Jy blaai in die argief vir 2012 Februarie.

‘n Nag in Parys

Februarie 26, 2012 in Sonder kategorie

Vroulief sê ons moet bietjie Vrydagaand Waterfront toe gaan.  Daar is ‘n goeie fliek wat ons kan gaan kyk.  Sy het dit al gesien.
 
Klink soos ‘n gawe plan.  Ek gaan lees solank bietjie op die internet op oor die fliek. 
 
“One night in Paris”.  Die omskrywing lees:  “1 Night in Paris is a 2004 pornographic video depicting Paris Hilton and her then- boyfriend Rick Salomon having sexual intercourse in 2001.”
 
Ek is bietjie oorbluf. 
 
“Sê gou weer daai naam van die fliek?” probeer ek my stem normaal hou.
 
“Midnight in Paris.”
 
O.  Jy meen so.
 
Midnight in Paris is a 2011 romantic comedy film written and directed by Woody Allen.”
 
Die verskil is onsubtiel. 
 
 
Vrydagaand was ‘n glorious aand in die Waterfront. 
 
 
Ek voel soos ‘n toeris waar ek by ‘n restaurant sit en uitkyk oor die see. 
 
 
 
Dis ‘n ander wêreld.  Anything goes.  Kleredrag, mannerisms, interessante paartjies.  Dis fassinerend.
 
 
Die fliek is absorberend.  Ek gaan vir my die musiek van die fliek soek.
 
Ek weet mens moenie jou uitspreek oor goed waarvan jy niks weet nie, en ek het nog nie vir One Night in Paris gesien nie.  Maar ek dink tog Midnight in Paris is beter.
 
 

We will fight them on the beaches ……

Februarie 18, 2012 in Sonder kategorie

“We will fight them on the beaches…..”

Winston Churhill se gevleuelde woorde. Mense het gedink hy het gepraat van die vyand. Nee, hy en sy vrou het ‘n partytjie gehou vir tienjariges, en dis uit radeloosheid met daai spulletjie wat hy dit gesê het. Ek weet die geskiedenisboeke sê anders, maar ek is seker dis hoe dit was.

Kleinboet het 10 jaar oud geword en ‘n oorslaap partytjie gehou. 

Met die geraas van omtrent dertig kindertjie in die tuin sê ek vir my vrou ek gaan nou maar vuur aansteek vir die braai.

“Nee, wag tot die kinders hier is,” sê sy. “Nog net twee van die maats is hier.”

 

Toe weet ek, dit gaan ‘n lang nag raak.

 

Genadiglik het net 9 maats kom oorslaap. Soos die ouers die kinders aflaai vertrek almal met afskeidswoorde soos: “Vrede vir julle.” “Julle is op ons gebedslys.” “Sterkte.” Sommige van hulle het klaarblyklik ook al sulke oorslaap partytjies gehou.

 

Nou ja, met almal uiteindelik hier gaan dit wild. Gelukkig hoor ek my agtertste buurman se grassnyer nog raas, so vir ten minste vir die volgende uur behoort hy nie moreel die reg te hê om te kla oor die geraas nie.  Ek hou toesig by die swembad en tel heeltyd koppe. OK, 4 in die swembad, 3 op die trampolene, 2 by die chips. Dis moeilik om te tel, want dis bewegende teikens.

 

Reëls 

 

Dit verstom my altyd van hierdie ouderdom kinders dat geen speletjie eenvoudig is nie. Die reëls is ook ‘n bewegende teiken. Enige deel van die speletjie wat een voel hy is te na gekom word die reëls luidkeels daar en dan (opgemaak, aangepas en) verduidelik. In alt toonhoogtes wat, vanweë die behoefte aan volume, oorgaan in ‘n alt-falsetto toonhoogte. Gewoonlik so drie van hulle gelyk.

 

By geleentheid praat ek die spulletjie aan as dinge lyk of dit verkeerd gaan. Niemand luister vir my nie. Maar hulle het nie rekening gehou met my vrou nie. Jy moet onthou, as my vrou sê “sit!” dan sit almal in die huis, behalwe ons tweedehandse bulhond vir wie die instruksie normaalweg bedoel is. Maar dis bietjie veel gevra van ‘n bulhond.

 

Eet

 

My vrou onderbreek die spelery met die voorsit van die voorgereg. Vrugte en groente. Ek het nie gedink 10-jaar oud seuns kan só opgewonde raak oor druiwe nie. Tot ek agterkom hoe lekker druiwekorrels ander manne mee kan gooi. Later het ek sewe mandjies vol brokstukke opgetel.

 

Intussen word die worsie en die ribbetjie darem gaar. Dan word almal weer ‘n keer opgelyn vir kos inskep. Net dan roep een ontsteld: “Haai, julle, wie het op die toilet se rant gepiepie!” Dit veroorsaak’n debat van epidermiese proporsies.

 

‘n Gewyde stilte daal darem mettertyd neer soos almal eet. Buurman se grassnyer is nou stil en ek oorweeg dit om net vir hom oor die muur te gaan sê ons het niks aan die kinders gedoen nie, hulle eet net, dis hoekom dit nou so stil is.

 

Dan terug na speel toe. Genadiglik lê daar 6 DVDs en wag. Dis natuurlik te veel vir een aand, maar mens wil nie ‘n kans vat dat een of twee dalk nie werk nie.

 

DVD’s

 

‘n Groot krismisbed in die TV-kamer is waar die DVD’s gekyk gaan word en almal gaan slaap. Nou moet almal eers in droeë klere inkom.

 

“Haai, julle, hier is nie meisies nie!” Die nexte ding toe is omtrent almal net in hulle onderbroeke. Toegegee, dit was warm, en meer so in die TV-kamer met 9 asems daarin.

 

Maar nou is die lastigheid om konsensus te bereik onder nege 10-jariges oor die volgorde waarin die DVD’s gekyk moet word. Ek stap later na die braaiplek toe en gaan stamp my kop ‘n paar keer teen die muur.

 

Aangesien dit Kleinboet se verjaarsdag is, kan hy kies. Maar hy maak die verkeerde keuse. Vroulief tree toe tot die proses, en twee minute later dink Kleinboet dit was sy voorstel om Hoodwinked 2 eerste te kyk, terwyl hy kort gelede dit glad nie wou kyk nie. My vrou is goed, ek sê jou.

 

Dan volg ‘n paar uur van relatiewe stilte. Nee, “stilte” is nie verkeerde woord. Die DVD’s speel oorverdowend, maar ten minste hardloop hulle nou nie meer die wêreld vol nie. Net elke nou en dan sien ek hier glip een by die TV-kamer se buite-deur uit buitentoe.

 

Later gaan sluit ek die buite-deur en gee opdrag dat almal voortaan in die toilet gaan piepie.

 

Slaap

 

So teen middernag wil ons die krane begin toedraai en self gaan slaap. Het ek genoem van die 6 DVD’s? Wel, konsensus onder die partytjiegangers is dat hulle vanaand al ses wil kyk.  Ek trek die handbriek het by half-een op en sê dis nou die laaste DVD gewees, almal moet nou gaan slaap. Ek gaan terug na my lêplek op die mat in die aangrensende sitkamer waar vroulief op die rusbank lê en slaap – ons wil nie waag om te ver van die spulletjie af te gaan nie.

 

My vrou hoor onnodig goed. Nou hoor sy ook hoe die manne daar binne erg protesteer teen Kleinboet se pa wat so ‘n **** is wat nie wil hê hulle moet verder kyk nie.

 

“Helfte van julle slaap al!” argumenteer my vrou.

 

“Is nie, nog net twee slaap.” Hulle is sowaar reg. Uiteindelik word die toegewing gemaak dat hulle nog EEN DVD kan kyk.

 

Slaap

 

Teen half-drie maak my vrou my wakker. Ek slaap nog steeds op die mat. Almal gaan nou slaap, ons kan nou maar verkas kamer toe.

 

Stilte. Stilte. Stilte.

 

Oggend

 

Teen half-sewe Saterdagoggend hoor ek die eerste en in die swembad plons. Sug.

 

Ek staan op en trek aan om weer die spulletjie te gaan dophou. Nou en dan stap ek om die huis om net te weet waar almal is. Dan tel ek weer koppe.

 

Daar is nou een te min, maar dis oraait, want ek het gesien daai een sit in die hondehok vas waar hy ingekruip het. Dit behoort ‘n tydjie te vat voor hy weer gaan saam rondhardloop, so dis een minder om dop te hou.

 

Teen 09h00 is almal weg. Kleinboet voel nou soos een wie se ballon geprik is. Sleepvoetend help hy weer al die meubels terugdra. Teen half-elf is alles weer op hulle plek.

 

“We wil fight them in our gardens……”

 

Die prys van goed

Februarie 13, 2012 in Sonder kategorie

Ek sien onlangs die volgende klagstaat:

 

POLISIEKANTOOR:  Albertinia

DISTRIK / AFDELING: Riversdal

PLEK VAN VERHOOR: Albertinia

 

HOF A (gits, sou Albertinia meer as een hof kan hê?)

 

VERHOORDATUM: 29/12/2011 (dís nou ’n manier om die oujaarsvieringe te begin)

 

NAAM:   XXXXX

 

Kragtens die bepalings van artikel 56 van die Strafproseswet (51 van 1977) word u hierby aangesê om voor bogenoemde Hof te verskyn om 09H00 op die datum wat hierbo vermeld word om te antwoord op ‘n aanklag van

 

AANRANDING GEWOON

 

Of ‘n ander aanklag wat die Staatsaanklaer teen u mag inbring op grond daarvan dat u op of omtrent die 3de dag van Desember 2011 en te XXXXX-straat in die voormelde distrik wederregtelik en onwettiglik vir XXXXXXX gedreig het asook haar p*** gevloek het.

 

 

‘n Skulderkenningsboete van R150 mag aangeneem word.

 

 

Dalk is dit net ‘n misverstand gewees.  Miskien is hy Engelssprekend.  En miskien het sy motor gaan staan.  En miskien het hy net gewag vir die insleepdiens om hom in te sleep.  En miskien kom sy toe verby en bied aan om te help stoot.  En miskien sê hy toe vir haar “You mustn’t push”, want hy weet mos die insleepdiens is op pad.  Of miskien het dit dalk ook nie so gebeur nie. 

 

Pa en seun kamp

Februarie 11, 2012 in Sonder kategorie

Die skool het ‘n pa-en-seun kamp aand aangebied op ‘n plaas op die rand van die dorp. Vrydagaand is ek en kleinboet dus uit vir die kamperasie.

Die instruksies het gesê niemand kan ingelaat word voor 18h00 nie. Toe ons egter 17h50 daar opdaag is ons klaar te laat vir ‘n goeie spot.

Ek trek toe maar my bakkie só in dat ek spasie agter het om my tent op te slaan.   Dis bietjie crowded, so ek stap eers deur die kamp area om te kyk vir ‘n beter plek. Ek kry nie een nie. Met my terugkeer by my bakkie het iemand sy voertuig agter my bakkie geparkeer waar ek beplan het om my tent op te slaan, en klaar begin om sy tent op te slaan.

Ek en ‘n pel skuif toe maar oor na ‘n alternatiewe gedeelte waar daar nie gras is nie. Agterna het ek gehoor ek moes net om die dam gery het, daar sou ek nog ‘n groot grasperk aangetref het om te kon kamp. Maar toe is dit te laat.

Cor het bloot sy Mercedes paneelwa onder die bome geparkeer op die gelykste plek wat hy kon kry, en toe is hy ingerig. Die paneelwa is soos ‘n camper agter ingerig met die beddens reg vir slaap. Ek soek die gelykste plekkie wat ek tussen die bome kan kry en skop die beesbolle (of dalk Elande s’n?) en takke bietjie uit die pad uit en begin opslaan.

“Jy’s nie eintlik ‘n ingenieur nie, né,” merk Cor op terwyl ek tent opslaan. ? En hy weet dít net van kyk hoe ek tent opslaan?!

Die tent is op sy laaste bene. Desember met die afslaan op Gourits het die flysheet geskeur, en ‘n paar van die konneksies en bungies is ook nie meer daar nie. Ek gee vir Cor ‘n kabelstrop om ‘n plan te maak. Wat hy ook doen.

 

Die idee van die aand is dat pappas en seuns alles saam moet doen. Sommige pappas is nogals kwaai goed ingerig, sien ek op die tafels wat opgeslaan is. Party seuns moet liewerster nie vanaand alles doen wat hulle se pappas doen nie.

Ons neem deel aan ‘n Amazing Race. Alles verloop nie heeltemal klopdisselboom in al die pa-en-seun spanne nie. “I will moer you!” gesels een pappa met sy seun. Dié is nie lus om gemoer te word nie en is vreeslik hartseer daaroor.

Ná die Amazing Race skattejag braai ons (ons het toe nie die Amazing Race gewen nie). Die kinders speel dat die biesies bewe. Ek moet sê, ek let met besorgdheid op hoeveel kinders met laser pointers speel. Veral die groenes is blykbaar krities gevaarlik vir jou oë. Dit weet ek oor my pel mos ‘n ingenieur is, sien.

Die ding van tent kamp is dit maak my lus vir in my tent lê. Voor 22h00 al is ek reg om te gaan slaap. Kleinboet sug dat hy sal ook maar gaan slaap. Maar hy is nog nie eens heeltemal in sy slaapsak nie toe vertel hy my dit raas te veel, hy sal nie kan slaap nie. Ek hoor niks nie. Hy’s maar toe weer daar uit om te gaan speel.

Ons slaap op van daai ooprol opblaasmatrassies wat jy effentjies verder kan opblaas as jy wil. Ek wil. Ek sukkel om my lê te kry. Dis toe nie heeltemal so gelyk soos ek gedink het nie. Ek sit later my togsak langs my heup om te keer dat ek nie te ver van my matras af rol nie. Miskien help dit as ek hom bietjie stywer blaas. Nee, dit help nie. Ek sal seesiek raak op die matras soos hy nou is. Ek blaas hom maar nog ‘n bietjie op.

Aha, dis hoe ‘n matras moet voel.

Poef! Daar bars my matras. So ‘n karnallie, dink ek saggies by myself, jy verstaan.

Kleinboet is nog nie terug nie. Ek oorweeg om skelmpies ons matrasse om te ruil. Hy sal nie agterkom nie, en in elk geval is sy rug nie seer nie. Maar dan weer, sê nou maar daai matras bars ook? Ek los dit dus maar.

So teen 23h00 kom Kleinboet in, moeg gespeel.

Saterdagoggend reën dit. Ons rol maar net die tent op en gooi dit agter in die bakkie om later by die huis oor te doen. Teen die tyd wat ons klaar opgepak het, het die reën opgehou, maar ek is toe deurnat. Ek ry maar so koes-koes by die boomplant oefening verby sonder om daaraan deel te neem. Niemand sal my darem seker mis nie.

Teen 07h15 is ons tuis. Daai was ‘n lekker pa-en-seun aandjie gewees.

  

Het iemand al so ‘n oproep gekry?

Februarie 10, 2012 in Sonder kategorie

Ouboet WhatsApp my annerdag uit die klas uit.  Hieronder is die gesprek.  Toe wonder ek maar net of enige iemand van die litnetters al so ‘n oproep van sy internet diensverskaffer gekry het om op te hou downloads doen?  Ek het nog nie so ‘n oproep gehad nie, maar dit klink so effe suspisieus dat iemand sal bel daaroor.  Ek het ‘n vinnige soek gedoen en daar blyk wel so iets te wees.  Ek sou egter dink die ouens sal eerder vir jou ‘n mail of iets stuur?

Ouboet: Het Telkom ju gebel?

Ek: Nie werk toe nie, hoekom sou hulle bel?

Ouboet: Da nuwe programmering mens kani meer goed aflaai nie, so hull bel om te se as iemand dit doen moet hulle stop.

Ek: Wanneer was dit? Waarheen het hulle gebel?

Ouboet: Ek weti. N se ma har nunet gebel en gse telkom hulle gbel en gse imand innie huis download van onwettige webwerf af, alo onwettige webblaai word nu toegemaak of gemonitor. Ma ons nog nooit stories gedownload nie. So weti.

Ek: Klink na ‘n nonsens storie. Telkom verkoop bandwydte. Hoe meer jy download hoe meer geld maak hulle. Hulle monitor nie waar jy besoek nie. Wat is after all ‘n verbode site? Porn? As ek ‘n site blok gaan Google dit stop, nie Telkom nie.

Ouboet: Nee, nee. Daars ‘n nuwe wet. En in amerika en uk vang hul almal uit wat onwettig download. Dit word sope of iets genoem. Sos die sites waar mense gewoonlik download word nu toegemaak en die embleme van die magor authorities word op die site dan gesit. So Telkom bel en se in watter huishouda da onwettig gedownload word, hul moet stop anders sal daar verder stappe geneem word.

 

Ek: “ISP will be forced to send cease-and-desist notices to customers they suspect of copy infringement.”

Ouboet: Wats dit?

Ek: Nuwe European Union legislation. Ek kyk nog.

Ouboet: es dai ding ma dis hier ok, ma dis kinda dom, wat van jy probeer eers iets sos moord of so keer.

Ek: Poelieste keer moord. ISP keer diefstal. Het jy nou toegang tot internet? http://mybroadband.co.za/news/adsl/15642-adsl-piracy-legal-warning-do-you-need-to-be-worried.html

 

Ouboet: Ni nou nie, darm download osi stories ‘n gudi.

Ek: “Notices generated internationally and forwarded to ISP which in turn e-mails it to offending subscriber. BitTorrent, bv. Such monitoring of internet usage is illegal except of done with consent of user.”    Maar moet jy nie luister in die klas nie!?

 

Ouboet: Sekema, ma di tannie ht n biki van ‘n accent.

Oes Bamboes

Februarie 8, 2012 in Sonder kategorie

Melkbosstrand, Maandagoggend.

Hierdie trok wag vir die manne om die oes in te bring.  Dis 11:08 Maandagoggend.  Almal is rustig.

 

Die manne laai op, en die trok wil ry.  Oepsie.  Die trok het nou al bietjie ingesak in die sand, die bamboes vrag is swaar, en die gety kom in.   Kry die trekker, manne!

 

Dis 11:38.  Daai trekker is viertrek, maar te lig.  Al vier wiele spin in die sand, maar die trok gaan nêrens nie.  Al wat êrens heen gaan is die gety – en dié kom in.

Stoot, trek, vloek, niks help nie.  Daar is nou geen genade nie, die vrag moet af.  Dis 11:46.  Die trok is nou al bietjie nat.

 

Maar dinge is nou bietjie drasties.  Daai opligbak is nog nie eens terug nie, toe haak die trekker weer en begin trek.  Om 11:47 staan die trok weer op droë grond.

 

Iemand moet nou al daai bamboes optel en dit weer oplaai, maar dis seker ‘n geringe prys om te betaal vir jou trok?

Daai ding van die fariseërs

Februarie 5, 2012 in Sonder kategorie

Ek moes geweet het dit kan nie goed eindig nie.

Ek stap deur die winkelsentrum, minding my own business. Ek het al vernuftig geraak om hierdie girls wat jou so onverwags nader om iets aan jou te verkoop te vermy. Dis altyd vir my ‘n verleentheid om die nuwe soort koekie of watookal te proe en dit dan nié te koop nie. Dus ek maak soos daai fariseër en stap anderkant verby.

So hoe hiérdie girl dit reggekry het weet ek nie. Maar toe ek my kom kry trek hierdie baie mooi meisie my aan die arm daar na haar verkooppunt toe in die middel van die loopgang van Cape Gate.

Eers verstom ek my aan die meisie en die vreemde geluide wat sy maak. Ek kan eers glad nie verstaan wat sy sê nie. Dan begin my oor op te vang.

“I show you someteeng?” verduidelik sy. Ek begin snap met die derde poging. Vreemd hoe dit ‘n sin of twee kos van ‘n heel vreemde aksent voor jy dit gewoond raak – as jy gelukkig is. Sommiges kry ek ooit gewoond geraak nie. Maar daremte verstaan ek soortvan wat die meisie my vertel.

Sy gryp my hand. “You see da lines on yourrrr nail? Everrrrybody has them.” No sh*t, Sherlock, hé? Ek dog sy lees fortuin, maar die nexte ding gryp so so funny borseltjie wat nie ‘n borseltjie is nie en begin my nael te politoer/ masseer / borsel. Ek weet self nie mooi wat nie.Toe sy klaer is het ek ‘n vreeslike blink duimnael.

“Now notting weel take thees off” verduidelik sy terwyl sy my hand hier voor haar borste vashou.  Dit moes hierdie tipe visioen gewees het wat Anton Goosen die pen laat opneem het en daai song van “Sy dra twee klein kalbassies liefde” te laat skryf. Dis nou nie asof ek bedoel het om te kyk nie, maar ek kon nie anders as om op te let dat sy ……. ag, nevermind. Ek is bietjie gerattle, want vir die oomblik is ek toe nie seker waarvan sy praat nie.

Sy druk iets teen my neus. Sy gaan my nou choloroform ingee en ontvoer, dink ek, so ek asem ‘n diep teug daarvan in.

“Thees ees ceutex, ok?” verduidelik sy. Dan gryp sy weer my duim – nee, eintlik het sy nog vir geen oomblik my duim gelos nie, sy maak verbrands seker ek kan nie wegkom nie. Ná ‘n goeie teug snuif aan die cutex toe is my sinusse lekker oop en my sintuie ook nou nogals lekker skerp. Dan vryf sy oor my blinknuwe duimnael met die cutex, maar die blink bly sit.

“See, notting takes thees off, ok?”Oooo, jy meen só. Sjoe.

Dis ok. And your point is?

“You know what happens thees month?”

Ek dink hard. Dis natuurlik ‘n strikvraag. Ek hardloop gou ‘n paar moontlikhede deur my kop. Skool het klaar begin, vakansie is verby, niks rugbytoere nie. Uhmm…. Sonsverduistering? probeer ek.

“No, eet ees Valentines day.”

O, shucks, gits, dis goed jy sê, ek sou vergeet het. O, maar dis ook my vrou se verjaasdag, onthou ek ook. Sy verkoop ‘n stelletjie waarmee jy tuis jou naels kan versorg. Of eintlik, waarmee jou vrou haar naels tuis versorg. En jou dogter.

“Do you have a daughterrrr?”

Ek haat dit as mense sulke persoonlike inligting vra. Ek verdink hulle altyd van uitvissingsbedrog. Maar ek kry my dat ek stamelende “yes” antwoord.

“And how old ees shee?”

Dis flippen niks van jou besigheid nie, dink ek, maar ek sê tog nietemin vir die meisie hoe oud my dogter is.

“Now see, because you arrrr my firrrst customerrr forrr today, I make you a verrrry special deal,” verduidelik sy. Mens moenie so vroeg winkel toe gaan nie. Dis nou ‘n sprekende voorbeeld van die early worm that gets caught. Nou net oorlat ek so nice is (en so vroeg in die winkel was) gaan sy vir my twee van daai stelletjies gee vir die prys van ene. Maar nou het ek al so tussendeur die prys van die stelletjie begin optel en uitgewerk ek kan amper twee bande vir my kar koop vir daai prys.

“Arrrr you frrrrom Cape Town?” vra sy.

Aha, ‘n geleentheid om die onderwerp te verander en uit die bose verkoopskringloop te ontsnap. Ja, sê ek, maar jy is duidelik nie. En van waar is jy?

“I’m frrrrom Isrrrrael,” verduidelik sy. Maar daai girl los my nie. Ek verduidelik vir haar van die prys van ‘n kar se band en die skottelgoedwasser en die wasmasjien wat ook mos nou gebreek het, verstaan, en ….

“Oh, but come looook, I show you someteeng,” sleep sy my na die rekenaar toe waar die prys van die produk my aangluur. Ke-tiek-etiek-etiek klik sy, en wala! daar is die prys gehalfeer. Nou daai’s nou cool, hê?

“How doo youu like that?” Wel, dis nog steeds die prys van een motorband, maar as ‘n losprys om met eer uit haar kloue te ontsnap is dit nou al heelwat meer verteerbaar.

Die vet weet, nê, ek is winkel toe om te gaan chloor koop. Ek kom terug met ‘n stelletjie tuis-nael-blink-maak-en-lekker-ruik-in-‘n-boksie. O ja, en party van daai goed in die boksie is lewenslank gewaarborg ook, het sy gesê, maar ek het op ‘n kol bietjie verward geraak oor waarvan sy praat mos nou, verstaan.

Nee, next time sal ek baie wakkerder wees en weer seker maak ek doen daai fariseër ding en loop ánderkant verby.

Ek moes toe ‘n week wag om die pakkie vir vroulief vir haar verjaarsdag te gee.

“O, daai girl het jou gebamboozle!” sê sy toe sy dit oopmaak. Nou vra ek jou, houkom sou sy só gedink het?

Happy birthday, love!