Jy blaai in die argief vir 2012 Oktober.

Gym

Oktober 25, 2012 in Twakpraatjies

Gister gaan ek en Kleinboet gym toe om te gaan swem.  Ek was lanklaas daar. 

Ek weet die gym se water is verwarm in die winter, maar die ding is, ek moet my klere uittrek voordat ek daar kan inklim.  En as dit koud is dan kan my kop net nie my lyf oortuig dat die water lekker warm gaan wees nie.

Daar is swemmers in al die bane, so ons moet ‘n tydjie wag vir ‘n oop baan om in te swem.  Ek bekyk die ouens rondom my.  Daar is ‘n paar Adonisse wat daar rondhang.  ‘n Paar Adoonse ook, gelukkig.  Dan voel mens darem nie so vormloos nie.

Later kry ons ons beurt.  Inderdaad is die water lekker, soos altyd.  Swem doen hierdie ongelooflike ding aan my.  Ek gaan in hierdie wonderdroomwêreld in.  Dis nogals lastig, want dan verloor ek aanmekaar my telling van hoeveel lengtes ek al geswem het.  Soms besef ek ek het nou al vier keer “24” getel.  Dan skuif ek maar ‘n paar tellings aan en hoop dis nog akkuraat.

Na die tyd stap ons terug kar toe.  Ek het nou genoeg tyd gehad om die ouens in die gym dop te hou.  Daar is ‘n manier van stap wat blykbaar gebiedend is as deel van die hele gym uitstappie.  Ek kan maar netsowel begin oefen om dit baas te raak.

Bors uit, elmboë effens wyer uitswaai.  Ek kom heel goed reg met die uitswaai van die arms.  Toe ek jonk was het ek race walking gedoen.  Ek sukkel bietjie om my bors uit te druk.  Dit help om jou asem diep in te trek.

Dit moet werk, want ek sien die mense begin my nogals aan te kyk.

“Hoekom loop pappa so snaaks?” vra Kleinboet.

“Ek loop nie snaaks nie.”  Wat is dit met die kind.

By die motor vra Kleinboet weer:  “Hoekom is pappa so blou in die gesig?”

Ek blaas my asem uit. 

Nee, dit lyk my nie ek verg nog bietjie oefening om hierdie deel van gym baas te raak.

Inbraak

Oktober 14, 2012 in Sonder kategorie

“Slaap jy uit?” check ek met Ouboet voordat ek die alarm stel en die deure sluit. Hy doen. Hy het ‘n deurnag LAN saam met sy pelle.

Om 04h35 gaan die alarm af.  Dus is dit vanoggend ons beurt om statistiek te raak, dink ek toe ek uit die bed rol, en begin vroetel vir my bril in die donker.

Ek spring op en sit die buiteligte aan. Ek check op die alarm se keypad en sien die skelms het die voordeur oopgebreek. Which is fine.  Hulle word dan beperk tot daardie kant van die huis met ‘n deur tussen ons.  Die alarm laat ek aanhou raas.

Nou wik en weeg ek of ek by ‘n skuifdeur moet uitgaan dat ek van buite af kan sien wat die skelms binne doen. Of dalk moet ek net vinnig die binnedeur oopsluit, inloer en hom weer toepluk. Maar dalk is ek nie vinnig genoeg nie, dan is die skelms saam met my aan my kant van die deur.

Ek hoor die blikskottels praat aan die ander kant van die deur.

Een het die cheek om aan die deur te klop en te sê: “Maak oop!”

“Hoekom?” vra ek.

“Dis ek,” sê Ouboet.

“O, jy meen sò.”

Ouboet het toe besluit om terug te kom nadat hy klaar geLAN het. Die gepraat aan die ander kant van die deur was hy wat toe al die alarm-mense se oproep hanteer en sê daar is niks fout nie.