We will fight them on the beaches ……

Februarie 18, 2012 in Sonder kategorie

“We will fight them on the beaches…..”

Winston Churhill se gevleuelde woorde. Mense het gedink hy het gepraat van die vyand. Nee, hy en sy vrou het ‘n partytjie gehou vir tienjariges, en dis uit radeloosheid met daai spulletjie wat hy dit gesê het. Ek weet die geskiedenisboeke sê anders, maar ek is seker dis hoe dit was.

Kleinboet het 10 jaar oud geword en ‘n oorslaap partytjie gehou. 

Met die geraas van omtrent dertig kindertjie in die tuin sê ek vir my vrou ek gaan nou maar vuur aansteek vir die braai.

“Nee, wag tot die kinders hier is,” sê sy. “Nog net twee van die maats is hier.”

 

Toe weet ek, dit gaan ‘n lang nag raak.

 

Genadiglik het net 9 maats kom oorslaap. Soos die ouers die kinders aflaai vertrek almal met afskeidswoorde soos: “Vrede vir julle.” “Julle is op ons gebedslys.” “Sterkte.” Sommige van hulle het klaarblyklik ook al sulke oorslaap partytjies gehou.

 

Nou ja, met almal uiteindelik hier gaan dit wild. Gelukkig hoor ek my agtertste buurman se grassnyer nog raas, so vir ten minste vir die volgende uur behoort hy nie moreel die reg te hê om te kla oor die geraas nie.  Ek hou toesig by die swembad en tel heeltyd koppe. OK, 4 in die swembad, 3 op die trampolene, 2 by die chips. Dis moeilik om te tel, want dis bewegende teikens.

 

Reëls 

 

Dit verstom my altyd van hierdie ouderdom kinders dat geen speletjie eenvoudig is nie. Die reëls is ook ‘n bewegende teiken. Enige deel van die speletjie wat een voel hy is te na gekom word die reëls luidkeels daar en dan (opgemaak, aangepas en) verduidelik. In alt toonhoogtes wat, vanweë die behoefte aan volume, oorgaan in ‘n alt-falsetto toonhoogte. Gewoonlik so drie van hulle gelyk.

 

By geleentheid praat ek die spulletjie aan as dinge lyk of dit verkeerd gaan. Niemand luister vir my nie. Maar hulle het nie rekening gehou met my vrou nie. Jy moet onthou, as my vrou sê “sit!” dan sit almal in die huis, behalwe ons tweedehandse bulhond vir wie die instruksie normaalweg bedoel is. Maar dis bietjie veel gevra van ‘n bulhond.

 

Eet

 

My vrou onderbreek die spelery met die voorsit van die voorgereg. Vrugte en groente. Ek het nie gedink 10-jaar oud seuns kan só opgewonde raak oor druiwe nie. Tot ek agterkom hoe lekker druiwekorrels ander manne mee kan gooi. Later het ek sewe mandjies vol brokstukke opgetel.

 

Intussen word die worsie en die ribbetjie darem gaar. Dan word almal weer ‘n keer opgelyn vir kos inskep. Net dan roep een ontsteld: “Haai, julle, wie het op die toilet se rant gepiepie!” Dit veroorsaak’n debat van epidermiese proporsies.

 

‘n Gewyde stilte daal darem mettertyd neer soos almal eet. Buurman se grassnyer is nou stil en ek oorweeg dit om net vir hom oor die muur te gaan sê ons het niks aan die kinders gedoen nie, hulle eet net, dis hoekom dit nou so stil is.

 

Dan terug na speel toe. Genadiglik lê daar 6 DVDs en wag. Dis natuurlik te veel vir een aand, maar mens wil nie ‘n kans vat dat een of twee dalk nie werk nie.

 

DVD’s

 

‘n Groot krismisbed in die TV-kamer is waar die DVD’s gekyk gaan word en almal gaan slaap. Nou moet almal eers in droeë klere inkom.

 

“Haai, julle, hier is nie meisies nie!” Die nexte ding toe is omtrent almal net in hulle onderbroeke. Toegegee, dit was warm, en meer so in die TV-kamer met 9 asems daarin.

 

Maar nou is die lastigheid om konsensus te bereik onder nege 10-jariges oor die volgorde waarin die DVD’s gekyk moet word. Ek stap later na die braaiplek toe en gaan stamp my kop ‘n paar keer teen die muur.

 

Aangesien dit Kleinboet se verjaarsdag is, kan hy kies. Maar hy maak die verkeerde keuse. Vroulief tree toe tot die proses, en twee minute later dink Kleinboet dit was sy voorstel om Hoodwinked 2 eerste te kyk, terwyl hy kort gelede dit glad nie wou kyk nie. My vrou is goed, ek sê jou.

 

Dan volg ‘n paar uur van relatiewe stilte. Nee, “stilte” is nie verkeerde woord. Die DVD’s speel oorverdowend, maar ten minste hardloop hulle nou nie meer die wêreld vol nie. Net elke nou en dan sien ek hier glip een by die TV-kamer se buite-deur uit buitentoe.

 

Later gaan sluit ek die buite-deur en gee opdrag dat almal voortaan in die toilet gaan piepie.

 

Slaap

 

So teen middernag wil ons die krane begin toedraai en self gaan slaap. Het ek genoem van die 6 DVD’s? Wel, konsensus onder die partytjiegangers is dat hulle vanaand al ses wil kyk.  Ek trek die handbriek het by half-een op en sê dis nou die laaste DVD gewees, almal moet nou gaan slaap. Ek gaan terug na my lêplek op die mat in die aangrensende sitkamer waar vroulief op die rusbank lê en slaap – ons wil nie waag om te ver van die spulletjie af te gaan nie.

 

My vrou hoor onnodig goed. Nou hoor sy ook hoe die manne daar binne erg protesteer teen Kleinboet se pa wat so ‘n **** is wat nie wil hê hulle moet verder kyk nie.

 

“Helfte van julle slaap al!” argumenteer my vrou.

 

“Is nie, nog net twee slaap.” Hulle is sowaar reg. Uiteindelik word die toegewing gemaak dat hulle nog EEN DVD kan kyk.

 

Slaap

 

Teen half-drie maak my vrou my wakker. Ek slaap nog steeds op die mat. Almal gaan nou slaap, ons kan nou maar verkas kamer toe.

 

Stilte. Stilte. Stilte.

 

Oggend

 

Teen half-sewe Saterdagoggend hoor ek die eerste en in die swembad plons. Sug.

 

Ek staan op en trek aan om weer die spulletjie te gaan dophou. Nou en dan stap ek om die huis om net te weet waar almal is. Dan tel ek weer koppe.

 

Daar is nou een te min, maar dis oraait, want ek het gesien daai een sit in die hondehok vas waar hy ingekruip het. Dit behoort ‘n tydjie te vat voor hy weer gaan saam rondhardloop, so dis een minder om dop te hou.

 

Teen 09h00 is almal weg. Kleinboet voel nou soos een wie se ballon geprik is. Sleepvoetend help hy weer al die meubels terugdra. Teen half-elf is alles weer op hulle plek.

 

“We wil fight them in our gardens……”

 

8 antwoorde op We will fight them on the beaches ……

  1. frandr het gesê op Februarie 18, 2012

    Jy is ‘n pa duisend! Ek het lekker gelag.

  2. TS het gesê op Februarie 18, 2012

    Is die tieners nie ‘n groter probleem nie

  3. Ja, so 35kg per man groter!

  4. Eish, jy voel seker asof ‘n trein jou getrap het.

  5. Mens hou net een (EEN) oorslaap partytjie in jou lewe, dan het jy jou les geleer! 😀

    Neem hulle volgende keer op ‘n opvoedkundige uitstappie en sluit dit af met ‘n musiekkonsert Mozart of so…Dan sal hulle genoeg rede he om jou ***** te noem.

    Ek het jou skrywe baie geniet, PG!

  6. Solank Kleinboet dit geniet het en jy darem ‘n paar punte by hom verdien het. Dis ‘n strategiese nagmerrie om soveel wakker klein seuntjies besig EN dop te hou.

  7. 🙂

  8. Realiteitspartytjie.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.