Jy blaai in die argief vir 2010 Oktober.

Delicia

Oktober 29, 2010 in Sonder kategorie

“Haar naam was Delicia, en die hemel weet sy was” vertel hy my. Eintlik wil hy my vertel van sy onlangse operasie, daarom moet hy eers by Delicia begin.

 

Ons het saam diensplig gedoen, uitgeklaar en kontak verloor. Net geweet hy het iewers in die Laeveld gaan skoolgee om sy beurs terug te werk. Mekaar by die vakansie-oord se snoepie raakgeloop waar hy vir ‘n string kindertjies kom draairoomysse koop het. Sit ons langs die swembad en gesels terwyl hy dophou dat sy spannetjie mekaar nie versuip nie.

 

Hy vertel sy storie, maar dit is half of hy met homself praat, nie heeltemal bewus dat ek daar is nie. Vars uit die weermag, eerste jaar wat hy skoolgee was Delicia in sy registerklas, maar soos die duiwel dit wou hê ook ekonomie en rekeningkunde by hom gekry. So hulle het mekaar baie gesien, elke dag.

 

Altyd gewonder wie in hulle right mind noem hulle dogter Delicia? Het hulle na haar gekyk toe dit by naamgee kom en gesien sy het daai x-faktor wat mans eendag gaan mal maak? Of het hulle ‘n breinfloute gehad, haar die naam gegee en sy het besluit om die naam haar missie in die lewe te maak? Wie weet? Feit is, haar naam het gepas.

 

Sy was net effens rebels. Soms in die moeilikheid omdat sy teen die skoolreëls in haar hare los dra of haar rok se soom hoër is as voorgeskryf. Vroeg geweet van haar sensualiteit en geweet hoe om dit te gebruik. Daar was nie ‘n persoon van die manlike geslag op daai skoolterrein wat nie van haar bewus was nie. Van die standers sessie wat nog besluit oor sy seksuele voorkeure tot by Ou Bokkem die skoolhoof. Almal om haar pinkie gedraai. Nie haar tyd gemors met skoolseuns nie, nee sy het met jongmans buite die skool uitgegaan. Dis nou tot sy daai eerste dag in sy klas ingestap het en besluit het hy is die een. Openlik by hom aangelê en geflankeer, haar bes probeer. Dit was ‘n bitter lang jaar, maar hy is trots om te kan sê hy het nie eenkeer ingegee nie. Moet hy egter bieg, baie onbehoorlike drome oor haar gehad.

 

Einde van die jaar is hy vort na ‘n skool in die stad sodat hy verder kon studeer, sy het haar grootmens lewe gaan begin. Haar laaste briefie – hoe lief sy hom het, wat kon gewees het, hoe stukkend haar hart is – onder sy motor se ruitveër gekry. Mekaar nooit weer gesien nie. Dis nou tot sy operasie.

 

Na hulle jongste onbeplande telg besluit hy en sy vrou dit is nou klaar, hy moet maar liewerste vir die knip-knip operasie gaan. Lê hy in daai belaglike operasiejurk wat jou agterkant so ontbloot laat toe Suster Delicia instap met sy lêer onder haar arm. Na die aanvanklike ongemak gesels hulle gemaklik en vertel wat in hul onderskeie lewens aangaan. Moet hy weereens bieg, dit het steeds ge-bzzz van die elektrisiteit tussen hulle. Indien moontlik, lyk sy nog meer njammies in haar sustersuniform as in haar skooljurk.

 

Later die dag daag sy en ‘n skare giggelende leerlingverpleegster by hom op en maak die gordyne rondom sy bed toe. Lig sy hom met ‘n skalkse glimlag in sy is besig met opleiding en sy gaan nou aan die studente demonstreer hoe pasiënte geskeer moet word, daar, daar waar hy geopereer gaan word. Wat kon hy doen, maar sy oë toegemaak en met sy voorarm oor sy gesig terug gelê en dit soos ‘n man gevat. Gelukkig het hy die susmiddel wat die narkotiseer gebring het reeds gedrink so hy het darem nie gewys wat hy dink nie.

 

Maar sy was nog nie klaar met hom nie. In die teater lig die dokter hom in dat hulle vandag nie baroque gaan luister soos gewoonlik nie want Suster Delicia het gevra dat ‘n spesiale versoek vir hom gespeel word. Terwyl hy veg teen die narkose wat begin werk speel Rod Steward se The first cut is the deepest.

 

 

 

 

Outyds word vs oud word?

Oktober 28, 2010 in Sonder kategorie

Ek kan nie besluit nie, is ek besig om oud of net oudtyds te word.

 

Is van die geslag wat nog geleer is ‘n man het altyd drie dinge by hom – ‘n sakdoek, ‘n pen en ‘n knipmes. Maar nou se dae kom ek agter ek is besig om terug te gryp na die verlede, na die minder ontwikkelde, na die vroeëre tegnologie. Waarom weet ek nie.

 

Vat nou maar my knipmes. Tot onlangs het ek my Leatherman gebruik wat soos ‘n junior toolbox is. Tipies man het ek ook die nuutste en beste knipmesse. Messe met ‘n lem lockback funksie, aan die belt-klip knipmesse, knipmesse met spring-loaded lemme vir eenhand oopmaak, getande lemme vir beter sny, selfs ‘n mes met sy eie liggie… Maar het weer my ou offisiersknipmes uit my weermagbalsak gaan krap en dra die nou by my. Die eenvoudige ou silver Victorinox met sy kruisie op die hef, die enkele lem al geslyp dat dit meer na ‘n els as ‘n lem lyk. Het selfs ook op my laaste jag op Alldays ‘n Okapi vir my by die plaaswinkeltjie gekoop, waar kan jy nou ‘n meer eenvoudige knipmes kry.

 

Dra ook nie meer een van die fancy goue of silver penne wat ek persent gekry het aan my nie. Geen nuwe tegnologie van roller-bal, balpunt, yell punt of wat ook al vir my nie. Nee, ek is terug op my ou vulpen wat my vingers steeds met ink bevlek en kort-kort uit ‘n botteltjie Penguin ink gevul moet word.

 

My gordels, selfoonsakkie, horlosiebandjie, aktetas… alles is weer leer. Regte egte leer wat jy kan ruik en met Dubben moet smeer.

 

My gasbraaier staan vergete onder stof en ek het jare laas houtskool gekoop want ek braai net met hout. Bosveldhout soos sekelbos wat jy kan ruik en wat jou in die vlamme laat staar. Gebruik lankal nie meer vuuraanstekers of blitz nie. By die huis kap ek fynhout en steek dit met koerantpapier aan, maar as ek in die bos is gebruik ek waaigras en breek takkies om my vuur mee te begin.

 

Wat is dit met my, ek verstaan nie, is ek besig om oud te word of net outyds te word?

 

 

 

 

Die Huisman

Oktober 28, 2010 in Sonder kategorie

Die Uwe Pottie Potgieter op SABC 2 op Vrydagaande, storie van vrou wat in die buiteland werk en werklose man wat die huishouding beharting. Daai scenario, dis ook ons daai. Ek verkies egter die term ‘tussen kontrakte’ bo die van werkloos, weet dit is dieselfde ding maar dit klink net vir my soveel beter.

 

My amptelike titel in ons huishouding is die van huisman. My vrou sê ek is haar ou huismannetjie. Maar die naam het ek oor myself gebring. Het ten spyte van haar waarskuwings aangehou om wanneer ek haar voorstel aan vreemdes ook aan hulle te noem dat sy haar geld op die hawe verdien. Sy help wel stacker re-claimers bou om die steenkool op die skepe te laai, en wel op ‘n hawe, so tegnies is ek nie verkeerd nie. Maar sy het die opmerking nie so baie soos ek geniet nie, maar watter man het nou ore. In reaksie begin sy my toe voorstel as haar huisman en dit het vasgesteek. Seker my verdiende loon – nou is ek die huisman.

 

Ek was gelukkig, ek het ‘n kwaai rooikop ma gehad wat geglo het kinders doen hulle deel in die huis so ek het geweet van huistake. Was egter nie so voorbereid op die addisionele take wat die pos van huisman behels het nie. Veral nie die aankoop van die vrouegoedjies nie. Maar het ‘n paar tegnieke aangeleer wat dit makliker gemaak het. Sal byvoorbeeld by die apteek twee maal verby ‘n spesifieke rak loop, eerste keer om net ‘n recce te doen en die produk te identifiseer. Tweede maal om die spesifieke produk blitsig van die rak af te pik, onder in die mandjie te sit en dit te bedek met my inkopiesak.

 

‘n Bietjie raad, Dinsdae met oopmaak is die beste tyd om sensitiewe goedjies by die apteek te gaan koop. Minste mense, sien.

 

Het ook gou geleer om nie vroulief se voorskrifmedisyne by die toonbank aan te vra nie, het gesien hoe ruk vrouens aan die ander kant van die apteek hulle nekke in traksie in om te sien hoe lyk die manstem wat die spesifieke produk wil hê. Dalk is my vrou reg en praat ek so hard omdat ek verdomp so doof is, kordiet-ore van al die geskiet. Slim geraak, skryf ek die naam van die produk op ‘n nota, plaas die nota onderstebo op die toonbank en stoot dit soos ‘n waffers pokerspeler na die apteker.

 

Terloops, het agtergekom daar is apteek-groupies. Vrouens wat by die apteek uithang, net om hul en hulle telge se nuutste siektes met mekaar te vergelyk en te bespreek. Of net om te kom hoor of daar dalk nie nuwe medisyne op die mark is waarvan hulle nog nie weet nie. Hulle ken ook al die moeilike name van al die medisyne uit hulle koppe, as hulle die naam van jou medisyne hoor weet hulle wat fout is met jou. Ek is ‘n bietjie bang vir hierdie vrouens, van hulle het so ‘n verstarde intense kyk aan hulle. Weet nie of hulle ‘n bietjie malletjies is nie en of dit net die effek van die nuutste medisyne is wat hulle uitprobeer nie.

 

My vrou se laaste versoek, wel wat kan ek sê. Los van haar onderkleertjies in ‘n plastiese sakkie vir my, die nota lees – kry vir my asseblief drie van alles, presies dieselfde grootte, snit, kleur ens. Moet bieg ek was ‘n bietjie opstandig oor die versoek maar het ook geweet dat sy dit rerig nie gaan kry waar sy nou bly en werk nie. Moed bymekaar geskraap en die winkel aangedurf. Tussen die rye en rye fyn onderklere op en af geloop, gesoek maar niks gevind nie. Hulp het ook nie opgedaag nie, die winkelassistente het my net onderlangs dopgehou, punt daarvan gemaak om te skuif wanneer ek in hulle rigting beweeg. Duidelik het hulle nie hierdie umlungu vertrou nie.

 

Later hulle toesighouer gaan roep, ‘n Ingelse vroutjie wat lankal afgetree moes gewees het. Verduidelik ek vir haar wat ek soek, wys ook die voorbeelde in die plastiese sakkie vir haar – maak ‘n punt daarvan om te sê dit is vir my vrou. Wil sy weet of ek seker is dit is die regte grootte. Ja, ek is seker. Kry ons die bostukke, vra sy weer vir my is ek seker dit is die regte grootte. Wat verstaan die vrou nie, natuurlik is ek seker dit is die regte grootte? Na ‘n lang gesoek ook die onderstukke gekry. Wil die vrou verdomp weer weet of ek seker is dit is die regte grootte. Dink ek by myself, Antie, jy ken nie my kwaai vrou nie. So ek WIL hierdie onderklere in hierdie presiese snit, presiese kleur, presiese grootte, presies dieselfde alles hê. Is egter grootgemaak om oumense te respekteer sê dus vriendelik ja, ek is baie seker dit is die regte grootte. Kyk die tannetjie my op en af en sit haar hande in haar sye, haar gryskoppie met die pienk skynsel skaars by my skouer, nou baie beslis: “But young man, I can guarantee you this is not going to fit you.”

 

Ek wil nie meer die huisman wees nie, rêrig ek wil nie.

 

Theresa van die parlement.

Oktober 25, 2010 in Sonder kategorie

“FW was ‘n regte ou drol en Thabo nog ‘n groter een. En baie van die stories oor Pik wat uitgeglip het kan jy maar glo” reken Frik ons. Sit ons ou varsity pêlle in die kroeg en kuier terwyl ons vir ons vlugte wag – mekaar toevallig op die lughawe raakgeloop.

 

Dis nou ek, Frik en Schoeman. Frik is ons ouderdom, maar hy is op. Steek die een sigaret met die vorige een aan – kettingroker. Drink sy whisky sonder ys of mix, dan werk dit vinniger. Vermoed dit is ook omdat hy nie wil mors met ‘n vol glas nie want hy het hierdie permanente bewe in sy hande. Op varsity was hy die grapgat maar daarvan is niks oor nie, nou is hy net sinies. Direk na universiteit parlementêre diens begin doen, al ‘n paar ministers in die ou en nuwe bedeling oorleef. Hy ken die werkinge van die parlement, die politiek en die “etters” wat dit bedryf. Die parlementêre sittings van ses maande in Kaapstad en ses maande in Pretoria het hom ook al lankal uit sy vrou en kinders uit.

 

Frik en Schoeman het destyds saam politieke wetenskappe geswot, maar Schoeman het ander ambisies gehad, hy wou politikus word. Oor die status, mag en belangrikheid, sien. Maar Schoeman het ook geweet dat geld ‘n rol gaan speel so hy het vroeg-vroeg al gesorg dat hy die dogter van die rykste pa wat hy kon getrou het. Was nie moeilik vir hom nie want hy het nog altyd ‘n gladdebek gehad en sjarme wat hy soos ‘n kraan kan oopdraai wanneer hy iets wil hê. Hy het al ‘n yuppie-houding gehad nog voordat die term gedefinieer is. Sou ‘n goeie politikus gewees het. Werk nog steeds in skoonpa se maatskappy want ’94 het gekom en hy het besef dat daar is nie meer soveel geleenthede vir ‘n pale face in die politiek as voorheen nie. Maar sy obsessie met die politiek het gebly, dis waarom hy Frik nou so pes, wil later name dropping doen en stories vertel asof hy die mense intiem ken.

 

“Maar wat van Zuma” hou Schoeman aan om vir Frik uit te vra?

 

Wil Frik half vererg weet: “Lees jy nie koerante nie man, ek sal hom nie eers in my tuin laat skoffel nie, wat nog president van ons land maak?!”

 

Stywe nek speel Schoeman sy troef: “Wat van Madiba?”

 

Frik, half moedeloos: “Mandela is ‘n mite wat geskep is deur die mees suksesvolste PR-exercise ooit in wêreldpolitiek. Die weste se koloniale skuldgevoel en ons whities in Suid-Afrika se skuldgevoel oor apartheid het gemaak dat ons dit ten alle koste wou glo.”

 

Duidelik warm onder die kraag wil Schoeman weet: “Wat is dit met jou en jou houding teenoor politici, ek bedoel, jy het nog al die jare vir hulle gewerk.”

 

Antwoord Frik: “Presies, ek het jare vir hulle gewerk, dis waarom ek so ‘n weersin in hulle het.” Sien ek weer ‘n bietjie van die ou Frik-humor toe hy vra of ons hom sal vergun om homself aan te haal: “Politics is the game of trade-offs, thus integrity is a luxury no successful politician can afford.” Brei hy uit dat hy meen bitter min politici is daar vir die people soos hulle beweer, hulle is daar vir hulself.

 

Nou al verby vererg wil Schoeman met ‘n meerderwaardige snotty houding weet: “Is daar dalk, net dalk per toeval iemand by daai moerse groot parlement van ons vir wie jy wel tyd en respek het?”

 

Reken Frik hom, en ek wat hom goed ken kan sien die ou Frik is terug: “Ja, ek het die grootste respek en bewondering vir Theresa.”

 

Gesels ek en Frik rustig voort oor ander dinge, terwyl Schoeman met ‘n frons probeer uitwerk wie die Theresa is na wie Frik verwys het. ‘n Theresa wat in die politiek is of was? Natuurlik te arrogant om dadelik te erken hy weet nie van wie Frik praat nie.

 

Heelwat later onderbreek hy ons summier: “Die enigste Theresa aan wie ek kan dink was Dok Kraai se vrou?”

 

“Nee, nie sy nie” antwoord Frik en ons keer terug tot ons onderwerp.

 

Klaar met my gesels draai Frik na Schoeman wat dikbek vir ons sit en kyk: “Die Theresa waarvan ek praat is Theresa Bartlett.”

 

Begin hy ons vertel van Theresa hul ministerie se tea-girl. Stil en ordentlik het sy altyd haar werk met die grootste toewyding gedoen. As jy in haar kombuis kom was alles altyd reg en op sy plek en sy besig om iemand se ou tydskrif of ‘n geestelike boek te lees. Haar kombuis was die rustigste plek in daai hele parlement. Wanneer die hare gewaai het en hy homself moes keer om nie die lewe uit ‘n hond van ‘n politikus te wurg nie, het hy by haar in haar kombuis ‘n koffie gaan drink. Rustig geraak terwyl sy trots vertel van haar kinders. Haar seun wat so mooi leer en wegbly van die gangsters. Die dogters wat altyd help in die huis en nog vir haar mammie sê al is hulle tieners. Met ‘n glimlag vertel hoeveel keer hy haar al gesê het om hom op sy naam te noem, dan het sy net gese “Ja meneer” en aangegaan om hom te meneer. Hulle het op die flats in ‘n twee slaapkamer huis gewoon wat sy by haar pa geërf het. En dis nou al meer as twee jaar dat haar suster se man sy werk verloor het en hulle twee gesinne die huisie deel. Haar nog nooit hoor klae nie. Altyd by die werk, altyd betyds, nooit haar stem verhef nie. Haar net eenkeer effens emosioneel gesien, die slag toe sy hom in sy kantoor kom dankie sê het dat hy gereël het dat haar tydelike aanstelling permanent word. En dit is die een mens tussen al daai belangrike mense by die parlement wat hom sal by bly – haar naam is Theresa Bartlett.

 

 

 

 

Roep van die naguiltjie

Oktober 24, 2010 in Sonder kategorie

Ons het mekaar raak gedrink in die Cheeta Inn se kroeg op Klaserie, daar in die harde bosveld. Het ontmoet toe my selfoon, met die naguiltjie luitoon roep, en hy my reken: “Naguiltjie, in English it is called a Nightjar.”

 

Ons het bladgeskud en name uitgeruil. Hom vertel, toe hy vra, dat ek net daar is om te jag vir die week. Ek ken die wêreld, hier gekom as kind by die familie en vriende wat hier in die omgewing geboer het. Groot babers in die Klaseriedam gevang, sommer ‘n hele duif aan die hoek gesit. En ja, ek jag meestal alleen want ek moet my gemoed en denke skoon kry van die roet van die stadslewe. Gesien hy verstaan waarvan ek praat, ek hoef nie te probeer verduidelik nie – ons het dadelik gekliek.

 

Interessante prentjie wat hy maak, seningmaer, moertoe deur die son en wind verniel, groot baard, min hare op sy kop met ‘n lang dun poniestert, helfte van sy voorarms vol bangles van koper en gevlegde leer. Nog ‘n interessanter karakter. Meer as sewentig jaar gelede in die Australiese outback gebore, nie eers op ‘n klein dorpie nie maar sommer op ‘n sheep outpost. Hy neem aanstoot as mense praat van eensame plekke soos daai as godsverlate want volgens hom is dit juis daar waar jy jou God kan vind. Baie vroeg in sy lewe besluit dat hy die wêreld, die hele wêreld, gaan sien. Op sestien sy duffel-bag gepak en padgevat. Nee, hy het nie ‘n spesifieke nering nie, doen wat sy hand vind om te doen. ‘n Regte egte Jack of all trades. Hy het vir homself een reël gemaak om te verseker dat hy nie vasval op sy wêreldreis nie – hy mag nie langer as een jaar op dieselfde plek bly of werk nie. So hy het letterlik die hele wêreld gesien, op al die kontinente gewees en baie lande geleef en werk. Het nie kind of kraai nie. Lekker stories vertel van ver plekke – die koue van Siberië, boomsaag in die Amasone, hitte en sand in die olievelde van die Midde-Ooste, die reuk van vispak in Alaska, taxi bestuur in New York, die uitmuntende prostitute van Sjanghai, die golwe by diepsee oliebore…

 

Werk tans as mecanic op ‘n plaas hier naby, maak trekkers en waterpompe reg. Hy en die baas van die plaas is groot vrinne, alhoewel hulle nie so lekker kan kommunikeer nie. Hy kan nie Afrikaans praat nie en sy werkgewer ‘n baie beperkte Engels. Maar soos dit maar is het die boer ‘n beneukte vrou, so gereeld kom sit die man by sy vuur sonder baie praat, hy met sy poison of choice en die boer met sy brandewyn en boorgatwater. Dit was juis die boer wat op so ‘n aand dit onder sy aandag gebring het dat die naguiltjie eintlik in Engels roep. Jare gelede bring sy seun glo ‘n Engelse mater saam plaastoe op ‘n naweekpas. Die se mense boer in Zululand waar die naguiltjie ook voorkom en vertel die kind, as jy mooi luister, sal jy hoor hy roep: “Good Lord, deliver us.” Die boer het gedink die Soutie praat stront maar hy was ‘n gas in hulle huis so hy het niks gesê nie. Later teenoor sy vrou opgemerk, dit is die bosveld hierdie die voëls hier praat Afrikaans, dis nou as hulle praat. Eers nadat sy vrou vir hom die betekenis uitgelê het stem die boer saam dat die naguiltjie mag maar Engels praat.

 

Hy is glo nou al meer as drie jaar op die plaas. Vra hom wat dan van sy een jaar op ‘n plek reël? Vertel hy my hy het nou die wêreld gesien, sy krag is op, hy is klaar getrek. Al wat oorbly is sy laaste trek en vir die moet hy sit en wag want hy bepaal nie self die oppaktyd nie. En waar is daar nou ‘n beter plek om te wag as hier in die bosveld waar hy by sy vuur kan sit, sy dop kan maak en luister hoe die naguiltjie namens hulle altwee roep: “Good Lord, deliver us.”

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Kern stasie

Oktober 23, 2010 in Sonder kategorie

Dit was by Kern stasie waar die reuk van lemoenbloeisels vir my vir altyd verander het en waar ek geleer het van mense wat weet. Ek was seker so drie honderd meter weg toe die trein en die bakkie mekaar ontmoet. Kern stasie, die naam word in Engels uitgespreek, is nie werklik ‘n stasie nie dit is sommer net ‘n siding langs die grootpad waar lemoen binne seisoen gelaai word.

 

Die ou veertien honderd Nissan het nie voor die trein ingery nie. Lang dekgras langs die spoor het gemaak dat die bestuurder nie kon sien nie, hy het stadig-stadig vorentoe gery om te kyk of ‘n trein nie dalk aankom nie. En toe hy wel kon sien was dit te laat. Die trein het hom gehak, so ‘n honderd meter saam gesleep voor die bumper en twee modderskerms afgeskeur is en die bakkie doer in die lemoenboord tot stilstand kom. Altyd vreemd hoeveel stof daar met ‘n ongeluk is.

 

Nadat ons die deur opgebreek het, het die man self uitgeklim. Dit was nie nodig om sy veiligheidsgordel los te maak nie want hy het dit nooit aan gehad nie. ‘n Paar skrape en blou kolle, ‘n winkelhak of twee in sy overall, geen ooglopend ernstige beserings nie. Hy het op die grond gaan sit, sy rug teen die voorwiel van die bakkie, sy bene reguit voor hom uit. My nader gewink: “Kan jou selfoon ‘n video opneem?”

 

My ongeduldig stil beduie toe ek die standaard dinge kwytraak van hy moet net rustig wees, nie te veel beweeg nie, alles gaan okay wees, die ambulans sal nou hier wees. Hy het net effens gehoes, met sy vingers oor sy lippe gevee. Daar was lugblasies in die bloed op die werkershand wat hy na my uitgehou het. In staccato gesê: “Ek weet wat dit beteken, daar is ribbes deur my longe. Tyd is min, bly stil en luister. Neem my op, ek wil my familie groet.”

 

Ek het stil gebly, my selfoon se knoppies gedruk en met my kop geknik ek is reg. Hy het eers hulle huisadres gesê, meer gehoes en die bloed met die agterkant van sy voorarm afgevee: “My vrou, wat ‘n genade dat ‘n vrou soos jy ‘n man soos ek kon lief hê. Die dag toe ek jou ontmoet het, het die Here die kronkels in my pad reguit gemaak. Moet asseblief nie alleen oud word nie.”

 

“My seun, ek is trots op die man wat jy besig is om te word.”

 

“My vlinder-meisiekind, dit skeur in my dat ek jou nie gaan sien groot word nie.”

 

Met sy hand oor sy keel vir my beduie om af te skakel: “Sorg seblief dat hulle dit kry. Los my nou alleen, ek moet bid.”

 

Ons het eenkant in die koelte onder ‘n lemoenboom vol in blom gaan staan en wag, hom stil dopgehou. Die ambulans het net enkele minute later opgedaag – toe reeds te laat. Die geur van lemoenbloesels in die hitte steeds om ons.

 

By hul huis gestop kom die vrou met voorskoot en meel op haar voorarms en hande by die deur uit. Vas gesteek, woordeloos vir my en die polisieman gekyk. Haar hand met die vadoek voor haar mond gedruk en op die stoeptrappie gaan sit. Sy het geweet, nog nie die detail nie, maar sy het geweet.

Net effens bossies.

Oktober 19, 2010 in Sonder kategorie

Hier sit ons nou, ou kamerade en kyk vir mekaar oor ons bier, meet mekaar. Sy vrou het so week terug gebel, bekommerd, sal ek asseblief met hom praat – hy is weer besig om bossies te raak.

 

“My vrou het jou gebel, nê?” sê hy, sonder om rerig ‘n antwoord te verwag want hy weet.

 

Sy het hom al gesmeek om met haar te praat of na ‘n sielkundige te gaan maar hy het altyd dieselfde standaard antwoord: “ Ek beskou die eed wat ek as offisier afgelê het onder die Wet op Staatsveiligheid en die Wet op die Bekendmaking van Geheime Informasie as steeds bindend op my gewete.”

 

“Wat is dit met jou en die predikant?” pols ek hom om die gesprek aan die gang te kry. Sy vrou het vertel hy het die predikant tydens huisbesoek weggejaag en was meer as ‘n jaar laas in die kerk. Na ‘n lang stilte: “Nie ek en die predikant nie, ek en predikante. Die fôkkers het al die jare van die preekstoel af vir ons vertel ons is die soldate van die lig net om na ’94 gat om te swaai en nou moet ons hoor ons was eintlik die honde van die hel. En nou hou hulle aan neuk en karring, maar ek is klaar, ek het nou genoeg jammer gesê en gewees. Niemand het ons omverskoning gevra vir dit wat ons deurgemaak het nie. Ek weet ek sal eendag na hierdie lewe verantwoording moet doen, maar dit troos my dat die skynheilige etters ook sal moet. En terloops, daar is nie ‘n manier dat ek Belhar as beleidenis sal aanvaar nie. Dalk sou dit beter gewees het as die kerk dieselfde oneervolle dood gesterf het as sy politieke stalmaat die NP. Het jy hulle al iets hoor preek teen die huidige omgekeerde apartheid en rassisme? Ek het ‘n besluit geneem, ek is van nou af skuldgevoelvry. Blank en skuldgevoelvry. So ek is klaar met die kerk wat hierdie skuldgevoel instand wil hou.”

 

As ‘n man van min woorde is hy half uitasem na die lang monoloog. En toe hy aan sy bier sluk vat ek die gaping. Luister hy my rustig uit terwyl ek vir hom vertel van gemeenskap met die heiliges, dat hy nie in issolasie kan leef nie, en wat van ‘n geloofs voorbeeld vir sy kinders wees as hoof van die huis, gelowiges moet in liefde saam leef, en wat van die liefde en wat van die vergifnis en wat van… Ken hom al jare en weet sy geloof is die grondslag van sy lewe. Weet hy weet al hierdie dinge maar vertel dit vir hom buitendien. Toe hy praat sê sy houding – alles is oorweeg, die besluit is geneem, laat dit so wees: “Fôk die kerk, sy predikante en sy strukture.” Steek sy hand op vir die kelnerin om vir ons nog ‘n rondte te bring – onderwerp afgehandel.

 

Ken hom lank en goed genoeg om nie doekies om te draai nie, deel sy vrou se bekommernis dat hy weer bossies raak met hom. Uiterlik kalm, net die effense beweging van sy kaakspiere gee hom weg: “My vrou praat uit die huis uit. Die geweld-ding is uitgesorteer. Ek het nog nooit my hand vir my vrou gelig nie, sal ook nie. En vandat ek my happy pills drink het ek nog nie weer ‘n trok van die pad afgedruk, ‘n taxibestuurder gebliksem of so iets nie.”

 

Wat van sy walk-abouts? Dat hy op sy eie die bosveld in neuk om kamstig te gaan jag? Vra hy my of ek onthou van Die Gat. Natuurlik onthou ek! Die Gat was die kelder van ons HK. Vra hy verder of ek kan onthou wat ons in Die Gat gedoen het. Natuurlik onthou ek, hoe sal ek ooit kan vergeet?! Natuurlik onthou ek – in Die Gat is gedoen wat nodig is om inligting te bekom. Daar het ek agtergekom dat jy iemand se vrees kan ruik en aanvoel voor jy hom nog sien. Maar ek onthou ook vir hom daar, dat hy anders was. Ons moes onsself eers op-psyc, woede opwerk om ons opdragte in dade om te sit. Hy nie – ek onthou sy metamorfose. Sy vriendelike blou oë wat van kleur verander tot ‘n deurskynende siellose blou, wanneer hy na daai stil alleen donker plek diep binne homself gaan. En wanneer hy van die onheilige plek terugkeer afgemete, klinies, sonder emosie, angswekkend effektief doen wat gedoen moes word.

 

Smeek hy my ek moet asseblief sy vrou gerusstel, hy is nie bossies nie, hy is okay. Maar soms, so een of twee keer ‘n jaar kom teister die dinge van Die Gat hom, word hy nagte aaneen in die nanag wakker gemaak deur die spoke van daai tyd. Dan, dan is dit tyd. Vat hy sy geweer en bakkie die bosveld in – daar waar niemand is of hom kan hoor nie. Skree hy in die donker die woede wat soos sooibrandgal in hom opstoot uit. Baklei hy luid en driftig met sy God. Word hy dronk tot hy omval om later wakker te word langs sy uitgebrande vuur. Net soms sit hy met sy pistool se loop in sy mond, wik en weeg. En dan wanneer die woedestorm verby is jag hy in sy natuurkerk, word hy rustig en daal God se kalmte weer op hom neer. So sy vrou moet asseblief nie bekommer nie, hy is okay, hy is net effens bossies.

 

 

Rugbyspan wipe-out

Oktober 18, 2010 in Sonder kategorie

Ons dorpie het nie meer ‘n rugbyspan nie. Die seisoen is net halfpad, maar ons span se seisoen is verby want ons span is moertoe.

 

Soos in so baie klein dorpies op die platteland het heelwat van ons dorp se sosiale aktiwiteite rondom die rugbyspan gedraai. Twee maal ‘n week word daar geoefen, as dit is wat ‘n mens die ge-tjommel kan noem. Na die tyd word daar in die dorp se kroegie taktiek en spankeuses bespreek, die meisies, vrouens en nie-spelers kuier saam en lewer insette. Saterdag ry die span met die ou laerskoolbus na die buurdorp teen wie gespeel word. Net die span mag in die bus ry want hulle moet glo fokus op die game wat voorlê. Gades, aanhangsels, telge, ondersteuners en andere volg in ‘n lang ry karre agter die bus. By die rugbyveld word die karre rondom die veld getrek. Nie altyd ‘n maklike keuse die besluit om op die paviljoen te gaan sit of in jou kar nie. As jy op die paviljoen sit kan jy met ou vrinne gesels en die mense kan jou gevatte opmerkings wat jy vir die ref skree waardeer. Maar dan weer, as jy in jou kar na die wedstryd kyk kan jy vroeg-vroeg al begin vlesvat en jy kan jou kar se hooter druk elke keer wat jou span score.

 

Ons dorp het nou nie ‘n watwonderse span nie, maar ons probeer. Om eerlik te wees, ons moet gewoonlik so drie hoërskool laaities of studente wat toevallig die naweek by die huis is leen om ons span vol te maak. Maar die span het egter ‘n paar sterk punte. Eersten het ons ‘n sterk pak voorspelers, soos die boerseuns van hierdie omgewing maar is het ons ‘n paar manne wat swaar in die broek is. Dan het ons ook nog vir Phineas, ‘n getransformeerde sokker speler op losskakel. As ons ‘n strafskop enige plek tussen die opponente se pale en ons eie tien tree lyn kry is dit verseker drie punte danksy Phineas se skopvoet. Ook het ons twee blitsige vleuels wat gereeld gaan druk. Bang Jannie hardloop onder enige iemand uit wat net lyk of hy hom wil duik. Jerome-Enrico, gereabiliteerde ex-handsakdief, is net so vinnig. Na ‘n paar doppe brag hy graag dat geen polisieman hom kon inhardloop in die dae voor sy bekering nie. Maar laastens is ons kaptein, voorsitter van die klub en afrigter – Staalhark Hannekom – ons span se grootste bate.

 

Staalhark is een van daai manne vir wie rugby sy lewe en sy geloof is. Hy gaan kerk toe net vir ingeval en werk in sy skoonpa se garage omdat hy moet en omdat hy bang is vir sy vrou. Verder is dit net rugby. Na drie dubbels en coke vertel hy gereeld hoe hy vir die Cravenweek span gekies was. En as hy nie destyds sy pa se trekker op homself omgegooi het nie sou hy sweerlik nog eendag Springbok ook geword het. Hy was altyd die span se agsteman, maar noudat hy ouer en dikker geword het is hy ge-demote, deur homself, tot slot. Staalhark hou die span bymekaar, motiveer hulle, rig hulle af, werk strategie uit, annaliseer die wedstryde – Staalhark is die hart van die span.

 

Dit was juis weer op die bus terug van nog ‘n verloor wedstryd op ‘n buurdorp dat post mortum van die wedstryd gehou word en die lig vir Staalhark opgaan. Ons het nie verloor omdat ons nie genoeg punt op die telbord kry nie, ons het verloor omdat die ander span te veel punte gekry het. Ons swakpunt is ons verdedeging!

 

Laat ek nou maar bieg, by die onthaal is daar hard gekuier en die koolerbokse op die bus was ook amper leeg. So ons was sterk en slim. Ons het met oorgawe geluister en ingekoop toe Staalhark ons verduidelik van first time tackling en dat jy die oponent soos ‘n ton of bricks moet tref. As jy die ou klaar geduik het moet daar glo ‘n bloedspoor agter die draagbaar wees waarmee hy afgedra word. En hy wat Staalhark is gaan ons leer om soos Kamikazes te tackle, word ons beduie.

 

Net voor ons die dorp ingaan maak ons vir oulaas ‘n pitstop, sommer by die nuwe begrafplaas. Dis donkermaan maar dit pla niemand nie, want ons is braaf en ons weet daar is nog niemand in hierdie begrafplaas ter ruste gelê nie. Terwyl ons so in ‘n ry staan en tjoepswaai en van Vuil Katryn sing kry Staalhark sy groot plan. Hy gaan ons sommer nou leer hoe daar eintlik geduik moet word. Soos dit by enige ordentlike begrafplaas hoort is daar ook hier reeds ‘n ry regop sipresboompies geplant. Trap ons begeesterde kaptein en afrigter vas, storm die naaste boompie en duik dit skoon uit die grond uit. Flink organiseer hy ons in ‘n reguit ry, elkeen voor sy eie boompie terwyl hy weer verduidelik van hoe om uit die pool uit te tackle. Met ons spankreet van “One for all and all for one” duik ons toe ons duike.

 

Toe Jong Dok sien die ongevalle is te veel is Ou Dok uit die ouetehuis laat haal om te kom help. Later het Soutie die perdeveearts ook kom help met die minder ernstige beserings. En beserings was daar baie – af sleutelbene, ontwrigde skouers, ‘n geskeurde biseps, gebreekte neuse en kakebene, baie uit of gebreekte tande, verskeie skeurwonde en snye, geskeurde oor of drie, ingeduikte wangbene…. Daar was nie een bruikbare of heel rugbyspeler oor in ons span nie. Die sipresse het ons heeltemal opge-ert.

 

Met ligdag is die slagveld geïnspekteer – in die helder daglig was dit egter maklik om die stutpale van die nuwe heining wat reeds geplant is, direk agter elke sipres, op te let.

Mans huil nie

Oktober 14, 2010 in Sonder kategorie

Ek huil nie in die openbaar nie. Ek’s manlik en Afrikaans, dis waarom, ons is so groot gemaak. Dit is in ons se gene. Nie as kind by my hond se dood nie, nie by geliefde grootouers se begrafnisse is daar “buiten-toe” gehuil nie. As offisier in die ou weermag, toe ons weermag nog geweet het van soldate maak, is dit versterk. Nie eers met die The Last Post trompet afskeid van ‘n kameraad by ‘n militêre begrafnis nie . En nou is ek oud, groot en rond en het ek ‘n baard, nie ‘n enkele traan word in die openbaar gepik nie.

 

“Welvaart wat nie gedeel word nie, is welvaart waaraan jy sal stik.” En dit is die rede waarom ek hierdie somersdag oppad is na die kinderhuis, my kar gepak met bokse soetgoed. Oppad om die voorspoed wat ons ontvang het ook met ander te gaan deel.

 

‘n Somersdag soos wat net die hoëveld kan gee, diep blou hemel en ‘n stad pers van jakarandablomme. Blymoedig oor seëninge ontvang, opgewonde om dit ook te gaan deel.

 

By die kinderhuis moet ek by ontvangs wag tot die persoon wat die sleutel het vir my die stoorkamer kan oopsluit en dis waar ons ontmoet. Hy, ek skat hom so vyf jaar oud, het my eers vir ‘n ruk dopgehou voor hy kordaat nader stap. Sy naam gesê, my naam gevra en toe sy monoloog begin. Binne ‘n kort tydjie sy hele geskiedenis met my gedeel. Hy is op Pampierstad daar naby Jan Kempdorp gebore. Nou al amper ‘n jaar by die kinderhuis. Trots – hy kan so goed Afrikaans praat want die tannie wat hulle huismoeder is praat Afrikaans. Hy is baie lief vir die tannie. Ja, hy kan nog ‘n bietjie Tshwana praat. Sy ma was lank siek voor sy dood is, eers baie maer geword en later baie gehoes. Nooit sy pa geken of geweet wie hy is nie. Gogo was te oud om na hom te kyk, dis waarom hy by die kinderhuis is. Hy het baie maatjies hier. Sukkel nie met skool nie want hy is baie slim….

 

Glad nie skaam om uit te vra nie. Wat is my vrou se naam? Kyk ek rugby? Waar bly ons? Hou ek van braaivleis? Het ons kinders? Waarom nie? Waar kry ek die geld om soooo baie sweets te koop? Is ek kwaai met kinders? Het ons dalk ‘n hond of ‘n kat? Net dalk ‘n ponie? Het ons ‘n TV?…

 

Nadat ons al die bokse in die stoor gepak het net voor ek in die kar klim om te ry word ek aan die hand gevat: “Kan ek nie asseblief maar by julle kom bly nie? Ek is soet, ek belowe. En ek eet nie baie nie, rerig.”

 

Net buite die kinderhuis se hek moet ek van die pad aftrek. Die hemel is nog dieselfde blou, die stad steeds jakarandapers, maar ek tjank snot en trane.

Kerneels se moeilikheid

Oktober 9, 2010 in Sonder kategorie

Die Maandagoggend hier teen teetyd kry ek ‘n oproep van Kerneels: “Meneer, jy moet asseblief kom help want ek het groot moeilikheid!” Onmiddelik is my belangstelling geprikkel want Kerneels het nooit moeilikheid nie, nie hy nie. Hy maak wel moeilikheid, soek moeilikheid, veroorsaak moeilikheid, is moeilikheid… maar bitter selde het hy moeilikheid.

 

Sy naam word nou wel Kerneels gespel, maar dit word Kerrrrrneels uitgespreek. Want jy is die meeste van die tyd so liggies erglik vir Kerneels. Hy is een van daai besige jongmanne wat niemand kan uitlos nie, altyd besig om iemand se siel te versondig. Maar kwaad kan niemand vir Kerneels word nie, ook nie lank vererg bly nie. Een van daai kêrels wat omtrent enige iets onhebbeliks sal aanvang en kan wegkom daarmee. Almal se mater en pret om in die geselskap te hê.

 

Lig hy my in hy is by ons dorpie se enigste supermark se sekuriteitskantoor. Baie benoud: “En meneer moet gou maak die manne wil vir my laat toesluit!”

 

Daar aangekom en rondgevra kry ek die hoof van sekuriteit in die hande. Maar vandag is oom Pottie, wat destyds by die spoorwegpolisie ge-board is, stroef en nie lus vir gesels nie. Baie ernstig en formeel lei my na ‘n deur agter in die stoorkamer. Pluk sy tweerigtingradio uit: “Bravo 3, Bravo 3 dis Bravo 1, maak oop!” Word die deur van binne oopgesluit, sit Kerneels in ‘n klein donker kantoortjie sonder vensters tussen twee sekuriteitswagte. Maar dis nie die Kerneels wat ek ken nie, die standaard ondeunde glimlag op sy bakkies is afwesig, sy skouers hang en hy lyk erg beswaard. Bly om my te sien laat hy hoor: “Meneer, dis alles net een moerse misverstand, ek sweer meneer.”

 

Vertel hy sy storie vir my en oom Pottie. Omdat hy die nagskof gewerk het is hy vandag af. Maar plaas dat sy vroutjie met wie hy onlangs eers getroud is hom los dat hy laatslaap en rus, dit waarvoor sy afdag bedoel is, sleep sy hom saam om haar te help met hul maandelikse inkopies. Hulle was die enigste twee klante in die hele supermark, nie ‘n ander mens in sig met wie Kerneels kan gesels nie. Die enigste ander siele is die kassier wat doer voor verveeld deur haar tydskrif sit en blaai en sekuriteit wat by die ingang sit en sluimer. So loop hy in die supermark maar agter sy vrou met haar lysie aan. Sy enigste taak is om die trollie te stoot. Maak net of hy luister na haar gebabbel oor watter produkte nou eintlik die beste waarde vir geld. Ploeter rond terwyl sy pryse vergelyk. Probeer so nou en dan skelm ‘n blikkie mossels of ‘n sjokolade wat nie op haar lysie is nie in die trollie weg te steek. Net om uitgevang te word, raas te kry en dan weer sleepvoetend after sy vrou aan te drentel. Hoogs verveeld.

 

Net toe hulle deur die hele supermark is onthou sy dat sy van haar vrouegoedjies vergeet het en dis daar voor, daar waar hulle begin het. Maak sy vir Kerneels staan by die vleis- en visafdeling, want sy gaan dit net gou-gou haal. Wag hy maar daar rond, bekyk die wêreld en wag dat vroutjie terugkeer. By die visse wat so mooi op die ys uitgepak is, is daar ook ‘n houtbalie met gepekelde rolmops in en soos dit maar is – ‘n baie kenmerkende visreukkie. Maar laat Kerneels liewerste maar self vertel.

 

“Toe Liefie terugkom trek ek haar nader, so lekker styf teen my. Maar meneer ken mos vir my, ek is maar ‘n bietjie stouterig en ons het laas jaar maar eers getrou en daar is niemand binne ‘n duisend seemyl van ons af nie. So toe laat ek my hand so ‘n bietjie afgly en ek hou haar heuweltjie so in die holte van my hand. Maar sy sê niks en ek raak braaf. Wys ek na die balie met rolmops en sê vir haar dit ruik darem wragtag na …. en sê ek ‘n baie bar woord wat van die vroulike annatomie beskryf. Maar vroutjie-lief baklei nog nie met my nie en toe is ek eers braaf. Reken ek haar dit maak my lus vir ……. en ek gebruik ‘n baie rowwe werkwoord. Maar geen reaksie nie, kyk ek vir haar om te hoor of sy saam stem. Dit is nie my vroutjie wat in die holte van my arm en hand staan nie. Dis ‘n verskrikte grys tannietjie netjies uitgevat in haar rolbalkleertjies. En dis nou hoe ek in hierdie moeilikheid beland het.”

 

In die bestuurder se kantoor ontmoet ek vir Misses Hall, afgetrede laerskoolonderwyseres. Met net so ‘n effense glimlagie agter haar glasie suikerwater stel sy my gerus: “No, don’t worry I am not going to press charges. But that young man is a real naughty one, I am just going to let him sweat a little longer.”