Seer mense en honde

November 3, 2010 in Sonder kategorie

“Seer mense is soos seer hônne” sê die oom my daar in Nampo se kroeg. Ek was nie lus vir die engte van my gastehuiskamertjie nie en het met die oom aan die gesels geraak toe ek ‘n dop gaan drink. Hom vertel van my Rottweiler teef se heupoperasie en hoe beneuk sy was van die pyn toe hy die opmerking kwyt raak.

 

Keer hy dadelik toe hy sien ek frons, ek moet hom nie verkeerd verstaan nie, hy hou van mens en nog meer van honde. Daar is glo ‘n trop honde op sy plaas, van windhonde om die jakkals se getalle laag te hou, boerboelle, ‘n plaag foksies tot by daai verdomde poedel-ding waarvoor sy vrou so lief is. Soos dit maar gaan op ‘n plaas is daar kort-kort ongevalle met so ‘n spul honde op die werf. Honde wat baklei, wat onder ‘n trekker beland, in ‘n draad vassit, ystervark probeer vang, deur ‘n kwaai koei gegaffel word, deur die buurman se helsemse seuns gekwes word – noem maar op dit gebeur. Met seerkry is daar net twee soorte honde word ek ingelig. Die een hond sal onmiddellik na jou toe kom, kom lê vir hulp. Die ander gaan kruip in die diepste donkerste plek in wat hy kan kry en dan wil hy byt as jy hom daar wil uit om te help.

 

Mense dieselfde. Sy laatlam het net voor matriek se eindeksamen soos altyd hulle koffie kamer toe gebring die Sondag voor kerk, op die voetenend gaan sit en begin huil. Vertel van haar en die getroude LO onnie en haar toestand. Dadelik kom hulp soek, vandag is sy daar deur. Getroud met ‘n wonderlike man wat ook haar kind sy van en liefde gegee het.

 

Sy tweede oudste seun het gaan staan en trou met poppie uit die stad. Nie eers twee jaar gehou nie, toe kon sy nie meer die stilte op die plaas hanteer nie, vort met ‘n man wat sy oor die internet ontmoet het. Die seun het net stiller en stiller geword, later glad nie meer gepraat nie, die familie begin vermy. Daar in die kareeleegte agter die opstal sy haelgeweer se sneller met sy groottoon gaan getrek.

 

“Ja-a, seer mense is soos seer hônne.”

3 antwoorde op Seer mense en honde

  1. adoonsie het gesê op November 3, 2010

    Nee wag , lat ek darem vir n slag kom inloer. Ek lees elke keer jou blog en geniet jou skrywes en skryfstyl vreeslik baie. Baie dankie

    hou so aan ! 😉

  2. izabelle het gesê op November 3, 2010

    Ai nee, skryf bietjie iets lekkers oor honne?!

  3. Adoonsie: Dankie & welkom.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.