Oscar

September 8, 2011 in Sonder kategorie

Ons manne het heel oggend ons deel gedoen vir die land se voedselsekerheid. Moeg en dors, want die son kan brand hier op die turflande van die Springbokvlakte, sit ons rustig onder die doringbome langs die sonneblomlande en hidreer met ‘n paar biere. Wag dat ons duifborspotjie gaar word. Party manne sien om na hul voëlhonde of maak haelgewere skoon. Ander sit net en nonsens praat soos mans maar kan.

 

My ou dik mater met die baard is half stil vandag, staan eenkant en voer sy droëwors vir ander manne se honde.

 

Wou by hom weet of hy nog sy hond mis. Sy Rottweilerteef was nie sommer net ‘n waghond of buitehond nie. Nee, sy het haar baas opgepas, daarom het sy in die huis geslaap. Haar eie kussings in die slaapkamer en TV-kamer gehad. Ook nie meer ‘n jong hond nie het sy begin kruppel loop en is hy met haar vearts toe. Daar die nuus gekry dat dit aggressiewe beenkanker is wat haar vreet. Die prognose was sleg, haar tyd oor was min, haar pyn wat voorlê baie. Opsies was daar nie, die besluit moes net geneem word.

 

Sy hond buitetoe gevat, eenkant waar niemand hom kon sien huil nie, vir haar die situasie verduidelik. Vir haar vertel wat voorlê, haar beloof sy sal nie alleen wees nie.

 

Terug gegaan, die vearts laat weet hulle is gereed. Op die vloer van die spreekkamer gaan sit met die teef se kop in sy skoot. Haar gevryf en kalm gehou terwyl die drip ingesit is, die dosis toegedien is. Daar bly sit tot lank nadat haar asemhaling opgehou het. Sy vrou in die buiteland gebel om haar te vertel en weer saam met haar te huil.

 

Natuurlik mis hy sy hond, sy frons wys duidelik dat hy dink dit is ‘n dom vraag, maar nee dit is nie waarom hy beswaard is nie. Dit is oor Oscar, die bure se hond.

 

Hy en die bure in die pypsteel agter hom kom nie sleg oor die weg nie. Hulle sal nou nie huisvriende word nie, maar as bure kom hulle oor die weg. Daar was egter die keer wat hulle amper geboks het. Dit was toe buurman gereedskap kom leen het en hom ‘n “murderer of animals” genoem het na aanleiding van die rye wildsbiltong in sy motorhuis. Toe hy buurman daarop wys dat hy self aandadig is aan die dood van die tjops en steaks wat hy elke Saterdag saam met die rugby braai was die gort gaar. Maar hulle het weer vrede gemaak en buurman skimp nog gereeld vir ‘n stukkie wildsbiltong.

 

Met die dat buurman-hulle besluit dit is tyd om ‘n hond te koop vir hulle kleuters het hy gewaarsku dat die Bokser wat hulle beplan dalk nie die regte keuse is nie. Die tipe honde is te aktief vir hulle posseël erf en te rof vir klein kindertjies.

 

Sy waarskuwings het op dowe ore geval en buurman het vir Oscar gekry. Die nuutjie was gou oor en soos voorspel was ‘n Bokser nie die regte hond nie. Hy het kinders om gehardloop, tuinmeubels opgevreet, homself met potplante versnapper, die matte bemes………

 

Oscar is na die agterste gedeelte van die bure se tuin verban. Afgeskeep en met min stimulasie het sy gedrag net vererger. Mater het hom maar later oor die arme hond ontferm, maats gemaak deur die heining. Aandag gegee soos en wanneer hy kon. Kon later selfs in sy bed lê en vir die hond fluit om stil te bly as die te veel blaf. Elke oggend met sy oggendkoffie in die tuin ook vir Oscar gaan groet.

 

Na ‘n lang walk-about terug by die huis kom mater agter Oscar is nie meer daar nie. By die bure se huishulp die storie uitgevis. Buurman het ‘n paar weke terug die DBV gebel en hulle laat weet daar het ‘n “stray dog” by hom aangekom wat hulle moet kom haal. Mater het dadelik die DBV gebel om te hoor of Oscar nog daar is. Die dame aan die anderkant van die lyn was opreg jammer. Hom ingelig dat die hond se eienaar hom nie kom opeis het nie en hulle kon ook nie ‘n ander huis vir hom vind kon nie, dus is Oscar uitgesit.

 

Mater se hande trek in vuiste: “En dan het hy die vermetelheid om my ‘n murderer of animals te noem.”

 

5 antwoorde op Oscar

  1. Bliksemse skynheilige mense!

    Maak my sommer die moer in!

  2. TS het gesê op September 8, 2011

    Ai ek verstaan nie mense nie!

  3. Eiegeregtige fool!

  4. Mag jou buurman aan sooibrand vrek! Dit is onaanvaarbaar. Ek is nou so bemoerd jy kan met my koekbak! Neeeeeeeeeeee!!!!!!!!!!!!!!!!

  5. mladanyi het gesê op April 17, 2012

    En hier kyk ek nou al 3 jaar lank na ‘n wegloper hond saam met my 5; wat nou kanker het wat ek nou ook daai besluit moet maak een van die dae. Ek wonder party dae of sy baas hom nie mis nie. Ou Rex, soos ons hom gedoop het, is al lank in die land en ek is seker hy mis sy mense, sy kinders almal…

    Die mensdom is darem wreed

Los ’n antwoord vir mladanyi. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.