Boetedoening

Mei 20, 2012 in Sonder kategorie

Dit was ‘n tipiese snikhete dag toe hy van die trein afgeklim het. Ons Karoodorpie is egter nie een van daai waarvan nostalgiese foto’s in tydskrifte geplaas word nie. Pam Golding, Seeff en kie kom slaan nie hul verkoopbordjies hier by ons in nie, want stedelinge wil nie hier kom bly om hulself weer te vind nie. Ons dorpie word verkieslik mis gery. Ver van die hoofroetes, droog, warm, stowerig, verarm, krimpend, moedeloos.

 

Hy het uitplek gelyk in die skerp son op die stasie, net een tas. Duidelik nie een van ons se mense nie – sag en bleek. Amper deurskynend. Rigting gevra by die stasiemeester, sy das afgehaal,  baadjie uitgetrek en die stofpad afstap. Niemand  het geweet die ou huis aan die verste punt van die dorp wat al amper elf jaar leeg staan  is verkoop nie, dit is nou tot hy daar ingetrek het nie. Alhoewel hy nooit in die huis self gebly het nie, sy intrek in die buitegeboue geneem. Soos ‘n bywoner op die plek gebly, nie veel meer as ‘n plakker nie.

 

Dieselfde dag vir hom ‘n moertoe ou bakkie gaan koop. By die tweedehandse winkel ‘n matras, komberse, primus, potte, tafel en stoel, nie bederfbare rantsoene gekoop. Net die minimum wat nodig is om te kan oorleef. Spartaans.

 

Hy was vriendelik met die bure wat oorgestap het om te kom ontmoet en welkom te heet, maar wou nie veel praat nie.  As hy na sy naam gevra is, gesê: “Naam is nie belangrik nie.” Dieselfde op die waar vandaan vraag gereageer. Net gesê hy gaan ‘n ruk hier spandeer om die plot en huis reg te ruk. Nee dankie vir alle uitnodigings.

 

Die volgende dag begin deur die stuk of twintig masiewe bloekombome te ringbas. Baie was al klaar vrek want hulle was oud.

 

Toe eers met die huis begin. Hom amper ‘n jaar geneem om in stilte en issolasie die huis te restoureer. Volledig gerestoureer, van die skoorsteen tot die plankvloere. Soos nuut. Hy is ook getransformeer – nou bruin en taai, hare en baard lank en wild.

 

Dominee na die derde besoek gesê om te voetsek want hy het niks vir niemand te sê of te verduidelik  nie. Die sersant het net sy skouers opgetrek want die man oortree tog geen wet nie. Die dorp het gegis en bespreek maar nie antwoorde gevind.

 

Elke dag van die week gewerk, heel dag, hard en fisies. Saterdae net halfdag, dan sy rantsoene vir die week gaan koop. Ook ‘n bottel want Saterdagaande het hy ‘n staanvuur op die grond gemaak en gedrink tot hy of die bottel klaar is. Sondae nie gewerk nie, net onder die ou druiweprieel gesit  en lees.

 

Ou dominee met sy ondervinding en sagter aanslag het ook probeer. En is daar weg met ‘n antwoord: “Dominee, ek waardeer jou poging, werklik ek doen, maar ek en God is lankal nie meer aan dieselfde kant van die grensdraad nie. Dit help nie.”

 

Na die huis en plot herstel is begin om die bloekombome op te kap en saag vir brandhout. Al die aanbiedinge van werkloses om te help hout maak, soos daar in ons omtes gepraat word, van die hand gewys. So ook die aanbod van ‘n kettingsaag. Die tydrowende en klipharde werk met byl en treksaag gedoen. Die stompe te dik vir saag of kap is met beitel en bospik gekloof. Elke stukkie tak en fynhout is ook volgens lengte gesaag. Met tyd het die hoop hout gegroei tot ‘n berg agter die huis. Selfs die stompe is oop gegrou en met wortels en al laer as grondvlak uitgekap.

 

Die bome se gate klaar gevul, is daar by elke huis op die dorp ‘n vrag brandhout afgelaai. Nie toestemming gevra of verduidelik nie, net afgelaai en gery. Die res van die hout vrag vir vrag by die ingang van die lokasie gaan aflaai vir wie ookal wil hê.

 

Op dag agt honderd en twee vandat hy van die trein afgeklim het die Sondag vir die kerkdiens opgedaag. Glad geskeer en hare geknip, netjies. Toevallig, of dalk nie, het ou dominee gepreek. Heel agter in die kerk op die klein bankie langs die orrel gaan sit. Die hele diens vooroor gebuk, nie een keer opgekyk nie, volgens die orreliste deur die hele diens gehuil. Tydends die slotgebed uitgestap en ‘n koevert in die kollektebord gelos. ‘n Nota aan die kaart-en-transport geheg:

 “Ek is klaar.

Gebruik na goeddunke.”

 

Reguit na die stasie, met sy tassie weer op die trein geklim.

 

Hedendaags lees die bord voor die huis – Huis Nuwe Hoop – maar die mense van die omgewing praat steeds van Malletjies-se-plek.

 

 

 

 

 

8 antwoorde op Boetedoening

  1. oulike storie…mis selwers die dae van houtkap…was goeie dae…

  2. TS het gesê op Mei 21, 2012

    Lekker gelees – dankie

  3. Treffend.

  4. HeavyHenry het gesê op Mei 21, 2012

    Nice storie!

  5. Sjoe watte storie, dankie vir dit.

  6. katrina het gesê op Julie 17, 2012

    Lekker gelees hieraan!

  7. Carol460 het gesê op Julie 24, 2012

    Ek hou van jou skryfstyl !!! Ek het lekker gelees ! Dankie !

  8. Die oer raaiselagtige vreemdeling. Clint Eastwood van der Verbete..

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.