Gourits – Deel 7: Huis toe

Januarie 17, 2014 in Gourits vakansies

Die dag voor die vertrek terug huis toe bly maar so half ‘n simpel dag.  Ons neem ons altyd voor om die dag ten volle te geniet, en eers namiddag te begin oppak.  Maar mens vang jouself dat jy maar goed begin netjies maak en opruim in afwagting van die groot pak.

Ek gaan swem vir oulaas in die branders.  Dis heerlik.

Terug by die kamp begin die oppak in meer erns.

Ek het twee entoesiastiese assistente.

hulp

En dis maar hoe die res van die dag verloop.  Teen sonsak is alles ingepak in die bakkie en die karavaan wat kan in.  Een tent staan nog vir Klein-Jan en Sussie om in te slaap.  Die Raleigh tent staan voor die karavaan om die goed wat nie nou al in die karavaan pas nie te beskerm teen die dou.

Ons stap deur die kamp en groet ‘n paar mense.

Vrydag, 3 Januarie 2014

Dis ‘n warm oggend.  Teen die tyd wat ons tien voor agt gehaak en gegroet het en gereed is om te ry, is ek omtrent natgesweet.

Ons stop op pad vir ‘n ontbyt by die Wimpy op Riversdal.

Wanneer ons in Worcester inry is dit bloedig warm.  Ek skat so naby aan 40 grade.  Die lugversorging kom eintlik nie heeltemal die mas op nie.  Ons kruie deur die dorp in digte vakansieverkeer.  Oor die brug net voor die brandweer gee die bakkie ‘n hewige ruk-ruk.  Petrolarmoede, raai ek.  Maar die bakkie ry darem verder.

Ons wik en weeg of ons ‘n laaste pit stop sal maak by die Ultra-City.  Ons is nou so naby aan die huis.   Ons besluit om maar vinnig te stop dat almal ‘n laaste draai kan loop.

Tussen Worcester en die Rawsonville weegbrug voel ek ‘n paar keer die bakkie verloor krag, dan kom dit weer terug.  Ek besef ons het ‘n probleem.  Die vraag is nou of ons deurhou en kyk of ons op hierdie manier by die huis kom, en of ons ‘n ander plan maak.

Ons trek af by die Rawsonville weegbrug.  Hier kan ek onder ‘n boom stop.  As die bakkie my elders laat staan, dan staan ek langs die pad in bloedige hitte.  Of dalk in die Hugenote tonnel.  Dís ‘n gedagte wat my laat ril.  Stel jou dit voor.

Ek besluit om maar die versekering se insleepdiens te skakel.  Dat sal my vierde insleep wees in ‘n jaar se tyd met die bakkie.  Dit vat ‘n tydjie vir die ouens om uit te figure waar ek op die landkaart is, en wat die naaste dorp is.  Die probleem nou is dat dit nie help hulle sleep my na die naaste motorhawe toe nie.  Dis Vrydagmiddag, my bakkie is vol gelaai, my karavaan is vol gelaai, ek moet die voertuie en my gesin by die huis kry.  Na ‘n uur is ek en Padbystand op dieselfde bladsy.  Hulle stuur iemand uit die Kaap uit, maar om my by die huis te besorg verg ‘n stewige bybetaling wat vir my eie sak is.  Enige sleep verder as 50 km is vir my eie rekening.

Twee-en-‘n-half uur later stop George met sy trok by my ons.  Ek is besorgd.  Hulle het gesê hulle stuur twee trokke, een vir die bakkie en een vir die karavaan.  George sê ek moenie bekommerd wees nie, hy doen altwee.

My bakkie op die vragmotor gelaai en die karavaan gehaak.  Die bolhak van die vragmotor kan hidrolies stel vir die regte hoogte.  Ek wil ook so een hê!

Hier staan ek die proses en gade slaan.  Maar ek is eintlik lus en slaan daai bakkie se gade vir hom vuurwarm.

Gehaak

Voor die tonnel word die trok gestop.  Hy moet ‘n pas kry wat sê dat al sy agterligte gecheck is.  Een van die liggies wat ons in die karavaan se venster geplaas het, is dood.  Dié maak George gou reg.  Ons kry ons pas en ry verder deur die tonnel.

By die Stellenbosch afdraai word ons beduie na die weegbrug toe.  Ek het nog altyd gewonder wat my karavaan weeg as hy gelaai is.  Ek probeer al die swaar goed in die bakkie laai, en die ligte bulky goed in die karavaan.  Die stem oor die luidspreker sê ons kan maar ry.  Teen die muur sien ek die digitale vertoning van die aste se onderskeie massas.  Die onderste een besef ek moet die karavaan se gewig wees.

Ek sal maar volgende keer nog méér goedjies in die bakkie moet pak, sien ek.

Ons is net so voor ses by die huis.  Die bure sien die trek verbykom en staan in die straat en neem foto’s van ons.  Hulle is seker bly om ons weer te sien.  Ek het nie besef ons was só lank weg nie.

‘n Interessante einde aan ‘n goeie vakansie, voorwaar.

7 antwoorde op Gourits – Deel 7: Huis toe

  1. tina10 het gesê op Januarie 17, 2014

    Ag toggie … Ek hoop alles is darem nou weer herstel

    • Of dit was ‘n vingerwysing om nou maar aan te beweeg na ‘n nuwe(r) voertuig toe. Hierdie een is al 16 jaar oud met amper 300 000kilo’s op.

  2. Ag,ek weet presies hoe dit voel.Ons het ook al agter op ‘n lorrie teruggekom en dit was aan die begin van ‘n vakansie.Gelukkig kon julle nog jul vakansie geniet.

  3. baie dankie ! ek het jou vakansiejoernaal baie geniet . . . 🙂

  4. Lekker gelag vir jou woordspeling.

  5. Eish!

    Nie lekker nie!

  6. vega het gesê op Januarie 19, 2014

    Darem veilig tuis. Ek sal ok mar dink aan nuwe voertuig as ek jy is. Sin van humor help in sulke situasies en daarvan het jy gelukkig in oormaat

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.