Gouritsmond – Deel 3: Die Verlore Seun

Januarie 7, 2014 in Gourits vakansies

Klein-Jan meld vroeg een oggend aan.  Hy het ‘n allergiese reaksie op iets wat hy verkeerd geëet het, hy ly aan voedsel allergieë en moes dalk veral nie al daai bubblegum gekou het nie.  Dit lyk asof ‘n by hom 5 keer op sy lip gesteek het.  Geswel, nie vol gate nie, bedoel  ek nou.

Ek klop Gouritsmond se Annique agent agtuur op om iets te kry wat ons uit ondervinding weet werk. Sy is baie gaaf en het al die Rescue rome wat ons nodig het. Dit lyk of sy vir ons staan en wag het.  Toegegee, met hoe vroeg die son opkom was sy waarskynlik al van vyfuur af op.  Rooibos-rome, Antihistamine en bietjie aandag en Klein-Jan raak op ons bed aan die slaap.  Ons monitor maar die swelling dat mens kan weet of hy moet dokter toe gaan en of dit vanself gaan regkom.

Mens hoor baie voëls as mens so luister vir jou kind wat slaap en jou oë knipper teen ‘n lui lui wat uit jou boek uit opslaan. Swaels swiep agter muggies aan, mossies, kwikkies, kiewiete, patryse en daai wipsterte daar onder die Monatoka boom doen allerande dinge. Dit is glo nie wipsterte nie, dit is muise wat daar loer en saggies skarrel.

Met net een kind op die werf (wat slaap) is daar meer geleentheid vir ons om ook vakansie te hou en te doen wat ons wil.  Wat hoofsaaklik niks doen, lees en koekies eet is.

Ek kry ‘n oproep  van die sekuriteitsmaatskappy dat my alarm het afgegaan.  Ai.  Ek het gedog die skelms hou ook vakansie.  Ek meen, net om darem die speelveld gelyk te hou. Ek bel vir Ouboet.  Hy is nie tuis nie, maar hy is op pad huis toe.  Ek bel ‘n buurtwag buurman om gou te gaan loer wat by my huis aangaan.  Hy rapporteer dat my voordeur nog sit.  Hy is braaf genoeg om sommer oor my muur te klim en te kyk waar daar ingebreek is.  Geen fout nie, dit was ‘n vals alarm.  Wat goeie nuus is, behalwe dat ek weet ek het nou dalk ‘n probleem op my alarmstelsel.

Klein-Jan  ontwaak.  Sy lip is maar geswel, maar hy lyk vroliker.  Vyf van sy vriende daag op vir huisbesoek, en hulle speel kaart onder die gazibo.

Besoekers

Vroulief besoek Aloe Ferox op Albertinia.  Sy kom terug met allerhande goodies.  Dit lyk of aalwyn vir enige iets van nagblindheid tot ingroei toonnaels help. Toevallig ook vir gebarste hakke.  Sussie arriveer darem ook weer terug van haar uitslaap by die Korinterivierdam.

Op van hierdie warm dae dan sit ek onder my gazibo en geniet die wind wat oor my waai.  Dan kan ek nie anders as om aan Bob Dylan te dink nie.

The answer my friend, is sitting in the wind.

Of iets in dier voege.

 

Vrydag, 20 Desember

Vrydag, 20 Desember is Ouboet se laaste werksdag.  Hy kom môre deur Gouritsmond toe.  Ek verdink hom daarvan dat hy dalk vandag gaan ry. Met die oog daarop slaan ek maar solank sy tent en sy kampbed op en sit die lig in sy tent, en so aan.  Dan moet ek met vroulief Riversdal toe om ‘n tandards te gaan soek. Die springmielies het haar ‘n stopsel gekos.

Ons stock op by Riversdal se Spar en Albertinia se slaghuis. Die tandarts gaan ook op vakansie net na hy vroulief se tand gestop het.

Ouboet werk tot 12h00.  Om 12h01 WhatsApp hy my om te vra of Gouritsmond op ons GPS is.  Hy het die GPS by hom.  So ek reken hy is nou op pad, hy behoort vieruur op Gouritsmond te wees.   Ons is drie-uur terug in die kamp met die gestopte tand en lekker Albertinia lam en wors.

Ek gaan sit en lees onder die gazibo.  Ek sit só dat ek die ingang van die karavaanpark kan dophou.  Dit moet wees hoe die verlore seun se pa elke dag gesit en wag het vir hom, reken ek.  Gelukkig het my seun ‘n GPS en dalk kom hy vanaand.

Teen half-ses is ek al erg besorgd.  Daar is geen beweging op Ouboet se WhatsApp nie.  Ek stuur ‘n WhatsApp om te hoor wat hy doen.  Hy laat weet hy is by ‘n vriendin.  Ek glo hom nie, maar ten minste weet ek hy is nog veilig.  Ek aanvaar maar later hy het tot by sy tannie op Montagu gery om daar te oornag.

Sewe-uur kom Ouboet baie vrolik by die kamp ingery, erg tevrede met die surprise wat hy afgetrek het.  Klein b***sempie.  Hy hét gejok van die vriendin by wie hy was.  Ons is baie dankbaar hy is veilig by die kamp.

Anders as wat die plan was steek ons dadelik vuur aan om ‘n vleisie op te sit.  Die Gouritsmond weergawe van die gemesde kalf, Albertinia lam, ‘n fees. Nou is al my kinders tuis, ons is saam op vakansie. My vrou sê ek is ‘n regte pansy, dalk selfs ‘n Baberton Daisy.  Ek ken gelukkig niks van daardie soort diere nie.

6 antwoorde op Gouritsmond – Deel 3: Die Verlore Seun

  1. Lekker gelees en lekker kuier of seker nou reeds gekuier. Gebarste hakke sê jy? Op hierdie gevorderde ouderdom het ek die oplossing gevind. My skoondogter het vir my een van daardie dr Scholl se skuurders gekoop en room. Daar staan toe, skuur as die voete droog is. Baie lank, het ek in die bad of stort geskuur, gedink die vel is dan sag. Nou weet ek, die droeë skuur doen die ding. Koop of gebruik sommer net ´n plat vyl. Baie goedkoper.

  2. Dankie vir die bekoorlike blik in die psige van ‘n goeie pa! Geniet die vakansie, lees en koekies eet inkluis 🙂

  3. Vloei het gesê op Januarie 8, 2014

    Klink sommer lekker! Mooi geskryf

  4. tina10 het gesê op Januarie 9, 2014

    Ja mens kwel jou altyd oor die jong klomp
    Lekker gelees soos gewoonlik

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.