Gouritsmond deel 4 – Klein-Jan vang ‘n vis

Januarie 9, 2014 in Gourits vakansies

Saterdag, 21 Desember

Die getypoel is ‘n gawe lengte.  Langer as ‘n half-olimpiese standaard swembad, so mens kan lekker lengtes swem vir oefening.

Getypoel

Een oggend swem ek bietjie vir oefening.  ‘n Swart labrador raak baie ontsteld oor my in die water en probeer my red deur van die kant af op my in die water te spring.  Ek dink nie hy het dit goed deurdink nie.  In elk geval wil ek ook nie gered word nie.  Ouboet red op sy beurt die labrador uit die water uit.  Die labrador wil ook nie eintlik gered word nie.  Ek stop by die kant dat die eienaar kans kry om die hond weg te neem.

Maar van die getypoel gepraat, Gourits strand is deesdae ‘n Blouvlagstrand.

Blouvlagstrand

Die stranddiensspan is baie bedrywig.  Ek merk op die program dat hulle ook ‘n tee vir die oor-sestigerjariges aanbied.  Mmmm….  Binnekort kan ons (ouer vriende) ook deelneem aan die stranddiens aktiwiteite.

Vir die jongklomp word ‘n talentkonsert gehou in die kerk.  Die kerk raak elke jaar lyk my voller met hierdie konsert.  Dit sit omtrent chock en blok vol.

Ouboet maak ‘n jong man stil wat kliphard sit en praat terwyl  Klein-Jan sy kitaar vertoning lewer.  Toe Ouboet later loop om verder saam met sy pelle te kuier, toe hang die kêrel wat hy stilgemaak het buite rond saam met sy vrinne.  Volgens ouboet het die man toe heelwat te sê gehad, maar veral met klem op die p-woord.  Maar nou nie woorde soos “pampoen” of “pamperlang” nie.  Gelukkig het die man sonder voortande darem nie handgemeen geraak nie.

Die volgende oggend gaan ek en vroulief kerk toe om vir ons en die ou sonder tande te bid.  Ons is die enigste mense daar.  Daar is nie vanoggend ‘n diens nie.  Ons gesels maar met die koster wat besig is om alles reg te kry vir die aanddiens.  Maar soos die naam aandui, gaan dié eers heelwat later plaasvind.

 

So teen drie-uur namiddag nooi buurman vir Klein-Jan vir ‘n visvang op die boot op die rivier.  Klein-Jan is in die swewende hemel.  Hy wil graag opgradeer van vissies met ‘n net vang na regte visse vang met ‘n visstok.  So oor die loop van twee jaar het vroulief vir Klein-Jan ‘n visstok en ‘n katrol bymekaargesit.   Buurman verstaan mooi van visvang.  Hy is heel tevrede met Klein-Jan se toerusting.  Die katrol het die vereiste aantal bearings wat dit blykbaar ‘n gangbare katrol maak, en die stok is blykbaar ook nie te onaaklig nie.

Ek gaan saam, maar as ‘n toeskouer.  Buurman lag nou nog oor ek laasjaar geblikte ipv rou vissies gaan koop het vir aas.  Daai geblikte vis werk regtig nie goed nie.  Dit breek in stukke.  Ek het later die seevoëls daarmee gegooi,  want visvang kon ons nie daarmee nie.  Ek weet nie onnodig baie van visvang af nie.

Op pad rivier toe stop die Hessequa wetstoepassingsbeamptes  ons.  Rumour has it dat hulle fluks kaartjies uitskryf vir ouens wat aan die verkeerde kant van die pad parkeer, of wat nie heeltemal stilhou by stopstrate nie – wat niemand vermoedelik doen nie.  Ons word darem nie beboet oor die sleepwa se nommerplaat binne-in die boot ipv aan die sleepwa is nie.

Dit bly natuurlik ‘n wonderlike sensasie om op ‘n boot op die water te wees.  Die 40 perdekrag Mariner stoot ons teen ‘n flink spoed rivier op.  Ons gooi anker na ‘n tydjie om aas te vang met ‘n vangnet.  Verskeie gooie later lewer drie vissies op vir aas.  Mmm…..  Klink nie soos ‘n goeie begin vir ‘n visvang ekspedisie nie.  Gelukkig het buurman ander aas ook aan boord.

Ons vaar verder die rivier op, en doen aan by ander kampers wat op hul bote visvang, en ook by buurman se broer wat op sy boot daar visvang.  Niemand het nog iets gevang nie.

Die visse is natuurlik moedswillig.  Terwyl niemand niks gevang kry nie, spring die visse links en regs uit die water uit.  Ek is seker een het vir ons middelvinger gewys, maar dit was so vinnig, ek kan nie met sekerheid sê nie.  Dit kon ‘n ander vinger gewees het.

Ons gooi anker, en buurman begin Klein-Jan se visstok voor te berei terwyl hy hom ook die nodige onderrig gee.  Die onontbeerlike stukkie aas kom aan die hoek vas en word met dun rek vasgedraai net om die speelveld gelyk te maak.  Dit sal onsportief wees as ‘n vis rustig die aas kan gryp en loop sonder ‘n billike kans aan ons kant om hom aan die hoek gehaak te kry.

Uiteindelik sit die drie van ons met vier visstokke.  Daar gebeur nie iets nie.  Nie dat dit saak maak nie.  Dis soos jag.  Jy hoef nie iets te skiet om dit te geniet nie.  Die hele ervaring is lekker.  Na ‘n paar keer se ingooi begin ek self oefen aan die gooi-tegniek.  Dis eintlik meer fun as om te probeer visvang,  veral oor niks visse byt nie.

Boot

Dan kry Klein-Jan iets aan sy hoek.  Hy begin worstel met die vis.  Ná ‘n tydjie se geskoop kry hy die vis ingekatrol.  Dis ‘n Barber.  Ek verstaan die Barber is nie gewild vir enige iets sinvol wat ‘n visserman kan uitdink nie.  Dus word hy weer losgelaat.

Die een statiese stok wat op die stellasie agter die boot rus kry ‘n byt.  Buurman oorhandig die stok aan Klein-Jan dat hy die inkatrol werk kan doen.  Dit vat ‘n tydjie.  Klein-Jan sukkel dat dit bars, maar hy kry nie daai vis ingekatrol nie.  Dan is hy dié kant van die boot, dan aan die ánderkant van die boot, maar daai vis spook.  Klein-Jan is later uitasem van baklei met die vis.  Later kan ons al die blink lyf van die vis sien, maar daai ou geen nie op nie.    Uiteindelik is die Leervis aan boord.  Dis ‘n stewige vis, maar ver ondermaat, so ons gooi hom terug.  Ek moet sê, as ‘n ondermaat leervis só ‘n geveg kan opsit, is daar geen manier hoe Klein-Jan ‘n volgrootte een sal kan inkatrol nie.

Klein-Jan se oë blink.

Happy

Buurman kry later ‘n byt, en gee weer oor vir Klein-Jan om in te katrol.  Hierdie keer gaan dit makliker.  Dalk is hierdie vis nie so sterk soos die vorige een nie.  Of dalk is die bokkoors nou bietjie onder beheer.  Dis weer ‘n ondermaat Leervis.  Hy gaan ook terug van waar hy gekom het.

Teen half-ses stoot ‘n lekker luggie.  Ons pak op en lig anker.  Dis ‘n lekker vaart terug na die slip toe.

Klein-Jan is erg tevrede.  Sy eerste regte visvang, met ‘n regte vis aan die hoek.

 

10 antwoorde op Gouritsmond deel 4 – Klein-Jan vang ‘n vis

  1. Dankie! Lekker!

  2. tina10 het gesê op Januarie 10, 2014

    Ek neem aan daar was geen visbraai die aand nie!

    • Tot die teendeel. Dit was eintlik ‘n baie goeie jaar vir die vissermanne. Ons was net bietjie ongelukkig op die betrokke dag. Maar nee, buurman het ‘n paar vissies nog in sy yskas gehad!

  3. @pgjonker
    Lekker gelees aan jou vakansie vertelling. Op so ‘n dag – al vang mens geen vis nie – maak dit ‘n lekkerte wat mens onthou en jou volgende jaar weer aanlok see-toe.

  4. Lekker om saam met jou kind so iets te doen.Hy sal dit ewig onthou!

  5. Twaksak het gesê op Januarie 10, 2014

    Jy maak mens omtrent lus vir so ‘n vakansie.

  6. Interessante blog. Wens ek kan weet hoe is Kees geleer om die sinjale te bemeester

  7. Bwahaha vir jou kamee van die swemmer, die Labrador, Ouboet en die eienaar.
    Mens kan omtrent die lekkerte van Klein-Jan se gesiggie afkrap!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.