Nee, ek is terug op my ou vulpen wat my vingers steeds met ink bevlek en kort-kort uit ‘n botteltjie Penguin ink gevul moet word.

 

My gordels, selfoonsakkie, horlosiebandjie, aktetas… alles is weer leer. Regte egte leer wat jy kan ruik en met Dubben moet smeer.

 

My gasbraaier staan vergete onder stof en ek het jare laas houtskool gekoop want ek braai net met hout. Bosveldhout soos sekelbos wat jy kan ruik en wat jou in die vlamme laat staar. Gebruik lankal nie meer vuuraanstekers of blitz nie. By die huis kap ek fynhout en steek dit met koerantpapier aan, maar as ek in die bos is gebruik ek waaigras en breek takkies om my vuur mee te begin.

 

Wat is dit met my, ek verstaan nie, is ek besig om oud te word of net outyds te word?

 

 

 

 

Die Huisman

Oktober 28, 2010 in Sonder kategorie

Die Uwe Pottie Potgieter op SABC 2 op Vrydagaande, storie van vrou wat in die buiteland werk en werklose man wat die huishouding beharting. Daai scenario, dis ook ons daai. Ek verkies egter die term ‘tussen kontrakte’ bo die van werkloos, weet dit is dieselfde ding maar dit klink net vir my soveel beter.

 

My amptelike titel in ons huishouding is die van huisman. My vrou sê ek is haar ou huismannetjie. Maar die naam het ek oor myself gebring. Het ten spyte van haar waarskuwings aangehou om wanneer ek haar voorstel aan vreemdes ook aan hulle te noem dat sy haar geld op die hawe verdien. Sy help wel stacker re-claimers bou om die steenkool op die skepe te laai, en wel op ‘n hawe, so tegnies is ek nie verkeerd nie. Maar sy het die opmerking nie so baie soos ek geniet nie, maar watter man het nou ore. In reaksie begin sy my toe voorstel as haar huisman en dit het vasgesteek. Seker my verdiende loon – nou is ek die huisman.

 

Ek was gelukkig, ek het ‘n kwaai rooikop ma gehad wat geglo het kinders doen hulle deel in die huis so ek het geweet van huistake. Was egter nie so voorbereid op die addisionele take wat die pos van huisman behels het nie. Veral nie die aankoop van die vrouegoedjies nie. Maar het ‘n paar tegnieke aangeleer wat dit makliker gemaak het. Sal byvoorbeeld by die apteek twee maal verby ‘n spesifieke rak loop, eerste keer om net ‘n recce te doen en die produk te identifiseer. Tweede maal om die spesifieke produk blitsig van die rak af te pik, onder in die mandjie te sit en dit te bedek met my inkopiesak.

 

‘n Bietjie raad, Dinsdae met oopmaak is die beste tyd om sensitiewe goedjies by die apteek te gaan koop. Minste mense, sien.

 

Het ook gou geleer om nie vroulief se voorskrifmedisyne by die toonbank aan te vra nie, het gesien hoe ruk vrouens aan die ander kant van die apteek hulle nekke in traksie in om te sien hoe lyk die manstem wat die spesifieke produk wil hê. Dalk is my vrou reg en praat ek so hard omdat ek verdomp so doof is, kordiet-ore van al die geskiet. Slim geraak, skryf ek die naam van die produk op ‘n nota, plaas die nota onderstebo op die toonbank en stoot dit soos ‘n waffers pokerspeler na die apteker.

 

Terloops, het agtergekom daar is apteek-groupies. Vrouens wat by die apteek uithang, net om hul en hulle telge se nuutste siektes met mekaar te vergelyk en te bespreek. Of net om te kom hoor of daar dalk nie nuwe medisyne op die mark is waarvan hulle nog nie weet nie. Hulle ken ook al die moeilike name van al die medisyne uit hulle koppe, as hulle die naam van jou medisyne hoor weet hulle wat fout is met jou. Ek is ‘n bietjie bang vir hierdie vrouens, van hulle het so ‘n verstarde intense kyk aan hulle. Weet nie of hulle ‘n bietjie malletjies is nie en of dit net die effek van die nuutste medisyne is wat hulle uitprobeer nie.

 

My vrou se laaste versoek, wel wat kan ek sê. Los van haar onderkleertjies in ‘n plastiese sakkie vir my, die nota lees – kry vir my asseblief drie van alles, presies dieselfde grootte, snit, kleur ens. Moet bieg ek was ‘n bietjie opstandig oor die versoek maar het ook geweet dat sy dit rerig nie gaan kry waar sy nou bly en werk nie. Moed bymekaar geskraap en die winkel aangedurf. Tussen die rye en rye fyn onderklere op en af geloop, gesoek maar niks gevind nie. Hulp het ook nie opgedaag nie, die winkelassistente het my net onderlangs dopgehou, punt daarvan gemaak om te skuif wanneer ek in hulle rigting beweeg. Duidelik het hulle nie hierdie umlungu vertrou nie.

 

Later hulle toesighouer gaan roep, ‘n Ingelse vroutjie wat lankal afgetree moes gewees het. Verduidelik ek vir haar wat ek soek, wys ook die voorbeelde in die plastiese sakkie vir haar – maak ‘n punt daarvan om te sê dit is vir my vrou. Wil sy weet of ek seker is dit is die regte grootte. Ja, ek is seker. Kry ons die bostukke, vra sy weer vir my is ek seker dit is die regte grootte. Wat verstaan die vrou nie, natuurlik is ek seker dit is die regte grootte? Na ‘n lang gesoek ook die onderstukke gekry. Wil die vrou verdomp weer weet of ek seker is dit is die regte grootte. Dink ek by myself, Antie, jy ken nie my kwaai vrou nie. So ek WIL hierdie onderklere in hierdie presiese snit, presiese kleur, presiese grootte, presies dieselfde alles hê. Is egter grootgemaak om oumense te respekteer sê dus vriendelik ja, ek is baie seker dit is die regte grootte. Kyk die tannetjie my op en af en sit haar hande in haar sye, haar gryskoppie met die pienk skynsel skaars by my skouer, nou baie beslis: “But young man, I can guarantee you this is not going to fit you.”

 

Ek wil nie meer die huisman wees nie, rêrig ek wil nie.