Gouritsmond Desember 2013 – Deel 1

Januarie 5, 2014 in Gourits vakansies

Vooraf

Laasjaar toe ons van Gouritsmond af huis toe ry het my bakkie twee keer op die pad so ‘n ruk gegee, so erg dat ek later stilgehou en gekyk het.  Ek weet glad nie waarvoor nie.  Ek het om die bakkie en die karavaan gestap, die bakkie se bande geskop, met my hande gevoel of die karavaan se wiele warm was, en toe maar weer verder gery.  Ek het dit toegeskryf aan die geweldig sterk wind van voor af.

Paasnaweek leen ‘n vriend die bakkie.  Hy bel my van Botrivier af en en vra of dit maar reg is dat die bakkie so moet ruk teen die bulte uit.  Ek sê nee, dis nie hoe die vervaardigers dit eintlik beplan het nie.  Gelukkig maak hy dit darem veilig huis toe.  Ek laat die bakkie diens, en die probleem was toe opgelos.  Dink ek.

September laat staan die bakkie my seun een donkeraand in die reën op die N1.  Laataand laai ‘n lowbed trok die bakkie en my seun voor die huis af.  Dit blyk dat die petrolpomp ophou werk het.

Die stukkende petrolpomp sit binne-in die petroltenk.  En dit kos 20x duurder (letterlik) as die vervangende pomp wat my motorwerktuigkundige toe onder die enjinkap inbou.  Maar drie dae later laat staan die nuwe petrolpomp my ook en sleep my motorwerktuigkundige my weer in.  Die stukkende pomp in die tenk wil nie petrol deurlaat nie.  Nou moet die tenk in elk geval afgehaal word en die ou pomp verwyder word.  Daarna werk alles reg.

Maar in die twee weke voor ons Gouritsmond toe vertrek raak ek onrustig.  ‘n Paar keer sukkel die bakkie in die oggend om aan te skakel, en ek kan sien dat daar geen petrol in die petrolfilter is nie, alhoewel ek die pomp (baie luidkeels) kan hoor pomp.  En toe, met ‘n week om te gaan, weier die bakkie om te start.  Hierdie keer gelukkig binne-in my erf.

Ek sleep my bakkie na die werkswinkel toe.  Die motorwerktuigkundige vervang die vervangende pomp met ‘n meer bekende fabrikaat.  Nou’s als weer reg.  Hy sê my as dit sou gebeur dat ek petrolarmoede ervaar, wat nie behoort te gebeur nie, dan moet ek net die terugvloei pypie van die vergasser na die petroltenk afblok – dis wat die pomp se vervaardigers voorstel.  Yeah, right.  Ek ry nie eens met ‘n fiets as ek self die brieke reggemaak het nie.

Twee dae voordat ons vertrek ervaar ek skielik ‘n dringendheid om die karavaan se spaarwiel se band te vervang.  Buiten dat die band waarskynlik twintig jaar oud is, is dit verskeie groottes te groot – dis maar hoe ek hom gekry het toe ek 7 jaar gelede die karavaan gekoop het.

Maar ten minste is alles nou reg vir reis.

Saterdag, 14 Desember:  Vertrek

Ons pak Vrydagaand tot laat in, en wen in die proses ‘n dag op die inpakkery.  Ons vertrek ‘n dag vroeër.  Ons kry nie eintlik geslaap nie.  Van vier-uur die oggend af lê en veg ek teen die wakker en wag ek dat die moet lig word. Ek wil nie donkernag se ure ry nie, en ons ry so kwart voor sewe Saterdagoggend by die huis weg.

Twintig kilometer verder bars die karavaan se linkerband met ‘n groot slag.  Ek moet stop op ‘n baie slegte plek op die N1, met ‘n reëling aan my linkerkant wat maak dat ek nie heeltemal van die pad af kan trek nie.  Ons sit die nood-driehoeke uit en begin vinnig die wiel omruil.  Genadiglik dat die spaarwiel nou reg is!  Ek het altyd gewonder hoe mens ‘n karavaan se band ruil as jy langs die pad.  Nou weet ek.

Gebarste band

Ek kom agter dat die hidroliese 4-ton domkrag wat ek 13 jaar gelede vir die bakkie gekoop het, te kort is.  Gelukkig het ek dit nog nooit nodig gehad nie.  Met die kombinasie van die domkrag en die karavaan se eie corner-steadies kry ek darem karavaan hoog genoeg opgelig om die wiel te kan ruil.

Die band het die karavaan bietjie seergemaak, maar gelukkig nie te erg nie.

Skade

Die bandeplek in die Paarl maak eers agtuur oop. Ons moet ‘n halfuur wag.  Kwart oor agt vertrek ons met ‘n nuwe band.

Net voor een die middag trek ons by Gouritsmond in.

Gourits dorp

Met die bure se hulp is ons spoedig opgeslaan en ingerig.

Opgeslaan

Dis ‘n perfekte windstil aand.  Ons gaan slaap vroeg.  Ek slaap soos ‘n dooie.

10 antwoorde op Gouritsmond Desember 2013 – Deel 1

  1. tina10 het gesê op Januarie 5, 2014

    Aha Ek lees altyd leker aan jou vakansiestories.
    Hoop jy het die allermooiste jaar

  2. tina10 het gesê op Januarie 5, 2014

    Oeps … eish … dis lekker en nie leker nie.

  3. Bruggie het gesê op Januarie 5, 2014

    Nagmerrie ! (of avontuur ?)

  4. Simpel vannie band – bly jy is weer hier met ‘n storie!

  5. Daardie staan langs die pad,bly ‘n nagmerrie,veral as die motors so verby flits en jou amper omry!

  6. vega het gesê op Januarie 5, 2014

    Omdat jy die storie skryf weet ek julle is darem veilig terug, sien uit na Deel 2

  7. Voorspoedige 2014 vir jou

    Mag dit verloop sonder pap bande

  8. Hier lees ek alweer 2013 se stories… tyd vlieg. Mooi 2014 vir jou. Ek was ook daar vir so een daggie blits besoek. Heng daardie band lyk lelik!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.