Van skottelgoedwassers en so

Januarie 25, 2012 in Sonder kategorie

 

Die skottelgoedwasser is stukkend. Onherstelbaar so. Die onderdeel wat nie meer werk nie word nie meer gemaak nie. Ek weet nie wat dit is met die mense nie. Ek meen, daai skottelgoedwasser was nou maar 21 jaar oud gewees.  Ons het twee maande maar met die stukkende ene geprobeer, en nog ‘n maand sonder hom klaar gekom terwyl dit by die hersteller was. Dié het toe laat weet dit kan nie herstel word nie.  Die bank sê toe hulle sal my nog ‘n bietjie geld leen, gaan gerus voort en koop ‘n nuwe een, meneer. Toe maak ek maar so gister. By dieselfde plek waar ek laasjaar ook ‘n wasmasjien moes koop.

 

Toé het die verkoopsman wat die wasmasjien aan my verkoop het my vertel dis ‘n groot special, daai spesifieke model kos eintlik dubbeld dit waarvoor hulle dit op die vloer het. Ek kom gister by dieselfde verkoopsman uit. Hy vertel my hulle het net mooi nou dieselfde special op hierdie spesifieke maak skottelgoedwassers, dit kos normaalweg eintlik dubbel die prys.

 

Yeah, right.

 

Maar nou ja, nou koop ek maar die ding.

 

 Tuis moet ek hom net instoot in die kas waar die vorige ene gestaan het, die pype en die kragprop koppel en daar gaan ons.

 

Yeah, right.

 

Die skottelgoedwasser is net-net te hoog. O, nee, OK, hy is amper net-net te hoog. As ek hom effens oplig voor en dan instoot dan maak hy dit in die spasie in, met geen spasie te spaar aan die bo-kant nie. Geweet dit gaan maklik wees.

 

Dan wanneer die outjie só diep in is dat die deurtjies net-net nie kan toemaak nie, dan hak hy vas teen ‘n plankie aan die bo-kant agter in die kassie.

 

Wel, volgens die aanwysings kan mens die skottelgoedwasser se bo-kant afhaal in gevalle soos dié. Peace of cake, ek sê. Ek kry my skroewedraaier en die instruksies.

 

?!  Nee, ‘n skroewedraaier pas nie daar in nie.  Dis iets soos die kruis tussen ‘n allan key en ‘n sterpunt, maar met 5 punte in plaas van drie.  Maar ek kry ‘n plan gemaak en skroef die agterste plaat se skroewe los. Nou moet ek die agterste plaat wegtrek sodat die bokant kan oplig. Maar niks roer nie. Ek kan sien daar sit twee plastiek knippe wat moet laat skiet, maar hulle is bietjie halsstarrig.

 

Vroulief vertel my ek het die verkeerde kant van die masjien beet, dis die voorkant wat mos oopmaak soos die prentjie sê. Ek verduidelik nee, ek is reg, sy is verkeerd. Die ou by die winkel het my ook so geverduidelik, want ek het hom juis vooraf gevra. Ek het die probleem voorsien, sien. Ek kan sien sy glo my nie.

 

Nou besef ek dat ‘n mate van geweld gaan nodig hê om die plaat agter los te kry. Maar ek is nie so gemaklik om geweld toe te pas op my splinternuwe skottelgoedwasser nie, al is dit wat die handleiding sê. Vroulief sê ek kan lekker gaan hamer aan die stukkende wasmasjien wat buite die agterdeur staan, maar nie aan haar nuwe skottelgoedwasser nie.

 

OK, dan moet ek daai plankie wat agter in die kas in die pad is bietjie weg skaaf. Ek gaan haal die skaaf en begin skaaf. Maar jy kan nie lekker bykom nie. En in elk geval kan jy mos nie met die skaaf die kante bykom nie. Daarvoor moet jy iets anders gebruik.  Die oefening vat nou al bietjie langer as wat ek gereken het.

 

Na ‘n paar skaaf-hale stoot ek weer die masjien in. Nou lig ek met my koplampie om te sien wat daar binne aangaan. Nee, sien ek, ek gaan verskeie millimeters van daai plankie moet wegskaaf voordat dit aan behoefte gaan voldoen. Waarna ek dan die plankie se kante met ‘n veil of iets dergeliks gaan moet wegwerk om dieselfde resultaat op die ente te bereik.

 

Ek sê niks, maar iemand hoor my brom.

 

Vroulief vertel my toe dit is nou al vir jare lank haar hartsbegeerte om daardie spesifieke kassie se deurtjies af te haal. As ek nou die deurtjies afhaal, dan gaan dit vreeslik fraai lyk met daai nuwe wit masjien wat so kuns in die kassie pas. Mmmm…….?

 

Wel, ek is nou ook al bietjie uit idees uit. Ten minste geskied die verwydering van die kasdeurtjies sonder enige komplikasies. Al wat nou kort is om die pype en die kragdraad te konnekteer. Wat beteken dat iemand in die kassie moet sit en die goed van onder af deurdruk. Maar die pype is nie onnodig lank nie, so die masjien moet nou ook halfpad saam met daai iemand in die kassie wees anders kom die pype nie by nie.

 

^&*(!!

^&*(!!

^&*(!!

[Ek het die vertelling net effens te verkort hier]

 

Uiteindelik is alles reg en gekoppel. Nou, die ding is, hierdie was veronderstel om eenvoudig te wees. Ek kan nie verstaan hoekom sulke eenvoudige goed so gekompliseerd kan wees nie. Maar juis omdat niks altyd so eenvoudig is soos dit lyk nie besluit ek om liewer die skottelgoedwasser die eerste keer onder my toesig te laat werk. Ek wil darem seker maak daar lek nie iewers water uit of so nie.

 

Dis natuurlik geen probleem met my gesin om die skottelgoedwasser vol te kry nie. Dié gebeur baie vinnig.

 

Saam met die skottelgoedwasser verpak was ook ‘n wassepie wat blykbaar alles gaan laat blink. Dis so ‘n drie-in-een pakkie in ‘n plastiekhouertjie. Nou haal ek die plastiek omhulsel af om die goed in die geallokeerde houertjie in te sit. Maar dis verbrands of jy daai plastiek stukkend kry. En toe ek dit uiteindelik min of meer stukkend het toe sit daai wassepies daarin vas soos honnebollie aan ‘n poelisejas. Jy kry dit net nie uit nie.

 

Vroulief besluit dis die ontwerp: jy sit dit met omhulseltjie en al daar, die hitte sal seker die plastiek laat smelt. Vir my lyk dit altevol soos om ‘n setpil met die omhulsesl en al in te sit. Maar nadat ek twee-derdes van die goed uit die verpakkinkie uit gedwing het gee ek moed op, en sit nou maar die houertjie met die oorblywende derde saam met die sepies wat ek daar uitgegrawe gekry het in die plekkie daarvoor en start die outjie op.

 

Ek start die masjien op en hou asem op, maar niks gaan verkeerd nie. Genuine.

 

Maar daai sepie pla my. Ek gaan nou op die internet kyk wat die vervaardigers sê, moet jy dalk daai sepie met plastiek en al insit?  Na ‘n lang gesukkel kry ek die regte webbladsy, maar die vervaardiger sê niks oor hoe om dit te gebruik nie. Maar ek sien daar is chatrooms oor skottelgoedwasseep (I kid you not)!

 

Dan verloor die rekenaar sy konneksie met die internet. Maar dis ‘n slim outjie. Hy doen sy eie diagnostics en vertel vir my die probleem lê by die “wireless adaptor or access point.” Nee, ek weet ook nie wat dit beteken nie.  Nou probeer ek maar nog ‘n paar keer, elke keer dieselfde probleem. Later sit ek maar eers alles af en weer aan – darem nie die skottelgoedwasser nie. Dié was flytig voort in die kombuis.

 

Nou ja, uiteindelik is die skottelgoedwasser klaar gewas, toe sukkel ek nog steeds om my internetkonneksie te bewerkstellig. Ek gaan loer in die skottelgoedwasser. Als is inderdaad mooi blink skoon. Al die sepies is op. En die plastiekhouertjie is ook weg. Ek dink ons hou maar eerder by die standaard produk wat dydelik sê: skep dié goed in dáái bakkie in!

 

Toe ek in standard vyf was het ons aanlegtoetse gedoen by die laerskool waar ek was. Die onderwyser het toe met groot oë vir my ma beduie hulle moet net seker maak ek gaan nie eendag in ‘n meganiese rigting in nie.

Ek wonder tog hoekom.

15 antwoorde op Van skottelgoedwassers en so

  1. TS het gesê op Januarie 25, 2012

    hehehe… ek dink ek sal jou vra om my te help nie dankie!

  2. Jy weet – daar is nou opsies met sulke jong masjienerie wat ontydig parte breek – google “solid 3d printing” = mens kan die parte laat maak, redelik cheap cheap.

  3. Ha ha ha ha!!! Ons het ook al sulke petaljes met die wit ousie gehad. Ai, maar as sy werk, is dit soos ‘n droom.

  4. avega het gesê op Januarie 25, 2012

    21 jaar se goeie diens is nie sleg nie. Vandag se goete hou nie so lank nie.

  5. Jy’s natuurlik nou te laat. Dis die wasser se timer wat stukkend is. En net vanoggend moes ek 5/8stes van die prys van ‘n Kreepy betaal vir die gewigging wat stukkend geraak het. Ek het ge-google, maar ek dink nie ek sien wat jy wil hê ek moet sien nie.

  6. Hoekom nie?

  7. TS het gesê op Januarie 25, 2012

    Onbekostigbaar – grinnik

  8. *vee trane van wange af*

  9. Dis plagiaat. Jy het in my kop gekom en my dink gesteel. Dis dan presies hoe dit hier by ons gebeur het. Presies net so. Behalwe dat ek ‘n rukkie in die kas vasgesit het toe ek die pyp aan die einde moes deurgee.

  10. En wat van die stukkie van die kraankoppeling wat nie so knus gepas het soos die vorige een nie?

  11. Dit sou nie virrie timer gehelp het nie – dit werk vir plastiek parte – daar is nou sulke masjiene – hulle noem dit 3d printers, wat ‘n part stukkie vir stukkie opbou – do it yourself is “reprap”

  12. pbroere het gesê op Januarie 26, 2012

    ^&*(!!

  13. As jy die waarheid omtrent professionele mans en huishoudelike goed wil weet…in ons huis bel die kinders vinnig vir my en ek google ‘n loodgieter voordat my man sy professionele hande op enige iets elektries of wat met water werk, kan kry. Gisteraand het ek hom darem die flat screen TV in die spaarkamer laat opsit, maar ontdek toe hy het die 2 gate wat hy vantervore verkeerdelik gedril het, probeer wegsteek. Huh? Dis nou waar my OCD inkliek, en dit moet eers reggemaak word voordat daardie ding daaroor kan hang. So daar moet ‘n trippie na Home Depot toe gebeur vandag om filler te koop vir die houtmuur. Net ek weet dit sal reggemaak wees, maar mens het darem standaarde:). Hy het wel ‘n haashok in 1996 gebou maar toe raak die haas te veel werk omdat ek in -45C moes slaaiblare aandra en as die ding in die huis gekom het het hy my chintzgordyne probeer eet (blommotief het seker nie gehelp nie). Ek moes dalk ‘n video destyds geneem het van die haas wat sy blare binne 2 minute bestorm het en opgevreet het omdat dit omtrent net so lank geneem het vir die blare om solied te vries…die kinders was klein en ek moes met fur-lined Kat-Van-Safraan boots deur die sneeu ploeg on vir Bun-Bun 3 keer ‘n dag kos en water te gee. In die lente is die konyn toe “hobby farm” toe waar hy met ander onnosel konyne kon sosialiseer. Of dit, of ‘n “pedicure” vir konyn, want hy het die kinders flenters gekrap met sy agterpote. Hoop jou skottelgoedwonderwerk werk soos ‘n bom. Jy is baie braaf. Ek sou iemand ingekry het om die ding in te sit.

  14. Laat verlang jy my nou terug na die dae van sunlightseep, gedeelde plaastelefoon lyne en en pen-en-papier…

  15. het alles net so voor my sien afspeel! en smaail nou nog 😀

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.