Jy blaai in die argief vir Twakpraatjies.

Ons hou konsert

Oktober 25, 2014 in Twakpraatjies

Roar

Verlede week was weer Durbanville Voorbereidingskool se jaarlikse konsert.  Waar almal in die skool aan deelneem.  En dit maak nie saak wat hulle opvoer nie, daar is altyd plek genoeg plek vir almal.  Hierdie week was geen uitsondering nie. Ons het die Vrydagaandvertoning gaan bywoon.

Roar!  (Lion King).

Ons daag vroeg op.  My vrou het gesê ons moet.  Neem rustig ons plekke in.  Daar is baie min mense nog, maar rondom ons begin mense plaasneem en stemme opklink.  Agter ons klink ‘n vreemde aksent op.  Dis amper Afrikaans, maar ek verstaan dit net-net nie.  Dit blyk Vlaams te wees.  Ek wonder of Jan van Riebeek en sy pelle ook so vinnig gepraat het.

‘n Gesin wat oor drie geslagte strek skuif in die ry voor ons in.  Die man is groot.  Gelukkig skuif hulle verby.  Maar ek het nie rekening gehou met hoe baie hulle is nie.  Uiteindelik neem die groot man tog reg voor my plaas.  Nou het ek ‘n perfekte uitsig van ‘n borselkop met twee ore reg voor my.  Pikant, maar nie heeltemal waarvoor ek gekom het nie.  Ek kan darem weerskante van hom verbykyk.  Nou nie altwee kante gelyk nie, alternerend, bedoel ek nou.

Die konsert begin.  Die openingstoneel is die Circle of Life.  Die props en die kostuums is vernuftig.  Kameelperde, luiperds, zebras, en natuurlik die leeu clan.  Die koreografie skep hierdie konstante kleurvolle beweging saam met die musiek.  Hoendervleismateriaal.

Die olifante wat opkom se kopstukke neem my terug na my eerste blootstelling aan die toneelwêreld.  In sub A was ek ‘n muis in die konsert gewees.  Ons het muispakke aangehad met ‘n keëlvorming kartongesig wat met broekiekouse oor ons koppe getrek is en dan agter ons ore vasgekram is dat dit nie afval nie.  Toe juffrou Baard die kopstuk vir Anton moet vaskram, toe druk sy die kram deur Anton se oorlel.  Per ongeluk natuurlik.  Toe sy egter die tweede kram ook per ongeluk deur Anton se ander oor vaskram, toe was hy heelwat minder vergewensgesind oor die ongelukkie.  Ek het al baie agterna gewonder oor hierdie ongelukkie.

Sorrie, ek dwaal bietjie af.

Die musiek is soms lekker tong-in-die-kies.  In die tweede toneel word die morning report aangekondig met die SAUK se nuuskenwysie.  Afrikaanse liedjies en ook Mango Groove se musiek verleen ‘n unieke Afrika(anse) karakter aan die toneelstuk.

Daar is so baie om te sien met al die baie karakters op die verhoog.  Jy moet mooi kyk, maar jy mis steeds klomp detail, soos die jong wyfieleeu, Nala, wat agteraf ‘n gesig trek vir Zazu, die oorlamse voël.  En elke keer as die hiënas so hulle gatte wil aflag, dan wil ek ook.   Veral in die Elephant Graveyard toneel.

Soms gebeur die grootste pret op die agtergrond, alhoewel grootliks onbedoeld.  Die hoofakteurs is uiteraard gekies op sterkte van hul vaardigheid in toneelspel.  Die span in die agtergrond is dikwels daar, wel, omdat hulle in die skool is.  Hulle het nie noodwendig ‘n passie of ‘n aanleg vir hierdie klas van goed nie.  Met van die danspassies lyk van die agtergrondkunstenaars bloot só ongemaklik en uit plek uit.  Dis natuurlik deels die rede waarom hulle op die agtergrond is, maar dis eintlik baie dierbaar.  Hier is een uit ritme uit, ‘n ander een dans verkeerde kant toe.  Van die seunsvuurvliegies is ooglopend nie gemaak om met dogtertjievuurvliegies te dans nie.

Die toneel waar die buffels vir Mufasa doodtrap is baie vernuftig gedoen.  Ten spyte van die feit dat die buffels eintlik op een plek staan, simmuleer hulle oortuigend die stormloop, elkeen met twee buffelkoppe wat hulle beweeg.

In toneel 7 ontmoet ons vir Pumba en Timone.  Dit moet groot pret wees om die oddballs in só ‘n toneelstuk te speel.  Daardie twee gesiggies is net te ougat.  Pumba het ‘n kostuum aan wat nes die vlakvark lyk (ek weet dis die hele idee, maar ek meen nou maar).  Fenomenaal.  Ek stel my voor die afgunstige kyke wat ek sal kry as ek met daardie kostuum deur Tygervallei se winkelsentrum sou stap.

“Put your behind in your past”, adviseer Pumba.

Hakuna Mutata.

Met ‘n luide flatelasie tussendeur.

Die musiek is vernuftig gekies en die gepaardgaande koreografie puik, dikwels amusant.  Op die maat van Waka-Waka kry ons ‘n vertoning deur veral twee graad-een leerders wat duidelik al voorheen gedans het.  Op die maat van “Everybody does kung-fu fighting” sien Simba uiteindelik vir Scar reg.

Die toneelstuk eindig met Kate Perry se “Roar”.

Lekker man, lekker.

Dis ongelooflik wat die onderwysers met hierdie klompie graad 1 – 3 kindertjies regkry.  Dis doodgewoon briljant.  Dit gee mens hoop.

Hakuna Mutata, ek sê.

See, sand en die mooi meisie

Februarie 24, 2014 in Twakpraatjies

Saterdag sit ek en vroulief in ‘n restaurant in Muizenberg.

Knead

Ons het ‘n paar uur wat ons moet verwyl, en watter beter manier kan daar nou wees as om by die see te sit. Dis ‘n winderige dag. Gelukkig, anders sou dit vrek warm gewees het. Ons sit in Knead restaurant, met net die ruit wat ons skei van die besige sypaadjie in Beach road, met die see net anderkant dit.

Muizenberg

Dis ‘n fassinerende mengelmoes van mense wat voor ons verby beweeg. Alle vorms, groottes, drag, gedrag, kleure, geure, die werke. Vroulief werk bietjie aan ‘n taak op haar iPad. Ek het ‘n boek saamgeneem om te lees, maar ek kom nie daarby uit nie. Die mense is te interessant om dop te hou. Sommige van hulle is nogals mooier as ander. Sommiges se bikinis is heelwat kleiner as die ander s’n.

Laatmiddag raak dit tyd om te gaan. Ek stel voor vroulief wag in die restaurant dat ek liewer die motor gaan haal. Ek is ‘n entjie weg geparkeer op ‘n plek waar ek nie te onnodig veilig voel nie. Selfs nie die motorwag van die Noord-Kaap wat onderneem het om ons motor op te pas laat my rustiger voel nie. Hy moet aan ‘n gemeente behoort wat Saterdae kerk het, want dis duidelik dat hy al die oggend nagmaal gehad het. En mens weet mos nou nie of hy dalk die aanddiens ook gaan bywoon nie.

Dis toe hoeka so. Toe ek by die motor kom is dit verlate. Nie eens die motorwag is daar nie. Ek vind dat die eenrigtings bietjie teen my werk. Ek moet eers ‘n ent weg ry om omdraaiplek te kry. Dié kry ek in ‘n (nou reeds) verlate parkeerarea.

Toe ek daar inry vang ek ‘n dame uit die hoek van my oog wat hard probeer om my aandag te trek. Ek probeer haar vermy, maar dis onmoontlik; ek moet teen haar verby ry op pad uit die parkering uit. Ek draai my ruit ‘n entjie af.

“Halo oom, hoe gaan dit moet oom?!” Sy is baie mooi en baie vriendelik. En dis dydlik dat sy my ken, maar wraggies, ek herken haar glad nie.

“Kan oom nie vir my ‘n lift gee nie?” vra sy.

? OK, ek het ‘n lang verduideliking van nee, ek draai net hier om, dan gaan ek my vrou by die restaurant oplaai, dan gaan ek my dogter in Pelican Park oplaai, dan gaan ek …… So ek dog toe ek hou dit maar kort en sê nee, jammer, ek kan jou nie ‘n lift gee nie.

“Nou maar waarheen gaan oom?”

Mmmm….. dit klink dan nou half bekend. Ek het al voorheen so ‘n tipe gesprek gehad, waarna my vrou my vertel het ek is naief.

Alhoewel ek haar nie eintlik ‘n antwoord skuld nie sê ek nietemin vir die meisie waarheen ek gaan. Wat my laat dink, was sy nie eintlik veronderstel om éérs te vra waarheen ek gaan voordat sy aanvanklik die geleentheid gevra het nie?

Toe ek volstaan daarmee dat ek nie vir haar ‘n lift wil gee nie, vra sy of ek dan nie vir haar ‘n R5 kan gee “om uit hierdie plek uit” te kom nie. Nou, weer eens kan ek vir haar sê ek het nie R5 by my nie – wat toevallig die waarheid sou wees – maar wie gaan dit glo. Ek sê toe maar nee, ek gaan ook nie vir jou R5 gee nie.

In ‘n oogwink verander die vriendelik meisie in ‘n, wel, minder vriendelike meisie. Sy slaan teen my ruit dat ek dog sy breek dit. Sy draai om en stap woedend weg. Met die wegstap sien die halfgedrinkte bierbottel wat agter by haar broek ingedruk is. Wel, dis seker nie ‘n slegte bêreplek nie. Kan jy dink hoe potensieel ontstellend dit kon lyk as sy dit voor in haar broek ingedruk het.

Ek probeer nou nog steeds uitwerk of ek die meisie in die steek gelaat het, en of ek iets vrygespring het wat ongemaklik kon geraak het.

Fietstrap

Oktober 27, 2013 in Twakpraatjies

Saterdag help ek en vroulief as baanbeamptes by die Hoërskool se pret-trap.  Daar is ‘n padfiets wedren en ‘n bergfiets een.  Gelukkig is ons betrokke by die bergfiets een.  Mens kan mos nie in die donker bergfiets ry nie.  Dus hoef ons nie te vroeg op te staan nie.

Dit is dus ‘n heel billike uur to ons plek inneem op ‘n punt in die veld.  Vroulief beman ‘n oop hek met ‘n rooi vlag.  Haar instruksie is: “Sê vir die mense reguit aan en hulle moet stadig die bult af.”  Dis eenvoudig genoeg.  Die stukkie grondpad bultaf en redelik slote in, so ek kan dink jy kan maklik val as jy met spoed daar afgaan.

Ek stap verder op met die bult.  Heel bo sien ek is ‘n draadheining met iets soos ‘n sitbankie gebou.   Die ouens kom afgejaag met ‘n bult, dan is daar ‘n gestreepte lint wat vir hulle aandui hulle moet stop en daar oor die heining klim.  Ek besluit om daar plek in te neem.

Tafelberg is half toe onder wolke.  Die wind maak darem dat dit nie te gloeiend warm raak nie.  Dit vat egter amper twee ure vir die eerste ouens om op te daag.  Teen daardie tyd het ek nou al die duisendpoot familie mooi bestudeer.  Dis ‘n genade hierdie voetjiesgoggas hoef nie skoene te dra nie.

‘n Enkele fietsryer kom oor die bult en afgejaag met die eenspoor paadjie.  Lyk soos ‘n professionele jaer.  Hy ry reguit na die oorklim punt toe, gooi sy fiets oor sy skouer, trap op die steppie, en daar gaan hy.  Dan is dit vir lank stil.  Ek besluit later hierdie ou kan onmoontlik nie deel van die wedren wees nie.  Hy is doodgewoon te ver voor die volgende ryers wat opdaag.  Miskien het hy die fiets gesteel dat hy so haastig was.  Ek het hoeka my ADT geborgde glimbaadjie van die buurtwag aangehad.  Dalk het hy gedink ek is ‘n wetstoepasser.

Dan begin die fietsryers opdaag.  Almal natuurlik fikse manne, veral die voorstes.

Dis egter gou duidelik dat om met ‘n fiets oor ‘n heining te klim, nié deel maak van wat bergfietsryers as pret beskou nie.  Opmerkings wissel van “Nee, jy speel,” of “Ag, nie nóg een nie,”  tot meer kleurvolles wat nie hier publiseerbaar is nie.   Sommiges moet ek terugroep.  Hulle kan bloot nie glo dis deel van die wedren nie, en ry by my en die lint verby.

Daar blyk ook nie ‘n universeel aanvaarbare tegniek te wees nie.  Sommiges (moet sê, dit lyk soos die pro’s) gooi hul fiets oor die skouer, klim met een of twee hale oor die hindernis, spring op die fiets en gaan.   Ander sit eers die fiets neer en verwerk die skok dat hulle alweer oor ‘n heining moet klim.  Drink ‘n ietsie uit hul bottel uit.  Sug.  Tel die fiets oor die heining.  Dis nogal verbasend hoe onstabiel fikse fietsers kan wees in hul poging om oor die heining te klim.  Maar ek skat na 22 km se bergfiets ry is jou bene seker al bietjie jellierig.  Sommige tegnieke was nietemin prettig om te aanskou.

Sommiges wil net gou praatjies maak, terwyl ander nie links of regs afwyk van hul gedetermineerde baan nie.

Anders as met seiljagvaart, egter, is daar duidelik ‘n kameraderie tussen fietsryers.  Ouens sal omdraai om die een agter hulle te help om die fiets oor die heining te tel.  Ek het gedink dis nogals nice.

Intussen moedig vroulief almal aan wie daar by haar verbykom, en maan hulle om reguit in die pad te hou (om een of ander rede mik almal links) en om stadig te ry.  Niemand steur hulle eintlik aan die vermaning om stadig te ry nie.  Wat seker sin maak, aangesien dit ‘n wedren is.

Een groepie dames wat by haar verbykom kry ook die gebruiklike vermaning.  Sy hoor die een vir haar maats sê:  “Wat sê sy, moet ons stadig ry?  Cool, ons kan dit doen.”

Die stroom ryers droog later op.  Ryer nommer 239 (ek het hulle getel, daar was after all niks anders om te doen nie) is ‘n laerskoolseun.  Hy kan doodgwoon net nie sy fiets oor die heining kry  nie oor hy so kort is.  Ek help hom.

Kort na ryer nommer 240 daar verby is kom die span “sweeps” verby wat die agterhoede dek.

Mens is nogals moeg van so ‘n halwe se in die son staan.  Maar ek aanvaar dis niks in vergelyking met hoe die fietsryers gevoel het nie.

Concerto in D

Oktober 15, 2013 in Twakpraatjies

Konsert in Durbanville.

Hierdie week is weer Durbanville Voorbereidingskool se jaarlikse konsert.  Een van die hoogtepunte op hul en ons sosiale kalender.  En watter hoogtepunt is dit nie!

Little Mermaid is die storie wat hierdie jaar opgevoer word.  Ek moet nou bieg, hierdie is een van die Walt Disneys wat ongesiens by my verbygeglip.  Ek het dus nie die voordeel van vooraf kennis van die storie gehad nie.    Plaas ek IMDB vooraf geraadpleeg het.

Ons kry ons sit redelik naby aan voor.  Die décor wat buite die gordyn waarneembaar is, is klaar indrukwekkend.

“Jy’s onder die water,” lig my vrou my in terwyl sy na die décor wys.

“Ek kan voel ja – duidelik die Middeterreense see, eerder as die Atlantiese oseaan,” reken ek, gegewe die temperatuur.  Dis nogals half snoesig so met die stoele redelik naby aan mekaar gepak.   Teen die tyd wat die gordyne oopgaan het ‘n mamma in die ry voor ons al ‘n geveg gestop tussen haar twee vierjariges en tussen hulle plaasgeneem net om ‘n herhaling daarvan te voorkom.

Dan roffel die tromme, die ligte word gedemp, en die konsert begin met ‘n ontploffing op jou sintuie!  Die klank en die massa deelnemers met hul fluerescent kostuums op die verhoog wat die onderwater toneel uitbeeld is fassinerend.

Alles verloop natuurlik nie altyd volgens plan met so ‘n konsert nie.  Sommer met die openingstoneel sien ek hier gaan ‘n fout kom.   Die mannetjie wat Grimsby speel voel ooglopend nie lekker nie.  Klou sy maag vas.  Gelukkig is daar mos ‘n elektroniese klankbaan, so die karakters hoef net saam te mimiek.  Wat natuurlik maak dat Grimsby darem kan funksioneer.  Dan oorweldig Grimsby se naarheid hom en hy storm sommer daar na die verhoog se voorkant toe.  Met die elektroniese byklanke besef ek gelukkig betyds dis eintlik deel van die play.  Grimsby is veronderstél om seesiek te wees.

Ooglopend word niemand in die skool oorgesien vir ‘n rol nie.  ‘n Hele span nonne storm op die verhoog op.

“Dis seevoëls, nie pikkewyne nie,” fluister my vrou in my oor.  Ek het dit geweet, natuurlik.

Later is daar groot vrolikheid in koning Triton se onderwater koninkryk.  Ek is nie mooi seker wat almal is nie, maar ‘n crowd met sulke bossiekoppe maak hulle verskyning.  My vrou reken hulle is eals.  Seeslange?  Ek twyfel.  Maar hierdie was die onbedoelde hoogtepunt van die aand vir my:

In die tweede ry van voor af is daar twee mannetjies met sulke stoutgatgesiggies.  Hulle kan ‘n tweeling wees.  Ek weet nie of hulle by die script gehou het nie.  My raai is dat hulle met hulle eie konsert besig was.  Hulle dans, trek vir mekaar gesigte, wys zap signs (darem nou nie van daai soort wat jy suksesvol met een vinger kan doen nie) en geniet hulle absoluut gate uit.  Báie snaaks.

Ek bly verstom dat kinders van hierdie ouderdom só kan toneelspeel.  Scuttle, die hoof seemeeu, Sebastian, die rooi kreef wat later moet double up as Mermaid se lyfwag, wie se lyftaal dikwels meer moet sê as wat van die ander akteurs met hul woorde uitdruk.  Wel, ok, nie heeltemal hulle eie woorde nie, maar close.

Flounder, die klein tropiese vissie, doen by uitstek haar rol gestand deur oortuigende gesigsuitdrukkings.  Veral wanneer Ariel verlief raak, en Sebastian die krap erg kratervol is vir dié verwikkeling.  [Ek sien daar heers ‘n debat op Google oor watse tipe vissie Flounder is.  Ek was nie naastenby die eerste een wie dit ge-Google het nie.]

Die tegnologie wat gebruik word is fenomenaal.  Dis lasers en ligte en musiek, blitse, ‘n storm op see, die werke.  Tussen scenes glip twee onderwysers gou in die agtergrond op die verhoog en maak die geverfde agtergrond soos groot blaaiborde oop om ‘n nuwe toneelagtergrond te skep.

Die kindertjies wat in die stuk speel is natuurlik nog grootliks hulle eerlike self.  Sommiges se ogies blink van genot.  Sommige lyk oorweldig.  Ander is ‘n toonbleeld van ernstige konsentrasie.  Sommiges staar na ‘n denkbeeldige punt agter in die saal terwyl hulle hard konsentreer om hulle passies te doen.  Party van hulle kry dit glad nie reg nie.  Of dalk was daai dogtertjie veronderstel om telkens in die teenoorgestelde rigting as die ander te dans, wie weet.

Toneel 11 van 14, sê die program, is “Soen die meisie!”  So jy weet nou die storie moet nou hier tot ‘n punt gedryf word, want dis die laaste dag, en as die prins nou nie voor sononder ‘n meisie soen nie, dan is dit te laat.  Maar dis verbrands of hy die meisie gesoen kry!  Dit ten spyte van Sebastiaan die kreef se advies aan Mermaid om haar ooglede te fladder en haar lippe te tuit.  Miskien is dit oor tye verander het.  Nuwe tegnieke is nou nodig.

Die volgende toneel is die partytjie in die paleis.  Sy laaste kans.  Maar verdomp, hy soen nog stééds nie die meisie nie, en nou is daar nou nog net twee tonele oor.  Die spanning raak nou ondraaglik.

Oeps, ek besef nou net, die konsert se speelvak is nog nie oor nie.  Ek gaan nou eers hier moet stop anders gee ek te veel spoilers weg.

Maar genugtig, wat ‘n fenomenale vertoning van talent, tegnologie, kreatiwiteit en uitnemendheid.

Good show DVS.

Vadersdag

Junie 19, 2013 in Twakpraatjies

Ek het verskeie goed gekry vir Vadersdag.  ‘n Mooi geraamde gesinsfoto wat nou in my kantoor staan.  En ‘n boksie metjies van Klein-Jan wat sy graad 5 juffrou hom mee gehelp het.  En ‘n groot musiekrekening ook van hom af.  En twee baie groot skroewedraaiers.

OK, die skroewedraaiers het ek al vóór Vadersdag gekry. Dié het ons Vrydagoggend in my voortuin opgetel net mooi daar waar die muur op sy laagste is.  Dit het my laat vermoed ek het dalk besoekers gehad wat nie geklop het nie.

Sondagoggend 05h15 gaan my alarm af.  Ek spring op, hol af in die gang om op die alarm se paneel te kyk waar die gevaar is.  Dis my sitkamer.  ‘n Deur (toegesluit) skei die sitkamer van die res van die huis. Ek sit gou die buiteligte aan en draf terug kamer toe om my skoene aan te trek.  Mens kan nie met pantoffels skop en baklei nie, verstaan.  Nataniël sê mens moet jou baklei klere aantrek voordat jy baklei.  So net vir ingeval trek ek my baklei skoene aan.  Die telefoon lui.  Dis die sekuriteitsmaatskappy.  Ek sê hou net vas, en check gou of als reg is.

Dapper muis stap deur die huis, nou braaf genoeg om die binnedeur oop te sluit om te kyk wat anderkant aangaan.  Maar niks gaan anderkant aan nie. Ek lig die sekuriteitsmaatskappy so in.

Daarna doen ek gou ‘n tweede rondte en druk my hand teen elke ruit.  Aha!  Een van die sitkamer se onderste ruite is verwyder.  Mooi netjies.  Die ruit is nog heel, en die houtstrokies wat dit in plek moet hou is ook nog mooi heel.  So iemand was in die huis, maar die alarm het hom afgeskrik.

Nadat die armed response en die SAPD daar was stel ons toe maar weer die alarm en gaan snooze lekker tot nege-uur toe.

Met ‘n ligdag inspeksie merk ek toe dat die manne inderdaad die binnedeur probeer oopforseer het, en tewens baie naby daaraan gekom het.  Gelukkig is dit ‘n soliede deur.  Maar dit beteken hulle het aan daai deur gekarring terwyl my alarm al aan was.  Hierdie manne moet ‘n onbeperkte voorraad skroewedraaiers hê.

Niks maar niks word vermis nie.  My broer het voorgestel ek kyk vir die groot goed, mens kan dit maklik mis, reken hy.  Maar die klavier is nog daar.  My TV is te oud om selfs die skelms te interesseer.  Nie seker of ek goed moet voel daaroor nie.

Sondag oggend help oupa (91) my bietjie met die voorbereiding om die ruit terug te sit.  Hierdie oefening is genoeg om ‘n vyf-bladsy verslag oor te skryf, maar ek sal julle dit spaar  –  my pel Lourens reken ek is enige DIY persoon se nagmerrie, verstaan.  Anyway, net toe ek die ruit wil terugsit, toe skop oupa per ongeluk daarteen.  NOU is die ruit stukkend.

Ek het nou die sekuriteitsouens laat kom om my sisteem op te skerp:

  • Ons gaan slagysters orals in die tuin sit.
  • Hondebolle tussen-in, net vir goeie effek.
  • Beams in die tuin.
  • Dan gaan ons ‘n net span die lengte van die erf, met vier vuurpyle, aan die Noordekant.  Sodra die beams beweging optel gaan die vuurpyle afvuur bo-oor my huis en die skelms onder die net vasvang.
  • Gasmaskers sal outomaties binne die huis ontplooi, waarna laggas in die tuin vrygestel sal word.  Die skelms gaan dan hulle gatte aflag.
  • My hi-fi word vooraf geprogrammeer om, wanneer die vuurpyle afgaan, dan speel dit kliphard DE LA REY DE LA REY.
  • Masjiengewere sal op die dak gemonteer word, maar vanweë die val van die erf na die Oostekant toe sal dit net Noord en Suid kan ontplooi.
  • As enige skelm die net en die masjiengewere mis, dan gaan ons die bulhond wakker maak.

Dit behoort goed te werk, dink ek.

PGJ

Gym

Oktober 25, 2012 in Twakpraatjies

Gister gaan ek en Kleinboet gym toe om te gaan swem.  Ek was lanklaas daar. 

Ek weet die gym se water is verwarm in die winter, maar die ding is, ek moet my klere uittrek voordat ek daar kan inklim.  En as dit koud is dan kan my kop net nie my lyf oortuig dat die water lekker warm gaan wees nie.

Daar is swemmers in al die bane, so ons moet ‘n tydjie wag vir ‘n oop baan om in te swem.  Ek bekyk die ouens rondom my.  Daar is ‘n paar Adonisse wat daar rondhang.  ‘n Paar Adoonse ook, gelukkig.  Dan voel mens darem nie so vormloos nie.

Later kry ons ons beurt.  Inderdaad is die water lekker, soos altyd.  Swem doen hierdie ongelooflike ding aan my.  Ek gaan in hierdie wonderdroomwêreld in.  Dis nogals lastig, want dan verloor ek aanmekaar my telling van hoeveel lengtes ek al geswem het.  Soms besef ek ek het nou al vier keer “24” getel.  Dan skuif ek maar ‘n paar tellings aan en hoop dis nog akkuraat.

Na die tyd stap ons terug kar toe.  Ek het nou genoeg tyd gehad om die ouens in die gym dop te hou.  Daar is ‘n manier van stap wat blykbaar gebiedend is as deel van die hele gym uitstappie.  Ek kan maar netsowel begin oefen om dit baas te raak.

Bors uit, elmboë effens wyer uitswaai.  Ek kom heel goed reg met die uitswaai van die arms.  Toe ek jonk was het ek race walking gedoen.  Ek sukkel bietjie om my bors uit te druk.  Dit help om jou asem diep in te trek.

Dit moet werk, want ek sien die mense begin my nogals aan te kyk.

“Hoekom loop pappa so snaaks?” vra Kleinboet.

“Ek loop nie snaaks nie.”  Wat is dit met die kind.

By die motor vra Kleinboet weer:  “Hoekom is pappa so blou in die gesig?”

Ek blaas my asem uit. 

Nee, dit lyk my nie ek verg nog bietjie oefening om hierdie deel van gym baas te raak.