Implikasies

November 27, 2011 in Sonder kategorie

Beland ek en mater met die ete saam met van die maatskappy se jong turke aan tafel. En soos dit maar gaan is die onderwerp gou die o-so-lekker nuwe vrou wat by verkope begin het. Dit is vanselfsprekend dat sy die onderwerp van bespreking sal wees – mooi, uitdagend en bowenal soekend. Die troupand aan haar vinger klaarblyklik net nog ‘n stuk juweliersware.

 

Soos die glase inhoud sak, sak die vlak van die gesprek. Ons ou manne het net geamuseerd gesit in luister. Maar toe die manne begin praat van die “warm akkedis” en die “hoerkyk in haar oë” tjip mater in met: “’n Ander man se vrou is ‘n anderman se vrou, los uit.”

 

Nog opmerkings het gevolg, elke opmerking het mater beantwoord met dieselfde: “ ‘n Ander man se vrou is ‘n ander man se vrou, los uit.”

 

Maar dit was eers toe die jonges geld begin verwed wie haar eerste gaan “doen” dat mater hom vererg, sy vuis op die tafel en afgemete herhaal: “ ‘n Ander man se vrou is ‘n ander man se vrou, los fôkken uit!”

 

Ons ken nie vir mater so nie, so ek vra hom wat is sy se probleem? Herinner hom ons was saam op varsity en dat hyself maar erg gewoel en geploeg het in die dameskoshuise.

 

Ja, dis waar erken hy, maar verweer homself dat hulle nie getroud was nie. Maar laat hy vir ons ‘n storie vertel, dalk verstaan ons.

 

Hy was reeds afgestudeer, net klaar met die weermag toe hy sy eerste werk by die koöperasie op Witrivier kry. Die eerste dag daar ingestap, jonk en met die roekeloosheid van soldaat wees nog in hom. Die lewe, en dit wat dit behels, oop voor hom. Syne om te oorwin, te vat, om syne te maak na willekeur.

 

Sy was wulps, in haar vroeë dertigs met die seksuele selfversekerheid van ‘n vrou wat haar nie laat inhibeer deur die beperkings van haar huwelik nie.

 

Hulle is aan mekaar voorgestel, mekaar in die oë gekyk en hy het geweet Senatra het geweet waarvan hy sing:”……exchanging glances, lovers at first sight……..” Dit was daar, hulle altwee het dit oombliklik geweet, dit gaan gebeur, dit is net ‘n kwessie van tyd en plek.

 

Hoe haar man daarvan te hore gekom het weet hy nie. Dalk het hy sy vrou goed genoeg geken om wakker te wees. Of dalk het mense by die werk hom gaan vertel hier kom ‘n ding.

 

‘n Week of so later kyk hy op van sy lessenaar, vas in haar man wat voor sy lessenaar staan. Oombliklik in kode rooi ingegaan, opgestaan om homself te verdedig. Maar haar man was nie daar om te baklei of te dreig nie. Ook maar goed so, dit sou ‘n rooidoek gewees, ‘n uitdaging om die oer oue geveg van die sterkste vat alles te veg.

 

Die man het homself voorgestel, sy dogtertjies ingeroep. Twee pragtige blondekoppies, duidelik hul ma se kinders.

 

“Hierdie is Lisa, sy is ses en gaan volgende jaar skool toe. Die kleintjie is Carla, sy is vier.”

 

Dit is al wat die man gesê het, dit was genoeg. Mekaar ‘n ruk in die oë gekyk, woordeloos tot ‘n vergelyk gekom. Kinders aan die hand uitgestap.

 

Agter ‘n toe kantoordeur met die snippermandjie op sy skoot gaan sit, die braak wat in sy keel brand want hy het gewalg aan homself. Maar ook aan haar, vir wie en wat sy is.

 

Sluit hy af: “Kêrels, haar beskikbaarheid al dan nie is irrelevant. ‘n Ander man se vrou is ‘n ander man se vrou – daar is altyd implikasies – los uit!”

7 antwoorde op Implikasies

  1. TS het gesê op November 27, 2011

    Los uit… goeie beginsel

  2. Dis hoekom daar ou manne is, om die turke op die pad van wysheid te bring. Groete vir Mater.

  3. Party ou manne is skandelik los van sede

  4. sterre vir jou vrind wat sy stem verhef het

  5. avega het gesê op November 27, 2011

    Is dit nie maar soms net grootpratery nie?

  6. Dis soos ‘n dis in ‘n duur restaurant. Daar is die opwinding van die spyskaart en die afwagting vir die dis om te arriveer, maar wanneer jy dik geëet is en die rekening kom, dan wonder jy of dit alles die moeite werd was.

  7. Myrataal het gesê op Julie 6, 2012

    Baie dankie.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.