Jy blaai in die argief vir 2012 Mei.

Dallas

Mei 30, 2012 in Sonder kategorie

My geheue is die laaste tyd bietjie geprikkel nadat ‘n koshuismaat van Universiteitsdae begin het om foto’s van daardie tyd te sirkuleer.  Dis juis wat tot my vorige storie aanleiding gegee het.

Die laat sewentigs was Dallas op TV gewees.  Só is ek vertel, ons het toe nog nie TV gehad nie.  Teen die tyd wat ek in 1981 op Stellenbosch aankom as eerstejaar toe het ons darem laat in die vorige jaar ‘n TV gekry nadat die SAUK ‘n sender op Piketberg opgesit het.  Ons het selfs beeld op ons TV gehad.  Maar ek was in die proses bietjie agtergelaat op die detail van Dallas.  The doings and the screwings of the Ewings.  Ek kan wel onthou daar was so ‘n mooi girl in die storie, Pamela, maar sy het net twee standaard gesigsuitdrukkings gehad.  Maar dit was ok, sy was heeltyd mooi om voor te kyk mos nou.

 

Nietemin, terug by eerstejaar wees in die koshuis.  Dooptyd.  Ons moet konsert hou.  Daar is nie veel idees gewees in ons seksie nie.  Ek stroll toe oor na die seksie langsaan om te hoor of hulle nie dalk ‘n paar surplus idees het nie, maar hulle het nie gehad nie.  Ek dink nie ons was ‘n besonderse goeie inname daai jaar op die uitvoerende kunste nie.

 

Uiteindelik besluit (iemand in) ons seksie ons gaan Dallas opvoer.  Van die ander ouens het selfs al Dallas voorheen gekyk, so hulle kon darem die karakters se name en ‘n basiese storielyn onthou.  Uitendelik bevind ek my in iemand se blou kamerjas, met ‘n stoflap oor my kop gebind. 

 

Later is ons aan die beurt.  Een van die menere seniors verneem uit die gehoor uit wie ek is. 

 

“Ek is Miss Ellie, meneer.”

 

Die nexte ding toe lag almal daai seniors hulle gatte af. En die ouens saam met my op die verhoog ook.  Hoekom weet ek nie. 

 

Nou word ek uit die gehoor uit opgeroep om die res van die cast aan die menere seniors voor te stel.  Dit vang my toe nou bietjie onkant.  Ek het klaar moeite gehad om my script te onthou.  Dié het ek egter tóé alreeds vergeet van stage fright.   Maar ek weet nie wie in Dallas speel nie, so ek weet ook nie wie die res van my cast veronderstel is om voor te stel nie.  Ek het gedog Miss Ellie is die huishulp, maar blykbaar was sy soortvan die matriarg in die storie gewees.

 

Nou moet die ouens rondom my eers een vir een vir my sê wie hulle is, dat ek nou vir die menere seniors kan sê wie hulle is.  Maar dis lastig, want ek het ‘n gehoorprobleem, en die menere seniors gedra hulle glad nie goed nie.  Ek moes van die name in die proses verkeerd gehoor het –  iets wat die menere seniors al snaakser en snaakser gevind het.  Teen die tyd wat ek toe nou deur die hele cast is, toe sweet ek al by die emmers.

 

Sestien jaar later loop ek in een van hierdie menere seniors vas.  Gelukkig herken hy my toe nie meer nie.  Vreemd, toe ek hom sê ek was destyds kortstondig Miss Ellie toe onthou hy dit nogals dadelik – en dink (weer) dis snaaks.

 

Jy weet daai gevoel wat jy kry as almal in die vertrek die joke vang, maar net nie jy nie……

 

Designated Driver

Mei 29, 2012 in Sonder kategorie

Iemand uit my studentejare maak onlangs die volgende stelling:

 

“Dit bly ook merkwaardig dat jy destyds in ’n kar saam met vier of vyf mense Intervarsity toe gegaan het en veel later – sonder die hulp van selfone – mekaar weer kon opspoor en al vyf in dieselfde kar teruggekeer het koshuis toe, moeg en emosioneel. Hoe het ons dit reggekry? Of dalk het ons nie almal in dieselfde kar teruggery nie.”

 

 

Ek kan hom vertel hoe dit gewerk het.

 

Ek was mal oor bestuur daai tyd.  Eintlik nou nog. Die ding moes net wiele gehad het, en ek moes regs voor kon sit, dan het ek saamgegaan.  Al het dit soms beteken ek moes drie-uur die oggend op die sypaadjie voor die London Town Pub in Seepunt wag tot die res van die troepe genoeg gekuier het.  Ek was die designated driver.  En nee, dis nie asof dit vir my ‘n opoffering was om nie te drink nie.  Die smaak van drank het my bloot nie aangestaan nie, en ek was in elk geval só bang vir Calvyn wat op my skouer gesit het.

 

Só is ons op ‘n dag met Frans se Merk 3 Cortina Nuweland toe vir Intervarsity.  Ons is ses in die kar.  Eintlik was dit bietjie swak beplanning.  Die plan was daar sou vyf ouens gaan, want dit was die motor se kapasiteit.  Eers heelwat later het die ouens besef maar die drywer moet nog bykom.  ‘n Kussing op die handrem word toe Frans se sitplek.  Immers ken Frans die Kaap die beste, hy moet navigeer.  Ek dryf die kar met my leerlinglisensie.

 

Anyway, ná die rugby klaar was het ek in my onskuld gedog ons gaan nou terug Stellenbosch toe.  Dis mos nou nie asof die ouens toe nou nog nie gekuier het nie.  Maar nee, eers gou Nuweland Hotel toe.  Ons is later daar weg, baie moontlik op versoek van management, ek kan nie mooit onthou nie. 

 

Ek beur kar toe, maar nee, die ander manne beur Pig & Whistle toe.  Maar daai plek is gepak.  Twee ure later toe is ek nou al ernstig Veetjie Dikmoer en ook al lus om te begin suip.  Later stap ek op na waar die kar geparkeer is en gaan sit op die sypaadjie en gesels met die verkeersbeampte wat besig is om ‘n kaartjie op die kar te plak.  Op daai stadium het ek heel tevrede gevoel met die kaartjie.  Laat dit nou vir julle klomp suiplappe ‘n les wees.

 

Nog later is die speedcop daar weg met sy bike, en ek sit op my eie.  Toe stap ek nou maar weer terug af Pig & Whistle toe.  Een vir een kry ek die ouens oortuig ons moet nou gaan.  Maar dis nes werk, man, dit vat verskeie minute om deur die skare te beur net om 5 treë verder by die volgende man uit te kom.  So het ek die ouens een vir een bymekaar begin maak.  Een op ‘n slag neem ek hulle aan die arm tot by die uitgang van die Pig & Whistle, en dan gaan haal ek die volgende een.  Maar dis soos water skep met ‘n sif.  As ek 10 minute later met passassier nommer twee by die uitgang kom, dan het passassier nommer een intussen moeg geraak van wag en weer teruggegaan om vir hom nog ‘n dop te kry. 

 

Uiteindelik het ek al vyf bymekaar .  Ek is moerig, en hulle is vrolik.  So jy kan maar sê as ‘n gemiddeld was die stemming gemoedelik. 

 

Uiteindelik is ons by die kar.  Frans wys waarheen.  Nou Forrester Arms toe, sê hy.  Ek protesteer, maar dit help nie.  En ek kan ook nie net terugry Stellenbosch toe nie, want ek weet nie eens in watter rigting dit is nie.  Onthou, die groot stad is ‘n intimiderende plek as jy van ‘n plek af kom met net een teerstraat, en waar niemand boonop Engels kan praat nie. 

 

“Dis ‘n entjie Forrester Arms toe,” verduidelik Frans, “maar moenie worrie nie, ek ken ‘n kortpad.  Gaan hier links,” beduie Frans regs. 

 

Ek gaan links.  Hy wil verontwaardig weet of ek gesuip is, of hoekom ek links gaan, hy wys dan regs.  Ek sê maar jy sê dan links. 

 

“Ja, maar jy kan mos sien ek wýs regs.” 

 

Jou naam hoef nie Einstein te wees om te weet hierdie argument kan nie gewen word nie.

 

“Toemaar, moenie worrie nie, ek ken nog ‘n kort pad.”  So volg ek Frans se kortpad aanwysings.  Toe ons die derde keer onderdeur dieselfde brug gaan toe vra ek of een van die ander ouens nie dalk weet waar die plek is nie.  Frans voel diep seergemaak oor ek dink hy ken nie die pad nie.  “Of dink jy miskien ek is dronk?”

 

Retoriese vraag.

 

Uiteindelik kom ons by Forrester Arms uit.  Die manne bestel ietsie om te drink.  Dit was ‘n lang reis van die Pig & Whistle af.  Later staan een nog so rustig en gesels toe val die bier uit sy hand uit.  Hy gaan rustig voort om te beduie, sy hand steeds in posisie asof daar nog ‘n bier in is.  Hy kyk ook rond wat so geraas het, maar gelukkig is dit mos nie sy probleem nie.  Iemand moes seker sy bier laat val het.

 

Nou ja, laaaaaat daai aand toe hou ons voor die koshuis stil.  Eintlik vroegoggend.  My aand is daarmee heen.  Almal strompel koshuis toe, ek maak die kar se deure toe.  Die voordeur se knip werk nie lekker nie.  Ek slaan hom bietjie harder toe.  Dit help nie.  Teen die vyfde probeerslag, toe kook ek nou al.  Ek staan so ‘n tree terug en besluit nou skop ek hierdie %^&* deur dwarsdeur die kar.  Gelukkig, gelukkig, tik Calvyn my mos toe op die skouer en vertel vir my môre is almal daai manne weer nugter, maar dan gaan die duik nog steeds in die deur wees.  Liewerster nie. 

 

Ek maak toe maar soos Calvyn sê.