Ons hou konsert

Oktober 25, 2014 in Twakpraatjies

Roar

Verlede week was weer Durbanville Voorbereidingskool se jaarlikse konsert.  Waar almal in die skool aan deelneem.  En dit maak nie saak wat hulle opvoer nie, daar is altyd plek genoeg plek vir almal.  Hierdie week was geen uitsondering nie. Ons het die Vrydagaandvertoning gaan bywoon.

Roar!  (Lion King).

Ons daag vroeg op.  My vrou het gesê ons moet.  Neem rustig ons plekke in.  Daar is baie min mense nog, maar rondom ons begin mense plaasneem en stemme opklink.  Agter ons klink ‘n vreemde aksent op.  Dis amper Afrikaans, maar ek verstaan dit net-net nie.  Dit blyk Vlaams te wees.  Ek wonder of Jan van Riebeek en sy pelle ook so vinnig gepraat het.

‘n Gesin wat oor drie geslagte strek skuif in die ry voor ons in.  Die man is groot.  Gelukkig skuif hulle verby.  Maar ek het nie rekening gehou met hoe baie hulle is nie.  Uiteindelik neem die groot man tog reg voor my plaas.  Nou het ek ‘n perfekte uitsig van ‘n borselkop met twee ore reg voor my.  Pikant, maar nie heeltemal waarvoor ek gekom het nie.  Ek kan darem weerskante van hom verbykyk.  Nou nie altwee kante gelyk nie, alternerend, bedoel ek nou.

Die konsert begin.  Die openingstoneel is die Circle of Life.  Die props en die kostuums is vernuftig.  Kameelperde, luiperds, zebras, en natuurlik die leeu clan.  Die koreografie skep hierdie konstante kleurvolle beweging saam met die musiek.  Hoendervleismateriaal.

Die olifante wat opkom se kopstukke neem my terug na my eerste blootstelling aan die toneelwêreld.  In sub A was ek ‘n muis in die konsert gewees.  Ons het muispakke aangehad met ‘n keëlvorming kartongesig wat met broekiekouse oor ons koppe getrek is en dan agter ons ore vasgekram is dat dit nie afval nie.  Toe juffrou Baard die kopstuk vir Anton moet vaskram, toe druk sy die kram deur Anton se oorlel.  Per ongeluk natuurlik.  Toe sy egter die tweede kram ook per ongeluk deur Anton se ander oor vaskram, toe was hy heelwat minder vergewensgesind oor die ongelukkie.  Ek het al baie agterna gewonder oor hierdie ongelukkie.

Sorrie, ek dwaal bietjie af.

Die musiek is soms lekker tong-in-die-kies.  In die tweede toneel word die morning report aangekondig met die SAUK se nuuskenwysie.  Afrikaanse liedjies en ook Mango Groove se musiek verleen ‘n unieke Afrika(anse) karakter aan die toneelstuk.

Daar is so baie om te sien met al die baie karakters op die verhoog.  Jy moet mooi kyk, maar jy mis steeds klomp detail, soos die jong wyfieleeu, Nala, wat agteraf ‘n gesig trek vir Zazu, die oorlamse voël.  En elke keer as die hiënas so hulle gatte wil aflag, dan wil ek ook.   Veral in die Elephant Graveyard toneel.

Soms gebeur die grootste pret op die agtergrond, alhoewel grootliks onbedoeld.  Die hoofakteurs is uiteraard gekies op sterkte van hul vaardigheid in toneelspel.  Die span in die agtergrond is dikwels daar, wel, omdat hulle in die skool is.  Hulle het nie noodwendig ‘n passie of ‘n aanleg vir hierdie klas van goed nie.  Met van die danspassies lyk van die agtergrondkunstenaars bloot só ongemaklik en uit plek uit.  Dis natuurlik deels die rede waarom hulle op die agtergrond is, maar dis eintlik baie dierbaar.  Hier is een uit ritme uit, ‘n ander een dans verkeerde kant toe.  Van die seunsvuurvliegies is ooglopend nie gemaak om met dogtertjievuurvliegies te dans nie.

Die toneel waar die buffels vir Mufasa doodtrap is baie vernuftig gedoen.  Ten spyte van die feit dat die buffels eintlik op een plek staan, simmuleer hulle oortuigend die stormloop, elkeen met twee buffelkoppe wat hulle beweeg.

In toneel 7 ontmoet ons vir Pumba en Timone.  Dit moet groot pret wees om die oddballs in só ‘n toneelstuk te speel.  Daardie twee gesiggies is net te ougat.  Pumba het ‘n kostuum aan wat nes die vlakvark lyk (ek weet dis die hele idee, maar ek meen nou maar).  Fenomenaal.  Ek stel my voor die afgunstige kyke wat ek sal kry as ek met daardie kostuum deur Tygervallei se winkelsentrum sou stap.

“Put your behind in your past”, adviseer Pumba.

Hakuna Mutata.

Met ‘n luide flatelasie tussendeur.

Die musiek is vernuftig gekies en die gepaardgaande koreografie puik, dikwels amusant.  Op die maat van Waka-Waka kry ons ‘n vertoning deur veral twee graad-een leerders wat duidelik al voorheen gedans het.  Op die maat van “Everybody does kung-fu fighting” sien Simba uiteindelik vir Scar reg.

Die toneelstuk eindig met Kate Perry se “Roar”.

Lekker man, lekker.

Dis ongelooflik wat die onderwysers met hierdie klompie graad 1 – 3 kindertjies regkry.  Dis doodgewoon briljant.  Dit gee mens hoop.

Hakuna Mutata, ek sê.

2 antwoorde op Ons hou konsert

  1. Skoolkonserte is sulke groot pret! Dankie dat ek so op ‘n afstand ook hierdie ene kon beleef

  2. tina10 het gesê op Oktober 25, 2014

    Ag hoe ver vat dit my terug… daai skool konserte waar elke kind in die skool moet deelneem. Onderwysers moet hare op hulle tande hê maar die maak vir ongelooflike herinneringe

    Dankie vir die deel – lekker om jou te sien!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.