Jy blaai in die argief vir 2012 September.

Nag, ma

September 15, 2012 in Sonder kategorie

Oupa was vandag hier. Soos elke ander Saterdag en Sondag.

 

Hy was stil. Stiller as gewoonlik, wat nogals baie stil is.

 

“Dis vandag vyf jaar,” sê hy toe later. Ek het sleg gevoel, want eintlik het ek bietjie vergeet. Ek sien toe op die muurhorlosie dit is omtrent op die uur ook net mooi vyf jaar gelede.

 

Ek en oupa was in die Baai gewees mos toe vroulief my destyds bel met die nuus. Aan haar stem het ek geweet daar is ‘n krisis. Een van ons kinders het verdrink, het ek gedink. Daardie sekondes wat ek dit gedink het, tot sy gesê het wat gebeur het, was vir my baie erg. En toe ek besef dis jy en nie een van my kinders nie toe… wel, ek was verlig. Maar ek weet jy sal verstaan.

 

Sewe-en-twintig jaar gelede, met jou eerste hartomleiding, was ek met my eindeksamen besig. Ek het nie geweet van die operasie nie. Julle wou my nie ontstel nie, en het my niks gesê nie. Jy het wakker geword na die operasie en kon hoor hoe die dokters praat. Jy kon hoor daar was groot fout, en dat hulle weer moes opereer. Jy’t my agterna vertel jy het aanvaar jy gaan dit nie maak nie, maar hoe jy gehoop het dat dit my nie te veel sal ontstel met my oorblywende vakke nie.

 

Terug na die dag, vyf jaar gelede. Ek moes toe vir oupa gaan sê. Hy was buite in die garage besig. Ek was nie baie goed nie. Ek het min of meer in een sin vir hom uitgeblaker: “Pa, ma het ‘n hartaanval gehad, sy is dood.”

 

Hy het geskrik. Hy’t niks gesê nie, net omgedraai en teen die motor geleun, sy voorkop in sy handpalm. Sy skoonsus het hom ‘n druk gegee.

 

Toe ry ons lughawe toe om te kyk of ek hom op ‘n vlug kan sit terug Kaap toe. Toe ek by die lughawegebou instap toe sien ek deur die venster daar taxi die vliegtuig net mooi na die runway toe. Ons het toe maar met die bakkie teruggery Kaap toe.

 

Dit was ‘n stil nag gewees.

Pinstripe suits

September 1, 2012 in Uncategorized

Gisteraand ‘n draai by Canala Walk gaan maak. Nie eintlik omdat ons spesifiek daar wou wees nie, maar die kinders moes daar naby afgelaai wees vir ‘n ding. Toe doen ek en vroulief maar die koffiedrink en stap deur die winkels ding.

Gewoonlik behels ons drill om Exclusive Books te doen, en dan koffie. Maar dit lyk of Exclusive Books toegemaak het, toe gaan ons maar dadelik vir die koffie. Een van daai plekke waar jy jou koffie by die toonbank bestel en betaal, en dan gaan sit.

“Homielt?” vra die meisie agter die toonbank.

“Sorrie?”

“Homielt?” vra sy weer.

Gelukkig hoor my vrou baie goed. Of dalk het sy net ‘n oor vir die esoteriese. “Yes, hot milk please.”

Mokerstok! Hoe het sy dít uitgewerk? My vrou is goed, ek sê jou. Sodra die ouens mense gevind het op Mars moet sy gaan tolk daar.

Ons het net ons sit gekry, toe daag daar ‘n vriendelike, vrolike kêrel met ‘n ooprits omslag daar aan wat geld insamel vir skole. Dowes, blindes, die skool om die hoek, nog ‘n ene af in die straat en so. Ek is seker dis ‘n wonderlike ding wat hy doen, but seriaas! Ek wil nie in ‘n restaurant sit en koffie drink, en dan moet ek agressiewe verkoopstegnieke weerstaan nie.

Gelukkig is my vrou by. Sy sê toe mooi vir daai ou hy moet loop. Dit het ‘n tydjie gevat voor hy daardie gedeelte verstaan het. Of miskien het hy net só hard aan sy sales pitch gewerk dat hy gevoel het ons moet die voordeel van die hele vertoning hê. Daremte is hy toe later weg, maar sulke ouens bederf altyd my dag.

As ek ‘n bydrae maak voel ek vies oor ek my deur skuldgevoelens ‘n bydrae laat maak vir ‘n cause wat ek nie eens weet of dit bestaan nie. En as ek nié ‘n bydrae maak nie, dan gaan ek op hierdie guilt trip en dink en aan Don Fransisco wat sing van “…. do you make the poor man beg you for a bone….”

Toe ons klaar koffie gedrink het, loop ons nog ‘n paar draaie. Uit die hoek van my oog sien ek ‘n man na ons toe mik. In sy hande het hy iets wat lyk soos iets wat hy aan my vrou gaan wil verkoop.

“Bonjour, Madame,” groet hy in Frans.

“Nee, nee!” keer ek.

Laas wat iemand my in ‘n vreemde aksent beetgepak het, het dit my honderder Rande gekos om van haar ontslae te raak.  Ek gryp my vrou se hand en stuur haar doelgerig weg van die Franse jagter af. Sy behoort trots op my te wees, veral na die episode met die Israeliese girl.

“Kom ons gaan kyk bietjie na Woolworths se onderklere reeks vir dames,” stel ek voor.

My vrou het nie geantwoord nie, maar dit kan wees dat sy my nie gehoor het nie. Dis nogals rasering in daai plek gewees. Ons stap darem toe later in by Woolworths.

“Ek dink die bra’s is daai kant toe,” wys ek na die bordjie wat sê LIFT.

My vrou sê ek moenie vir my simpel hou nie. Miskien voel sy ook nog vies vir daai simpel bemarker wat ons in die koffiewinkel teëgekom het.  Of dalk wou sy weet wat die Fransman verkoop.

Ons kyk na slaapklere. Ek sien die onderklere afdeling is daar naby. Nogals mooi goedjies wat hulle verkoop. Ek bewonder die materiaal en so aan.

Het jy geweet mens kry bum shapers, tummy shapers, body shapers, en secret shapers allester in Woolworths? Ek aanvaar dis die inverse weergawe van om ‘n sokkie voor in jou speedo in te druk in die winter.

Maar uiteindelik vang pinstripe kledingstukke my oog. Nee, nie pakke klere nie. Pinstripe onderklere vir vrouens, en pinstripe nagjurkies.

Ek het nogals nog nooit só oor pinstripes gedink nie.