Jy blaai in die argief vir 2012 Januarie.

Ons vra u aandag vir ‘n kort onderbreking ……

Januarie 12, 2012 in Sonder kategorie

 

Ek is nog lank nie klaar met my Gourits stories nie. Maar ek het nou hierdie juweeltjie gehoor wat ek meen ‘n onderbreking regverdig. Dalk is die lesers in elk geval nou al keelvol vir Gouritsmond.

 

Kom ons noem haar Liesbet.

 

Liesbet kom van ‘n Swartlandse dorpie af. Een van daai plekke waar mense net uit noodweer uit Engels praat, en dan moet dit wraggies seriously moeilikheid wees. Nee, dis nie Piketberg nie, maar dis close.

 

Nou het Liesbet ‘n Engelse vriend opgedoen. Ek meen nou Engels soos in Brits, verstaan. Nee, die die dorp Brits nie, daai eilandjie met die baie mense op anderkant Nederland mos nou.

 

Liesbet en vriend verhuis na Langebaan toe. Langebaan is self nou nie onnodig Engels mos nie. Só moet die vriend (ter wille van die goeie orde sal ek hom John noem) nou begin om inkope en die gewone doen en late in Afrikaans te vermag. Darem nou met die entoesiastiese ondersteuning van Liesbet.

 

Posbusse blyk ‘n probleem te wees op Langebaan. Langebaan is ook mos een van daai plekke waarheen jy altyd gegaan het om weg te kom van die mense af. As jy nou daar kom is almal die mense klaar daar. So daar is ‘n onderaanbod van posbusse. Of miskien net ‘n ooraanbod van mense.  Dalk moet hulle die ouens daar aan rekenaars en internet en al daai voorstel om die druk te verlig.

 

Nou ja, ‘n plaaslike sakeman het blykbaar die geleentheid gesien om munt te slaan hieruit en het posbusse by sy winkel opgesit vir verhuring. Só word John gestuur om te gaan reël vir ‘n posbus.  Mens weet nooit wanneer die lotto vir jou ‘n briefie skryf om te sê jy moet die tjekkie kom haal nie.

 

John kies koers winkel toe.

 

“Kan ek help?” verneem die dame agter die toonbank.

 

“Ja, asseblief.” Swaar Engelse aksent. “Ek wil graag ‘n posdoos hê.”

 

 

 

Liesbet sal nou self volgende week weer gaan probeer aansoek doen vir ‘n posbus..

Gouritsmond 2011 – deel 6: Van verdwaal en so

Januarie 11, 2012 in Sonder kategorie

Kleinboet het ‘n kite vir Kersfees gekry. Ek gaan af strand toe om die kite uit te probeer.

Dit lyk nie asof kite-vlieg eintlik my ding is nie. Daai kite ken net een rigting en dis reguit grond toe. Ná die hoeveelste probeerslag toe vlieg die kite hom sy peetjie in die grond in, met stukke wat in alle rigtings spat. Ons sit hom weer aanmekaar, maar nou het ek genoeg onderdele oor om nog ‘n kite van te bou.  Maar toe vlieg daai kite soos ‘n droom. Ek moes hom sommer al gebreek het voor ons begin het. Dit kon my baie moeite gespaar het.  Ek moet dalk die ouens bietjie gaan uithelp op die vervaardigingsproses.  Duidelik oorspandeer hulle op onderdele.

Ek gaan ry saam met broer Johnie die Canca Fynbos Echo 4×4 roete. ‘n Paar jaar gelede het ek saam met hom die Vleesbaai 4×4 gaan doen.  Tóé het ons teruggekom met ‘n kar waarvan die voorkant erg gekreukel was.  Dis maar ‘n pes, daai stadige Landrovers wat in jou pad kom.  Die probleem behoort hom egter nie herhaal nie, want ons ry self hierdie keer ‘n Landrover, en boonop is ons die enigste voertuig op die roete.

Ons sien drie Sekretarisvoëls. Pragtige goed. Ek vermoed hulle soek na daai slange waarteen Kippie Horn, die eienaar van die plaas, ons teen gewaarsku het. As ék van slange moes geleef het sou ek baie vinnig van die honger doodgegaan het.  Slange is ook nie eintlik my ding nie.

Ons ry baie lekker. Daar is baie mooi fynbos.  Dekriet groei tot ooghoogte, soms in die middelmannetjie (?ok, dis seker nog nie dekriet wanneer dit nog ‘n plant in die grond is nie?)

Ons gebruik die kaart wat Kippie vir ons gegee is, maar ons besef later dat daar nêrens op die kaart ‘n pad is wat so lank aaneen in ‘n Westelike rigting ry as die een wat ons op is nie.  Ons dink ons het iewers verkeerd gery.   Later kom ons by ‘n plek wat lyk soos iemand wat met windpompe boer.

Toe ons seker so 17 km van Kippie se plaas af die grondpad aantref wat van Albertinia af loop na die Stilbaai-Gouritsmond grondpad toe dink ons nie meer ons is verkeerd nie. Tog lekker wat sekerheid aan jou gemoedsrus kan doen.

Ons besluit om nou maar die groot grondpad te volg.  Maar nie vir lank nie.  Nee, party mense het nie ore nie.  Johnie besluit hy gaan die GPS se raad te volg, en draai weer van die grootpad af op ‘n pad wat, volgens die GPS, ons ook op Gouritsmond sal bring.  Dit was óók nie ‘n goeie plan nie.  Mettertyd verdwyn die pad wat die GPS vir ons aandui in die niet.  Poef!  Ons volg toe maar ‘n tweespoorpaadjie en beland by ‘n privaat vakansiewoning. Mens is verleë. Niemand kom hou op só ‘n verlate plek vakansie en sit en hoop dat vier vreemdelinge uit die bloute opdaag om te hoor waar die pad Gouritsmond toe loop nie.

Fernando Tallie en sy ma, tannie Mollie, is egter baie bly ons het verdwaal en nooi ons vriendelik vir koffie.

Binne minute kom ons agter dat ons 45 jaar gelede op dieselfde dorp gewoon het, en heelwat gemeenskaplike kennisse op Laaiplek het.  Met ons vertrek beduie Fernando vir ons ‘n kortpad terug na die (regte) pad toe.  Stuff die GPS: dáái aantie weet niks nie!

Maar, reken ek nou, as ons ‘n 17km uitwyking kan aanteken oor ‘n 3km roete, kan jy jou voorstel waar ons sal eindig as ons besluit om ‘n Afrika oorkruising te doen.

Gouritsmond 2011 – Deel 5: Kersfees

Januarie 10, 2012 in Sonder kategorie

Ek sien my bakkie se een wielmoer is weg. Ek sms vir broer Johnie om te hoor of hy dalk vir my een kan saambring as hy van Hermanus af kom kuier. Ek is dadelik spyt. Dit help nie om vir ‘n ingenieur iets eenvoudig soos ‘n wielmoer te vra nie. Nee, toe wil hy eers die tegniese spesifikasies hê. Soos of dit 12mm, 14mm of imperial is, of dit fyn skroefdraad is of nie-fyn skroefdraad nie.  Daar het ek ophou lees aan sy sms.  Daar’s darem nog 5 moere oor.  Ek het gemeen dis eenvoudig. Dit moet op ‘n maroon Mazda bakkie se wiel pas.

Ons gaan tel dryfhout op om ‘n kersboom van te maak.   Ek bou ‘n boompie daarvan, kompleet met ‘n kruis bo-aan. Wel, OK, dit was nou nie regtig heeltemal ‘n boompie nie, maar dit was darem van hout gewees.   Ons drapeer twee stelle kersliggies daar rondom, deels om die spul aanmekaar vas te hou.

Die watertrok kom nog gereeld water voorsien. Die manne trek die trok tot teen die ablusieblokke en druk die pyp deur die venster sodat hulle die baddens kan vol tap. Dan los hulle ‘n emmer by die bad dat jy dit gebruik om die toilet mee te spoel.

Interessante waterbesparingsrympies doen die rondte.  Elke keer as ek met ‘n rolletjie witgoud afsuiker na die ablusie blok toe laat dit my dink aan Nettie Smit wat in standerd 2 by die eistedfodd opgetree het en ‘n gedig opgesê het:  “Allawiek allawak, ons gaan …… pannekoek bak.” 

‘n Blaasorkes kom doen die rondte deur die kamp en speel kersgesange.  ‘n Kollektetjie is aangedui.

Broer Johnie en sy gesin arriveer, saam met oupa. Oupa is nou 90 jaar oud. Dis sy eerste besoek aan Gourits.

Oukersdag daag Kersvader op. Ek sien hy’t opgegradeer. Hy ry nie meer ‘n Nissan bakkie nie, maar ‘n cab-and-a-half Ford Ranger met skaaptralies op.

Ons deel die aand geskenke uit. Daarna hou ons konsert. Aangesien van die maats se hulp ingekontrakteer is om al die items suksesvol te laat gebeur is die karavaantent nogals vol.

Wanneer drie na-skoolse tieners ‘n eie komposisie doen is dit nie noodwendig die tipe ding wat Pop Idols gaan wen nie.  Dis meer soos kletsrym wat nie rym nie, en daar is ook nie eintlik ‘n wysie nie.

Wat kort kom aan gehalte word opgemaak deur vrolikheid.  Almal geniet hul geskenke en die konsert.

Kersdag maak ek en Johnie en oupa dit betyds vir die tweede van drie Kersdienste by die plaaslike kerk. Aldrie dienste is stampvol, en jy moet sommer goed betyds wees om plek te kry.

Ou kampers weet die kerkdienste is so vol. Tente het ook nie mure nie.  (Sjoe, noudat ek dit noem, daai vroegoggend flatelasietjies…..)  Maar in ieder geval, so hoor mens hoe jaag ‘n pappa-kamper die res van sy gesin aan.

“Kom nou! Roer julle gatte!  Ons gaan f**in laat wees vir kerk!”

En aan sy vrou:

“Moet nou nie weer so f**in suinig wees soos laasjaar nie, gooi dié keer ‘n R200 in die bordjie!”

Ag, dis lekker om deel van ‘n christelike nasie te wees.

Ek en Johnie en oupa kry sitplek heel agter teen die muur. Dis erg bedompig, maar gelukkig kry ons die volle voordeel van ‘n koel luggie die oomblik as iemand die deur agter oopmaak.

Ek dink aan my ma wat nou so 4 jaar gelede oorlede is. Van die songs laat my nogals sad voel vanoggend. Ek dink oupa mis haar ook.

Gouritsmond – deel 4: Van Rillers en Grillers

Januarie 9, 2012 in Sonder kategorie

Sussie werk by een van die plaaslike restaurante op Gouritsmond as ‘n kelnerin. Haar eerste betrekking. Sy like dit baie dat mense haar betaal. Ek ook eintlik, noudat ek daaraan dink. Dat mense my betaal, bedoel ek.

Buurman maak ‘n afvalpot wat hy ‘n bo-bly pot noem. Ek doen nie afval nie. Ek is nie eens hoflik daaroor nie. Ek bak ‘n brood ter wille van balans.

Ek gaan saam met Kleinboet klipvissies vang. Ek ken nie van visvang nie. Blykbaar vang jy klipvissies met ‘n net, nie met ‘n visstok nie. Veral nie as jou visstok gewapen is met ‘n hoek so groot dat jy ‘n haai daarmee kan vang nie. Ek weet dit nóú. Tóé het ons dit nog nie geweet nie.

Kleinboet is heeltemal onsportief wanneer dit kom by daai ‘ene wat weggekom het’. Dit hoef nie eens ‘n groot ene te wees nie – ek meen nou maar, hoe groot kan ‘n klipvis nou after all word. Maar ‘n ou moet maar versigtig wees om ‘n vloermoer te gooi op die rotse, dus konsentreer Kleinboet die somtotaal van sy ergernis in sy lippe. Ek dink nie dis gesond vir ‘n ou se lippe nie.

Dan gaan Gouritsmond se water af. Dis nogals lastig. Daar doen ‘n trok die rondte waar mens kan water tap. Ons maak maar kanne en emmers vol water vir die volgende dag-en-‘n half.

‘n Vriend het eendag lank gelede vir Ouboet verduidelik wat die verskil tussen ‘n Riller en ‘n Griller is. ‘n Riller is daai flieke waar al die meisies vreeslik skree en almal maak of hulle bang is. Dié wat hulle oë toeknyp skree dan ewe hard saam. Maar ‘n Griller, het die vriend verduidelik, is wanneer mens in jou neus grawe en die opbrengs daarvan kou. (Ek weet sommer jy kry die punt).

So vertel ‘n moedswillige kamper my ‘n Griller. Hy sê daai watertrok doen ander dae diens as die riooltrok.

Ek weet daai is ‘n wolhaarstorie. Maar die Gouritsmond Spaar verkoop 5-liter kanne water ook, let ek toe op.

Op aanvraag:  ‘n foto van Gouritsmond.

Gouritsmond – deel 3: Van poppekaste en al daai

Januarie 9, 2012 in Sonder kategorie

Buurman het gaan visvang op die diepsee. Hy’t gesê ons moenie kos maak nie, ons braai vanaand vis. Ons sit almal en wag vir buurman om met die vis terug te kom. Met sy vorige uitstappie was daar Makriel, Masbanker en Carpenter. Sommer baie. Dis goed om so ‘n buuurman te hê.

Buurman is al vanoggend 03h00 weg. Teen 15h00 laat weet buurman ons moet dalk wegneem pizzas oorweeg.  Niemand het nog niks gevang nie, ná ‘n nag en ‘n dag op see nie. Nou ja, sometimes you win, sometimes you lose.

Ons gaan ontmoet vriende van Nederland op Grootbrak en gaan swem in Diazstrand se onderdak swembad. Dis my tipe swembad. Water seker 29°C. Ons gaan eet in ‘n nabygeleë restaurant. Die wind kom skielik op en waai die een sambreel van die restaurant weg. Ek WhatsApp die tieners om seker te maak als is reg by ons staanplek. Hulle laat weet hulle is in beheer.

Terug by die kamp is daar bietjie skade aan twee van die tente van die wind wat daar deur is, maar dié is reeds met kabelstroppe reggemaak.

Die stranddienste kom weer oudergewoonte raas-raas deur die kamp om die poppekas van 16h00 die middag aan te kondig. Dis ook net mooi die middagslapie-tyd wat hulle daagliks hierdie aankondiging kom maak. 

Een kamper reageer luid op die aankondiging met ‘n “Aaag, f**-of!” agter die stranddiensspan aan.

Ek dink nie poppekas is eintlik sy ding nie.

Gouritsmond – deel 2: “My mamma slaap hard”

Januarie 8, 2012 in Sonder kategorie

Ai, dis lekker om in die karavaan wakker te word daai eerste oggend. Veral nog as ek dink dat ons eintlik vandag eers op die pad sou gewees het.

‘n Insidentele voordeel van die dag vroeër is dat ek betyds is vir die openingsdag van Gouritsmond biblioteek se boeke-uitverkoping. Ek koop vir my vier boeke vir ‘n somtotaal van R13. Dié word later aangevul met Chanette Paul se Springgety, en nog later met Deon Meyer se Orion en Sewe Dae. Tussendeur koop ek ook ‘n koerant nou en dan. So ek is fixed up met ‘n paar goedjies om te lees.

Hierdie jaar het ons sekerlik die beste weer oor die langste tyd gehad wat ons in elf jaar op Gouritsmond aangetref het. Nou en dan trek ons die gezibo se seil af as ‘n voorsorgmaatreël, maar niks buite die normale nie.

Mens leer allerhande goed van ander mense so op ‘n kampvakansie. So vertel een van Kleinboet se maatjies vir my vrou:

“Tannie, my ma slaap hard. Maar my pa slaap nog harder. Dan slaan my ma my pa, dan hou hy op snork.”

Gouritsmond Desember 2011 – Deel 1

Januarie 7, 2012 in Sonder kategorie

Dag 1, Vrydag 16 Desember

Ek word wakker en loer op my horlosie langs die bed. Dis 05h20. Ek is verlig. By ‘n vorige geleentheid het die kinders ons al voor 04h00 die oggend wakker gemaak om te ry. Ons slaap nog rustig verder tot my vrou hier by 06h00 begin roer.   Sy en Kleinboet bly eers vanoggend agter om die huis bietjie netjies te maak aangesien vriende in ons huis kom bly terwyl ons weg is. Ons moet in elk geval deesdae met 2 motors ry, met dié dat ons 6 mense is, met twee honde wat langs die pad op ‘n plaas afgegee moet word (ipv kennels toe).

Ek en die drie tieners vertrek 06h30. Vertrek is vir my die stresvolste deel van die vakansie.

Eers moet die karavaan langs die huis uitkom, met enkele sentiemeters weerskante se spasie. Dis gelukkig afdraende, dus hoef ons net te keer dat die karavaan nie met ons weghardloop nie, en dan moet ons natuurlik die karavaan navigeer. Wat nog steeds bietjie van ‘n oefening is. Eers bietjie reguit, dan as die karavaan amper by die hek is effens draai om by die bougainvilla verby te kom, maar nie te ver nie, want dan tref hy die balie aan die ander kant. En dan moet die bakkie reg belyn wees, anders draai die karavaan met die wegtrekslag sy stert in die bougainvilla in.

Dan is dit karavaan aan die bakkie haak, jockey wiel op, handrem af, ketting oor die bol, kragprop in, Tando in. Dan die ligte met opgehoue asem toets. Nie dat ek weet hoekom ek dit doen nie. Ek meen nou maar, as iets NIE werk nie, wat gaan ek nou eintlik doen daaromtrent? Ek weet nie hoe om dit reg te maak nie, en waar gaan ek dán iemand kry om dit te doen? So dis ‘n totale vermorsing van goeie tyd om die ligte te toets, maar ek doen dit maar. Net dat ek weet.

Die dag voor die vertrek stres my gewoonlik ook. Hierdie keer, egter, het ons (eintlik die kinders) besluit ons ry al vanoggend, en nie eers môre-oggend nie. Sodoende fnuik dit daai vooraf-dag se gestres.

Hoekom ek so stres weet ek glad nie. Ek is nog nie eens by die Hugenote tonnel nie, dan het ek al omtrent vergeet ek tou ‘n karavaan (dis nou as die wind nie stormsterk waai nie). By Rawsonville se afdraai sit ek net so met die helfte van my gewig op die sitplek – net vir ingeval die verkeersmanne die karavaan op die weegbrug wil trek. Mens weet nooit.

Ná ‘n pitstop by Ashton mik ons verder. Tussen Asthon en Swellendam steek ons die halfpadmerk verby. Die verkeer is nie kwaai nie, maar al is dit pla dit my min – ek probeer mos nie eintlik iemand verbysteek nie. Ek is die ou wat in ánder mense se pad is wat wél wil verbysteek.

Die tieners reken op ‘n Wimpy ontbyt langs die pad. By elke dorp loer ek in die spieël om te sien of hulle nog slaap. Hulle doen. Teen die tyd wat dié spannetjie begin wakker word trek ons al by Albertinia – 7km’s van die afdraai vir Gouritsmond. ‘n Vinnige stemming en hulle besluit om nou liewer deur te hou, eerder as om te stop. Om 11h20 trek ons in by Gouritsmond karavaanpark.

Die nice ding van tieners is dat hulle soms effens handiger is as negejariges. Teen die tyd wat my vrou en Kleinboet opdaag is die vink-nes basies uitgelê, en mevrou Vink kan kom inspekteer. Daremte dra die nes haar goedkeuring weg.

Dit was ‘n goeie dag.