Gourits – Deel 6

Januarie 16, 2014 in Gourits vakansies

Kersdag woon ons die derde van drie kerkdienste by.  Jy moet eintlik op ‘n kaart kyk hoe groot Gouritsmond is om te begryp  hoe onverstaanbaar dit is dat daar genoeg mense is om ‘n halwe kerk vol te sit, nevermind drie dienste.

Gourits

[Van Google Maps af]

Ná kerk drink ons tee saam met die bure.  Klein-Jan se maatjie kom uitasem aangehardloop en rapporteer dat ons nou besonders vinnig sal moet kom want Klein-Jan het op die teer geval dat sy kop eintelik so hop en hy is baie jammer dit was ‘n ongeluk dit was nie so bedoel nie en Klein-Jan se bene bloei en hy huil en hy het seergekry en tannie moet nou gou maak asseblief tannie.

Met só ‘n rapport verg dit min aanmoediging om gou te maak.  Ons wikkel oor na die aangeduide plek.  ‘n Hele skare is saamgedrom rondom Klein-Jan wat in pyn op die teerpad in die karavaanpark lê.  ‘n Man wat dalk ‘n dokter of ‘n para-medic is het hom toe reeds deurgekyk en raporteer dat hy gaan leef.  Klein-Jan steun en snik en kners op sy tande.

Ek tel hom op en dra hom na ons karavaan toe.  Op pad sountoe verduidelik hy so tussen die gekners deur dat hy voor op die maatjie se fiets se handle bars gery het, toe doen die maatjie ‘n paar toertjies.  Maar dis duidelik dat die maatjie nog bietjie moes geoefen het aan die laaste toertjie wat hy probeer het, want dis juis in die uitvoering van hierdie toertjie wat die ongeluk plaasgevind het.

In die karavaan besigtig ons die skade.  Oeps.  Daar is nerf-af plekke wat heelwat groter is as enige pleister wat ons byderhand het.  Dit kan nou ‘n lastigheid afgee.  Gelukkig moet buurman se boot ‘n mediese tas hê wat een of ander inspeksie moes geslaag het.  Onder andere lewer hierdie tassie ‘n paar verbande op.  Ons kry ‘n dokter wat ook daar vakansie hou om vinnig net te loer of ons maar kan toebind en of ons moet hospitaal toe.   Die dokter sê ons kan maar toebind, en hy het nie harsingskudding nie.

My Boet en sy familie kom kuier.  Sy twee seuns slaap by Ouboet in die tent, en hy en sy vrou slaap op Albertinia in die Albertinia hotel.

Skoonsus gaan vir ‘n swem in die getypoel.  Daar is baie mense.  Sy sien ‘n kindertjie aan die diep kant besig om te verdrink en red haar.  Sy gee sommer gou die kleintjie ‘n swemles.  Toe sy omkyk toe staan ‘n hele ry kindertjies agter haar:  “Antie, Antie, ekke wil ook leer swem!”

Sy was nogals lank daar besig.

‘n Paar dae voor die Oujaar gaan ons Klein-Jan se maatjie op Stilbaai haal.  Stilbaai voel soos klein Durbanville.  Orals sien jy bekendes.

Ons ontdek Mengelmoes.

Mengelmoes

Dis ‘n winkeltjie wat tuisgebak verkoop, en op die stoep is ‘n kabeldrom of twee vir ‘n tafel opgestel waar jy kan sit en eet wat jy binne gekoop het.

Spyskaart

Die kos wat ons daar kry is so lekker en so billik geprys, ons bestel sommer vir ons aandete daar wat ons daar optel voordat ons terug ry Gouritsmond toe.

Ouboet is intussen terug huis toe en stuur ‘n foto van sy Tek uitslae.  Daremte kry hy sy diploma.

Nuwejaarsdag is die getypoel tjok en blok vol mense.  Lorrievragte vol mense.  Ok, ek lieg bietjie, daar was net een lorrievrag mense, maar verder heelwat ander voertuie.  Ek kom nou agter die onderbroeke wat my vrou onlangs vir my gekry het is eintlik swemdrag.  Ek het dit nooit geweet nie.

Die swemstrand is ook so vol mense, meerder as gewoonlik, maar daar is darem meer spasie.

Davelin is ‘n besige mannetjie.  Ek skat hom so vyf jaar oud.  Jy hoef nie te kyk waar hy is nie.  Jy hoor sommer.  “Davelin! Moenie!”  “Daveliiiiiinn!”  Vermoedelik sy ma.  En sy suster.  En sy antie.  En min of meer almal rondom hom.

So haloep Davelin voor my deur die water en plas my moedswillig nat terwyl hy met ‘n groot glimlag oor sy skouer loer om te sien of hy suksesvol was.  Hy lyk eintlik na ‘n heel like-able klein stoutgat.

Ons kry ‘n skrik met ‘n sleurgolf wat van die kinders gryp.  Gelukkig kom hulle self uit, maar ek sien die lewensredders moes inswem om ‘n man te help om uit te kom.

En so kom die vakansie op ‘n einde.  Wat oorbly is inpak en huis toe ry.

Maar die reis is deel van enige vakansie storie.  Ek kom nog daarby.

7 antwoorde op Gourits – Deel 6

  1. Ek is bly Klein-Jan is ok. Mengelmoes lyk nou na my soort winkeltjie. Ek was heel beindruk met die winkeltjie daar op Gourits, die dame het nogal oulike geskenkies heel agter in die shoppie. En sy hou vars slaai in die yskas aan. Lyk my brood en roomys is maar nie vollop in Gourits. Die gedraaide aartappels is aansienlik groter en goedkoper en ‘n baie beter kopie as in Mosselbaai, Hartenbos en Dias Strand. Die chippies was ook heerlik.

  2. Bruggie het gesê op Januarie 16, 2014

    mooi woord -sleurgolf

    Ja, n besige rustyd.

    Gouritz ? Na n Hollander vernoem ? Klink ook Khoi-erig.

    • Jy’t my nou laat wonder. Ek gaan soek toe by http://www.gouritzmond.info/geskiedenis vir die antwoord.
      Hulle sê daar dat “die eerste inwoners van hierdie gebied was die Khoisan (kollektiewe naam vir die Khoikhoi en die San) Die Khoikhoi was nomadiese herders (beeste & skape) terwyl die San (Boesmans) jagters was wat van die veld, see en skulpvis gelewe het.

      Die Khoikhoi-stam van hierdie gebied het as die Gourikwas bekend gestaan. Vandaar dan die naam van ons rivier en dorp. Bartholomeas Diaz het hierdie mense in 1488 by Visbaai (aan die oorkant v/d rivier) raakgeloop en by hulle beeste geruil.”

  3. tina10 het gesê op Januarie 16, 2014

    Te lekker het ek gelees Dankie
    Hou veral van die swemles

  4. ” “Antie, Antie, ekke wil ook leer swem!””

    Nice een!

    🙂

  5. Watter ramp vir die arme Klein-Jan – soutwater brand mos vreeslik in sulke skraapwonde.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.