Doodsheid

September 12, 2012 in Sonder kategorie

“Stuur groete aan die ander malletjies.” My vrou se standaard sê vanuit die warm bed wanneer ek haar in die nanagtelike ure van mid-winter groet om te gaan watervoëlsjag saam met my maters.

 

Ek ken ‘n man wat vertel het van sy kind se stryd met dié swart hond. Hoe die kind homself gekerf het in die donkerste tye van depressie. Sy verduideliking – die pyn van die snye bevestig vir hom dat hy wel nog lewe.

 

Onthou ek die verduideliking waar ons om die koringland in lokval sit en wag vir die son en voëls om te kom. En die koue wat die liggaam kasty laat geen twyfel oor die teenwoordigheid van lewe nie.

 

 

 

 

Sê hom madala, sê hom.

Augustus 17, 2012 in Sonder kategorie

Daar is baie van hulle lang William Nicollaan soos ek huistoe ry in die middae. Meestal harde manne in oorpakke wat nie omgee om agterop ‘n bakkie te ry nie, nie as hulle R7 aan taxi-geld kan spaar nie. Klop aan jou ruit wanneer die verkeerslig rooi is of gee die handsein vir Diepsloot – vra vir ‘n saamry geleentheid. My bakkie is oud en moertoe, die gevaar van ‘n highjack relatief min. My hart soms sag.

By ‘n rooilig wys ek dit is reg, hy kan maar klim. Manne wat in die ry vir ‘n taxi wag hardloop ook nader en is agterop sonder om te vra. Algemeen aanvaarde praktyk, toestemming vir een geld vir almal wat wil saamry, as daar plek is.

‘n Drywer spring uit sy taxi, aggresief, storm nader en skree: “Mulungu”. Maak ‘n snybeweging oor sy keel terwyl hy my beduie: ”You are stealing my business.” Net om in sy spore gestuit te word deur ‘n stortvloed beledigings en dreigemente in verskeie tale van die saamryers agterop die bakkie.

Toe hy omdraai en wegloop skree die madala wat laaste opgeklim het vir oulaas: “Voetsek.” En toe, net sag genoeg vir ons om te hoor en tot groot vermaak van sy mede passasiers: ”Fôkken kaffer.”

Diepsloot se spietkop

Augustus 16, 2012 in Sonder kategorie

Ek is gewoond daaraan dat die metro-spietkops my gereeld aftrek by Diepsloot, raak nie meer ontsteld nie. Moet bieg, alhoewel padwaardig lyk my moertoe bakkie of daar fout moet wees, so ek verstaan. Maar tog gebeur dit soms dat daar ‘n skelm een is wat ‘n geldjie uit jou probeer dreig met ‘n: “Produce something small for me today.” Maar ek het in Afrika gewerk, het ondervinding, maak kortemette van sulke makkers.

Gister word ek weer afgetrek en toe die man nader stap, toe weet ek sommer. Duidelik stel hy nie in die padwaardigheid van my voertuig belang nie. Ignoreer die bestuurslisensie wat ek uithaal. Ek beheer my asemhaling, kondisioneer myself om nie sommer met die intrapslag my boeremoer te pluk nie. Neem hy egter die wind uit my seile: “My lanie, jou bakkie lyk of jy self-employed is. Jy het nie dalk werk vir my laaitie nie? Enige werk. Hy het nie matriek nie maar hy het ‘n drywersliksens.”

Welcome to Diepsloot

Augustus 15, 2012 in Sonder kategorie

Doen tans ‘n kontrak in daai bose stad Johannesburg en ry elke dag langs Diepsloot verby. Ek kan verstaan waarom ‘n kwaaijong ‘n horisontale streep deur die L van Diepsloot getrek het om dit in ‘n T te verander, want ek moet elke dag versigtig wees om nie een van die menigte skoolkindertjies langs die pad raak te ry nie. Kindertjies, hordes, wat nood uitstraal.

 

Net daar waar Diepsloot langs die snelweg begin is dit goed gedink om ‘n Welcome to Diepsloot op te rig. Dit is nou by dieselfde verkeerslig wat in die agt maande wat ek die pad ry minder as twee weke funksioneel was. Net soos die ander verkeersligte langs Diepsloot, permanent buite werking. Presies daar waar die slaggate en die vespoelde pad op sy ergste is.

 

Nie sommer net so ‘n ou Welcome to Diepsloot bordjie nie. Nee, dit is ‘n behoorlike suil van beton en sierklip, met sestien vlagpale, plaveide paadjies, plante en bome daarby. Groot geld spandeer om motorriste welkom te heet in Diepsloot.

 

As agtergrond, minder as dertig meter verder begin dié Diepsloot waar ons welkom moet voel – plakkerskamp krotte tot op die rand van die wal. Huisafval wat teen die rand afgolf tot teen die pad.

 

En soms, net soms wonder ek oor prioriteite in ons hartseer landjie.

 

Boetedoening

Mei 20, 2012 in Sonder kategorie

Dit was ‘n tipiese snikhete dag toe hy van die trein afgeklim het. Ons Karoodorpie is egter nie een van daai waarvan nostalgiese foto’s in tydskrifte geplaas word nie. Pam Golding, Seeff en kie kom slaan nie hul verkoopbordjies hier by ons in nie, want stedelinge wil nie hier kom bly om hulself weer te vind nie. Ons dorpie word verkieslik mis gery. Ver van die hoofroetes, droog, warm, stowerig, verarm, krimpend, moedeloos.

 

Hy het uitplek gelyk in die skerp son op die stasie, net een tas. Duidelik nie een van ons se mense nie – sag en bleek. Amper deurskynend. Rigting gevra by die stasiemeester, sy das afgehaal,  baadjie uitgetrek en die stofpad afstap. Niemand  het geweet die ou huis aan die verste punt van die dorp wat al amper elf jaar leeg staan  is verkoop nie, dit is nou tot hy daar ingetrek het nie. Alhoewel hy nooit in die huis self gebly het nie, sy intrek in die buitegeboue geneem. Soos ‘n bywoner op die plek gebly, nie veel meer as ‘n plakker nie.

 

Dieselfde dag vir hom ‘n moertoe ou bakkie gaan koop. By die tweedehandse winkel ‘n matras, komberse, primus, potte, tafel en stoel, nie bederfbare rantsoene gekoop. Net die minimum wat nodig is om te kan oorleef. Spartaans.

 

Hy was vriendelik met die bure wat oorgestap het om te kom ontmoet en welkom te heet, maar wou nie veel praat nie.  As hy na sy naam gevra is, gesê: “Naam is nie belangrik nie.” Dieselfde op die waar vandaan vraag gereageer. Net gesê hy gaan ‘n ruk hier spandeer om die plot en huis reg te ruk. Nee dankie vir alle uitnodigings.

 

Die volgende dag begin deur die stuk of twintig masiewe bloekombome te ringbas. Baie was al klaar vrek want hulle was oud.

 

Toe eers met die huis begin. Hom amper ‘n jaar geneem om in stilte en issolasie die huis te restoureer. Volledig gerestoureer, van die skoorsteen tot die plankvloere. Soos nuut. Hy is ook getransformeer – nou bruin en taai, hare en baard lank en wild.

 

Dominee na die derde besoek gesê om te voetsek want hy het niks vir niemand te sê of te verduidelik  nie. Die sersant het net sy skouers opgetrek want die man oortree tog geen wet nie. Die dorp het gegis en bespreek maar nie antwoorde gevind.

 

Elke dag van die week gewerk, heel dag, hard en fisies. Saterdae net halfdag, dan sy rantsoene vir die week gaan koop. Ook ‘n bottel want Saterdagaande het hy ‘n staanvuur op die grond gemaak en gedrink tot hy of die bottel klaar is. Sondae nie gewerk nie, net onder die ou druiweprieel gesit  en lees.

 

Ou dominee met sy ondervinding en sagter aanslag het ook probeer. En is daar weg met ‘n antwoord: “Dominee, ek waardeer jou poging, werklik ek doen, maar ek en God is lankal nie meer aan dieselfde kant van die grensdraad nie. Dit help nie.”

 

Na die huis en plot herstel is begin om die bloekombome op te kap en saag vir brandhout. Al die aanbiedinge van werkloses om te help hout maak, soos daar in ons omtes gepraat word, van die hand gewys. So ook die aanbod van ‘n kettingsaag. Die tydrowende en klipharde werk met byl en treksaag gedoen. Die stompe te dik vir saag of kap is met beitel en bospik gekloof. Elke stukkie tak en fynhout is ook volgens lengte gesaag. Met tyd het die hoop hout gegroei tot ‘n berg agter die huis. Selfs die stompe is oop gegrou en met wortels en al laer as grondvlak uitgekap.

 

Die bome se gate klaar gevul, is daar by elke huis op die dorp ‘n vrag brandhout afgelaai. Nie toestemming gevra of verduidelik nie, net afgelaai en gery. Die res van die hout vrag vir vrag by die ingang van die lokasie gaan aflaai vir wie ookal wil hê.

 

Op dag agt honderd en twee vandat hy van die trein afgeklim het die Sondag vir die kerkdiens opgedaag. Glad geskeer en hare geknip, netjies. Toevallig, of dalk nie, het ou dominee gepreek. Heel agter in die kerk op die klein bankie langs die orrel gaan sit. Die hele diens vooroor gebuk, nie een keer opgekyk nie, volgens die orreliste deur die hele diens gehuil. Tydends die slotgebed uitgestap en ‘n koevert in die kollektebord gelos. ‘n Nota aan die kaart-en-transport geheg:

 “Ek is klaar.

Gebruik na goeddunke.”

 

Reguit na die stasie, met sy tassie weer op die trein geklim.

 

Hedendaags lees die bord voor die huis – Huis Nuwe Hoop – maar die mense van die omgewing praat steeds van Malletjies-se-plek.

 

 

 

 

 

Heinz

April 28, 2012 in Sonder kategorie

“Al wat ek van Griet skryf ‘n sprokie, wat my vrou my maak lees het, kan onthou is dat mans glo selfmoord pleeg soos hul kosmaak – morsig.” Reken hy ons en ons lag, want ons is al ‘n bietjie dronk.

Vertel hy ons weer die staaltjie van Heinz wat in sulke diep moeilikheid was omdat hy die troep wat gedreig het om sy polse te sny verduidelik het hoe om dit te doen. Mooi gedemonstreer hoe meer as een oorlangse snit gedoen moet word om te voorkom dat die bloeding stol. Sy verweer: “Mense wat dreig sal dit nie doen nie, hulle soek hulp – ook die wat dit nie die eerste keer regkry nie.”

En ons drink nog ‘n heildronk.

Ons onthou en vertel van sy onblusbare lewenslus, sy humor, sy altyd opgewek wees.

‘n Heildronk.

Sy liefde vir sy vrou, sy familie, die lewe.

Heildronk.

Vertel staaltjies – ons lag hard en baie want ons is bang vir die stiltes.

Ons drink.

Eers wanneer die tweede bottel tequila se prop af is word die waarheid verwoord: “Hy sou nooit met ‘n gelaaide geweer deur ‘n grensdraad klim nie. Nie hy nie, nie hy wat so neuroties oor vuurwapenveiligheid was nie.”

En ons dring die laaste heildronk.

Want ons weet, Heinz het geweet, lewensversekering betaal net uit in die geval van ‘n ongeluk.

‘n Klap op die snoet.

April 28, 2012 in Sonder kategorie

“Katties, die lewe gaan julle nog baie op die snoet klap.” Tannie Poppie, my Afrikaanse onderwyseres van baie jare gelede se gereelde waarskuwing aan die voortvarende jeug in haar klas. Mev du Plessis, soos sy amptelik bekend gestaan het, se manier om ons te waarsku dat die lewe ons nog baie lesse gaan leer.

Vanoggend, soos so baie keer van te vore, het haar woorde waar geword.

Moerig vir my lewe en die mense daarin, stop ek in ons huis se oprit. Sien die man wat die boom op my sypaadjie verniel. Van moerig na woedend in ‘n oogwink. Ek werk hard aan my tuin, ook op my sypaadjie.

Gereed vir geweld, miskien om my eie frustrasies uit te woed, konfronteer ek hom.

Hy praat goeie Engels en is van Zimbabwe. Want hy is honger, en hy is, maak sy vuis waarin die paar verdroogte witstinkhoutbessies is oop sodat ek kan sien.

Ons praat was klaar.

Woordeloos van die wildsbiltong in my motorhuis vir hom afgehaal.

Skaam vir myself.

Bytsoda

April 16, 2012 in Sonder kategorie

“Dit vreet soos bytsoda in my ingewande” – ontbloot sy haar seer.

 

‘n Vergete mater wat in die buiteland werk het my uit die bloute gebel en gevra om ‘n draai by sy vrou te gaan maak, want hy is bekommerd. Wou nie detail gee nie, behalwe dat hy nie hul onderskeie families of hul naby vriende wou betrek nie.

 

Ek het haar ook baie jare laas gesien, sy was altyd ‘n mooi vrou, ‘n goeie vrou. Maar sy is moeg, sy is seer en dit wys. Veral in haar oë.

 

Nie gevra waarom ek daar is toe sy die deur oop maak nie, net omgedraai na die kombuis gestap en die ketel aangeskakel.

 

Sy het eers haar koffie half gedrink voor sy ‘n storie uit haar kinderdae vertel  het. ‘n Storie op hul afgeleë plaas – die storie van ‘n swaksinnige arbeidersvrou wat selfmoord gepleeg het deur bytsoda te drink. Die detail van hoe die plaas se mense die vrou probeer red het, hoe sy as klein dogtertjie gaan wegkruip het met haar hande oor haar ore om die vrou se pyngille te doof. Gille wat nou nog by haar spook.

 

Toe eers vertel sy my van haar man, wat nou al jare op dieselfde projek weg van die huis werk. Dat sy weet dat daar ‘n ander vrou is, al kan sy dit nie bewys nie en al wil hy dit nie erken nie.

 

 “Dit verteer my wanneer hy na sy rusperiode by die huis moet terug gaan en ek weet sy wag. As ek alleen in ons bed lê en dink aan hul intimiteit. Dit vreet soos bytsoda in my ingewande.”

 

Sy vertel sy sal hom nie skei nie, tensy hy wil. Want hy is haar man, sy is lief vir hom en dit is soos dit is. En hy het nog elke keer terug gekom na haar.

 

Die ander vrou  is al meer as twee jaar met hom, lig sy my in. “Sy moet ook seker lief wees vir hom? Dink jy dit vreet  in haar wanneer hy moet terug kom na Suid-Afrika, terug na my?” Wil sy by my weet.

 

En as ek my skouers optrek, want ek weet nie. Sag maar beslis: “Ek hoop dit vreet soos bytsoda in haar ingewande!”

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Implikasies

November 27, 2011 in Sonder kategorie

Beland ek en mater met die ete saam met van die maatskappy se jong turke aan tafel. En soos dit maar gaan is die onderwerp gou die o-so-lekker nuwe vrou wat by verkope begin het. Dit is vanselfsprekend dat sy die onderwerp van bespreking sal wees – mooi, uitdagend en bowenal soekend. Die troupand aan haar vinger klaarblyklik net nog ‘n stuk juweliersware.

 

Soos die glase inhoud sak, sak die vlak van die gesprek. Ons ou manne het net geamuseerd gesit in luister. Maar toe die manne begin praat van die “warm akkedis” en die “hoerkyk in haar oë” tjip mater in met: “’n Ander man se vrou is ‘n anderman se vrou, los uit.”

 

Nog opmerkings het gevolg, elke opmerking het mater beantwoord met dieselfde: “ ‘n Ander man se vrou is ‘n ander man se vrou, los uit.”

 

Maar dit was eers toe die jonges geld begin verwed wie haar eerste gaan “doen” dat mater hom vererg, sy vuis op die tafel en afgemete herhaal: “ ‘n Ander man se vrou is ‘n ander man se vrou, los fôkken uit!”

 

Ons ken nie vir mater so nie, so ek vra hom wat is sy se probleem? Herinner hom ons was saam op varsity en dat hyself maar erg gewoel en geploeg het in die dameskoshuise.

 

Ja, dis waar erken hy, maar verweer homself dat hulle nie getroud was nie. Maar laat hy vir ons ‘n storie vertel, dalk verstaan ons.

 

Hy was reeds afgestudeer, net klaar met die weermag toe hy sy eerste werk by die koöperasie op Witrivier kry. Die eerste dag daar ingestap, jonk en met die roekeloosheid van soldaat wees nog in hom. Die lewe, en dit wat dit behels, oop voor hom. Syne om te oorwin, te vat, om syne te maak na willekeur.

 

Sy was wulps, in haar vroeë dertigs met die seksuele selfversekerheid van ‘n vrou wat haar nie laat inhibeer deur die beperkings van haar huwelik nie.

 

Hulle is aan mekaar voorgestel, mekaar in die oë gekyk en hy het geweet Senatra het geweet waarvan hy sing:”……exchanging glances, lovers at first sight……..” Dit was daar, hulle altwee het dit oombliklik geweet, dit gaan gebeur, dit is net ‘n kwessie van tyd en plek.

 

Hoe haar man daarvan te hore gekom het weet hy nie. Dalk het hy sy vrou goed genoeg geken om wakker te wees. Of dalk het mense by die werk hom gaan vertel hier kom ‘n ding.

 

‘n Week of so later kyk hy op van sy lessenaar, vas in haar man wat voor sy lessenaar staan. Oombliklik in kode rooi ingegaan, opgestaan om homself te verdedig. Maar haar man was nie daar om te baklei of te dreig nie. Ook maar goed so, dit sou ‘n rooidoek gewees, ‘n uitdaging om die oer oue geveg van die sterkste vat alles te veg.

 

Die man het homself voorgestel, sy dogtertjies ingeroep. Twee pragtige blondekoppies, duidelik hul ma se kinders.

 

“Hierdie is Lisa, sy is ses en gaan volgende jaar skool toe. Die kleintjie is Carla, sy is vier.”

 

Dit is al wat die man gesê het, dit was genoeg. Mekaar ‘n ruk in die oë gekyk, woordeloos tot ‘n vergelyk gekom. Kinders aan die hand uitgestap.

 

Agter ‘n toe kantoordeur met die snippermandjie op sy skoot gaan sit, die braak wat in sy keel brand want hy het gewalg aan homself. Maar ook aan haar, vir wie en wat sy is.

 

Sluit hy af: “Kêrels, haar beskikbaarheid al dan nie is irrelevant. ‘n Ander man se vrou is ‘n ander man se vrou – daar is altyd implikasies – los uit!”

Oscar

September 8, 2011 in Sonder kategorie

Ons manne het heel oggend ons deel gedoen vir die land se voedselsekerheid. Moeg en dors, want die son kan brand hier op die turflande van die Springbokvlakte, sit ons rustig onder die doringbome langs die sonneblomlande en hidreer met ‘n paar biere. Wag dat ons duifborspotjie gaar word. Party manne sien om na hul voëlhonde of maak haelgewere skoon. Ander sit net en nonsens praat soos mans maar kan.

 

My ou dik mater met die baard is half stil vandag, staan eenkant en voer sy droëwors vir ander manne se honde.

 

Wou by hom weet of hy nog sy hond mis. Sy Rottweilerteef was nie sommer net ‘n waghond of buitehond nie. Nee, sy het haar baas opgepas, daarom het sy in die huis geslaap. Haar eie kussings in die slaapkamer en TV-kamer gehad. Ook nie meer ‘n jong hond nie het sy begin kruppel loop en is hy met haar vearts toe. Daar die nuus gekry dat dit aggressiewe beenkanker is wat haar vreet. Die prognose was sleg, haar tyd oor was min, haar pyn wat voorlê baie. Opsies was daar nie, die besluit moes net geneem word.

 

Sy hond buitetoe gevat, eenkant waar niemand hom kon sien huil nie, vir haar die situasie verduidelik. Vir haar vertel wat voorlê, haar beloof sy sal nie alleen wees nie.

 

Terug gegaan, die vearts laat weet hulle is gereed. Op die vloer van die spreekkamer gaan sit met die teef se kop in sy skoot. Haar gevryf en kalm gehou terwyl die drip ingesit is, die dosis toegedien is. Daar bly sit tot lank nadat haar asemhaling opgehou het. Sy vrou in die buiteland gebel om haar te vertel en weer saam met haar te huil.

 

Natuurlik mis hy sy hond, sy frons wys duidelik dat hy dink dit is ‘n dom vraag, maar nee dit is nie waarom hy beswaard is nie. Dit is oor Oscar, die bure se hond.

 

Hy en die bure in die pypsteel agter hom kom nie sleg oor die weg nie. Hulle sal nou nie huisvriende word nie, maar as bure kom hulle oor die weg. Daar was egter die keer wat hulle amper geboks het. Dit was toe buurman gereedskap kom leen het en hom ‘n “murderer of animals” genoem het na aanleiding van die rye wildsbiltong in sy motorhuis. Toe hy buurman daarop wys dat hy self aandadig is aan die dood van die tjops en steaks wat hy elke Saterdag saam met die rugby braai was die gort gaar. Maar hulle het weer vrede gemaak en buurman skimp nog gereeld vir ‘n stukkie wildsbiltong.

 

Met die dat buurman-hulle besluit dit is tyd om ‘n hond te koop vir hulle kleuters het hy gewaarsku dat die Bokser wat hulle beplan dalk nie die regte keuse is nie. Die tipe honde is te aktief vir hulle posseël erf en te rof vir klein kindertjies.

 

Sy waarskuwings het op dowe ore geval en buurman het vir Oscar gekry. Die nuutjie was gou oor en soos voorspel was ‘n Bokser nie die regte hond nie. Hy het kinders om gehardloop, tuinmeubels opgevreet, homself met potplante versnapper, die matte bemes………

 

Oscar is na die agterste gedeelte van die bure se tuin verban. Afgeskeep en met min stimulasie het sy gedrag net vererger. Mater het hom maar later oor die arme hond ontferm, maats gemaak deur die heining. Aandag gegee soos en wanneer hy kon. Kon later selfs in sy bed lê en vir die hond fluit om stil te bly as die te veel blaf. Elke oggend met sy oggendkoffie in die tuin ook vir Oscar gaan groet.

 

Na ‘n lang walk-about terug by die huis kom mater agter Oscar is nie meer daar nie. By die bure se huishulp die storie uitgevis. Buurman het ‘n paar weke terug die DBV gebel en hulle laat weet daar het ‘n “stray dog” by hom aangekom wat hulle moet kom haal. Mater het dadelik die DBV gebel om te hoor of Oscar nog daar is. Die dame aan die anderkant van die lyn was opreg jammer. Hom ingelig dat die hond se eienaar hom nie kom opeis het nie en hulle kon ook nie ‘n ander huis vir hom vind kon nie, dus is Oscar uitgesit.

 

Mater se hande trek in vuiste: “En dan het hy die vermetelheid om my ‘n murderer of animals te noem.”