Jy blaai in die argief vir 2012 Augustus.

Kiekies konsert

Augustus 22, 2012 in Sonder kategorie

Rustig.

Tyd is soms sigbaar.

Water, soos moeder natuur gebedoel het.

Die wêreld is ons woning.

Kos vir die nasie.

Mens kan natuurlik ook nie van vis en skyfie alleen leef nie.

Maar die belangrikste hiervan ….

[Foto geneem by Fat Cats Kitchen, Riebeek Kasteel]

Riebeek-Kasteel

Augustus 19, 2012 in Sonder kategorie

Na ons vorige besoek aan Riebeek-Wes is ons terug om Riebeek-Kasteel in ligdag te sien.  Ons begin toe maar weer by die Kasteelberg Bistro.

Vanuit die Kasteelberg Bistro.  Na ete sou het ons in hierdie straat afgestap om die dorp te verken.

‘n Entjie af in die pad is De Jonge’s.

Mens gaan nie sommer uit kos uit raak op Riebeek-Kasteel nie.

Die Fat Cats Kitchen het ‘n buite-lug restaurant gedeelte ook.  Die weer was egter nie so lekker vir buite eet nie, tensy jy dalk ‘n eskimo is.

En binne-in verkoop hulle oudhede en skilderye.

Die Royal Hotel

Die kerk is net langsaan.

Daar is darem huise ook op die dorp.

Hierdie ouens bly reg oorkant die kerk.  Hulle kan nie eintlik kla dat die kerk te ver is vir bywoning nie…

Skouers skuur met bekendes

Augustus 17, 2012 in Sonder kategorie

 

Ons woon op ‘n dag ‘n geselligheid van ‘n uitgewer by. Dalk was dit ‘n book launch, ek kan nie onthou nie.

 

Dis nogals nice. Lekker goetertjies om te eet, interessante mense, mooi venue – kyk uit oor ‘n semi-meer in die skemeraand. En les bes, natuurlik, is daar ‘n paar gerekende skrywers. Heelwat meer wannabe skrywers ook.

 

Ek doen nie eintlik vreemdelinge en celebrities nie, so ek gaan soek nie eintlik ouens om mee te praat nie. Maar deur die loop van die aand kruis mens se paaie by die drinks tafel met sommige van hierdie skrywers. Dan maak jy maar praatjies. Ten minste het jy ‘n aanknopingspunt as jy al iets gelees het wat hulle geskryf het.  Die wat ek wel mee praat vind ek baie plat op die aarde mense. Gewone mense wat cool boeke skryf.

  

Ek en vroulief was saam met een van die gerekende skryfsters op skool. Sy was tóé nice, en sy is nog steeds nice. Toe die ergste gedrang rondom haar bedaar stap ons nader om te gesels.

 

Mid-sentence bars ‘n dame tussen ons deur, gryp die skryfster aan die arm en begin met ‘n: “O, ja, weet jy, ek wou jou tog vertel het……” asof hulle nou pas nog in gesprek was. Sy skaak die hele gesprek, en staan fisies tussen ons en die skryfster, met haar rug na ons toe, asof ons bloot nie daar is nie.

 

Ek was ietwat geamuseerd. Dit was nie die eerste keer die aand wat ek so iets waarneem nie.

Ons gaan soek toe maar koffie by die buitelug restaurant net langsaan.

Besoek aan Casino

Augustus 11, 2012 in Sonder kategorie

Kleinboet is Saterdag genooi vir ‘n kinderpartytjie in die GrandWest. Nee, hulle mag nie dobbel nie, hulle is eenkant in die speelkasteel waar die rides en goed is.

Ek en oupa neem hom.

“Ek was nog nooit hier nie,” sê oupa.

“Nee, ons was. Met die tienjaar Republiekfees in 1971 het ons van die Weskus af gekom Goodwood skougronde toe,” sê ek. “Daar was sulke baie rooi vlaggies en baniere waarop “R10” gestaan het. Ons het stilgehou en ingestap. Ek het nog jou hand vasgehou, eintlik om jou te sleep. Van buite die gronde kon ek hoor hoe die mense binne cheer vir iets wat geklink het soos motorfietse wat jaag, en ek wou bars van opgewondenheid. Maar dit was verbrands of ek julle kon kry om vinniger te loop. Verder kan ek niks van die dag se verrigtinge onthou nie – net daai opgewondenheid”.

Ons parkeer. Nie almal het ‘n vrolike dag nie. Op pad van die motor af hoor ek ‘n vrou skreeu: “You moron, are you stupid!” So hard soos sy kan.

Ek dog iemand is besig om haar te molesteer. Ek draai om. Nee, sy is in gesprek met haar omtrent vyf-jaar oud dogtertjie.

“Can’t you ***ing close a water bottle.”

Die mamma staan op haar knieë besig om ‘n sak wat geval het op te tel. Vermoedelik het daar iewers tussen-in ‘n waterbottel onderstebo in beland wat nie behoorlik toe was nie.

“Yes I can,” antwoord die dogtertjie floutjies.

“No, you can’t!!” Die dogtertjie moet sleg hardhorend wees dat die ma so hard met haar moet praat. Ek wonder of hulle nie maar liewers vir die kind ‘n gehoorstelletjie moet kry nie.  Ek het vir ‘n oomblik oorweeg om dit voor te stel. Ek meen nou maar, ek weet mos, ek het self so ‘n phonetjie, maar ek dra dit amper nooit – ek sit hom net is as ek wil hoor. Maar dan weer, mens steek nie onnodig jou neus mos in ander mense se sake nie. En daai vrou was groter as ek.  

Gelukkig is die partytjie in die speelarea wat redelik eenkant is, so as jy die laaities loslaat met hulle kaartjies vir die rides, dan kan jy redelik ontspan.

Die Jumping Jack is ‘n toestel waarop 5 kiddies kan sit. Dan word die ding hoog opgehys en gelaat val so ‘n entjie, dan weer bietjie op en af, en so elke nou en dan val die sitbank so ‘n entjie.

Ek hou ‘n dogtertjie dop. Seker vier jaar oud. Voortandjies is weg, maar ek aanvaar dis net gewissel en nog nie getrek nie. Daai gesiggie elke keer as die toestel haar laat val, en die laggie wat daar uitkraai is te pragtig.

In die volgende ride ry Pierre. Hy is ‘n fris mannetjie. Pierre ry daai hele ride met ‘n totale dead-pan gesig. Dis nie asof hy sy maats probeer beïndruk nie, want hy is alleen op die toestel. Daai ding kan maar val, skielik opgaan, stilstaan, whatever. Pierre bekyk die wêreld daar van bo af sonder ‘n sweempie van ‘n verandering in sy gesigsuitdrukking nie.

Daar is verskillende karretjies om te ry. Vir sommige moet jy langer as ‘n sekere lengte wees, vir ander moet jy korter as ‘n sekere lengte wees. Deur die bank is al agt die mannetjies te kort vir die ‘senior’ karretjie, en te lank vir die ‘junior’ karretjie. Mens sal kan leer comic gesigte trek net van hulle gesigsuitdrukkings dop te hou wanneer hulle aantree om gemeet te word. Die absolute opgewonde afwagting wat omsit in totale teleurstelling.

Teen laatmiddag suiker ons weer daar uit. Kort-kort moet ons stop om koppe te tel op pad na die motors toe. Dis moeilik, want die spulletjie staan nooit stil nie. Ek tel dertien. Ons behoort dus heel veilig te wees, want daar hoef net agt te wees. O ja, plus oupa. Oupa is ‘n heel mobiele 91-jarige, maar hy’s nie meer so kwaai vinnig nie.

Nee, ek lieg bietjie oor oupa se ouderdom, hy’s nou maar eers 90.

“Nou kan ek ook sê ek was al in ‘n casino,” reken oupa toe ek hom in die aftree oord aflaai.

Yeah, right.

Riebeek Vallei

Augustus 5, 2012 in Sonder kategorie

Ons het die naweek bietjie weggebreek na die Riebeek Vallei toe. Eintlik op pad St Helenabaai toe vir ‘n ete-afspraak.  

Sowat 80km van Kaapstad af lê die twee Riebeeke. Dis hierdie vreemde ding om twee volledige dorpe 5km uit mekaar uit te hê. Elkeen natuurlik met sy eie kerk.

Eers kry jy Riebeek Kasteel, maar daar is nie ‘n kasteel nie. Blykbaar lyk die berg soos ‘n kasteel. Miskien van bo af, maar nie eintlik van onder af nie. Jan van Riebeeck en sy tjomme het op die plek afgekom, toe noem hulle dit Riebeek Kasteel. (Wie sou dit nou kon dink). In 2001 het daar 2532 mense op Riebeek Kasteel gewoon. Die dorp se grootte word aangedui as 1,4 vierkante kilometer.

Ten spyte van sy grootte bied die dorp 32 akkomodasie plekke aan en 12 eetplekke. Dit beteken 31,4 eet- of verplyfplekke per vierkante kilometer. OK, dis nie heeltemal akkuraat nie. Sommige verblyfplekke oorvleuel met eetplekke. Maar dis steeds verbrands indrukwekkend.

Riebeek-Wes is vyf kilometer verder. Hy is effens kleiner as Riebeek Kasteel. Vierhonderd vierkante meter kleiner, om presies te wees. Sy een vierkante kilometer het in 2001 sowat 2661 inwoners gehad. Wat hom natuurlik meer dig bevolk maak maak as Riebeek-Kasteel. Ek vermoed mens gaan dit nie agterkom nie. Maar Riebeek-Wes het ‘n meer beskeie 14 blyplekke en drie eetplekke. Alhoewel dit steeds ‘n skaflike 17 eet- of verblyfplekke per vierkante kilometer is, kan dit nie kers vashou by Riebeek Kasteel nie.

Rumour has it dat daar nou 24 000 mense in die twee dorpe bly, maar ek is nie so seker nie. Ek het net dertien mense gesien, waarvan nege besoekers was. OK, miskien was ek in ‘n stiller deel van die dorp en van die jaar. Mens moet dalk eerder probeer met van die jaarlikse feeste, waarvan daar nogals ‘n paar is.

Oktober               – Shiraz & Arts Weekend

Desember           – Kloovenburg Summer Market Day

Maart                    – Mediterranean Fest

April                       – Portuguese Festival

May                       – Olive Festival

July                        – Berg rivier marathon en die Riebeek Berg Marathon

Maar gegewe die verwagte luidrugtigheid wat die noodwendige gevolg moet wees van 31,4 kuier- en blyplekke per vierkante kilometer op Riebeek-Kasteel het ons toe gemik vir Andrea Townsend se Church Hills gastehuis in Riebeek-Wes. http://www.riebeekvalley.net/

Die plek is pragtig en lekker luuks. Synde min of meer middel van die winter was die plek uiteraard nie tjok en blok vol nie, wat nogals nice was, gegewe veral ons behoefte aan rustigheid.

Ons het liewer nie van die swembad gebruik gemaak nie.  Dis winter, verstaan.

  

Stil, baie stil.  Ek dink dis nou selfs nog stiller noudat die naweek verby is.

Teen laatmiddag gaan ons vir ‘n stappie deur die dorp om te verken.

Interessante ou geboue en name van plekke.

Die dorp is nogals, wel, stil, jy verstaan.

O ja, die kerk.

Ek is nou net bietjie onseker watter kant toe Do-Do is.  Ek het in elk geval gedog hulle het uitgesterf.

Vroegaand gaan soek ons ‘n eetplek. Ons mik vir downtown Riebeek-Kasteel. Dié is self nie onnodig besig nie. Dis nou nie asof jy net agter die geraas aan kan ry om ‘n kuierplek te kry nie.

Sonder ‘n kaart moes ons bietjie rondsoek (I kid you not), maar ons eindig toe by die Kasteelberg Country Inn & Bistro. http://www.kasteelberg.com/

[Nota:  dit was al donker toe ons daar kom – hierdie foto kom van die Bistro se website af]

Twee kaggels hou die koue op ‘n afstand. Franse musiek speel in die agtergrond, en ons geniet lekker steaks.

Sondagoggend is mistig en reënerig.

Ná ‘n lekker ontbyt in die knus eetsaal kies ons koers St Helenabaai toe.

Die reënweer maak foto’s neem bietjie moeilik.

Op St Helenabaai ontmoet ons familie vir, wel, nog ‘n ete. Weer by ‘n Bistro. Ek het nou op Wikipedia gaan kyk wat ‘n Bistro is. Dis ‘n klein restaurant wat “moderately priced simple meals” bedien in ‘n “modest setting.”

Ek dink Bistro’s is my ding.

Daniel se The Swiss Deli & Bistro bedien uitstekende kos.

Die restaurant is op Sandy point geleë in wat jare gelede een van die ou plaashuise op die plaas Sandy Point gewees het.

Dit kyk uit oor die see.

Nou ja, soos my Engelse juffrou my geleer het om ‘n opstel oor ‘n piekniek af te sluit: “A good time was had by all.”