Besoek aan Casino

Augustus 11, 2012 in Sonder kategorie

Kleinboet is Saterdag genooi vir ‘n kinderpartytjie in die GrandWest. Nee, hulle mag nie dobbel nie, hulle is eenkant in die speelkasteel waar die rides en goed is.

Ek en oupa neem hom.

“Ek was nog nooit hier nie,” sê oupa.

“Nee, ons was. Met die tienjaar Republiekfees in 1971 het ons van die Weskus af gekom Goodwood skougronde toe,” sê ek. “Daar was sulke baie rooi vlaggies en baniere waarop “R10” gestaan het. Ons het stilgehou en ingestap. Ek het nog jou hand vasgehou, eintlik om jou te sleep. Van buite die gronde kon ek hoor hoe die mense binne cheer vir iets wat geklink het soos motorfietse wat jaag, en ek wou bars van opgewondenheid. Maar dit was verbrands of ek julle kon kry om vinniger te loop. Verder kan ek niks van die dag se verrigtinge onthou nie – net daai opgewondenheid”.

Ons parkeer. Nie almal het ‘n vrolike dag nie. Op pad van die motor af hoor ek ‘n vrou skreeu: “You moron, are you stupid!” So hard soos sy kan.

Ek dog iemand is besig om haar te molesteer. Ek draai om. Nee, sy is in gesprek met haar omtrent vyf-jaar oud dogtertjie.

“Can’t you ***ing close a water bottle.”

Die mamma staan op haar knieë besig om ‘n sak wat geval het op te tel. Vermoedelik het daar iewers tussen-in ‘n waterbottel onderstebo in beland wat nie behoorlik toe was nie.

“Yes I can,” antwoord die dogtertjie floutjies.

“No, you can’t!!” Die dogtertjie moet sleg hardhorend wees dat die ma so hard met haar moet praat. Ek wonder of hulle nie maar liewers vir die kind ‘n gehoorstelletjie moet kry nie.  Ek het vir ‘n oomblik oorweeg om dit voor te stel. Ek meen nou maar, ek weet mos, ek het self so ‘n phonetjie, maar ek dra dit amper nooit – ek sit hom net is as ek wil hoor. Maar dan weer, mens steek nie onnodig jou neus mos in ander mense se sake nie. En daai vrou was groter as ek.  

Gelukkig is die partytjie in die speelarea wat redelik eenkant is, so as jy die laaities loslaat met hulle kaartjies vir die rides, dan kan jy redelik ontspan.

Die Jumping Jack is ‘n toestel waarop 5 kiddies kan sit. Dan word die ding hoog opgehys en gelaat val so ‘n entjie, dan weer bietjie op en af, en so elke nou en dan val die sitbank so ‘n entjie.

Ek hou ‘n dogtertjie dop. Seker vier jaar oud. Voortandjies is weg, maar ek aanvaar dis net gewissel en nog nie getrek nie. Daai gesiggie elke keer as die toestel haar laat val, en die laggie wat daar uitkraai is te pragtig.

In die volgende ride ry Pierre. Hy is ‘n fris mannetjie. Pierre ry daai hele ride met ‘n totale dead-pan gesig. Dis nie asof hy sy maats probeer beïndruk nie, want hy is alleen op die toestel. Daai ding kan maar val, skielik opgaan, stilstaan, whatever. Pierre bekyk die wêreld daar van bo af sonder ‘n sweempie van ‘n verandering in sy gesigsuitdrukking nie.

Daar is verskillende karretjies om te ry. Vir sommige moet jy langer as ‘n sekere lengte wees, vir ander moet jy korter as ‘n sekere lengte wees. Deur die bank is al agt die mannetjies te kort vir die ‘senior’ karretjie, en te lank vir die ‘junior’ karretjie. Mens sal kan leer comic gesigte trek net van hulle gesigsuitdrukkings dop te hou wanneer hulle aantree om gemeet te word. Die absolute opgewonde afwagting wat omsit in totale teleurstelling.

Teen laatmiddag suiker ons weer daar uit. Kort-kort moet ons stop om koppe te tel op pad na die motors toe. Dis moeilik, want die spulletjie staan nooit stil nie. Ek tel dertien. Ons behoort dus heel veilig te wees, want daar hoef net agt te wees. O ja, plus oupa. Oupa is ‘n heel mobiele 91-jarige, maar hy’s nie meer so kwaai vinnig nie.

Nee, ek lieg bietjie oor oupa se ouderdom, hy’s nou maar eers 90.

“Nou kan ek ook sê ek was al in ‘n casino,” reken oupa toe ek hom in die aftree oord aflaai.

Yeah, right.

12 antwoorde op Besoek aan Casino

  1. Ek (ons) het in 1971 van Wellington af met die trein Kaap toe gery om aan die massavertoning met linte deel te neem. Dis darem lank gelede – sug..

  2. TS het gesê op Augustus 11, 2012

    Ai dankie Ek lees altyd te lekker hier by jou.

    Ek het nou die dag vir ‘n man wat sy kind geklap het,toe die aan die koeke se deksel wou vat, gesnou “Mens slaan nie aan kinders nie!’ Ek weet nie of ek trots of skaam moet wees nie.

  3. Deesdae gee ons daai plekke ‘n wye mis draai. Dis net ‘n geldmors plek…behalwe so nou en dan as die kiepies will 10pin bowls loop speel.

  4. Lekker gelag vir die troos van dertien want daar moes net agt gewees het.

  5. Nee wat , Lou . 1939 is lank gelede. ’71 is gister.

  6. Dit voel so, dis waar! Toe was ek eerstejaar..heerlik!

  7. Jy skryf darem lekkerrrrr…dit nou vreeslik geniet.

  8. frandr het gesê op Augustus 13, 2012

    Trots, Tina – trots!

  9. frandr het gesê op Augustus 13, 2012

    Mal oor jou wiskunde!

  10. zephur het gesê op Augustus 14, 2012

    Ja was ook al daar…het die go-karts buite gery…en ook maar net ingepas

    Was die getal darem uitgesort met die 13 en al

  11. Ja, darem, maar ons net 8 ingelaai.

Los ’n antwoord vir zephur. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.