Pa en seun kamp

Februarie 11, 2012 in Sonder kategorie

Die skool het ‘n pa-en-seun kamp aand aangebied op ‘n plaas op die rand van die dorp. Vrydagaand is ek en kleinboet dus uit vir die kamperasie.

Die instruksies het gesê niemand kan ingelaat word voor 18h00 nie. Toe ons egter 17h50 daar opdaag is ons klaar te laat vir ‘n goeie spot.

Ek trek toe maar my bakkie só in dat ek spasie agter het om my tent op te slaan.   Dis bietjie crowded, so ek stap eers deur die kamp area om te kyk vir ‘n beter plek. Ek kry nie een nie. Met my terugkeer by my bakkie het iemand sy voertuig agter my bakkie geparkeer waar ek beplan het om my tent op te slaan, en klaar begin om sy tent op te slaan.

Ek en ‘n pel skuif toe maar oor na ‘n alternatiewe gedeelte waar daar nie gras is nie. Agterna het ek gehoor ek moes net om die dam gery het, daar sou ek nog ‘n groot grasperk aangetref het om te kon kamp. Maar toe is dit te laat.

Cor het bloot sy Mercedes paneelwa onder die bome geparkeer op die gelykste plek wat hy kon kry, en toe is hy ingerig. Die paneelwa is soos ‘n camper agter ingerig met die beddens reg vir slaap. Ek soek die gelykste plekkie wat ek tussen die bome kan kry en skop die beesbolle (of dalk Elande s’n?) en takke bietjie uit die pad uit en begin opslaan.

“Jy’s nie eintlik ‘n ingenieur nie, né,” merk Cor op terwyl ek tent opslaan. ? En hy weet dít net van kyk hoe ek tent opslaan?!

Die tent is op sy laaste bene. Desember met die afslaan op Gourits het die flysheet geskeur, en ‘n paar van die konneksies en bungies is ook nie meer daar nie. Ek gee vir Cor ‘n kabelstrop om ‘n plan te maak. Wat hy ook doen.

 

Die idee van die aand is dat pappas en seuns alles saam moet doen. Sommige pappas is nogals kwaai goed ingerig, sien ek op die tafels wat opgeslaan is. Party seuns moet liewerster nie vanaand alles doen wat hulle se pappas doen nie.

Ons neem deel aan ‘n Amazing Race. Alles verloop nie heeltemal klopdisselboom in al die pa-en-seun spanne nie. “I will moer you!” gesels een pappa met sy seun. Dié is nie lus om gemoer te word nie en is vreeslik hartseer daaroor.

Ná die Amazing Race skattejag braai ons (ons het toe nie die Amazing Race gewen nie). Die kinders speel dat die biesies bewe. Ek moet sê, ek let met besorgdheid op hoeveel kinders met laser pointers speel. Veral die groenes is blykbaar krities gevaarlik vir jou oë. Dit weet ek oor my pel mos ‘n ingenieur is, sien.

Die ding van tent kamp is dit maak my lus vir in my tent lê. Voor 22h00 al is ek reg om te gaan slaap. Kleinboet sug dat hy sal ook maar gaan slaap. Maar hy is nog nie eens heeltemal in sy slaapsak nie toe vertel hy my dit raas te veel, hy sal nie kan slaap nie. Ek hoor niks nie. Hy’s maar toe weer daar uit om te gaan speel.

Ons slaap op van daai ooprol opblaasmatrassies wat jy effentjies verder kan opblaas as jy wil. Ek wil. Ek sukkel om my lê te kry. Dis toe nie heeltemal so gelyk soos ek gedink het nie. Ek sit later my togsak langs my heup om te keer dat ek nie te ver van my matras af rol nie. Miskien help dit as ek hom bietjie stywer blaas. Nee, dit help nie. Ek sal seesiek raak op die matras soos hy nou is. Ek blaas hom maar nog ‘n bietjie op.

Aha, dis hoe ‘n matras moet voel.

Poef! Daar bars my matras. So ‘n karnallie, dink ek saggies by myself, jy verstaan.

Kleinboet is nog nie terug nie. Ek oorweeg om skelmpies ons matrasse om te ruil. Hy sal nie agterkom nie, en in elk geval is sy rug nie seer nie. Maar dan weer, sê nou maar daai matras bars ook? Ek los dit dus maar.

So teen 23h00 kom Kleinboet in, moeg gespeel.

Saterdagoggend reën dit. Ons rol maar net die tent op en gooi dit agter in die bakkie om later by die huis oor te doen. Teen die tyd wat ons klaar opgepak het, het die reën opgehou, maar ek is toe deurnat. Ek ry maar so koes-koes by die boomplant oefening verby sonder om daaraan deel te neem. Niemand sal my darem seker mis nie.

Teen 07h15 is ons tuis. Daai was ‘n lekker pa-en-seun aandjie gewees.

  

10 antwoorde op Pa en seun kamp

  1. Haai weet jy – dis moer moeilik om nie te lag nie – so ‘n mengsel van pathos en Schadenfreude oorval my…

    Sterkte daar!

  2. TS het gesê op Februarie 11, 2012

    sien dis hoekom ek nie kamp doen nie…

  3. Nee, jy het my. Hoekom wil jy nie kamp nie?

  4. Ek moes nou eers daai groot woorde gaan Google. Wikipedia is ‘n groot hulp.

  5. TS het gesê op Februarie 11, 2012

    Ek doen luuks baie goed… die oomblik as ek die matras weer moes opblaas, boek ek in by die eerste naaste gastehuis

  6. Bwhaahaha!

    Ja swaer, ja!

  7. ons huwelik het ook al so op die rotse beland met ‘n matras wat bars.

  8. frandr het gesê op Februarie 11, 2012

    Kostelik om ‘n kykie te kry op so ‘n geleentheid – ek hou van jou fyn selfspot en simpatieke oog vir andere!

  9. Vetjan het gesê op Februarie 12, 2012

    Outdoorwarehouse se stretchers werk uitstekend. probeer dit.

  10. Inderdaad, maar ek was nie lus vir soveel inpak nie. Sou aanvanklik ‘n klein 2x2m tenttjie opgeslaan het – het eintlik op die ingewing van die oomblik die groter tent opgeslaan, bloot oor ek die middag hom aanmekaar geplak het met duct tape en sommer wou sien of dit werk.

Los ’n antwoord vir pgjonker. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.