Jy blaai in die argief vir 2010 September.

Davina se mistakie

September 30, 2010 in Sonder kategorie

Nou kyk, daar waar ek in die Laeveld tussen die granietkoppies en lemoenbome groot geraak het is die mense nie maklik nie. Dit was harde warm wêreld met mense wat nie nonsens gevat het nie, van niemand nie, soos Davina se mistakie illustreer.

 

Davina was ons haarkapster in daai verre verlede toe uniseks salonne nog ‘n nuutjie was. Sy was ook die eerste op die dorp wat haar salon omgeskakel het na ‘n uniseks en kort voor lank het sy meer manlike as vroulike kliënte gehad. Dit het nie veel met haar vermoë as haarkapster te doen gehad nie, eerder met die feit dat die meeste lede van die manlike spesie ‘n ou jukkerigheidjie in haar geselskap ontwikkel het. Nou nie dat sy beskryf kon word as mooi volgens die tradisionele definisie nie, want klein van postuur was sy nou nie eintlik nie. Eerder ‘n wulpse mother earth figuur – vol en oorvloedig, golwend soos ‘n ryp koringland in ‘n sagte wind. As ontluikende laaitie was sy my beeld van hoe ‘n sigeunervrou lyk – groot bos swart krulhare, smeulende donker oë, soel vel, swaar grimering, kleurvolle sy-agtige rokke en kaftans, groot oorbelle en juwele, eksotiese naam, misterieus. Nogal erg boheems vir ons plattelandse dorpie. Maar dat sy ‘n invloed op mans, van sewe tot sewentig, gehad het is gewis.

 

Die manne het darem nie te veel kanse gevat nie want Davina het nie nonsens gevat van kabouters nie, veral nie in haar salon nie. En dan was daar ook nog haar man, Dick Balletjies, om mee rekening te hou, groot en sterk en erg jaloers op sy vrou. Terloops, Dick Balletjies was eers Dick Moerse. Dick Moerse want alles was moerse. Sy big six, klipies en coke, sy kinders se skoolrapporte, sy rugby span, sy visvang, sy vakansie, sy skoonma se gekookte kos was alles:”Moerse”. As jy hom vra hoe dit gaan, reken hy altyd: “Moerse man, moerse”. So hy het Dick Moerse geheet, dis nou tot die insident by die hospitaal se ongevalle. Tipies man het hy nie vir sy dokter of sy vrou geluister oor die belangrikheid van nasorg toe hy vir ‘n vasektomie gegaan het nie. Die derde nag na sy operasie het hy dus stadig by die ongevalle ingeskuifel, geklee in net sy slaaphemp en sy pantoffels, terwyl hy gebukkend loop en sy geswelde kalbasse in die holte van sy hande vashou. In ‘n klein dorpie soos die van ons was hy in ‘n oogwink Dick Balletjies, en so sal hy seker ook ter ruste gelê word.

 

Maar ewentewel, die punt is, Davina was gewoond daaraan dat mansmense “laf raak” in haar teenwoordigheid. So ruim sy een Saterdag alleen na sluitingstyd op toe daar ‘n harde klop aan haar salon se glasdeur is. Buite staan daar ‘n middeljarige oompie wat beduie dat hy sy hare wil sny. Maak nie saak hoe Davina na haar horlosie beduie dat die salon al toe is nie, die oom hou net aan smeek. Naderhand maak sy die deur op ‘n skrefie oop om te hoor wat die ou se storie is. Nee pleit die oom:”My enigste dogter trou vanmiddag, met ‘n vooraanstaande boer van die omgewing, nogal. En ek moes my hare gister na werk gesny het, maar het saam met die manne in die kroeg vasgehak om my dogter se troue en haar goeie vangs te vier. My vrou is moordens toe boos vir my omdat ek soos ‘n takhaar by ons enigste ooilammetjie se troue gaan lyk. En kan jy nie maar asse-groot-seblief my hare sny nie. Ek sal jou dubbeld betaal. Vir vrede en oorlewing in my huis en terwille van my dogtertjie dat sy nie in die verleentheid is by haar vername aanstaande skoonfamilie nie.” Gelukkig vir hom klop daar ‘n hart in Davina se bors wat by haar groot boesem pas en kry sy hom jammer. Nooi die oom in, maak hom sit op die barbierstoel, gooi die wit lakentjie oor hom, knoop dit vas agter sy nek en vra hom om net ‘n bietjie te wag want sy moet eers haar skeergoeters agter gaan haal waar sy besig was om dit skoon te maak.

 

Soos alle salonne was Davina se salon ook vol spieëls, ook ‘n spieël direk voor die oompie se skeerstasie. Oppad terug kyk Davina toevallig in die spieël en sien die oom is intens besig met iets in sy skoot, hy konsentreer so sy tong steek selfs so ‘n bietjie by die kant van sy mond uit. Toe sy nader staan en oor sy skouer loer sal sy sien beide sy hande is onder die laken en dit woel en werskaf dat dit ‘n naarheid is. Gegewe haar vorige ondervindings met “orige mansmense” het sy vir geen oomblik getwyfel oor waarmee hy besig is nie, haar bloedig vererg en haarself bewapen. Die eerste beste ding wat sy in die hande kon kry was ‘n een liter glas koeldrankbottel, nog onoopgemaak en vol, ‘n formidabele knuppel. Strek sy haar tot haar volle ses voet op haar hoëhakke uit, arm omhoog en bottel wat raak-raak aan die plafon daal sy neer soos die engel van geregtigheid en moer die ou ‘n almintige hou agter die kop. Net mooi daar waar sy pannetjie deur die hare begin wys – een hou, uit soos ‘n kers. En soos die oom uit die stoel gly val sy bril wat hy besig was om skoon te maak toe mos ook op die vloer.

 

 

 

My k*kste jag ooit.

September 27, 2010 in Sonder kategorie

 

 

Verstaan mooi, ek kla nie maklik oor my jagomstandighede nie. Het al agter op my bakkie geslaap, my kos op ‘n misvuur gemaak, my tande met ‘n bier geborsel, in ‘n beeskrip gewas en die veldtoilet-ding met ‘n graaf gedoen. Maar as ek gaan jag en ek betaal om in die “lodge” te slaap, kan ek darem seker minimum geriewe verwag.

 

Ek gaan nie die jagplaas identifiseer nie, vir veiligheid noem ek die plek In-gebreke-gebly, want hulle het in gebreke gebly om my vooraf oor ‘n paar dinge in te lig en om ‘n paar basiese goed te doen.

 

Die plaas is een groot sekelbos oerwoud waardeur net slange en trapsuutjies kan beweeg. Ek was gedoem om die plaaspaaie te patroleer want geen mens kan in die doringnes beweeg nie, dikkes soos ek nog minder. Aangesien my vrou nie by die huis is nie sal die dorings wat nog in my vlees is maar moet uitsweer.

 

My jaggids wat my deur die doring doolhof van geheime paadjies, wat glo bestaan, moes begelei was die volle tyd van my tyd daar onkapabel gesuip. Elke keer wat ek hom gesoek het was hy uitge-pass in ‘n ongemaklike hopie op ‘n ander plek op die werf. So, geen jaggids nie.

 

Om by sy baas te kla het nie veel gehelp nie, dié was ook vir die hele periode net een fase minder gedrink as sy jaggids. Hy het darem nie omgeval nie, maar ek het gou besef dit help nie om te probeer argumenteer nie. Opmerkings in ‘n sleeptong soos: “Nou maar wat het jy verwag boetie, dis die laaste naweek van die maand, dan drrrrrrrrrink ons, want die bosveld is drrrrrrrrrrrôg en ons het ge-pay? Ons drink nou tot die geld op is en ons weer kans sien vir aangaan” , het my laat besef ek veg ‘n verlore geveg.

 

Het sommer ‘n bietjie gehelp boer terwyl ek daar was, kon dit nie meer aanskou hoe die beeste by ‘n leë krip staan en wag dat die boer of een van sy werkers weer eendag nugter of fluks genoeg is om die krip reg te maak nie. ‘n Oggend van my jagtyd gespandeer om pype en ball valves reg te maak sodat die arme diere net kan drink. Het nogal in my enigheid gewonder hoe die mense van die plaas wat duidelik so ‘n groot dors aan hulle het so min voel vir hul dorstige vee.

 

Net dalk moes hulle my ook ingelig het dat die ‘n ‘oop’ plaas is wat wel rooibokke het soos geadverteer – twee troppies van vyf en drie rooibokke onderskeidelik. En dat die koedoes wat hulle adverteer trekkoedoes is, wat meestal op die plaas is, maar tans is hulle elders. Soos goeie rëen, altyd elder.

 

Alles op die plaas hardloop met die geringste tekens van mense, duidelik wild geskiet. Kry ek later die storie uit een van die plaaswerkers. Wanneer geld ‘n bietjie skraps is op die plaas word daar voor die voet met ‘n lig geskiet, van springhase tot by die buurman se koedoes aan die verkeerde kant van die draad, die vleis word dan in die trust gebied verkoop word.

 

Het toe maar uit pure frustrasie ‘n vlakvark vermoor sodat ek darem net ‘n vleisie het om huistoe te vat. Het my nogal baie geld by ‘n slagter kos om die wille swein, waarvoor ek maar ‘n bietjie gril, te verwerk tot meer eetbare kabernosies en salami’s.

 

Al bogenoemde frustrasies kon ek nog hanteer, ek bedoel, ek het dit al voorheen in ‘n mindere of in ‘n meerdere mate ervaar. Maar die klagtes wat nou volg het dié jag geregistreer as my kakste jag ooit. Letterlik en figuurlik.

 

Die boer het ‘n bietjie in gebreke gebly om my in te lig dat die yskas in sy sogenaamde lodge ‘n nuk het, om net soos die mense op die plaas, net te werk as dit so voel. So plaas ek my pakke met ys, wat ek met groot moeite en sorg saamgebring het, in die deurgeroeste yskas se vriesgedeelte. Net om die volgende more met skok uit te vind die yskas het ge-strike en al my ys is gesmelt. Ek het nou een colonial streep in my, maak nie saak waar ek my op hierdie donker kontinent bevind nie, ek sal sorg dat daar eish in die aand in my whisky is. Dit was met ‘n galbitter gemoed dat ek warm whisky met brakwater in die aande om my vuur gedrink het.

 

En net om sout in my wonde te vryf skop, soos in shock, die blêrrie geroeste visblik van ‘n yskas my dat die hare op my rug orent staan. Al het ek vir Eksdom gekontrakteer, weet ek niks van elektrisiteit af nie en is ek poep bang daarvoor.

 

Gepraat van brak water in my whisky, dieselfde boer het ook in gebreke gebly om my in te lig dat die water nie geskik is vir menslike gebruik nie. Ek moes glo my eie drinkwater gebring het. Die water in die lodge word uit die Limpopo gepomp maar dis eintlik net vir die beeste en die mielies, nie vir die mense om te drink nie?! Die uiteinde van die gebrek aan kommunikasie is dat ek ‘n ou spuitpoepmagie ontwikkel. Nie een van daai ontstelde magies wat jou vooraf waarsku dat dinge nie reg is nie, neeeee, een van die waarvan jy eers uitvind as dit te laat is! Ek het eers in die nanag van die eerste aand agtergekom my magie, okey in my geval ‘n moers maag, is nie lekker nie. Word ek hier rondom 03:00 wakker in ‘n vreemde bed en weet daar is fout, weet nie dadelik wat nie, weet net daar is iewers ‘n moerse groot fout. Kom ek agter my vrou lieg toe al die jare nie, ek poep wel in my slaap. Die bewyse was duidelik te sien aan my slaapbroek en lakens. Ten minste beteken dit die lodge sal skoon lakens vir die volgende gaste moet oortrek, iets wat hulle nie vir my gedoen het nie.

 

Een van die hoof redes waarom ek alleen jag is sodat ek in die aand in die bosdonker in my vuur kan staar, my whisky kan drink, met niemand hoef te praat nie en net na die nag- en bosgeluide kan luister. Maar dit was my nie op hierdie jagplaas beskore nie, hier word ek toe mos vergas met musiek. Iewers uit die verte dryf daar harde musiek tot in my kamp. Nou wel nie die doef-doef geraas wat mens uit minibus taxi’s hoor nie, eerder die eentonige tipe van ‘n makker in stertrieme met ‘n blikkitaar met net drie snare. Beter, maar steeds onwelkom in my bosveldkamp. So sit ek langs my vuur met my ontstelde maag, my brak whisky sonder ys, my wrok oor my slegte jagomstandighede myself en opwerk oor die geraasbesoedeling wat ek nou ook nog moet verduur. ‘n Hele paar doppe sterk ruk ek toe laat aand my boeremoer op ‘n knop, bewapen my self, vat my bakkie om die geraasmakers te gaan soek om hulle ‘vriendelik dog ernstig’ tot ander insigte oor die volume van hul musiek te bring. Ek het rerig nie bedoel om die plaashek oop te ry nie, het net ‘n bietjie vergeet die hek is daar. Verassing, die geraas kom nie van ‘n sjebien iewers uit die trust nie, dit kom uit my ‘gasheer’ se eie pakhuis. My gemoedstoestand het geensins verbeter toe die hek van die elektrieseheining om die stoor my skop dat ek steier nie. (Het ek al genoem dat ek elektriesiteit met ‘n passie haat?) Die musiek was so hard, skree soos ek wil, die donners hoor my net nie. Eers toe ek ‘n skoot oor die dak van die stoor skiet, slinger daar ‘n man na buite en Fanakalô iet in die lyn van: “Boss-man, tata lô mielies hamba lô Pretoria”. Alhoewel die mak moer se Ingels nog slegter as myne is het hy darem verstaan van die probleem met hulle musiek. Gelukkig was hy en sy maatjies onwettiges van Zimbabwe waar “rig van ‘n vuurwapen” en “dreigemente van fisiese geweld” nie oortredings is soos in ons wetgewing nie, so hulle het nie aanstoot geneem met my metode van kommunikasie nie.

 

Laastens het, en op hierdie stadium praat ek toe al van die fôkken boer, in gebreke gebly om my in te lig dat sy toilet se ball value stelsel nie so lekker werk nie. As jy nie die toilet se armpie boontoe druk na gebruik nie hou die water aan vloei en die toilet se bak word nooit vol nie. Nie opsigself ‘n probleem nie. Die probleem is wel dat dit ‘n French dryn is en die toilet se water hou dan net aan vloei tot die hele rioolstelsel vol is. So trek ek op dag twee die toilet na die soveelste gesëende opelyf sessie, net om agter te kom die inhoud van die riool stoot op in my stort en wasbak. Die boer is nog in Pretoria met sy trok mielies, so my probleem is hier om te bly vir duur van my verblyf. Omdat die riool stelsel vol is, bly die inhoud in my stort en wasbak enkel diep. Maar ‘n fyn seun soos ek moet egter elke dag van my lewe met ‘n stort begin, ongeag die omstandighede. Dus improviseer ek toe stort sokkies, plastiese sakkies vasbebind bokant my enkels. Ten spyte van die moeras in my stort kon ek stort en my lyf was tot by my kuite.

 

Laat daar maar nooit weer gesê word ‘n boer kan nie ‘n plan maak nie, nie eens die verstedelike tipe soos ek nie, want ek kan. Met my losmagie moes ek nog steeds die toilet gebruik, nogal redelik gereeld ook. Oplossing, plaas ‘n plastiese sak in die toilet soos wat jy met ‘n asblik doen, slaan die toiletring af en siedaar jou eie poefsak. En dit is nie eers nodig om te spoel nie. Aan die einde van die jag het ek die poefsak, met ‘n paar sittings se inhoud, toegeknoop en vir die boer op die kombuistafel gelos net om ‘n punt te registreer.

 

Nou, ‘n paar dae later is my bloeddruk weer min of meer normaal en het my gemoedsbekakking voldoende gelig dat ek al weer begin rond bel vir my volgende jagavontuur.

 

Je ‘Natural-born-hunter’ Stander

 

 

 

 

 

Gebedsversoek vir Sana, my geliefde.

September 22, 2010 in Sonder kategorie

Gebedsversoek vir Sana, my geliefde.

 

Mede jagters, sit asb my ou sanna op julle gebedslys – sy word more ‘ge-opereer’.

 

Eerstens moet ek my skuld bely, ek het haar totaal oorwerk met al die duifjagte die afgelope twee jaar. Sy is net nie gebou vir die hoeveelheid skietwerk wat ek met haar gedoen het nie. Sy is ‘n fyn dame, ‘n ‘American goose-gun’ wat nie gemaak is vir ons harde duifjag toestande in Afrika nie. Ek het haar gisteraand met trane in my oë beloof dat as sy lewend deur die operasie kom en my nog net deur hierdie jagseisoen help sal ek haar beter behandel – ek beloof. Ek sal ‘n ander slaaf kry om mee duiwe te skiet en ek sal haar net vir die veldhoendertjies en platvoete gebruik.

 

Het ure op die internet spandeer om die gebreekte onderdeel op te spoor. Maar helaas, haar model is nie meer in produksie nie. So ek het haar gister vir twee opinies gevat. Die prognose is nie goed nie, die gebreekte onderdeel kan wel gesweis word maar dit is nie verseker dat dit sal werk nie. Indien die sweiswerk wel ‘vat’, is die probleem dat die hitte die staal verswak en is dit bykans ‘n uitgemaakte saak dat dit weer gaan breek. Maar aangesien daar nie geloofgeneeshere vir gewere is nie, het ek nie ‘n keuse nie, so sy word more gedoen.

 

Hierdie is ‘n baie belangrik saak, ek bedoel die duiwe se sonneblomme wat die graanboere vir hulle geplant het is al ryp en droog en hulle vlieg in wolke. En die tarentaal seisoen is al amper hier, om nie eers van die watervoëls te praat nie. Sonder haar is ek verlore, sonder haar is my jagseisoen net donsvere in die wind!

 

Je ‘Wys-my-‘n-duif’ Stander

“Hoe om nie Mosambiek te toer nie”

September 5, 2010 in Sonder kategorie

 

Laat daar nooit van my gesê word dat om verleentheid vir myself te spaar dat ek dit nie met ander sal deel nie. En verleenthede was daar vele van toe ek en my se vroutjie Mosambiek gaan toer het. So leer uit ons – lees eerder my foute – om jou baie verdriet, skande, skade, trane, ergnis, pyn, spanning, werk ens te spaar. Hier volg ‘n paar van my ligte mistakies, wat onnodig is om vir jouself op die harde manier te gaan leer.

 

Bly weg van agterpaadjies af, as die padkaart, jou vrou, die PB’s (plaaslike bevolking) en jou eie common sense vir jou sê dat die pad net vir 4×4’s is, glo hulle. Al blaas jy die bande af en al skakel jy die diff-lock aan gaan dit nie jou bakkie in ‘n 4 x 4 verander nie! Jy gaan verskeie kere vasval in die sand en uiteindelik deur jou kwaad vrou gedwing word om dan om te draai, net om weer vas te val in al jou vorige vasval plekke.

 

Pasop vir piri-piri, spyskaarte lieg! Daar is nie geregte wat “mild, hot and very hot” is nie. Lees die blase op my lippe: “Alle piri-piri brand”. Red jouself, wees ‘n sissie en bestel piri-piri on the side.

 

Tools, as ek reg onthou sê mens gereedskap in Hoogs Afrikaans, is baie baie belangrik. Jou Leatherman of Gerber is nie genoeg tool as jy Mosambiek gaan toer nie. Onthou daai gereedskap wat jy by jou Oupa, wat geboer het, ge-erf het en wat nog al die jare ongebruik in jou motorhuis lê en roes, vat dit saam Mosambiek toe. Want al weet jy nie wat hul doel of funksie is nie, in elke gehuggie of pondokkie gaan daar ‘n José of ‘n Manuel of ‘n Gorge wees wat weet hoe om jou bakkie te herstel maar nie die regte tools het nie.

 

Dit is ‘n infame leun dat daar nie muskiete in die winter is nie, hulle vlieg en val aan in eskaders! So, as jy nie voorsiening gemaak het vir malariapille en spuitgoed nie is daar ‘n boereraat wat wonderlik werk. ‘n Halwe bottel jenewer op een liter tonic per persoon per aand, herhaal voorskrif daagliks tot veilig terug by die huis. En as die raad nie die muskiete van jou lyf af weghou nie, gaan jy ten minste nie daaroor bekommerd wees nie.

 

Al verseker die houtverkoper langs die pad jou in Portugees en Fanakalo, asook in gebroke Afrikaans en Engels dat die hout droog is, kanse is baie goed dat jy vir dae oorskiet padkos gaan eet as jy nie voorsiening gemaak het vir houtskool en blits nie.

 

Handleidings, beter bekend as manuals. Moeg gespook sonder sukses om die bakkie aan die gang te kry? Voor jy ‘n brandende vuurhoutjie in jou bakkie se petroltenk gooi (dis nou daai relatiewe nuwe, nog onder waarborg, pas gedienste, AA reiswaardig verklaarde bakkie), skink ‘n dop en gaan sit onder ‘n boom in die koelte. Gee jou vrou tyd om deur die manual te lees, sy sal wel uitvind waarvoor daai liggie is wat nou brand en die bakkie aan die gang kry.

 

As dit by flitsbatterye kom volg Bybelse voorskrifte en vat batterye tot in die sewende geslag saam. Jy sal nie glo hoeveel boksies vuurhoutjies jy opgebruik en hoeveel blase jy op jou vingers kry terwyl jy lig maak vir jou wredehelf om haar toilet te doen nie.

 

Vat genoeg wit goud, ook bekend as toiletpapier, saam. Dit is eerder die uitsondering as die rëel dat toiletpapier voorsien word. Verlede week se Beeld, selfs al brei jy dit sag en maak dit klam, werk maar baie grof met jou sagter dele.

 

Luister tog vir vroulief wanneer sy sê jy moet skoene aantrek wanneer jy vuurmaak en braai, dis net daai Indiër outjies op TV wat op kole kan loop sonder enige nagevolge.

 

Stander se wet van oordadigheid sê: Al was jy nog nooit allergies vir skulpvis nie, na drie dae van prawns as stapelvoedsel gaan jy ‘n allergiese reaksie toon, al is dit net die moeder van alle galaanvalle.

 

Vermy tog die gebruik van byname. Al noem sy jou “Die hardegat Boer” en ander byname, moet haar tog nooit in ‘n kroeg in Mosambiek “Porratjie” noem nie, al doen jy dit liefderyk by die huis. Dit is nie lekker om op ‘n kroeg se agtertrappies te sit en jou Laurentina drink nie, veral nie as jou vrou vrolik binne mag sit en kuier nie.

 

Die Soetste Taal, nee dis nie Afrikaans nie, in Mosambiek is dit Portugees. As jou vrou Dié Taal praat is sy vir die duur van die toer jou alfa en jou omega. Jou voorleser van menu’s, jou vraer van padaanduidings, jou onderhandelaar met skelm spietkops, jou aankoper by padstalletjies, jou gids deur doeane, ………… sy is jou alles. Maar vir ingeval julle van mekaar geskei word is daar net twee frases wat jy uit jou kop moet leer:Oh, grande rei, por favor me de uma cerveja gelada. (O grote koning, kan ek asb een koue bier kry) en Dou-te metade do meu reino se me mostrares como chegar à estrada asfaltada. (Die helfte van my koninkryk as jy vir my kan wys hoe om weer by die teerpad te kom.)

 

Die oomblik wat jy die teerpad verlaat, stop en verminder jou bande se druk. Elke keer, ongeag hoe ver jy op die sand gaan ry. Dit is rerig ‘n groot verleentheid as jy twee keer in die karavaanpark vasval voordat jy nog jou eie staanplek bereik het.

 

Vergeet van goeie dade. Dit is nie ‘n goeie daad of ‘n goeie idee om by die kerk aan te bied om ‘n boks met Bybels by die sendingstasie te gaan aflaai nie. ‘n Dominee mag jou dalk min of meer die koers na die Ewige Lewe kan beduie, maar hier op aarde het hy nie ‘n idee van padverduidelik nie. Dit kan ‘n duur goeie daad word, want eers verloor jy twee dae se vakansietyd sonder om die Sendingstasie te vind, dan ry jy die boks die hele toer saam en uiteindelik by die huis kos dit jou ‘n hele paar rand aan koeriergelde omdat jy te skaam is om die boks met Bybels vir die kerk te gaan terug gee.

 

As jy slim genoeg is om ‘n kluissie agter op jou bakkie te monteer waarin al jou geld, paspoorte, voertuigsleutels ens toegesluit word, wees dan verdomp ook slim genoeg om nie die enigste kluissleutel om jou nek te dra as jy gaan body surf nie!

 

Ek weet Mosambiek het hierdie pragtige wit strande en daar is nie ‘n ander mens binne ‘n duisend seemyl nie, ek weet jy wou dit nog altyd doen, maar vergeet van die nodiste-ding. Ons is maar net nie die regte kleur geverf vir die Afrika son nie. Jou “lily white” agterkant verander baie vinnig in ‘n eina pienk. En jy sal nog daarop moet sit om te kan bestuur.

 

Doeanebeamptes – om hartaanvalle en beroertes te vermy, benader dié subspesie van menswees met ‘n hele paar vriendelike whiskies agter die blad. As jy happy pills het kan jy hulle ook pop. En moet jou nie laat intimideer nie, dit is nie nodig om die werfetters en hul meelopers om te koop om hul werk te doen nie!

 

Água ardente: Vrylik vertaal is dit “vuurwater”. Bly weg van die duiwel se gif af, want as jy dit wel gaan drink is daar ‘n paar gegewes. Jy gaan jou brein- en spierfunksies grootliks verloor, die guarda (wag) sal jou moet help om jou tent te kry of om tot by jou tent te kom, jy gaan jou tent skeef val of binne val, jou vrou gaan dik de moer in wees vir jou, sy gaan jou uitskop omdat jy soos ‘n sterwende seekoei snork, jy sal agter op jou bakkie in die verste hoek van die kampterrein moet gaan slaap en jy gaan vir lank wonder waar jou bakkie aan die nuwe duike kom.

 

Moet nie die water drink nie, nie eers as ys in jou drankies nie. Die klas van spuitpoep wat jou oorkom laat Spoednick na ‘n mooi een lyk. Kanse is dan ook goed dat jy jou gunsteling Woollies onderbroek in ‘n verlate stoppelland in Mozambiek sal agterlaat.

 

En laastens, die organisasie van jou skeersakkie is baie belangrik. Moet nooit, ek herhaal, moet nooit ooit jou tandepaste en KY-jellie in dieselfde skeersakkie sit nie. Veral nie as die buisies dieselfde vorm en grootte is nie!