Jy blaai in die argief vir 2013 Junie.

Vadersdag

Junie 19, 2013 in Twakpraatjies

Ek het verskeie goed gekry vir Vadersdag.  ‘n Mooi geraamde gesinsfoto wat nou in my kantoor staan.  En ‘n boksie metjies van Klein-Jan wat sy graad 5 juffrou hom mee gehelp het.  En ‘n groot musiekrekening ook van hom af.  En twee baie groot skroewedraaiers.

OK, die skroewedraaiers het ek al vóór Vadersdag gekry. Dié het ons Vrydagoggend in my voortuin opgetel net mooi daar waar die muur op sy laagste is.  Dit het my laat vermoed ek het dalk besoekers gehad wat nie geklop het nie.

Sondagoggend 05h15 gaan my alarm af.  Ek spring op, hol af in die gang om op die alarm se paneel te kyk waar die gevaar is.  Dis my sitkamer.  ‘n Deur (toegesluit) skei die sitkamer van die res van die huis. Ek sit gou die buiteligte aan en draf terug kamer toe om my skoene aan te trek.  Mens kan nie met pantoffels skop en baklei nie, verstaan.  Nataniël sê mens moet jou baklei klere aantrek voordat jy baklei.  So net vir ingeval trek ek my baklei skoene aan.  Die telefoon lui.  Dis die sekuriteitsmaatskappy.  Ek sê hou net vas, en check gou of als reg is.

Dapper muis stap deur die huis, nou braaf genoeg om die binnedeur oop te sluit om te kyk wat anderkant aangaan.  Maar niks gaan anderkant aan nie. Ek lig die sekuriteitsmaatskappy so in.

Daarna doen ek gou ‘n tweede rondte en druk my hand teen elke ruit.  Aha!  Een van die sitkamer se onderste ruite is verwyder.  Mooi netjies.  Die ruit is nog heel, en die houtstrokies wat dit in plek moet hou is ook nog mooi heel.  So iemand was in die huis, maar die alarm het hom afgeskrik.

Nadat die armed response en die SAPD daar was stel ons toe maar weer die alarm en gaan snooze lekker tot nege-uur toe.

Met ‘n ligdag inspeksie merk ek toe dat die manne inderdaad die binnedeur probeer oopforseer het, en tewens baie naby daaraan gekom het.  Gelukkig is dit ‘n soliede deur.  Maar dit beteken hulle het aan daai deur gekarring terwyl my alarm al aan was.  Hierdie manne moet ‘n onbeperkte voorraad skroewedraaiers hê.

Niks maar niks word vermis nie.  My broer het voorgestel ek kyk vir die groot goed, mens kan dit maklik mis, reken hy.  Maar die klavier is nog daar.  My TV is te oud om selfs die skelms te interesseer.  Nie seker of ek goed moet voel daaroor nie.

Sondag oggend help oupa (91) my bietjie met die voorbereiding om die ruit terug te sit.  Hierdie oefening is genoeg om ‘n vyf-bladsy verslag oor te skryf, maar ek sal julle dit spaar  –  my pel Lourens reken ek is enige DIY persoon se nagmerrie, verstaan.  Anyway, net toe ek die ruit wil terugsit, toe skop oupa per ongeluk daarteen.  NOU is die ruit stukkend.

Ek het nou die sekuriteitsouens laat kom om my sisteem op te skerp:

  • Ons gaan slagysters orals in die tuin sit.
  • Hondebolle tussen-in, net vir goeie effek.
  • Beams in die tuin.
  • Dan gaan ons ‘n net span die lengte van die erf, met vier vuurpyle, aan die Noordekant.  Sodra die beams beweging optel gaan die vuurpyle afvuur bo-oor my huis en die skelms onder die net vasvang.
  • Gasmaskers sal outomaties binne die huis ontplooi, waarna laggas in die tuin vrygestel sal word.  Die skelms gaan dan hulle gatte aflag.
  • My hi-fi word vooraf geprogrammeer om, wanneer die vuurpyle afgaan, dan speel dit kliphard DE LA REY DE LA REY.
  • Masjiengewere sal op die dak gemonteer word, maar vanweë die val van die erf na die Oostekant toe sal dit net Noord en Suid kan ontplooi.
  • As enige skelm die net en die masjiengewere mis, dan gaan ons die bulhond wakker maak.

Dit behoort goed te werk, dink ek.

PGJ